Oor die afgelope paar maande het kykers van die gewilde kykNET&kie.-telenovela, Arendsvlei, ’n nuwe gesig leer ken. Die rol van die stil, skaam en teruggetrokke leerder, Simone, word deur Dawn Fisher, vertolk. Dié Kaapse boorling is egter glad nie soos haar karakter nie, vertel sy.
Kykers moes vir weke toekyk hoe die onskuldige Simone deur haar beste vriendin se pa, wat ook ’n onderwyser by haar skool is, seksueel misbruik word. Só ontstellend soos wat dié storielyn was, is Dawn se versigtige toneelspel selfs meer indringend. ’n Mens voel haar angs, vrees, skaamheid, verraad én verleentheid soos trane by haar ken afrol en haar mondhoeke bewe. Simone se storie, hoop sy, sal help om hoop en erkenning aan slagoffers van seksuele misbruik te gee, juis omdat daar só baie is wat nie gesien of gehoor word nie.
terloops het met Dawn oor haar karakter, grootwordjare en haar passie vir die bedryf gesels.
Wat was jou reaksie toe jy die eerste keer deur Simone se lyne gelees en oor haar storielyn geleer het?
“Ek het in die begin baie gesukkel met die boelie-aspek, want ek het nog altyd maklik vriende gemaak en ek kon myself nie met haar ervaring vereenselwig nie. Ek kon een voorval op hoërskool vaagweg onthou, maar ek het oor die jare hard probeer om nie daaraan te dink nie. Dit was eers toe ek met hierdie storielyn begin het, dat ek myself toegelaat het om daardie emosies te voel. Dit het soos hertraumatisering gevoel.
“As akteur, word jy soms gedwing om terug te gaan na jou eie pyn en ervarings om ’n storielyn eg te kan vertolk. Die tonele wat seksuele mishandeling uitgebeeld het, was baie moeilik, maar meeste van die karakters wat ek al in teater gespeel het, het sulke diep, emosionele storielyne gehad. Ek was nie bang om na daardie kwesbare plek te gaan nie.”
Dit moet verskriklik moeilik wees om in karakter te kom as jy weet jou karakter deur iets so wreed soos seksuele mishandeling moet gaan. Hoe jy die verfilming van daardie tonele benader?
“My proses dwing my om terug te gaan na daardie sagte plek binne my; na my eie trauma en ervarings. As jy nie op ’n persoonlikheidsvlak met ’n karakter kan vereenselwig nie, moet jy op ’n storie- en emosionele vlak kan vereenselwig.
“Ek konsentreer ook op drie punte. Die eerste is my asem – ek dink aan waar dit sal wees en waar dit vandaan kom. Volgende fokus ek op my postuur, en laaste op my gesigsuitdrukkings.
“Dit help om terug te keer na my eie trauma, want ek glo vas dat jy as akteur nie altyd iets hoef te sê nie, jy moet dit wys. So, ek gebruik my hele liggaam om die storie te vertel.
“Vir hierdie spesifieke storielyne het ek ook daagliks in ’n dagboek geskryf. Nadat ek deur die draaiboek gelees het, het ek as Simone in die joernaal geskryf. Ek het altyd geskryf oor wat daardie dag gebeur het en hoe ek daaroor gevoel het. Ek het daardie joernaalbladsye voor ’n toneel gelees om in Simone se emosionele head space te kom. Vir die boelie-tonele het dit gehelp om met skoolkinders te gesels wat tans geboelie word, sodat ek ’n beter idee kon kry van hoe hulle voel en hoe dit vir hulle affekteer.”
Jy het al meer as een keer gesê dat jy na jou eie trauma terugkeer om diep emosionele tonele aan te pak. Hoe moeilik of maklik is dit om dit te doen? En hoe maak jy seker dat dit jou nie negatief affekteer nie?
“Soms maak die feit dat ek al gegroei het, dit moeiliker om terug te gaan. Ek kan ’n overthinker wees. As ek myself toelaat om terug te gaan na daardie plek en hoe ek gevoel het, stuur dit soms my gedagtes op hol en ek begin sommer alles oor my trauma ontleed.
“Dit was moeilik in die begin om so kwesbaar te voel. Dikwels voel dit asof jy jouself eintlik hertraumatiseer. Soms moet ek net stil word. Ander tye moet ek myself toelaat om te huil. En ander tye vat dit net ’n sekonde om myself weer te regroup. As niks anders werk nie, begin ek hekel. Ek is mal oor hekel en dit is baie terapeuties om al my konsentrasie op iets anders te plaas.”
Was dit moeilik om die tonele saam met Travis Snyders (Derrick Leigh) te skiet, veral omdat jy so kwesbaar is in daardie tonele?
“Nee, glad nie. Ons het mekaar vertrou en ons het vooraf daaroor gesels en altyd seker gemaak dat die ander persoon gemaklik is. Ons is albei akteurs en jy leer hoe om deur sulke tonele te werk. Ek dink dit was moeiliker vir hom as vir my, want hy is die skurk en die een vir wie mense gaan kwaad wees.”
Wat is jou indruk van kykers se reaksie op die storielyn?
“Sover het ek net oorweldigende liefde van kykers op sosiale media en as hulle my raaksien, ontvang. Dit maak my baie bly, want ’n mens lees elke week in die koerant van nog ’n slagoffer. Baie keer glo mense nie die slagoffers nie – totdat dit te laat is.
“Ek wil graag hê dat mense ná Simone se storielyn bewus moet wees oor hoe moeilik dit vir iemand is om oor iets soos seksuele mishandeling te praat. As iemand na jou toe kom, moet jy hulle glo. Dit vat baie moed en ons moet slagoffers glo. Ons kan nie net sê mense of kinders is ougat en dit daar los nie. Ons moet sagter wees met mense en besef dat ons negatiewe woorde ’n groot impak op ander kan hê.”
Dit is so vreemd om met jou te gesels, want as kyker is mens daaraan gewoond dat Simone so skaam en teruggetrokke is. Sy kyk mense skaars in die oë. Simone is beslis nie die spontane persoon wat vandag saam met my skaterlag en gesels nie. Wat dink jy is die grootste verskil in julle persoonlikhede?
“Ek is baie spelerig en soms is dit eintlik ’n probleem. Ek hou daarvan om met my kollegas te grap en ek kan absoluut baie praat. Ek maak baie maklik vriende en ek vind dit baie interessant om nuwe mense te leer ken. Ek dink die feit dat ek so sosiaal is, en Simone nie, is die grootste verskil. Dit is ook die mees uitdagende aspek.”
Waar kom jou groot liefde en passie vir die bedryf vandaan?
“Ek het van kleins af geweet ek wil op TV wees. Ek het ’n groot persoonlikheid en op die strate van Elsiesrivier, waar ek grootgeword het, wou al die grootmense altyd met my gesels. Ek het selfs nou en dan ’n geldjie gekry om met een van die anties te gesels. Mense het altyd gesê, ‘Dawn kom praat ’n bietjie hier’. Seker omdat ek hulle vermaak het! My ma was baie bekend in die gemeenskap omdat sy ’n huiswinkel gehad het, so almal het my geken as Antie Millie se kind.
“Ek was ook mal oor Paula (Diaan Lawrenson) op 7de Laan en het geweet ek wil eendag soos sy wees. Ek het haar nog nie ontmoet nie, maar ek sal seker flou word en beslis ’n groot fan girl-oomblik hê as ek haar ontmoet. Soms moet ek myself inhou en myself herinner dat ek nou met akteurs kollegas is. Ek kan nie net fan girl nie, al wil ek soms baie graag.
“Ons het later Malmesbury toe getrek, waar my gesin steeds woon, en daar het ek spesifiek my hoërskool gekies omdat dit drama as vak gehad aangebied het en gereeld teater produksies gedoen het. Ek het myself uitgeleef op skool en ná skool was daar geen ander opsie as drama nie. Ek het drama by die Universiteit Kaapstad geswot en nou lewe ek uiteindelik my passie uit op die kassie.
“Arendsvlei is my eerste groot TV-rol en ek is so dankbaar vir die geleentheid. Daar is ook ’n paar ander dinge waaraan ek onlangs gewerk het, maar julle sal maar moet wag en sien.”