Menu terloops
In Onderhoude [13 Sep 2023]

Edwin van der Walt oor ‘Fraksie’ se ‘kwesbare anti-held’


Die akteur Edwin van der Walt is ʼn empatiese optimis en om sy karakter Schalk in die reeks ‘Fraksie’ op Showmax te vertolk, was ʼn onmisbare uitdaging. Hy het met Riëtte van der Wat gesels.

Deur Riëtte van der Wat

Stroom vanaf 14 September 2023

Edwin van der Walt oor ‘Fraksie’ se ‘kwesbare anti-held’
Kyk lokprent

Schalk Smit se droom is om ʼn dollar-miljoenêr te word.

Hy is sjarmant, maar hy’s slinks ook. Hy sal niks en niemand toelaat om in die pad van sy sukses te staan nie.

In die kykNET-dramareeks Fraksie, wat vanaf vandeesmaand op Showmax beskikbaar is, vertolk die akteur Edwin van der Walt die rol van Schalk, ʼn beleggingsbestuurder. Hy het ʼn gekompliseerde verhouding met sy vrou en kinders en wil met mag en mening deel van Stellenbosch se elite wees.

Fraksie gaan jou op ʼn reis vat van lag, huil, skree en vloek. Dis ʼn blik op die lewe van ʼn ryk klas mense wat ons nie gewoonlik het nie,” sê Edwin.

Vriendskap, die swaar juk van die verlede, tweede kanse, die kompleksiteit van ouerskap en die huwelik en tegnologiese vooruitgang se potensiaal om die geld te laat inrol, is enkele van die temas wat die reeks ondersoek.

Een keer in ʼn leeftyd

Die reeks, uit die pen van Louis Pretorius en Albert Snyman, is glo donkerder as hul vorige werk. Karakters soos Schalk is mense van wie ʼn mens nie noodwendig altyd gaan hou nie.

“Ek hou baie van Schalk. Dis een van daai rolle wat jy as akteur lees en dan weet jy dié tipe karakter sal dalk net een, twee keer, oor jou pad kom,” sê Edwin.

“Dis ook nie aldag wat jy die anti-held in ʼn reeks kan vertolk nie. Ek weet van geen ander Suid-Afrikaanse reeks met ʼn soortgelyke karakter nie.”

Dit het fyn trap, insig en deernis gekos om Schalk met eerlikheid te vertolk, vertel Edwin.

“Jy kan nie ʼn anti-held wees en dan haat mense jou van die eerste oomblik af nie. Jy moet hom ook weerloos maak en bold in sy foute – dit verg balans. Ek het ʼn interessante onderhoud gelees met Leonardo DiCaprio en Martin Scorsese oor DiCaprio se rol as Jordan Belfort in The Wolf of Wall Street. Hy is donker, iemand sleg, maar DiCaprio en Scorsese was bang mense verloor belangstelling as gevolg daarvan.

“Hulle het besef as daar volle geloofwaardigheid is vir sy vervallendheid, sal mense bereid wees om aan te hou kyk vir hom. Maar as jy daardie verval probeer vermy, glo mense dit nie.”

Edwin sê hy en Schalk deel ʼn soortgelyke optimisme en positiwiteit. “Sy glas is nie half vol nie, dit loop altyd oor.

Louis en Albert is ongelooflike skrywers en wanneer jy hulle tekste optel, neem hulle jou op ʼn reis wat jou nie laat los nie,” sê Edwin. “Hulle tekste is baie effektief. Hulle mors nie tyd in tonele nie; hulle kom by die punt uit en hou dit opwindend. Hulle temas is ook interessant – dis realisties, maar hulle sorg vir die drama wat nodig is vir televisie, sonder om die natuurlikheid en realisme in die proses te verloor.

Edwin van der Walt


“Waar ons wel verskil en wat vir my moeilik was, is die feit dat Schalk nie empatie het nie. As akteur moet jy uiteraard altyd empatie hê. Maar ek moes leer om instinktief soos Schalk op te tree en om daardie ‘gaatjie’ te soek van empatieloosheid.

“Al was dit ʼn uitdaging, was dit ook lekker, want jy kom agter hy het al hierdie wonde en ʼn slegte geskiedenis. Maar hy is maar eintlik net ʼn klein seuntjie wat verwond is.”

Dramatiese realiteit

Edwin van der Walt
Edwin van der Walt as Theo in Troukoors. Foto: Showmax/Infinity Films

Pretorius en Snyman was ook die skeppers van ongelooflike reekse soos Fynskrif, en Troukoors, reekse waarin Edwin ook kern-rolle vertolk het.

“Louis en Albert is ongelooflike skrywers. Wanneer jy hulle tekste optel, neem hulle jou op ʼn reis wat jou nie laat los nie,” sê Edwin. “Hulle tekste is baie effektief. Hulle mors nie tyd in tonele nie; hulle kom by die punt uit en hou dit opwindend.

“Hulle temas is ook interessant. Dis realisties, maar hulle sorg vir die drama wat nodig is vir televisie, sonder om die natuurlikheid en realisme in die proses te verloor.”

Edwin het ook vir Fynskrif en Troukoors saam met die regisseur van Fraksie, Nina Swart, gewerk en hy beskryf haar as “passievol en energiek”.

“Sy’s ʼn teacher, ʼn goeie een. As jy saam met haar werk, loop jy altyd van die stel af met nuwe kennis. Ek sien altyd hoe sy die jong akteurs op stel wysmaak oor die tegniese aspekte van die verfilming. Sy skep ʼn collaborative omgewing – vol energie en lig.”

Tennis speel

Roeline Daneel as Nina Smit in Fraksie. Foto: kykNET/Verskaf
Roeline Daneel as Nina Smit in Fraksie. Foto: kykNET/Verskaf

Op stel het hy en Roeline Daneel lustig op mekaar gegil. Roeline vertolk die rol van Nina Smit, Schalk se vrou en dié twee se verhouding is kompleks.

“Ek en Roeline spot altyd dat ons van die begin tot die einde op mekaar gil en skel voor die kamera. Maar as die kamera af is, lag ons net! Ons het so lekker teenoor mekaar gespeel – sy is ʼn warm, talentvolle, lieflike mens. Sy is bereid om tennis met jou te speel voor die kamera. As ek in die een rigting gaan, gaan sy saam.”

Dit het gehelp dat Roeline ʼn ma is, want Edwin het nie kinders nie en dié reeks was die eerste waarin hy ʼn pa gespeel het – boonop van tieners.

“Roeline het daai ervaring as ma gebring om outomaties die gevoel van familie-wees te skep,” sê hy.

“Wat my ook gehelp het, was om van stel af tyd deur te bring saam met die akteurs wat my seun en dogter speel en so ʼn konneksie te vorm. Hulle is albei ongelooflike mense en baie talentvol en dit was lekker om saam met hulle te werk.”

Mentorskap

Edwin is dankbaar teenoor sý ouers vir die ewige optimisme en positiwiteit waarmee hy grootgeword het.

“Ons het altyd baie ondersteuning gehad en daarom is dit nog altyd ʼn deel van wie ek is om aan te moedig en te ondersteun; om die positiewe te sien.”

Daar was ʼn tyd toe sy tema in die lewe was “ek worry nie”, maar toe hy na sy studies sy akteursloopbaan ernstig begin opneem het, het dié aanslag heeltemal verander.

“Ek is nou baie meer georganiseerd en strategies. Ek het ervaring opgedoen en die groei wat ek ervaar het, het my die gereedskap gegee om met meer kleure in my lewe te werk en met ʼn ander dinamika te leef.”

Om dié positiewe ingesteldheid met ander te deel is vir Edwin “alles”. NovieGuide, die aanlyn-opvoedkundige platform wat hy saam met sy nefie Louw de Beer begin het, is ʼn manier om ander te help om die beste weergawe van hulself te word.

Buiten vir ʼn podcast waarin Edwin onderhoude voer met invloedryke Suid-Afrikaners in die vermaaklikheidsbedryf en ʼn blog waarin hy onder andere wenke deel oor oudisies en karakterontwikkeling, het NovieGuide ook ʼn praktiese aanlyn-kursus oor toneelspeel voor die kamera.

“Daar was ʼn gaping om mense te help wat klaar gestudeer is. Mense maak klaar met universiteit en almal trap water. Daar moet ʼn omgewing wees waar iemand uitkyk vir hulle. Waar jong kunstenaars gehelp kan word om aan te hou leer en groei. Ek haat dit as ʼn Suid-Afrikaanse fliek op iets soos die kortlys van die Oscars kom en dan verloor almal hulle varkies. Ja, dis wonderlik, maar hoekom is dit nie meer algemeen nie?

“Ons moet gemaklik kan kompeteer op ʼn internasionale vlak. Ek glo dit is waar ondersteuning, opvoeding en die oordrag van die regte mentaliteit inkom.”


Fraksie is vanaf Donderdag, 14 September 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies