Menu terloops
In Recaps & Resensies [8 Nov 2023]

‘Spinners’: Kyk mooi, want só moet ’n storie vertel word


‘Spinners’, Showmax se nuwe koproduksie met CANAL+, is ’n meesterlike vertellingsreis met deurgaanse skitterende vertolkings deur van Suid-Afrika se beste akteurs en Jaco Bouwer se besonderse regie-aanslag wat kykers sal ontroer.

Deur Rozanne Els

Stroom nou op Showmax

‘Spinners’: Kyk mooi, want só moet ’n storie vertel word
Kyk lokprent

Oral brand die wêreld. Oral is die strate ’n see van bloed en sonde. Oral klink die klanke van desperate oorlewing op, die oorlog van – en vir – vlees en gees. Ver en naby. In Soedan. In Gaza. Op die Kaapse Vlakte. Ons is al vier episodes diep in medeskeppers Benjamin Hoffmann en Joachim Landau, en Jaco Bouwer (regisseur) se Spinners, wanneer die leier van een van die Kaapse Vlakte-bendes die raison d’etre vir die oorloë hiér hardop uitlê. “As jy te veel honde op mekaar sit vir té lank in dieselfde hok, begin hulle mekaar te byt. Te vedala.”

Vedala. Vernietig. Moor. Take your pick. Of dit nou drome is – daardie naïewe hoop op ’n “beter” lewe – of vriend, familie, vyand. Vedala.

Dís nie dat Bouwer en kie nie dan al reeds die smerige, harde wêreld waarin Spinners afspeel, gewys het nie. Dis eerder dat wanneer dié woorde van Damien Santi (Elton Landrew) se lippe val, dit die konteks waarin die jong Ethan (Cantona James) se storie afspeel, kristalliseer. En dié klinkhelder waarheid, hardop gedeel, is nodig vir enigiemand wat nog altyd net van buite ’n Kaapse Vlakte-bestaan waargeneem het. Vir ons almal wat dit nie elke dag leef nie. Selfs hier, ten spyte van die duidelike sorg wat geneem is om die werklikhede van dié plek en sy mense met respek uit te beeld, is die vertellers – en só dan ook die kykers – veilig verwyder. 

Daar is geweldig baie detail wat in elke episode se vertelling met die kyker gedeel word. Om meer oor die storielyn uit te brei, sou beteken om daardie filmiese vrygewigheid te bederf. Bouwer se onberispelike aanleg as kunsregisseur kry hier nuwe gestalte.

Rozanne Els

Ethan is ’n 17-jarige seun – hoewel hy lankal reeds van kind-wees ontneem is – wat ná sy pa se dood en sy ma se verval in tikverslawing alleen na sy klein boetie moet omsien. Sy storie is nie onbekend, ongewoon of hoegenaamd uniek nie. Hiér word kinders dikwels deur hul omstandighede, of hul sibbe, eerder as hul ouers grootgemaak. So ontstaan ’n leemte van epiese grootte en diepte, gegrendel aan die eenvoudigste én uitmergelendste menslike behoeftes nodig vir oorlewing: familie, belonging en connection. Die Holy Trinity van menswees, van liefde en geluk, van voorspoed en ondersteuning, van moontlikhede en méér. Daarsonder? ’n Kweekhuis vir bendes, gevul met verlore skape wat tuiskoms soek. 

Cantona James as Ethan in Spinners op Showmax.
Cantona James as Ethan in Spinners op Showmax. Foto: Verskaf

Dis Ethan se oorlewingsdrang – selfs dalk meer vir sy boetie as vir homself – wat hom afhanklik maak van Damien as hy, in ruil vir hulp, vir geld, vir kos, as sy drywer begin werk. Dis eers klein goedjies. Tel geld op, vat dié een soontoe of daai een hientoe. Maar teen die einde van die eerste episode is sy hande bloedbevlek en sy afgryse drup saam met sy sweet by sy ruggraat af.

Is dit per toeval, blote geluk of die noodlot as Ethan dan iemand ontmoet wat as’t ware vir hom ’n sleutel tot vryheid van ’n bendebestaan gee? Spinning, besef hy, kan vir hom ’n uitweg uit dié hel-landskap wees. Al wat tussen hom en ’n nuwe lewe staan, is (maar net) ’n swaar gewete, ’n dreigende bende-oorlog en ’n spinning-kompetisie wat, as hy en sy nuwe vriende dit wen, genoeg geld in sy sak sal sit om Damien se kettings af te gooi. En dan ontmoet hy vir Amber (Chelsea Thomas) wat ook deel van dié extreme motorsport se gemeenskap as een van die beste bestuurders is. 

Spinners
Elton Landrew se vertolking as die bendebaas Damien Santi is een wat ontsenu. Foto: Verskaf

Daar is geweldig baie detail wat in elke episode se vertelling met die kyker gedeel word. Om meer oor die storielyn uit te brei, sou beteken om daardie filmiese vrygewigheid te bederf. Bouwer se onberispelike aanleg as kunsregisseur kry hier nuwe gestalte.

Op papier lyk Bouwer soos ’n onwaarskynlike, selfs dalk ’n verkeerde keuse, om dié storie te lei. Maar prakties, as ’n mens die storie so voor jou sien ontvou, blyk Bouwer as regisseur ’n meesterlike skuif te wees. Daardie filmiese vrygewigheid, die besonderse hoeke en draaie van die karakters se storieboë, verhef dié reeks van enigiets anders in ons plaaslike argief. Dit herinner aan die kru grinterigheid van The Wire, en, hoewel die reeks ’n koproduksie met die Franse CANAL+ is, roep die kleurgradering ’n vuiligheid meer eie aan Britse en Ierse dramareekse op.

Dít terwyl die nabyskote die oorrompelende emosie, wat dikwels net onder die vel van hunkerende karakters lê, vasvang. Só word Lee-Ann van Rooi se hopeloosheid, haar radelose rou eintilik iets tasbaar. Dit vat aan jou. Deur die skerm. En dit gebeur keer op keer met verskillende karakters in verskillende omstandighede – en met verskillende emosies wat die muur voor die kyker omstoot. 

Redakteurskeuse SPINNERS Showmax
Kan spinning vir Ethan uitkoms bring? Foto: Verskaf

Deel daarvan is die besonderse klankbaan deur DJ Ready-D en Pierre-Henri Wicomb (en dit is op Spotify beskikbaar, kliek net hier). Ek skryf hierdie resensie soos dit kliphard in die agtergrond speel. Maar, soos die reeks, soos elkeen van die akteurs wat nie een minder as briljante vertolkings gegee het nie, weier dié klankbaan volstrek om in die agtergrond te bly. Dis, as ’n mens dit beskou met die respek wat so welverdiend is, die eintlike verteller van Spinners. Dis dié klanke van die Kaapse Vlakte, tesame met die absoluut wonderlike, wonderlike gebruik van Afrikaaps in die dialoog, wat die storie eg goud hou. Dit beweeg dit oral heen, altyd teen net die regte tempo. 

Daar is ’n paar goed wat irriteer, soos die uitbeelding van die twee speurders wat ’n moord ondersoek. So asof Suid-Afrikaanse speurders net aan een saak op ’n slag werk. Kom nou. Daar speel ook situasies uit wat in cliché verswelg is, maar dat dit eintlik nie meer gebeur nie, is ’n prysenswaardig. As daar nou een trope is wat tot vervelens toe gestereotipeer word, is dit dié van ’n gang member. Weereens is dit die detail waarmee die karakters ingekleur word, wat dit egter van cliché en stereotipes losmaak. Dann-Jaques Mouton se Tony, byvoorbeeld, is inspired toneelspel. Dis ’n heerlike vertolking wat bydrae tot die omskepping van dié gangsters as mense, eerder as karikature of onrealistiese argitipes. 

Daar is deurentyd baie op die spel vir al die karakters in Spinners. Dié stakes – wat meer as minder die verskil tussen oorlewing en dood beteken – is iets wat ons telkens aan herinner word en wat as rotsvaste fondasie vir die reeks dien. Alles wat hy kan verloor (en wat hy kan wen), is in Ethan se oë as hy agter die stuurwiel sy plek inneem, in die greep van sy hande wat styf – en los – genoeg is om daai kar te laat tol, tol, tol en die wiele te maak rook.

Soos die honde mekaar vedala. 


Weeklikse episodes van Spinners word op Woensdae, vanaf 8 November 2023, op Showmax vrygestel. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies