Internasionale TV-reeks word al dekades lank in Afrikaans oorgeklank, tog as dit by Turkse telenovelas kom, blyk dit kykers kan net nie genoeg kry nie. Die storielyne is van daai wat jou na jou foon laat gryp om die dag se drama met jou vriendin te bespreek. Dit is ook die tipe storielyne want jou uit skok en frustrasie dramaties voor die TV, diep in jou bank, laat sak.
Lojale kykers was teleurgesteld toe hulle in Maart uitvind dat die gewilde Turkse telenovelas, wat op eExtra uitgesaai is, nie meer op DStv beskikbaar sou wees nie. Gelukkig, ná die sukses met oorgeklankte kinderverhale op kykNET, het die kykNET-span twee nuwe Turkse telenovelas in Julie op kykNET&kie bekendgestel.
In die Ysterhand se Greep, wat Maandae tot Donderdae om 17:30 uitsaai, staan in Turks bekend as Asla Vazgeçmem. Dit volg die verhaal van Yiğit Kozan, ’n suksesvolle sakeman wat nie in liefde glo nie. Yiğit (met plaaslike stemkuns deur Gustav Gerdener) het ’n donker geheim wat hom en sy magtige familie gevangene hou, maar die pragtige Nur (Sesethu Ntombela) verander dit alles.
Kind van die Noodlot saai Maandae tot Donderdae om 20:00 uit, en draai om die glansryke wêreld van Defne (Bernice du Toit) en Kahraman (Anton Schmidt) Yorukman. Die een ding wat geld nie vir hulle kan koop nie, is ’n kind. Defne besluit om ’n surrogaatmoeder te huur en dit is waar al die drama begin.
Kymet (Vinette Ebrahim) sal tot die uiterste gaan vir haar oudste seun om ’n erfgenaam te hê. Elif (Danielle Retief) stem in om ’n surrogaatmoeder vir die ryk paartjie te wees, maar dis nie lank nie of ’n hewige stryd begin.

Waldimar Pelser, M-Net se direkteur vir kykNET-kanale, vertel daar is ’n groot span akteurs wat as stemkunstenaars ingespan is om die reekse in Afrikaans oor te klank.
“Die oorklankingswerk word gelei deur van die vaardigste mense in die bedryf en word alles intern by MultiChoice gedoen. Ons is baie trots op die span se werk en baie bly om nog werk te skep vir Suid-Afrikaanse, Afrikaanse akteurs,” voeg hy by.
Aan die begin mag dit dalk ’n snaakse ervaring wees om hierdie vreemde storie te kyk, maar met stemme wat jy ken! Tog is dit juis ons gunsteling akteurs se stem werk wat hierdie karakters bekend laat voel.
terloops het met ’n paar van die karakters gesels oor hul ervaring:
Is dit moeiliker om vir ’n karakter voor te berei en om in karakter te kom wanneer jy nie fisiek die karakter speel nie?
Stephanie Baartman (vertolk die stemrol van Meryem in Kind van die Noodlot): “Dit is beslis moeiliker. Aanvanklik kan jy glad nie aanklank vind met die karakter nie. Die kleredrag, die gesigsuitdrukking, die agtergrond, die handbewegings, die manier wat die gesig getrek word, niks is vir jou bekend nie. Selfs die temas en die manier van praat en die name van al die karakters is aanvanklik volksvreemd en baie oorweldigend. Maar sodra ek die draad van die storie het, dan kom ek vinnig in karakter.”
Gustav Gerdener (vertolk die stemrol van Yiğit in In die Ysterhand se Greep): “Ek sou nie sê moeiliker nie, maar dit is definitief ʼn ander tipe proses. Jy het net jou stem om ʼn karakter in te kleur en lewe te gee… Om onder sy vel in te kom. Op die einde van die dag, moet jy lewe gee aan die karakter en nie net reëls lees nie. Maar as jy dít eers kop, is dit redelik maklik om jouself in te leef en net jouself te geniet.”
Is dit jou eerste ervaring met oorgeklankte telenovelas en hoekom het jy belanggestel in die rol?
Danielle Retief (vertolk die stemrol van Elif in Kind van die Noodlot): “Ek is een van die die-hards wat oorklanking betref. Ek was agt jaar oud toe ek my eerste Duitse reeks oorgeklank het. Ek is nou al ongeveer drie jaar weer betrokke by die Turkse telenovelas. Ek het verskeie rolle al gespeel, maar Elif in Kind van die Noodlot is beslis die grootste een wat ek al aangepak het. Dis ’n vreeslike lekker karakter om te vertolk, want elke episode is ’n nuwe uitdaging. Sy huil, sy skree, sy lag en sy vertel lang sprokiesverhale. Sy is ook ’n uitdaging omdat haar energie baie anders is as myne. Dis altyd lekker om ’n rol te speel wat die teenoorgestelde persoonlikheid as jy het.”

Vinette Ebrahim (vertolk die stemrol van Kymet in Kind van die Noodlot): “Nee, dit is nie my eerste rol nie. Ek het ook Mevkibe in Droomverlore gespeel. Soos met enige rol in enige toneelstuk, is daar ’n oudisie. Maar hier word die stem en gesig gepas. As die regisseur dink dit pas, is jy in!”
Neem jy alleen op of het jy ander akteurs in die kamer? Is dit nie vreemd om tonele te doen sonder iemand wat oorkant jou staan nie?
Gustav Gerdener: “Dit is aan die begin maar vreemd om basies net met die skerm voor jou te speel. Dis uiters belangrik om jou oor te hou daarop dat jy met die ander karakter moet praat en nie net lees nie. Mens moet ʼn konneksie met die spelers voor jou op die skerm hê. Dit is verseker ʼn uitdaging, maar wie is nou nie mal oor ʼn uitdaging nie?”
Stephanie Baartman: “Ek is alleen in die vertrek saam met die regisseur. Tegnologies is ons so ver gevorder, dat party stemme in Kaapstad opgeneem word. Wat eintlik meer intimiderend is, is die feit dat ek geregisseer word deur ikone in die bedryf, mense wat ek as kind bewonder het.”
Danielle Retief: “Elke akteur word individueel opgeneem. Dis natuurlik ’n vreemde proses om aan gewoond te raak, maar soms is jy gelukkig en die akteurs teenoor wie jy speel is klaar opgeneem. Dan kan jy lekker teenoor hulle speel. Andersins moet jy net mooi oplet wat die oorspronklike akteur gedoen. Ek noem dit ‘acting vir die linkerbrein’, want dis lees, interpreteer en kopieër, als op dieselfde tyd.”