Menu terloops
In Features [15 Sep 2023]

‘Hartklop’ se Leandie du Randt: ‘Vergewe om seer te begin genees’


Reeds in die openingstonele van die Afrikaanse hospitaaldrama ‘Hartklop’, begin dr. Jolene Joubert se lewenswonde plek-plek uit te steek. Sy skroom nie om vir haarself steke in haar mond te sit nie; plak ’n laag grimering op; stap die hospitaal binne om lewens te red terwyl haar eie nie ver van intuimel is nie. Dié vertolking deur die aktrise Leandie du Randt is ’n loopbaanbeste – hier vertel sy meer oor die reeks en haar sonderlinge karakter.

Stroom aanlyn

‘Hartklop’ se Leandie du Randt: ‘Vergewe om seer te begin genees’
Kyk lokprent

Kykers het die karakter dr. Jolene Joubert reeds in die eerste episode van kykNET se dramareeks Hartklop (lees ook ons resensie) leer ken as ’n vrou wat duidelik die rugkant van die lewe al gesien het. Leandie du Randt vertel meer oor dié karakter wat sy met soveel oortuiging speel.

Leandie du Randt as dr. Jolene Joubert in Hartklop op kykNET.
Leandie du Randt as dr. Jolene Joubert in Hartklop. Foto: Verskaf

Oor hoe sy Jolene as ’n karakter gevorm en ingekleur het

“Sjoe, ja-nee, haar verlede is rof. Anders as in die regte lewe – waar mens nie weet wat in jou toekoms is nie – kon ek nadat ek die teks gelees het mooi verstaan waarheen Jolene op pad is. Ek het van haar toekoms, in my kop en my hart, teruggewerk om die plek te kry waar sy begin. My skietskedule het so uitgewerk dat baie van Jolene se laaste tonele eerste verfilm is. Dit het my gehelp om te verstaan van waar die karakter moes ontwikkel.”

Oor haar voorbereiding vir die rol

“Ek het net navorsing gedoen vir die operasies waarby ek betrokke was, want ek wou myself nie oorweldig deur te leer wat ek nooit gaan hoef te wys nie. Die navorsing het bestaan uit YouTube-video’s kyk en gesprekke met dokters en ons mediese raadgewers op stel, wat altyd daar was om te help.”

Leandie du Randt as dr. Jolene Joubert in Hartklop op kykNET.
Haar rol in Hartklop het haar laat besef sy sou nooit ’n dokter kon wees nie, vertel Leandie du Rant. Foto: Verskaf

Oor die lesse wat sy van haar medespelers geleer het

“Wow, ja, die spelers (rolverdeling) is fenomenaal. Dis altyd interessant om te sien hoe akteurs hul woorde leer en voorberei; hoe elkeen doen wat vir hom of haar werk. Die grootste wenk wat ek op die stel gekry het, was van Christo Davids, wat ook die regisseur van episode agt was. Hy het vir my geleer dat jy nooit hoef te wonder hoe jy ’n toneel of emosie gaan speel as jy dáár is in die oomblik, luister en dit persoonlik maak nie. Jy vra jouself watter mens of herinnering uit jou eie lewe jy met elke toneel kan vergelyk sodat jy ’n aanknopingspunt het en ’n plek waar jy die emosie kan gaan haal. Dit maak dit eg en die interpretasie meer geloofwaardig omdat dit (van)uit ’n persoonlike plek kom.”

Vergewe die mense wat jou kwaad aangedoen het sodat jy kan begin genees. Net omdat sommige mense in jou verlede sleg was, beteken dit nie almal is sleg nie.

Leandie du Randt

Oor daai steke-toneel… 

“Ek sou definitief nie (my eie steke insit nie)! Ek voel eintlik soos een groot fraud. Ek het flippen baie respek vir dokters gekry.”

Oor wat kykers nog op Jolene se kronkelpad in die reeks kan verwag

“Bitter baie seer en geraamtes waarmee sy nog gekonfronteer word… Trauma waardeur sy moet werk voor(dat) sy kan begin genees. Ek dink, soos baie mense, het Jolene van haar verlede en omstandighede probeer weghardloop en gehoop dít sal die seer laat weggaan. Maar só leer sy dat weghardloop en ontkenning net al minder plek in jou hart vir genesing en liefde los.”

Oor wat Leandie vir Jolene sou sê

“Vergewe die mense wat jou kwaad aangedoen het sodat jy kan begin genees. Net omdat sommige mense in jou verlede sleg was, beteken dit nie almal is sleg nie. Mens moet net beter mense leer kies met wie jy jouself omring. Praat bring genesing sodat jy kan ophou om die slagoffer te wees, verantwoordelikheid kan begin neem en as ’n wenner kan uitstap. ’n Mens kan kies of wat met jou gebeur het jou gaan sterk maak en vorm, of vir ewig jou siel en menswees gaan omkrap. ’n Mens kan nie altyd kies wat met jou gebeur het nie, maar jy kan áltyd kies wat jy daarmee gaan doen en hoe jy dit vir jou gaan gebruik.”

Leandie du Randt as dr. Jolene Joubert in Hartklop op kykNET.
Daar’s nog heelwat seer wat op Jolene se pad voorlê, vertel Leandie du Randt oor haar Hartklop-karakter. Foto: Verskaf

Oor wat sy by Jolene geleer het

“Dat ek nóóít ’n dokter sou kon wees nie! Maar ek dink die grootste geskenk wat sy my gegee het, is meer insig in mense wat swaar grootgeword het, slagoffers van mishandeling, en die lewe se seer. Dit het my baie meer empatie vir sulke slagoffers gegee, en my weer laat besef watter daaglikse battles hulle veg om vrede en ’n kans in die lewe te kry. Ek het baie meer deernis vir mense en herinner myself altyd dat ’n mens moet sag en liefdevol wees met almal, want jy weet nie watter battles hulle veg nie.”

Oor hoe sy Franci Swanepoel onthou (Hartklop was die laaste reeks waaraan Franci gewerk het voor haar ontydige dood)

“Lag! Ek het dit so geniet saam met haar. En eerlikheid – altyd! Ek en sy het altyd ’n ding gesê nes dit is en het baie waardering vir mekaar se grappies en eerlikheid gehad, want nie een van ons was oorsensitief nie. Ons kon altyd net lekker onsself wees by mekaar. Sy was darem maar net een spesiale mens en ’n ongelooflike aktrise. Ek is dankbaar vir die geleentheid om teenoor haar te kon speel.”


Hartklop wys Dinsdae 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar. Leandie is ook te sien in Donkerbos en Meisies wat Fluit, albei op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies