Die storie agter die storie, die feite waaraan ander mense nie eens twee keer dink nie, het Mia Spies nog altyd laat tiek. Mia, ʼn bekroonde nuusjoernalis, is die aanbieder van die nuus-geselsprogram Wie’s nuus? op kykNET en van ʼn podsending, Nuusmakers.
“Ek het ʼn vriendin op koshuis by Tuks gehad, wat altyd ʼn gesprek begin het deur vir my te sê ‘Mia, ek gaan nou vir jou iets vertel, maar dis ál wat ek weet, moenie nog vrae vra nie’! As iemand ʼn storie vertel, wil ek altyd weet wat het hulle aangetrek, hoe laat het hulle daar gekom… dis maar net hoe ek gewire is.”
Die ‘hoekom?’ en ‘hoe?’ van als
Sy wou van kleins af gedurig by haar ouers die “hoekom” en “hoe” van alles weet en op 14 het sy elke dag in ʼn dagboek begin skryf.
“Daar was ʼn program op Nickelodean, As told by Ginger, en sy het elke dag in háár dagboekie geskryf…
“Ek het begin met groot boeke waarin ek tydskrifprente geplak het. Ek hou steeds ʼn dagboek – dis nou net altyd ʼn swart Moleskine en die glitter-pen het plek gemaak vir gewone ink. Skryf help my om my kop agtermekaar te kry. Ek het joernalistiek gaan swot by die Universiteit van Pretoria (UP) en het daarna my honneurs en ʼn meesters in politieke joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi,” vertel Mia.
By die UP het sy reeds in haar eerstejaar agter ʼn mikrofoon ingeskuif by TuksFM, ʼn radiostasie wat destyds die begin van baie van Suid-Afrika se prominente radiojoernaliste se loopbaan was.
“Ek was absoluut horrible,” vertel sy laggend. “Ek het soveel foute gemaak en ek het gedink nee, ek kan nie… Toe het ek aangesluit by die redaksie van Kampus-Beeld en dit was fantasties.”
Gelukkig was sy nie verlore vir die uitsaaiwese nie.
“Dit was eers in my honneursjaar by die US toe my radio-dosent Tessa van Staden vir my gesê het ek het ʼn talent daarvoor, wat ek weer met radio begin het. Sy het vir my ʼn internskap by Eyewitness News aangebied.”
Nuushond
“Ek is in murg en been ʼn nuushond,” sê Mia, wat ook al by eNuus gewerk het as veldaanbieder en nuusleser en as nuusontleder vir Die Groot Ontbyt op kykNET.
Die aanbod om die nuusprogram Wie’s nuus? op kykNET aan te bied, was ʼn onmisbare geleentheid.
“Wie’s nuus? voel regtig soos ʼn droom – dis my ideale werk, waar gesels en die nuus bymekaarkom,” sê Mia.
“Daar was nog nooit so iets in Afrikaans nie en toe die produksiehuis, POP!, my vroeër vanjaar gekontak het om te vra of ek ʼn nuusprogram saam met hulle sou wou doen, het ek dadelik ja gesê, al het ek nog nie eers mooi geweet wat dit sou behels nie.”
Dit was vir Mia opwindend om die program saam met POP!, Media24 se produksiehuis, te ontwikkel en om elke week die inhoud te help navors en saamstel.
Verteerbare nuus
“Met Wie’s nuus? maak ons nuus vir mense meer verteerbaar deur elke week op een nuusmaker te fokus. Ons bespreek die rede waarom daardie persoon die week in die nuus was, maar werp dan ook lig op hoe die betrokke onderwerp op die groter samelewing van toepassing is.”
In een insetsel het hulle byvoorbeeld gefokus op die veroordeelde moordenaar Gerhard Jansen van Vuuren, wat sy voormalige meisie Andrea Venter in 2011 wreed vermoor het.
“Ons het dié storie gebruik as ʼn wegspringblok om oor geslagsgeweld te praat,” sê Mia.
Haar gesprekke met joernaliste van Netwerk24 tydens elke program, is weekliks vir Mia ʼn hoogtepunt.
“Daai joernaliste is al jare in die nuus en baie skryf al dekades oor die mense waarop ons in die program fokus – hulle verstaan ʼn kwessie in die geheel. Hierdie mense het sulke lekker inligting wat nooit in nuusberigte gebruik kan word nie. Hoe die persoon gelyk of geklink het, of hoe ʼn misdadiger in die hof vir hulle gekyk het.
“Hulle deel al daardie lekker stories wat uit ʼn koerantberig gesny sal word, maar waaroor hulle hul vriende Saterdagaand om die braaivleisvuur vertel. Daar is absolute goud in daardie joernaliste.”
Aanhou leer en groei
Met haar jarelange ervaring as radionuusleser en televisie-nuusjoernalis, was dit nogal ʼn aanpassing om nuus met ʼn geselstrant oor te dra.
“Dit was vir my ʼn groot uitdaging om nie in daai nuuslees-stem oor te gaan met Wie’s nuus? nie omdat ons vir jare lank geleer is om dit so te doen. Gelukkig is die span van POP! fantasties en hulle het my gehelp om my stemtoon aan te pas en byvoorbeeld eerder die infleksies aan die einde van my sinne te verander om meer informeel oor te kom. Dis vir my lekker om ʼn nuwe vaardigheid aan te leer.”
Sy glo nie sy sal ooit ophou leer nie.
“Elke dag as ek nuus-lees is daar dalk ʼn woord of naam wat ek nie kan uitspreek nie. Dan vra ek mense tien keer hoe ek dit moet doen en ek gaan luister hoe die woord of naam elders gebruik is.
“Die afgelope tien jaar het ek ook gesien hoe die bedryf en uitsaaimediums verander. Toe ek destyds by TuksFM begin het, was dit die beginjare van Facebook. Toe ek my loopbaan begin het, was daar nog nie iets soos podcasts nie… Die bedryf verander en jy moet daarmee byhou.”
‘Mense wíl weet’
Deesdae bied Mia haar eie podsending, Nuusmakers, aan – ʼn weeklikse aktualiteit-geselsprogram wat Mia saam met die produksiehuis Volume saamstel.
“Ek praat oor dinge waaroor ek regtig nuuskierig is. Al lees ek baie nuus, weet ek ook nie altyd lekker hoekom Zuma byvoorbeeld nou weer in die hof is, of hoe mediese parool nou eintlik werk nie. Ek vra my gaste om uit die staanspoor daardie tipe goed te verduidelik. Ons gesels in gewone Afrikaans oor die nuus.”
Mia het ook ʼn Facebook-blad met oor die 60 000 aanhangers. Hier deel sy belangrike nuus wat mense se lewe op die een of ander manier beïnvloed.
“Met lockdown het mense vrae na my inboks begin stuur oor die inperking. Ek het toe begin om nuus te deel soos ek dit sien. As ʼn minister iets tweet, deel ek dit, en as daar beurtkragskedules bekend gemaak word, deel ek dit. Ek het agtergekom mense wíl van dinge weet, hulle weet net nie altyd hoe en waar om die inligting te kry nie. Daar is nou ʼn hele gemeenskap op my blad en mense begin mekaar se vrae beantwoord.”
Al meer opgewonde
Daar is vir eers 26 episodes van Wie’s nuus? in die pyplyn, maar Mia hoop die program kan vir veel langer uitgesaai word.
“Daar sal elke week ʼn interessante nuusmaker wees. Dit is lekker om my tande weekliks so in een onderwerp te kan insink.”
Intussen het sy Direct Media Training saam met haar vriendin en kollega, die bekroonde joernalis Daniëlla van Heerden begin.
“Ons het so paar jaar gelede begin om gewone mense te leer hoe om media-onderhoude te doen. Dit het intussen ʼn onderneming geword. Elke keer wat ons ʼn kursus aanbied, raak ons net meer opgewonde oor die media en joernalistiek.”
Uit haar gemaksone
Wanneer Mia nie werk nie, skakel sy af deur saam met haar hond te gaan stap, ballet toe te gaan of te gaan fliek.
“Ek is verslaaf aan regpakprogramme soos dié van Marie Kondo en The Home Edit. As ek gespanne is, vaar ek ʼn kombuislaai of klerekas in en gooi uit en sorteer.”
Sy beskryf haar persoonlike styl as “edgy eenvoud. Ek is nie regtig ʼn modeslaaf nie en was nog nooit een wat modegiere volg nie. Ek weet waarvan ek hou en waarvan ek nie hou nie. Dus dra ek klere waarin ek selfversekerd en gemaklik voel.
“Ek het ʼn capsule closet, dra al die klere in my kas en gooi uit wat ek nie dra nie. Die meeste van my klere is swart en dan is daar hier en daar ʼn helder item. Ek is op my gemaklikste in ʼn swart polonek, swart broek en tekkies. Ek glo beslis in kwaliteit eerder as kwantiteit. Ek is al oor kragpakke (power suits) en my pajamabroek en top moet altyd by mekaar pas! My grootste bederf, is ʼn kasjmiertrui.”
Die helder uitrustings wat sy dra wanneer sy regskuif op Wie’s nuus? se aanbiederstoel, is die handewerk van die stilis (en aktrise) Mienke Ehlers.
“Dit dwing my nogal buite my gemaksone om ʼn satynrok aan te trek of ʼn paar pers stewels, maar ek is mal daaroor!”
Wie’s nuus? word op Donderdae-aande om 21:00 op kykNET uitgesaai. Jy kan dit ook op Catch Up kyk.