Menu terloops
In Onderhoude [8 Mar 2023]

‘Geduld is ’n Virtue’: Skrywer-akteur Monique Nortjé oor ‘Getroud met Rugby’ se fliek-herlewing 


As daar nou een program is met meer lewens as ’n waaghalsige kat, dan is dit ‘Getroud met Rugby’. Dié sepie het ’n stertjie bygekry in die vorm van ‘Geduld is ’n Virtue’, ’n nuwe kykNET-fliek waarin Monique Nortjé en Melt Sieberhagen van die hoofrolle in dié aksie-komedie vertolk.

Deur Watkykjy
‘Geduld is ’n Virtue’: Skrywer-akteur Monique Nortjé oor ‘Getroud met Rugby’ se fliek-herlewing 

Getroud met Rugby (GMR) het in die laat 2000’s begin as ’n dramareeks en het uiteindelik in 2022 tot ’n einde gekom as ’n baie suksesvolle en gewilde sepie. Intussen was daar ook ’n vollengte fliek (Getroud met Rugby – Die Onvertelde Storie) in 2011 en nou kan kykers wat gedink hulle het die laaste van die lief en leed van mense met die ovaalbal gesien, vir ’n lekker bederfie nader skuif. 

Afrikaanse televisiereekse het ’n manier om hul pad na die silwerdoek te maak. Daar was Bosveldhotel: Die Movie in die vroëe 80s, Agter Elke Man, en sommer twee Orkney Snork Nie-flieks. Nou is dit GMR se beurt.

Van die gewildste karakters van die sepie maak hul terugkeer minder as ’n jaar nadat die credits op die laaste episode gerol het. En hulle is terug met ’n maltrap komedie vol manewales wat ’n mens nie noodwendig met die wêreld van gespierde rugbyreuse en sexy pompom-meisies sou vereenselwig nie. 

Die premis

Geduld is ’n Virtue
’n Toneel met Melt Sieberhagen, Hélène Truter en Monique Nortjé in Geduld is ’n Virtue. Foto: Verskaf

Gelduld is ’n Virtue vertel die storie van Buks (Adriaan Marais; Bloedbroers) en Nesie (Melissa Massyn; Agent 2000: Die Laksnman) wat hul kroeg, Buksies, in Nesie (oftewel Euvonique, soos haar ma haar gedoop het) se geboortedorp, Geduld aan die verre Oos-Rand, gaan oopmaak. Buks en Nesie keer terug ná hul vakansie en vind uit dat dit nie die beste idee was om Nesie se ma, Nytjie (Monique Nortjé; Liefling: Die Movie), en meer spesifiek haar pa, Ghries (Melt Sieberhagen; Dina Dagbreek) in beheer van sake te los nie. Kom ons sê maar net weddenskappe en skuld is gemaak en daar is ’n bol iets op pad na ’n fan toe, en dis nie konfetti nie. Gooi sommer ook vir wulpse ouma Nonnie (Hélène Truter; Huis Lelieveld) in, en dinge raak eers interessant! 

Daar’s ’n hele wêreld vol pyn wat wag in die vorm van Swannie Swanepoel, sy dogter en haar twee thug seuns (gespeel deur Rouel Beukes; Sew The Winter to My Skin, Wynand van Vollenstee; Platteland en Luan Jacobs; Somer Son). Dis maar net die begin van ’n hele rits maltrap avonture. 

Die regie is deur Kaz McFadden behartig en die draaiboek is deur Monique Nortjé (wat ook ’n skrywer op die sepie was). Ons het by Monique vir meer oor die fliek gaan hoor. 

Hoe pak jy ’n komiese storiefilm aan as jy vir so lank in ’n meer dramatiese sepie-milieu gewerk het?

“Die groot uitdaging as skrywer was nooit om te beweeg van drama na komedie nie, want ek het al baie komedie geskryf en ek is baie gemaklik daarmee. Die karakters was ook reeds komieklike karakters – hulle was die snaakse mense in Getroud Met Rugby, so the characters lent themselves to it.

“Die uitdaging was eerder om van ’n 24 minute lange episode na ’n 90 minute lange movie te beweeg. Met sepies is jy beperk tot stelle, so die karakters praat baie meer oor wat hulle gaan doen of wat hulle gedoen het. In ’n film doen jy actually die ding en ons sien dit. Hierdie is ’n aksie-komedie, so daar is hengse baie aksie!”          

Hoe was dit om die GMR-karakters te laat herleef ná hulle basies afgetree het? 

“Hierdie karakters het nooit in my brein afgetree nie; hulle het aanhou leef. Ek wou baie graag vir hulle laat herleef – of dit nou in ’n spin-off, of in ’n fliek sou wees. Toe Soné Combrink van Sonveld (die maatskappy wat die reeks vervaardig het) my kontak en sê: ‘Monique, kom ons pitch ’n movie vir hierdie karakters!’, was ek baie bly en baie verlig.”   

Wat kan kykers van verwag?

“Daar is baie aksie en daar is komedie, so ek hoop julle almal lag lekker! Daar is baie bekende gesigte met regtig great comedy actors en die soundtrack is bedonnerd!

“Kaz McFadden, ons regisseur, het ’n amazing job met die klankbaan gedoen. Ek is baie tevrede daarmee.

“Verwag so ’n klein bietjie nostalgie ook. My karakter ry ’n blou 1978 Ford Cortina-stasiewa en dis iets uit my eie kinderdae. Daardie kar is gemaak in die jaar wat ek gebore is, so dit was amazing om daarmee rond te ry!”      

Jy is mos self van die Oos-Rand af – hoeveel van Geduld is ’n Virtue sou jy as “outobiografies” beskryf in terme van mense en plekke? 

“Ja… Ek is in Springs gebore en het oorwegend in Brakpan grootgeword. Die res van Suid-Afrika spot gereeld met Brakpan en in Brakpan het ons gespot met Geduld. I would say that the film is coloured by my childhood, maar… ek gaan dit maar daar los.”   

Daar’s bekende karakters, en ook ’n paar nuwes. Moes ’n mens ’n getroue GMR-kyker gewees het om die fliek te geniet?

“Nee, glad nie! Jy het geen agtergrondkennis nodig om hierdie movie te geniet of te verstaan nie. Jy gaan dadelik agterkom wie hierdie mense is en waaroor hulle gaan.”    

Wat was die lekkerste, snaakste, mees bisarre oomblik wat julle op stel ervaar het? 

“Ons het die dag geskiet toe Pretoria besluit het om 39 grade warm te word, en skiet toe ’n fight scene in ’n parking lot in die middel van die dag. Ek onthou die teer het my deur my tekkies se sole gebrand! Dit was crazy warm en ons moes op daai teer rondrol en sweet en lag en hardloop en ons is mos nou oud! (lag) So dit was nogals snaaks. 

“Die lekkerste van alles was om saam met my pelle te kon werk. Ek weet nie eens meer hoe lank ek en Melt al saam werk nie en ek en Hélène kom ook al ’n lang pad saam. Die res van die Griesel-gesin ook, want ons het vir meer as twee jaar lank saam by GMR gewerk.

“O ja! In ’n stadium het ek ’n steak teen my gesig vir ’n toneel en dit was so warm dat die steak begin vrot het! Dis die eerste keer in my lewe dat ek ge-upstage is deur ’n vlieg wat nie die steak wou uitlos nie! Dit was ook die eerste keer in ’n lang tyd wat ek ’n kar sonder ABS-brieke of power steering bestuur het, so as jy Melt in ’n stadium in die fliek soos ’n meisie hoor gil, is dit dalk nie acting nie!”           

Is dit nou dít vir die karakters, of dink jy’s daar’s ’n kans dat hulle weer gaan opduik?

“Nee, nee, nee! Ek hoop nie so nie. Ek wil nie hê dit moet wees nie! Ek gaan alles in my vermoë doen om vir hulle weer ’n kans te gee. Ek wil graag nog ’n movie pitch en ek hoop dit gebeur! Ek hoop die mense geniet dit en dat hulle meer van die Griesels wil sien (en die Swanepoels, dalk ook?).

“Ek is baie, baie lief vir hierdie karakters. Ek vermoed dat, as hulle deel van my eie gesin was ,ek dalk nie so lief vir hulle sou gewees het nie. Maar ek is mal oor hulle en dit sal vir my great wees as ek weer vir hulle kan skryf.”       


Geduld is ’n Virtue wys 11 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en op DStv Online). Ook op Showmax beskikbaar vanaf 17 Maart.

Kyk ook:

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies