Mienke Ehlers vertolk Dalena van Vuuren in die TV-verwerking van Marita van der Vyver se Dinge van ʼn kind. Dalena is dalk avontuurlustig en impulsief, maar agter die bravade, steek sy ʼn diep hartseer weg.
Hoe het dit gevoel om betrokke te wees by die televisie-weergawe van ʼn storie wat so gewild is soos Dinge van ʼn kind?
“Dit was ʼn ongelooflike groot voorreg om betrokke te wees by ’n storie met so baie aanhangers en wat so ʼn groot impak gehad het – destyds toe dit gepubliseer is én vandag.
“Ek sal nooit vir Marita (van der Vyver) genoeg dankie kan sê vir die mooi storie wat sy geskryf het nie.”
Dalena is ’n komplekse karakter – op die oog af so vol selfvertroue, maar eintlik ook onseker en bang, ’n kind. Hoe het jy voorberei vir dié rol en wat het jy in die proses geleer?
“Ek het die boek intens bestudeer om enige quirks en maniërismes van Dalena op te tel. Ek het haar so goed moontlik probeer leer ken. En ek het ook gekyk hoe ek met haar kon aanklank vind. So ek het baie karakter-analise gedoen.
“Ek was ook ʼn rebelse jong tiener. Ek het oor myself en jonk wees geleer, dat alles ʼn impak op mense het. Alles wat jy sê en doen. Dalena tree baie instinktief op en sy maak partykeer mense om haar seer. Ek moes haar daarvoor vergewe omdat ek haar moes kon liefhê om haar te kan speel. Maar ek dink ek het geleer, dat hoe lekker én so kort as wat die lewe is, álles het ’n impak. Jy moet seker maak dat die dinge wat jy doen nie ten koste van iemand anders se geluk is nie.”
Dink jy die lewe sou eenvoudiger wees vir Dalena as sy vandag ’n tiener was? Die 70’s was immers nog baie verkramp in sekere opsigte?
“Ek dink Dalena sou definitief beter gevaar het in die hede. Máár ek dink sy sou dan met ander dinge sukkel. Ek dink tieners word vandag heeltemal te vroeg en aan te veel blootgestel. Die wêreld het heeltemal te klein geword en daar is minder dissipline.
“So hoewel Dalena dalk meer aanvaar sou word vandag, sou sy steeds sukkel met depressie en sy sou aan nét sulke moeilike dinge blootgestel word… Maar ek moet sê, ek dink dit sou dalk tog vir haar makliker wees.”
Het jy van hoërskool gehou en om ʼn tiener te wees?
“Ek het baie van hoërskool gehou. Ek was ’n baie gelukkige tiener. Ek was baie stout, maar ek was mal oor my vriende. Ek was in die Hoër Meisieskool Paarl en dit was die béste tye van my lewe. Ek was mal oor my vriende en het baie sport gespeel. My sussie was hoofmeisie van ons skool en ék was altyd in die hoof se kantoor… Daai tyd van my lewe was ʼn absolute partytjie.
Is daar lesse of gewaarwordinge oor die lewe wat jy wens jy nou met jou tienerself kon deel om die lewe vir haar makliker te maak?
“Ek wens ek het as tiener geweet dat daar ’n groter hand betrokke is in álles wat oor my pad kom. Ek wens ek het die Here se genade toe al beter verstaan.
“En ek wens ek het geweet dat my ouers my onvoorwaardelik lief het en my altyd sal vergewe. Alhoewel hulle dit vir my probeer sê het, het ek dit nie daai tyd al geglo nie. Ek dink dit sou my kop ’n bietjie rustiger gemaak het.”
Jy en Melissa Myburgh (wat jong Mart vertolk) deel baie skermtyd en julle dra die karakters se vriendskap met soveel egtheid oor. Vertel hoe dit was om saam met Melissa te werk. Het julle mekaar voorheen geken en het julle vriende geraak in die proses?
“Ek en Melissa het in die gang van ʼn skoolkoshuis in Durbanville ontmoet. Dis waar ons Mart en Dalena se koshuistonele geskiet het. Ons het vir ure tussen tonele gestaan en gesels en het mekaar daar leer ken. Hier het ons vriendskap as akteurs en karakters begin.
“Ons het wel ná die eerste oudisie gaan koffie drink en vir vyf ure gesit en gesels. Ses maande later het ons saam in ʼn woonstel ingetrek en sy is nou een van my beste hartsvriendinne.”
Dalena het ’n baie belangrike rol in Mart se lewe gespeel en haar anders na die lewe laat kyk. Maar wat dink jy beteken Mart se vriendskap vir Dalena?
“Ek dink Mart is vir Dalena die metafoor en die voorbeeld van dissipline en verantwoordelikheid. Hoewel sy absoluut rebelleer teen enigiets wat eenvoudig of vervelig vir haar lyk, het Mart Dalena se voete so lank as wat sy kon op die grond gehou.
“Mart is iemand wat Dalena aanvaar het en vergewe het en haar liefgehad het vir net hoe sy is en dit het definitief vir Dalena ’n bietjie moed gegee en haar verder laat uithou met die lewe as wat sy gedink het sy sou kon.”
Hoe was jou ervaring om onder leiding van ʼn bekroonde regisseur soos Quintin Krog te werk? Ook saam met Tinarie van Wyk-Loots?
“Dit was ’n ongelooflike voorreg om saam met Quentin Krog te werk, ek het baie respek vir hom en ek dink hy is die béste regisseur in ons land. Hy was ongelooflik professioneel. Al my intimacy scenes wat suggestief was, wat vir my moeilik was om te skiet, het hy vir my so maklik moontik gemaak. Hy het my so veilig laat voel. Quentin praat met sy hande en in prentjies en ek het baie meer as wat ek van gedroom het by hom geleer in die reeks. Ek wens ek sal eendag sό met mense in die bedryf kan werk.
“Tinarie het my hart gesteel. Sy is die mooiste bol vol energie, sy (en Cintaine Schutte) is my gunsteling-aktrise(s) en ek het net met ’n oop mond na haar gestaar as sy direct. Daar is niemand so goed soos sy nie en dan is sy nog ’n nice mens ook.”
Vanaf Donderdag, 11 Mei 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.