Menu terloops
In Onderhoude [5 Mei 2023]

ʼn Koppie tee saam met Jak de Priester


Sy stem het volksbesit geword toe hy destyds die tema-lied van ‘Binnelanders’ opgeneem het, maar deesdae kuier Jak de Priester ook as TV-aanbieder in ons sitkamers. Hy het met Riëtte van der Wat gesels oor sy geselsprogram ‘Koppieteefontein’, nou in sy derde seisoen, onderhoudvoering as kuns, en sy gesin.

Deur Riëtte van der Wat
ʼn Koppie tee saam met Jak de Priester
Kyk lokprent

Veelsydigheid kon netsowel Jak de Priester se middelnaam gewees het – cliché of nie.

Jak is ʼn sanger en visuele kunstenaar. Hy is ook ’n TV-aanbieder en – vir ʼn kortstondige tydjie – was hy selfs ʼn eiendomsagent. Hy doen selfs naaldwerk nadat hy ʼn ambassadeur vir Brother-naaldwerkmasjiene geword het.  

In ʼn kort telefoongesprek met Jak het dit ook duidelik geword hy is régtig so gaaf en gemaklik soos wat hy op die verhoog en die televisie oorkom. Hy’s ook iemand wat opgewonde is oor sy werk; wat geleenthede aangryp en wat opreg in ander mense belangstel.

Buiten vir sy sangstem en daai Binnelanders-deuntjie, is Jak ook veral bekend vir Reis na gister, ʼn nostalgiese geselsprogram waarin Jak bekende Suid-Afrikaners teruggeneem het na die plekke van hul kinderjare. Hy het dié werk heel toevallig gekry, maar dit het vinnig ʼn groot deel van sy lewe geword, vertel hy. Hy het hom oor die loop van die reeks se ses seisoene verdiep in navorsing oor die persoon met wie hy vir ʼn betrokke episode sou gesels. Hy is ook dikwels só deur die onderhoude meegevoer dat hy liedjies daaroor geskryf het.

Skink ʼn teetjie en vertel my meer

Jak het die onderhoude baie geniet en die reeks was ʼn groot sukses. Hy het egter mettertyd besef hoe hy en sy gas eintlik eers teen die einde van ʼn onderhoud dieper begin delf. Dié besef was die vonk vir Koppieteefontein, sy nuutste reeks. Die eerste seisoen wys tans op Showmax met die derde seisoen wat op Vrydae (vanaf 5 Mei 2023) op kykNET uitgesaai word.

“In Covid-tyd was daar meer tyd om te sit en gesels met mense. Ek het begin dink dit sou lekker wees om onderhoude te doen waar ons op een plek stilsit en dieper kan gesels, sonder om van die een plek na die ander te gaan.”

Vandaar Koppieteefontein, ʼn intieme gesprek wat by ʼn bekende persoon se huis plaasvind, soos in die geval van Claire Wiese Wentzel; by ʼn plek wat belangrik is vir iemand (die onderhoud met Suid-Afrika se eerste vroue-vegvlieënier Mandisa Mfeka, vind onder die vlerk van ʼn vegvliegtuig plaas) en om ʼn mooi gedekte tee-tafel, soos die onderhoud met Nataniël.

Koppieteefontein S3
Jak saam met die sangeres Andriëtte Norman. Foto: Verskaf

Onderhoudvoering, ʼn kuns

Jak se gaste maak maklik teenoor hom oop en hy skroom nogal nie om vrae te vra wat ander mense sou vermy nie. Vir Claire Wiese Wentzel vra hy byvoorbeeld reguit hoe dit op skool vir haar gevoel het dat ander mense weet haar familie is skatryk. Vir Nataniël vra hy prontuit of hy ʼn ongewone kind was.

“Onderhoudvoering is ʼn tipe kunsvorm en in Reis na gister en Koppieteefontein bly ek in die wêreld wat ek ken,” sê Jak. “ʼn Mens moet besef die onderhoud gaan nie oor jouself nie. Dit gaan nie oor hou oulik jý is nie. Jy moet lúíster. ʼn Mens kom vinnig agter as iemand se kop al by die volgende vraag is.

“Met Koppieteefontein praat die mense met mý en nie met die mense daarbuite nie. Ek is maar net die kanaal waardeur hul stories na die mense daarbuite gaan. Mense praat in die algemeen nogal maklik met my. Ek dink dis oor ek alles wil weet en regtig belangstel.”

Elke ou het sy eie reis, sy eie blydskap en sy eie dinge. Elkeen loop sy eie paadjie. As jy almal respekteer, kan jy met enigiemand praat.

Jak de Priester

Jak en Nataniël, wie nie sommer onderhoude toestaan nie, is al amper 20 jaar goeie vriende, so dit het nie eintlik oortuiging geverg om hom op die program te kry nie, sê Jak.

“Ons het in 2003 agter die verhoog van ʼn vertoning in Nylstroom ontmoet, waar ek die voorvertoning voor sy show gedoen het. Van toe af, is ons goeie vriende. Ons was ook al saam oorsee. Ek was deel van sy konsert in die Royal Albert Hall; so toe vra ek hom om vir my ʼn guns te doen en op my program te wees. En al is ons vriende, bly hy Nataniël – hy verleen ʼn sekere geloofwaardigheid aan die program.”

Almal het ʼn storie

Koppieteefontein S3
Jak met Koos Kombuis tydens hul gesprek op die derde seisoen van kykNET se Koppieteefontein. Foto: Verskaf

Hy beskryf baie van sy gaste as “lewende legendes”, mense met uiteenlopende ervaring en uitkykpunte.
“Elke ou het sy eie reis, sy eie blydskap en sy eie dinge. Elkeen loop sy eie paadjie. As jy almal respekteer, kan jy met enigiemand praat. Hannon het ʼn heel ander lewe as ek, maar ek kan hom nie judge nie. Claire Wiese Wentzel is báíe ryker as ek, maar ek kan haar nie daarvoor judge nie.”

Dis vir Jak moeilik om ʼn onderhoud as ʼn gunsteling uit te sonder.

“Om met Anneline Kriel te praat was amazing, want daar sit en praat ek met hierdie vrou waarvan ek my lewe lank geweet het.

“Ek het ook met Ina Paarman gesels en dit was ongelooflik. Oral waar jy kom het iemand van haar souse of haar speserye… Hoe sy bly, waar sy vandaan kom, was vir my ongelooflik. Ons wys nie vir kykers mense se huise nie, maar ek kry die kans om mense se omgewings te leer ken en ek gaan dikwels daar weg met ʼn ander siening oor dinge. Ek wens ek kon al my onderhoude ʼn uur lank maak, want ons gesels en gesels en gesels.”

Derde uittog

Vir die derde seisoen van die reeks het hy onderhoude gevoer met onder andere die filmmaker Koos Roets, die sangeres Andriëtte Norman, die komediant Alfred Adriaan, die skrywer en sanger Koos Kombuis, asook die akteur en sanger Neil Sandilands.

In ʼn mediaverklaring oor die nuwe seisoen vertel Jak dat die reeks nou sy “groove” gevind het en lig die foto’s wat hulle uitkrap uit as een van die program se belangrikste aspekte.

“Hierdie foto’s word nie sommer lukraak op die internet opgespoor nie en ons moet ver soek om dit te kry. Veral wanneer dit ʼn baie spesiale foto uit die gas se verlede is, gebeur daar iets in hulle gemoed en neem dit die gesprek in ʼn sekere rigting.”

Vir Jak is dit belangrik dat die kyker voel asof hulle deel van die geselskap is – juis daarom hou hy van die ongekompliseerde aard van die reeks en die benadering wat hulle volg.

“Dis net ’n gesprek tussen my en die persoon waar hulle hulle lewens deel. Koos Kombuis het byvoorbeeld oor dinge gepraat waaroor hy nie juis wil praat nie en Neil Sandilands was wonderlik. En dit is presies wat Koppieteefontein moet wees. ’n Sielvolle gesprek tussen twee mense met die kykers wat voel asof hulle saam sit.”

Moeilike tye

Dalk is ʼn rede hoekom Jak soveel empatie met sy gaste se uiteenlopende ervarings en leefwêrelde het, die feit dat hy self al deur diep waters is, veral in die Covid-tyd. Net soos met baie ander sangers, was vertonings daarmee heen, en die werk het opgedroog. Jak het hand gewaag aan eiendomsagent-wees om kop bo water te hou.

“Ek doen dit nie meer nie,” vertel hy en lag verleë. “As jy in die eiendomsmark is, moet jy honderd persent daaraan toegewy wees. Maar ek sou in Polokwane sit vir ʼn konsert en dan soek iemand my… So ek het die pap laat val. Ek het besluit om eerder te fokus op wat ek nou doen. Ek is nou dalk die beste kunstenaar wat ek nog was.”

Nuut begin

Hy en sy vrou Michelle het ook einde 2020 besluit om uit Pretoria, Kaap toe te trek met die kroos – ʼn moeilike skuif op ʼn moeilike tydperk.

“My kinders het nog die Maart van daardie jaar op skoolvakansie gegaan. Toe begin die inperking en hulle is nooit terug skool toe nie en toe trek ons Kleinmond toe. Alles was goed, niks was fout in Pretoria nie, maar ons het bietjie stuck geraak in ons omstandighede. Ons het in ʼn lekker huis naby die skool gewoon, daar was familie onder in die straat en ons het wonderlike bure gehad. Maar ek het ʼn behoefte gehad aan ʼn ander leefstyl en om ander dinge te sien en ervaar. En nou het ons dit en ek kan diep asem haal. Soms knyp ek myself nog…”

Hy erken die trek was swaar vir sy kinders. Hulle kon nie maatjies groet nie en toe ons in die Kaap gekom het, het hulle in elk geval net aangegaan met aanlyn-leer deur hulle ou skool. Aan die begin van hul tyd in die Kaap het hulle eers net aangepas en oorleef, voor hulle kon begin “lewe”.

Die gesin het intussen Somerset-Wes toe verhuis en die kinders het hul skoolloopbaan by ʼn nuwe skool voortgesit. Vandag is die gesin behoorlik ingeburger.

Dis sy nommer 1

Jak is besig met verskeie projekte, maar hy beskou pa-wees as sy belangrikste werk.

“Ek sou definitief ʼn goeie huisma gemaak het… Om my seuntjie tennis toe te kan neem, of my dogtertjie na ʼn dansklas toe, is ʼn enorme prioriteit. Soggens werk ek, maar in die middae twintig oor twee as daai kinders uit die skool kom, is ek nou maar hulle sʼn.

“Daar is natuurlik tye wat ek weg is vir konserte, dis deel van die game, maar as ek hier is, is ek hier.
My kinders moet net altyd weet hulle kom eerste.”

Sy vrou Michelle help om die wiele te laat rol.

“Jare gelede, voor ons getrou het, was sy nog in die korporatiewe wêreld en ek het baie rondgetoer. Ek het haar toe oortuig om saam met my te kom werk sodat ons saam na die KKNK en Aardklop en al die ander plekke kon gaan. Intussen is ons getroud en daar het kinders bygekom, maar sy bespreek steeds die gigs, check dat die geld inkom en stuur kwotasies uit, maar sy is ook by die kinders. Ons het al baie gedink twee werke sou finansieel sin maak. Daai tyd wat ons by die kinders kan wees, is egter soveel meer werd.”


Die derde seisoen van Koppieteefontein begin Vrydag 5 Mei om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Online).Die eerste seisoen van Koppieteefontein is beskikbaar op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies