Spinners, met regie deur die bekroonde Jaco Bouwer (Gaia) draai hoofsaaklik om Ethan, ’n 17-jarige motorbestuurder wat vir ’n plaaslike bende as drywer werk. Dít doen hy bloot omdat hy noodgedwonge na sy baie jonger boetie moet omsien nadat sy pa se dood daartoe lei dat sy ma weer in tikverslawing verval. Hy smag egter om uit dié wrede lewe te ontsnap en as hy van spinning, ’n waaghalsige motorsport, leer, besef hy dat ’n tollende motor dalk sy enigste kans uit ’n bendebestaan is.
Maar met ’n dreigende bendeoorlog op hande gaan hy dalk nie betyds ’n ommeswaai in sy lewe regkry nie.
Cantona James (Arendsvlei, Blood & Water) wat die rol van Ethan vertolk, is ’n oud-Matie wat reeds op skool ’n talent vir toneelspel gewys het. As leerder aan die Randfonteinse Hoërskool, waar ’n onderwyser sy talent raakgesien het en hom oorreed het om dramaklasse te neem, het Cantona oor Hollywood begin droom.
Hy was slegs 13 jaar oud toe hy sy ma, Althea (32), self ’n aspirant-aktrise, en sy halfsussie, McKenzie, (5) en halfboetie, Cruise (3), in ’n gesinstragedie verloor het. Spinners, vertel hy, het gehelp om dié seer trauma te help verwerk.
Hier beantwoord Cantona ’n paar vrae oor die nuwe reeks:
Wat dink jy is die aantrekkingskrag van spinning?
“Ek het grootgeword in ’n gemeenskap waar spinning groot was, maar my pa wou nie hê ek moet na die spin-geleenthede gaan nie. So, ek het nooit regtig die aantrekkingskrag verstaan totdat ek vir my eie spin-toetsrit gegaan het nie. Toe het dit uiteindelik sin gemaak. Dit is asof al jou probleme verdwyn. Jy fokus; dit is tussen jou en die kar, en net om te hoor hoe mense dit geniet.”
Hoe was dit om met ’n stunt double vir die gevaarlike tonele te werk?
“Ongelukkig het my stunt double selde gewerk omdat ek ’n method-akteur is. So ek het eenvoudig geweier. Gelukkig het ek ongelooflike afrigting van (die stunt-koördineerder) David Davidoss gekry. Daar was egter een dag wat die stunt double wel moes werk omdat daar bye in die omtrek was en ek allergies vir bye is. Ek kon toe nie oor die muur spring nie. Maar die meeste van my toertjies het ek self gedoen. Dit is meer geloofwaardig, en ek was gaande daaroor.”
En hoeveel van die precision driving het jy gedoen?
“Ek kan ongelukkig nie naby die presisiebestuurders kom nie, so ek kon nie daarop aandring om my eie toertjies agter die stuur te doen nie. Dís ’n totale kuns: jy dink hulle ruk net die kar roekeloos (rond), maar die akkuraatheid – om keer op keer as die kamera rol dieselfde ding te (kan) doen – was verstommend.
“Ons spinning-koördineerder, Yaseen Damon, is hoog op die ranglys by Red Bull Shay’ iMoto, so hy is regtig puik, en hy het ’n wonderlike span bestuur. Hulle was elke keer ongelooflik.”
Vind jy aanklank met jou karakter, Ethan, en sy storie?
“Ethan is myle ver verwyder van hoe ek grootgeword het. Ek het nie baie ryk grootgeword nie, maar ons was welaf genoeg. Ek het nooit gestres oor ’n enkele ding waaroor Ethan moet dink nie. Ek het nooit nodig gehad om my broers en susters kos te gee nie. Hy het ook ’n ouer wat aan dwelms verslaaf is en ek het nooit regtig só iets, of die bendelewe, ervaar nie.
Ethan het my gehelp om wonde te genees wat ek nooit besef het, is ongenees nie.
Cantona James
“Ek het wel begrip vir sy skuldgevoelens en dat hy verantwoordelik voel vir die keuses wat die mense rondom hom maak. Ek het daarby aanklank gevind omdat ek baie jare met skuldgevoelens geloop het omdat ek nie my gesin beskerm het nie. Ek het my hele gesin verloor: my ma, broer en suster. En omdat ek die oudste kind was, het ek gevoel dat ek nie genoeg gedoen het om hulle te beskerm nie. En Ethan ervaar ook die gevoel dat hy nie genoeg doen nie – al doen hy soveel hy kan. En ek het ook alles gedoen wat ek kon doen. Ethan het my gehelp om wonde te genees wat ek nooit besef het, is ongenees nie.”
Hoe was dit om op die Kaapse Vlakte te verfilm?
“As iemand wat van Johannesburg af kom, het ek al baie stories oor Lavender Hill gehoor. Lavender Hill was eintlik een van die plekke waarteen ek gewaarsku is, en aangesê is om nie in te gaan nie.
“Die woord ‘katarsis’ is baie op stel gebruik, want ons was omring deur die storie wat ons vertel. Ek praat van kinders van tien jaar oud en jonger, wat nie by die skool is nie, wat werk, wat dwelms verkoop. Ek vertel ’n fiktiewe storie, maar hierdie kinders lééf daardie lewe. Dít het my gehelp om die storie en die karakter te vind, en dit het ook ’n gevoel van verantwoordelikheid gebring onder almal en oor alles wat ons doen – want ons kon sien vir wie ons dit doen.
“Dít het ons in staat gestel om die menslikheid van al hierdie mense te sien. Dit was dus regtig ’n pragtige ervaring vir my om in al hierdie gemeenskappe te wees.”
As ’n method-akteur, wat het jy gedoen om vir die rol van Ethan voor te berei?
“Ek het destyds vir so drie jaar gerook, ’n pakkie en ’n half per dag. Die naweek voordat ek begin skiet het, het ek nog gerook omdat my tannie oorlede is, en ek moes na haar begrafnis toe gaan. Dit was baie stresvol, so ek het gerook. Maar die oomblik toe ek as Ethan op stel gestap het, het ek ophou rook. Dit het my baie gehelp, want die angs het weer in my liggaam begin opduik, sodat ek alles kon wys waardeur hy gaan.
“Ek het, ter voorbereiding vir die rol, begin om slegs een keer per dag te eet, want Ethan het nie die luukse om meer as een keer per dag te eet nie. Ek het besef dat wanneer jou maag harder praat as jou gedagtes, jou morele kompas begin vervaag, want nou sal jy enigiets doen om te oorleef. Jou veg-of-vlug begin harder praat as enigiets anders; harder as jou gewete. En so sal jy doen wat jy moet doen om te oorleef. Om dít in my liggaam te hê en myself te herinner dat iemand anders (nog) slegter voel – my bababoetie – het net die verantwoordelikheid verhoog wat ek gevoel het ek nodig het om vir hom te sorg.
“Daar is net een toneel waar my karakter huil. Net een, al hy gaan deur soveel dinge. Om reg aan my karakter te laat geskied, kan ek nie huis toe gaan en hierdie gevoelens toelaat wanneer hy dit nie doen nie. Dit is die minste wat ek vir hom kon doen. So, ek het my karakter huis toe geneem, wat nooit regtig ’n goeie ding is nie. Die mense saam met wie ek gewoon het, het nie juis daarvan gehou dat ek oor die vier maande wat ons geskiet het, geen emosie getoon het nie.
Hoe was dit om weer met jou Arendsvlei-medester Chelsea Thomas te werk?
“Om (weer) saam met Chelsea te werk was ’n pragtige reis. Ek het Chelsea ’n paar jaar gelede ontmoet toe sy nog op universiteit by Northlink was. Ek het dadelik geweet daar is iets besonders aan hierdie meisie. Sy het hierdie intense passie gehad, maar sy was so gefokus.
“Ek onthou toe ons die beskrywings vir die nuwe karakters gekry het, het ek gesien daar is ’n liefdesbelangstelling vir my karakter. Ek het ’n bietjie speurwerk gedoen en na elke persoon gegaan wat ’n oudisie vir die rol afgelê het. En dit het net nie reg gesit vir my nie. Daar was nie daardie connection nie, en ek het vir haar ’n boodskap gestuur, en gesê sy moet ’n oudisie doen vir die rol van Amber. Sy het reeds ’n e-pos gekry, so sy het toe ook ’n oudisie daarvoor gedoen.
“Sedert die eerste dag was ons ’n TV-match made in heaven, want ons het goed gewerk, voor die kameras en agter die skerms. Ek is bitter erg oor haar. In ’n stadium, toe ek te diep in karakter was, het ek gedink ek is verlief op haar, maar toe word ek daaraan herinner dat ons beste vriende is. Dis hoekom ek nie geweet het wat aangaan nie. Method acting!”
Het jy ’n hoogtepunt op stel gehad?
“Elke dag was ’n hoogtepunt, eerlikwaar. Vir my as ’n jong, opkomende kunstenaar was dit ’n droom wat waar geword het. Ek moes saam met mense toneelspeel wat my geïnspireer het om ’n akteur te word, soos Brendon Daniels. Ek kon vir hulle wys waartoe ek in staat is, en hoe graag ek dit wil hê. Nie net oor my vermoëns praat nie, maar dit wys. Dít was ’n groot oomblik vir my.”
Enige staaltjies van jou tyd op die stel?
“Ek moes iemand dra, en hardloop met hierdie persoon in my hande, en ek het geval. En onthou, dit gebeur voor ’n bruin gemeenskap: hulle laat jou nie maklik met iets wegkom nie. Ek moes maar sit en net eers ’n bietjie uitgelag word.”
Hoekom moet mense Spinners kyk?
“Dit is ’n storie wat jou laat voel asof jy ’n bakkie roomys eet, maar op ’n baie warm dag. Dit smelt vreeslik vinnig. Dit is só intens.
“Ek dink baie mense wat Spinners kyk, gaan ’n gevoel van tuiskoms beleef, al is daar baie hartseer in die verhaal. Baie mense sal aanklank vind by Spinners. Elke karakter is so ontwikkel dat iemand op een of ander manier diep sal vereenselwig met een van daardie karakters en die storie wat vertel word.”
Weeklikse episodes word op Woensdae vanaf 8 November 2023 vrygestel.