Menu terloops
In Fokus [5 Nov 2026]

‘Kook en Geniet’ kry ’n kinkel in ‘Kokkedoor: Klassiek’ se eerste uitdaging


In die eerste episode van Kokkedoor: Klassiek het Stephanie Grobbelaar en Ruan Swanepoel die eerste uitdaging met hul souttert-bitterballen gewen. Dit was ’n fees van bekende geure, vars idees en kosherinneringe wat reguit uit die hart kom.

‘Kook en Geniet’ kry ’n kinkel in ‘Kokkedoor: Klassiek’ se eerste uitdaging

’n Geliefde resep behels veel meer as bestanddele en ’n beproefde metode. Dit bevat ook herinneringe, verwagtings en ’n bepaalde gevoel van tuiskoms. 

In die eerste uitdaging van Kokkedoor: Klassiek moes die deelnemers daardie bekende geure opnuut laat praat – sonder om die oorspronklike gereg se hart en siel in te boet.

Herman Lensing en Jess van Dyk se Kook en Geniet-uitdaging het die onthoukokke en kinkelkokke dadelik voor dié fyn balans gestel. Ter viering van S.J.A. de Villiers se ikoniese kookboek se 75ste verjaarsdag moes die spanne geliefde resepte in moderne skeppings omskep met mandjies vol produkte uit die Overberg as inspirasie.

Die kookboek het ook bepaal watter twee kokke uit verskillende kos-agtergronde saam sou kook. Elke onthoukok moes vooraf ’n Kook en Geniet-resep gekies.

Die kinkelkokke se taak was om ’n Overbergse produkmandjie te kies en daarna moes hulle die kookboek by die onthoukok se boekmerk oopmaak. Daar is hul spanmaat se naam en die gereg wat hulle moes vernuwe, aangedui.

Van souttert en bobotie tot souskluitjies en pampoenkoekies: die vertrekpunte was bekend. By die proetafel sou dit egter gou duidelik word dat ’n slim idee eers werklik slaag wanneer geur, tekstuur en herinnering saamwerk.

’n Deelnemer wankel

Die spanning in die Kokkedoor-kombuis het vir Maradine en Ansebé skielik ’n ernstiger wending geneem toe Maradine begin siek voel het.

Ansebé het gesien haar spanmaat sukkel en voorgestel dat ’n dokter na haar kyk. Terwyl Maradine al hoe slegter gevoel het, het die skuldgevoel ook geknaag: sy wou kook, maar haar liggaam wou nie saamwerk nie.

Na die besluit geneem is dat Maradine dié ronde gaan uitsit, het Ansebé gevoel dat sy is in die diep kant ingegooi is, maar haar vasberadenheid het bly staan: dié terugslag gaan haar nie laat tou opgooi nie.

Dewald Herbst en Mishka Brink: Japie se verrassing

Dewald en Mishka se herinterpretasie van Japie se gunsteling het die proesessie op ’n sterk noot afgeskop. Jess kon die oorspronklike gereg in hul skepping herken – ’n belangrike bevestiging dat die vernuwing nie die onthou-aspek van die kos verdring het nie.

Herman het aanvanklik spanning geskep deur te sê hy stem nie met Jess saam nie. Sy rede was egter ’n besonder groot kompliment: vir hom was hul weergawe nóg beter as die oorspronklike Japie se gunsteling. Die span het die gesogte middeweg tussen tradisie en vernuwing gevind.

Barbara Kemp en Janie Lottering: Fynproewer-aspersiesoufflé

Barbara en Janie se gereg het gewys hoe maklik ’n belowende konsep deur tegniese probleme ondermyn kan word. Herman se beswaar was dat die koek-element van hul dis in vloeistof gelê het. Dit het die vloeistof absorbeer en ’n gevoel van pap in die mond veroorsaak.

Jess het die onvoldoende stabilisering van die espuma (Spaanse woord vir skuim) en meringue uitgewys. Die skuim het geskei en eerder soos aspersiesop geproe, terwyl die meringue ook nie behoorlik gestabiliseer was nie. Sy het ’n waterbad in die oond as ’n moontlike verbetering voorgestel.

Tog het die beoordelaars die twee kokke se kreatiewe denke erken. Die konsep het by die opdrag gepas; die uitvoering moes net verseker dat die vernuwing ook lekker proe.

Jeanette Relling en Douglas Botha: Bobotie-tartare

Jeanette en Douglas het met hul bobotie-tartare ’n gewaagde rigting ingeslaan. Die groot hoeveelheid rou vleis het egter die gereg oorheers.

Die beoordelaars se kernbeswaar was balans. ’n Tartare het suur, varsheid en tekstuur nodig om die vleis aan te vul. Elemente soos suurlemoenskil, kappertjies of agurkies is genoem as maniere om daardie kontras te skep.

Die puree op die bord was ’n besonder lekker element, maar daar was te min daarvan in verhouding met die vleis. Die terugvoer was duidelik: ’n kleiner porsie en meer deurdagte verhoudings tussen die komponente sou die gereg aansienlik verbeter het.

Stephanie Grobbelaar en Ruan Swanepoel: Souttert-bitterballen

Stephanie en Ruan het ’n beskeie souttert in ’n klein happie met groot trefkrag verander. Hul bitterballen het die troos van die oorspronklike gereg behou, maar dit in ’n vars vorm aangebied.

Herman was getref deur die romerige tekstuur, die witsous en hardgekookte eiers asook die gevoel wat die happie by hom wakker gemaak het. Jess het die eenvoud en die krummelkors geloof: dit het herinner aan daardie gesogte hoekie van ’n tert waar ’n mens die meeste kors kry.

Haar grootste kompliment was dat sy haar eie restaurantspyskaart met dié happie sou kon begin. Hier het die nuwe vorm en die bekende smaak mekaar versterk.

Milandré Braaf en Kheenan Douman: Gedekonstrueerde kerrie-botterskorsiesop

Milandré en Kheenan se sop het uiteenlopende reaksies ontlok. Jess het die spesery-geure geniet, terwyl Herman die smaak effe skerp gevind het. Volgens hom was die speserye nie genoeg vooraf gebraai en die geure het nie behoorlik ontwikkel nie.

Hy het egter ook die span se herstelvermoë erken. Ná ’n kombuisongeluk moes hulle vinnig aanpas en nuwe sop maak. Dat hulle binne minute kon aangaan en steeds ’n gereg voorsit, het lof verdien, al was die geurontwikkeling nie heeltemal afgerond nie.

George von Berg en Paul Theron: Souskluitjie-poffertjies

George en Paul se benadering tot souskluitjies was ambisieus, maar die bekende gereg het in die proses op die agtergrond verdwyn.

Herman het die poging tot herinterpretasie waardeer, maar wou steeds die gevoel en smaak van souskluitjies ervaar. Die kaneel, kardemom en sterk masalageure het eerder aan ’n chai latte herinner.

Die beoordelaars se kritiek het verder as die speserye gestrek: groot kulinêre beloftes skep groot verwagtings. Wanneer die bord dit nie bied nie, is die teleurstelling des te groter. Hul tegniese ambisie moes sterker aan die oorspronklike gereg verbonde gebly het.

Diana Bibbey en Zani Bormann: Roly-poly-tertjie

Diana en Zani se roly-poly-tertjie het een van die proesessie se emosionele hoogtepunte gelewer. Jess het die veerligte, botterige spons geloof en die tekstuur van die vla, met ’n bietjie witsjokolade daarin, as wêreldklas beskryf. Dit het haar aan iets uit ’n Franse fyngebakwinkel in Parys laat dink.

Herman was veral beïndruk deur die onverwagte tiemie. Tussen die witsjokolade en die fluweelagtige bakkersvla het dié kruiegeur ’n vars, moderne verrassing gebring.

Vir Diana was die lof sigbaar betekenisvol. Die gereg het gewys hoe ’n klein, goed gekose verandering ’n bekende nagereg kan vernuwe sonder om sy bekoring prys te gee.

Ansebé Pieterse (en Maradine Whitehorn): Pampoenkoekie-churro

Ansebé, wat alleen die uitdaging moes aanpak, het hul span se pampoenkoekie in ’n gevulde churro omskep, maar volgens Herman het die vulsel te veel na gewone gestoomde pampoen gesmaak. Hy wou meer ontwikkeling daarin proe: meer karamelgeur, kaneel of die sorg wat ’n geliefde pampoenkoekie kenmerk.

Die breër terugvoer het die onthoukok se rol beklemtoon. Die kennis en beginsels van die oorspronklike gereg moes die grondslag bly waarop die kinkel gebou word.

Ansebé is aangemoedig om daardie ervaring sterker te laat geld en met groter oortuiging daarvoor op te staan.

Chanél Cloete en Karen du Plessis: Mille-feuille-oblietjies

Chanél en Karen se oblietjies se tekstuur het hulle laat struikel. Jess het ’n degerigheid uitgewys wat onaangenaam geproe het en ook van die kenmerkende tekstuur van ’n oblietjie weggebeweeg het. Herman het die geskifte crème pâtissière as ’n groot tegniese fout geïdentifiseer.

Daar was nietemin ’n besonder geslaagde element: die rooiboskaviaar. Vir Herman het die klein rooibosbolletjies die herinnering aan ’n oblietjie saam met ’n koppie tee opgeroep.

Dié detail het presies die emosionele verbintenis geskep waarna die beoordelaars gesoek het, al het die res van die gereg nie dieselfde peil bereik nie.

Elsie Botha en Hanroe Erasmus: Gedekonstrueerde viskoekie

Elsie en Hanroe se gereg het lof gekry vir sy moderne interpretasie en verskeidenheid teksture. Die vis was egter oorgaar en baie droog.

In die terugvoer is verduidelik dat die ekstra panbraai ná die sous-vide-gaarmaak die vis benadeel het. Die vel was reeds verwyder en afsonderlik bros gemaak; die poging om daarna nog kleur op die vis te kry, het die aanvanklike gaarmaakwerk ondermyn.

Die wortelpuree was daarenteen ’n sterk punt. Herman het geloof hoe hulle ’n nederige bestanddeel se smaak behou het en dit in ’n besonderse tekstuur omskep het. Dit was iets waarop die span kon voortbou.

Wie het gebak en wie het gebrou?

By die langtafel is Dewald en Mishka, Stephanie en Ruan, en Diana en Zani as die topdrie aangewys.

Dewald en Mishka se Japie se verrassing het die beoordelaars beïndruk, terwyl Diana en Zani se roly-poly-tertjie met sy fyn teksture en eenvoud uitgeblink het. Stephanie en Ruan het op hul beurt gewys hoe ’n nederige souttert in iets besonders kan verander.

Uiteindelik was dit Stephanie en Ruan wat die eerste uitdaging gewen het. Hul souttert-bitterballen het aan hulle ’n veiligheidskaart vir die volgende kookuitdaging besorg.

Aan die ander kant van die uitslag was Chanél en Karen, en George en Paul die onderste twee spanne. By albei het die vernuwing te ver van die oorspronklike gereg se karakter af beweeg.

Daar was egter ’n groot verligting teen die einde: niemand is uitgeskakel nie. Omdat dit die eerste kookuitdaging in ’n nuwe kombuis en saam met ’n nuwe spanmaat was, het almal nog ’n kans gekry.

Die eerste ronde het daarmee die seisoen se maatstaf duidelik gestel. ’n Klassieke dis kan ’n nuwe vorm, tekstuur en aanbieding kry. Maar wanneer Herman en Jess hul vurke neersit, moet daar steeds iets op die bord wees wat aan onthou herinner.

Kokkedoor: Klassiek is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer
Sien alle opsies