Showmax het die eerste lokprent bekendgestel vir Breekpunt, ’n tennisdrama wat op 10 Maart 2025 begin uitsaai, met nuwe episodes wat weekliks op Maandae vrygestel sal word. Die Arendsvlei-, Spinners-, en Wyfie-aktrise Chelsea Thomas vertolk die hoofrol in dié Afrikaanse reeks.
Chelsea speel ’n eiewyse tiener wat alles moontlik doen om op die internasionale tennisverhoog te kan meeding. Daar is etlike uitdagings wat dreig om haar drome en jare se harde werk onklaar te maak, en kykers volg haar reis soos sy die harde realiteite van die lewe op en van die baan af moet trotseer.
In Breekpunt span Chelsea ook weer kragte saam met haar Spinners– en Arendsvlei-medester Cantona James, wat ’n voormalige tenniskampioen vertolk. Dan is daar ook N’kone Mametja as haar beste vriendin, Nahum Hughes as haar broer, met die Safta-wenner Lorcia Cooper-Kumalo (Red Ink, Lockdown) en Sherman Faro (Thys Cupido in Arendsvlei) as haar ouers.
Breekpunt se regie is deur Nicola Hanekom, ’n Safta-benoemde en Fleur du Cap-bekroonde aktrise wat ook aan Safta-benoemde films en reekse soos Cut-Out Girls en Dwaalster gewerk het. Die skryfspan, gelei deur Ilse van Hemert (Lioness), sluit die Safta-wenner Quanita Adams (Hier.Na, Arendsvlei) in.
terloops het met Chelsea gesels om meer oor die reeks en rol uit te vind.
Hoe het jy deel van die Breekpunt-rolverdeling geword?
“Ek was besig om Wyfie te skiet toe ek ’n versoek vir ’n video-oudisie gekry het Die twee produksies het in verskillende stede geskiet en ek het geweet ek sou nie gelyktydig in albei kon speel nie, so daarom het ek besluit om die geleentheid te laat vaar. Die produksiespan was egter baie vasbeslote om my in die rol te kry, en het die begindatum van die produksie verskuif om my te akkommodeer. Ek kan nie in woorde beskryf hoe dankbaar ek daarvoor is nie. Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Vertel vir ons meer van Ashleigh. Wie is sy as kykers haar ontmoet?
“Toe ek die draaiboek die eerste keer gelees het, het ek gedink: ‘Oe! Sy is vurig. Ek hou al van haar!’ Ek was so nuuskierig oor haar.
“Aanvanklik blyk sy soos net ’n gewone 18-jarige meisie met ’n baie groot droom te wees. Sy kry min tot geen ondersteuning van haar ouers af, maar sy het ’n diep begeerte en gewilligheid om haar drome te bewaarheid – met of sonder enigiemand se ondersteuning. Sy rys waarlik soos ’n feniks. Haar passie en liefde vir tennis groei elke dag, en sy raak al meer vasbeslote om haar doelwitte te bereik. Sy sal enigiets doen en niks en niemand kan in haar pad staan nie.
Stem julle baie ooreen? Is julle albei dromers?
“Ja, sy is ’n dromer, net soos ek. Selfs as iets onmoontlik lyk, sal ons ’n manier vind, maak nie saak wat nie.
“Maar ons verskil ook in soveel opsigte. Ashleigh is baie dapper en so rebels, terwyl ek altyd twee keer oor dinge moet dink. Ek is oor die algemeen iemand wat dinge ’n bietjie oordink.”
Jy deel weer die skerm met Cantona James. Wat was hierdie keer anders?
“Dit is die eerste keer wat ons saamwerk en ek nie sy liefdesbelangstelling speel nie. Ek het dit baie geniet dat ons ’n ander tipe karakterdinamika hierdie keer kon uitbou.
“Elke stel is ook ’n heeltemal ander wêreld. Met elke nuwe karakter vra dit meer en meer van jou. Ons het baie gegroei en geleer sedert Angel en Daniel op Arendsvlei waar alles vir ons begin het.”
Wat van die res van die rolverdeling? Het jy ’n band met enigiemand gevorm?
“Beslis Lorcia. Ek kon nie vir ’n beter ma op die skerm gevra het nie. Lorcia het my hand deur alles vasgehou. Sy is my engel op hierdie aarde. Ek het nog nooit meer behoue, gehoor en waardeer gevoel deur enigiemand anders saam met wie ek gewerk het nie. Ek het so baie geleer én afgeleer. Sy verdien net die beste.”

Moes jy leer hoe om tennis te speel vir die rol?
“Ons het ’n paar tennislesse gehad, maar ek moet erkenning aan my body double gee. Ek was nog altyd by die kunste betrokke en het nog nooit regtig in sport belanggestel nie! Ek sê altyd: ‘Ek is ’n aktrise. Nie ’n spinner of tennisspeler nie!’
Hoekom moet mense Breekpunt kyk?
Elke storielyn in Breekpunt is so mooi geskryf. Kykers sal verlief raak op die reeks omdat dit weerspieëlend van ons realiteite en ons drome is; mense sal daarmee kan vereenselwig. Ook, natuurlik, vir die ongelooflike rolverdeling.
Breekpunt begin Maandag, 10 Maart 2025 op Showmax met weeklikse nuwe episodes.