“Ek is my lewe lank al nuuskierig. My familie sê gereeld ek is baie irriterend omdat ek nog altyd so baie vrae vra,” sê Lourensa Eckard, die aanbieder van In Gesprek op kykNET. Dié regstreekse program, wat weekliks uitgesaai word, bied ʼn oorsig oor nuusgebeure en aktuele politieke kwessies en Lourensa gesels met nuusmakers, analiste en kenners om sin te maak van die week se plaaslike en internasionale nuusgebeure.
As leerling aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, het sy vroeg al ʼn loopbaan in die joernalistiek oorweeg. Maar op skool en selfs later as joernastiekstudent aan die Universiteit van Pretoria, was sy te skaam om haar hand vir die skool- en universiteitskoerant op te steek, omdat sy nie gedink het sy het al wat dit verg nie.
Daai tyd sou Lourensa (wat intussen ook ʼn nagraadse joernalistiekkwalifikasie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het) nie kon dink dat sy ʼn paar jaar later haar eie geselsprogram op kykNET sou aanbied, ʼn veldverslaggewer vir M-Net se Carte Blanche wees, of gereeld gevra word om meningsstukke vir koerante te skryf nie.
“Min het eintlik verander van my skooldae af, want dit is nog steeds vir my die mees angswekkende ding om in daai ateljee in te gaan en regstreeks aan te bied,” sê sy.
“Dit is ʼn reuse-voorreg en ek dink nie die senuwees sal ooit weggaan nie.”
Sy temper die skoenlappers in haar maag deur te fokus op die ateljeegaste met wie sy gesels, eerder as die duisende kykers tuis.
“Dit was ʼn belangrike kopskuif,” meen sy.
Dit was nooit haar plan om in televisie te werk nie – sy het eintlik toevallig voor die kamera beland.
“Ek het nog nooit ʼn vyf- of ʼn tienjaarplan gehad nie. Ek het destyds my loopbaan as ʼn joernalis by die dagblad Beeld begin. Dit was ʼn tyd toe mense gesê het koerante gaan vou… maar ek voel ek kan enige plek joernalistiek pleeg, solank dit goeie joernalistiek is.
“Een van my kollegas was ʼn gereelde gas op die destydse program Dagbreek op kykNET, waar die dag se koerante bespreek is. Toe hy eendag nie beskikbaar was nie, het hulle my gevra om in te staan. Iemand het seker daar iets in my raakgesien,” sê sy.
Vir die kykers
“ ʼn Goeie joernalis is iemand wat nie noodwendig neutraal is nie, maar wat die waarheid praat. You are not neutral, but truthful. Ek glo jy moet by die mense uitkom – dáár wees waar die nuus gebeur. Met sosiale media met ʼn X-rekening (X was voorheen Twitter) hulle kan ʼn joernalis wees. Maar as die een ou sê dit reën en die ander een sê dit reën nié, is dit ʼn joernalis se werk om buitentoe te gaan en self te sien wat aangaan,” sê Lourensa.
“Ons sien dit deesdae met oorlog-verslaggewing. Mense wat daar, op die grond, verslag doen, bied ʼn soveel eerliker blik as dié wat net agter ʼn rekenaar sit.
“My werk as veldaanbieder vir Carte Blanche gee my wye blootstelling en is belangrik vir my, omdat ek nooit net ʼn televisie-aanbieder in ʼn ateljee wil wees nie. Goeie joernalistiek is om in jou motor te klim en na die mense toe te gaan.”
As aanbieder van In Gesprek verwag mense van haar om ʼn sterk mening oor nuusgebeure en politici te hê, maar Lourensa probeer om haar persoonlike menings uit die kollig te hou.
“Toe ek in televisie begin werk het, het ek besef dat ek nie daar as individu is nie. Ek is daar om die kyker te verteenwoordig. Wanneer ek met iemand ʼn onderhoud voer, probeer ek altyd dink aan die belangrike vrae wat die kykers sal hê.
ʼn Goeie joernalis is iemand wat nie noodwendig neutraal is nie, maar wat die waarheid praat. You are not neutral, but truthful.
Lourensa Eckhard
“Ek wil nie hê dit moet oor myself gaan nie en ek hoop mense sien dit. Môre kan iemand anders dalk my plek inneem, maar terwyl ek die voorreg het om dit te kán doen, wil ek altyd hê die kykers voel ek verteenwoordig húlle.”
Aanpasbaar, in Afrikaans
Sy meen die persepsie dat Afrikaanse gehore steeds grootliks konserwatief is en vasgevang is in ʼn ander era, is nie akkuraat nie.
“Dit is glad nie my belewenis nie. Toe ek oorgeneem het by my voorganger by In Gesprek, Waldimar Pelser, het hy vir my gesê om nooit die kyker te onderskat nie. Dit gaan nie net oor hulle intelligensie of kennis nie, maar oor hul vermoë om aan te pas en dít is iets wat Afrikaanse mense wat gekies het om in die land te bly, baie goed doen. Hulle het ʼn aanpasbaarheid waarvoor hulle nie genoeg krediet kry nie,” sê sy.
“In Gesprek se kykers is ʼn ongelooflike diverse groep mense. En hulle is definitief nie net Afrikaans nie.”
Sy hou van die feit dat die program se kykers krities is en deelneem aan die gesprek.
“Ek wil nooit hê hulle moet ophou om dit te doen nie. Baie wit, Afrikaanssprekendes het hulle onttrek van politiek, maar dit is belangrik dat dié groep se stemme steeds gehoor word in ʼn politieke geselsprogram.”
Met soveel slegte nuus uit eie bodem, weet Lourensa hoe uitmergelend dit kan wees om in Suid-Afrika te leef en gekonfronteer te word met slegte nuus as jy jou foon aanskakel, ʼn koerant oopslaan, of inskakel vir haar program.
“Maar ek dink daar bestaan ook ʼn besef dat politici net gaan doen wat hulle wil as ons ʼn volstruis-houding inneem, met ons koppe in die sand. Daarom haal ek my hoed af vir mense wat inskakel vir my program.”
Altyd hoop
Haar werk is nie aldag maklik nie.
“Dit is nogal uitdagend om met verteenwoordigers van die regerende party te praat,” sê sy.
“Hulle weet ons saai regstreeks uit en hulle weet presies hoe om die tydsbeperking in hulle guns te laat tel deur te speel vir tyd.”
Tog ís daar dikwels inspirerende gaste wat meer doen as net praat. Andrea Johnson, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat, is een van hulle: “Sy het ʼn baie belangrike werk en sou hou aan om dit te doen, ten spyte van uitdagings.”
Maar eintlik is dit die gewone mense, wat in gemeenskappe saamstaan om ʼn verskil te maak, wat meer as ministers of ander BBP’s vir haar uitstaan.
“Dis die mense in die Vrystaat wat al maande sonder water sit en riool het wat deur die strate loop, maar steeds nie gaan lê nie; of die slagoffers van plaasmoorde wat uitpraat. Daai staan uit en gee vir my hoop. Ek voel altyd ek kan nie neerslagtig raak as dié mense nie is nie. Jy voel baie keer as joernalis die pyn en hartseer van gemeenskappe, maar Suid-Afrikaners se veerkragtigheid, maak my hoopvol.”
Dan is daar ook Suid-Afrikaners se humorsin.
“Maak nie saak hoe moeilik ʼn gesprek is nie, of hoe ernstig die onderwerp nie, daar is altyd ʼn grappie en ʼn poging om die spanning te breek, al maak die grappie dit nie noodwendig tot in die eindproduk nie. Dit vat nie weg van die erns van wat bespreek word nie, maar in ʼn land so divers soos ons sʼn, waar almal nie dieselfde taal praat nie, staan ons gedeelde sin vir humor uit.
“Dit is verblydend dat Suid-Afrikaners, te midde van ʼn ooraanbod van internasionale televisie-inhoud, steeds ʼn behoefte het aan stories uit hulle eie gemeenskappe, wat hulle nie op HBO of Netflix gaan kry nie,” sê sy.
“Die feit dat kykNET so ʼn hoë premie daarop plaas om eg Suid-Afrikaanse én Afrikaanse stories te skep, maak my opgewonde. Dit geld ook vir plaaslike inhoud op ander MultiChoice-platforms. Daar word ruimte geskep om eg-Suid-Afrikaanse stories uit ons diverse gemeenskappe te vertel.”
Nie ʼn eenvrou-vertoning
Lourensa maak dit duidelik dat In Gesprek nie ʼn eenvrou-vertoning is nie.
“In Gesprek is ʼn reuse-spanpoging: van twee sterk joernaliste, tot die produksiebestuurder, fantastiese vervaardiger en uitvoerende vervaardiger, die wonderlike klank- en kameraspan én beeldmengers,” sê sy.
“Ek voel só veilig met Rudi Botha, die tegniese vervaardiger, in my oor. Hy ken die inhoud en die taal en help my gereeld met die regte uitspraak as ek vasbrand met ʼn naam.”
Omdat soveel mense by die produksie betrokke is, is dit vir Lourensa belangrik om nie net die kyker te verteenwoordig nie, maar ook elkeen wat agter die skerms werk.
“Elke enkele mens wat by In Gesprek werk, sit die ekstra myl in en sien die waarde in van wat ons doen. Die produksiehuis Idea Candy is ʼn innovation hub waar mense bymekaar kan leer en kan kennis uitruil.”
Dieselfde geld vir haar rol as Carte Blanche-veldaanbieder, wat sy sedert April vanjaar vervul.
“Daar is ʼn vervaardiger wat agter die skerms al die harde werk doen en die onderhoude vastrap. Ek grap altyd dat ek net kom en die woorde sê en die link doen, al is dit darem meer as dit. Hierdie mense het my geleer hoe om stories te vertel, want of dit nou sepies of kortflieks is, Suid-Afrikaners hou van sterk storievertelling.”
Mense vra haar gereeld of sy nie eendag vir ʼn internasionale nuusnetwerk soos CNN of Sky sou wou werk nie.
“Ek voel regtig nie so nie, nee. Ek dink ek sal altyd, op ʼn manier, in Afrikaans werk.”
Waaroor sy wel droom, is om oud-president Jacob Zuma in die ateljee-stoel te kry om hom behoorlik uit te vra, “al gaan dit nie ʼn maklike gesprek wees nie”.
Kop skoonmaak
Lourensa maak haar kop skoon in die natuur.
“Ek is lief vir trail running. Wanneer ek gaan hardloop, los ek my foon uit en niemand kan my kontak nie. Ek vergeet van die nuus en dis net ek en die bome en die klippe en die watervalle… Om op ʼn berg te staan wat reeds miljoene jare voor ons hier was en nog miljoene jare na ons hier gaan wees, help my om perspektief te behou.
“ ʼn Mens dink dikwels dat iets die ergste, of moeilikste ding moontlik is. Maar dit is meestal nié…”
In Gesprek word elke Maandag om 20:30 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.