Menu terloops
In Wat om te kyk [10 Aug 2026]

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf


Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Deur Redaksie
Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Vroue hoef nie die held te wees of die hoofrol te vertolk om die storie te steel nie. Daar is etlike briljante, gebroke, skreeusnaakse, meedoënlose en heeltemal onvoorspelbare vroue-karakters op TV en in films wat die kollig steel. Van spioene en oorlogsfotograwe tot prokureurs, dokters, komediante en misdaadbase – hier is 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf.

1

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

As jy dink James Bond het die alleenreg op stylvolle spioenasie, dink weer. Charlize Theron speel MI6-agent Lorraine Broughton, wat in die laaste dae van die Koue Oorlog na Berlyn gestuur word om ’n rits dubbelagente op te spoor ná die moord op ’n kollega. Maar wie kan sy werklik vertrou?

Theron dra die rol met ’n koel selfvertroue wat Lorraine ’n onvergeetlike aksieheld maak: intelligent, berekend en genadeloos wanneer dit moet. Die fliek is gegrond op Antony Johnston en Sam Hart se grafiese roman The Coldest City, en bevat van die beste aksietonele wat dié genre nog opgelewer het – insluitend ’n toneel van sewe minute lank wat jou nie vir ’n oomblik met rus laat nie.

2

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Meer as 30 jaar later bly Clueless een van die slimste tienerkomedies wat nog gemaak is. Alicia Silverstone speel Cher Horowitz, ’n modebewuste skoolmeisie in Beverly Hills wat oortuig is sy kan almal se lewens verbeter – al sukkel sy soms om haar eie uit te pluis.

Dit sou maklik wees om Cher as oppervlakkig af te maak, maar dis juis Amy Heckerling se los verwerking van Jane Austen se Emma wat die karakter so tydloos maak. Cher is snaaks, selfversekerd, soms heerlik verwaand en uiteindelik bereid om uit haar foute te leer. Min rolprente het ’n vroulike hoofkarakter geskep wat dekades later steeds ’n popkultuur-ikoon is.

3

Lee

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

In Lee word die ware verhaal van die oorlogsfotograaf en voormalige model Elizabeth “Lee” Miller vertel. Kate Winslet vertolk Lee, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog as oorlogskorrespondent vir British Vogue gewerk en sommige van die konflik se mees ikoniese foto’s geneem het.

Die fliek is ook die regiedebuut van kinematograaf Ellen Kuras (Eternal Sunshine of the Spotless Mind). Marion Cotillard, Andrea Riseborough, Alexander Skarsgård en Andy Samberg – laasgenoemde verrassend goed in sy eerste groot dramatiese rol – rond die rolverdeling af. Dit is ’n biografiese drama, maar ook ’n herinnering aan die vroue wat geskiedenis gehelp dokumenteer het, nie net aanskou het nie.

4

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Dis moeilik om jou oë van Lady Gaga af weg te hou in Joker: Folie à Deux. As Harleen “Lee” Quinzel ontmoet sy vir Arthur Fleck (Joaquin Phoenix) in Arkham State Hospital, waar hy op sy verhoor wag. Namate hul verhouding verdiep, vervaag die grense tussen werklikheid, fantasie en musiek – en dit is juis dié onvoorspelbaarheid wat die film dryf.

Gaga verleen ’n heeltemal onverwagte energie aan Harley Quinn. Sy is nie bloot ’n byspeler in Arthur se verhaal nie, maar die vonk wat die chaos verder aanhits. Die film as geheel het gemengde reaksie van resensente ontlok, maar oor een ding was hulle dit eens: Gaga se magnetiese vertolking is een van die sterkpunte.

5

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Die tweede seisoen van Koek hervat die storie met Christelle (Cindy Swanepoel) te midde van ’n stryd om haar lewe te herbou. Sy’s skynbaar klaar met haar nierskenking, maar met die skeisaak tussen haar en Adrian (Stian Bam) wat lelik raak, haar toesig oor hul dogter op die spel, en haar drome om haar mediese loopbaan te hervat aan skerwe, ontkiem nuwe sade van desperaatheid.

Dit word op die spits gedryf wanneer Adrian ’n prokureur aanstel en vuil speel om die saak in sy guns te swaai. Christelle, vasgevang in die onwrikbare houvas van haar eie goedgelowigheid, draai dan na Moekie (Sandra Prinsloo) vir hulp. Maar dié girl het oënskynlik vergeet dat niks in hierdie wêreld verniet is nie – en beslis nie lojaliteit nie. Moekie, ’n onwillige pensioenaris, is gevaarlik verveeld en sien in Christelle se situasie ’n geleentheid om haar terugkeer as formidabele misdaadbaas te orkestreer. Christelle is eensklaps terug in die onderwêreld.

Rozanne Els skryf so oor Koek S2 in haar resensie vir Terloops: “Koek is reeds met sy eerste seisoen gekenmerk as ’n storie wat ’n groot swart kruis deur stereotipiese uitbeeldings van vroue trek. Die tweede uittog vat dit ’n stap verder. Daar is meer ruimte vir die uitbeelding van rou kwesbaarheid, van (self-)verwyt, van shame, van oorvloedige spyt, van self-deprecation, van ’n multi-dimensionaliteit wat aan die duisende wêrelde en mense wat binne ons bestaan, uiting gee. Koek, gestroop tot sy naakte kern, is diep, diep, diep herkenbaar.”

6

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Kate Hudson en Hugh Jackman vorm ’n uitstekende span in Song Sung Blue, ’n biografiese drama gegrond op Greg Kohs se gelyknamige dokumentêr. Hulle vertolk Claire en Mike Sardina, ’n getroude paartjie wat as die Neil Diamond-huldeblykduo Lightning & Thunder onverwagte sukses behaal terwyl hulle die uitdagings van die lewe en hul huwelik probeer navigeer.

Hudson gee gestalte aan ’n vrou wie se veerkragtigheid en liefde vir musiek haar telkens deur verlies en teëspoed dra. Dit is ’n warm, opregte film oor tweede kanse, gewone mense wat buitengewone dinge regkry, en twee mense wat mekaar nooit ophou kies nie.

7

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

As jy ná Yellowstone nog nie genoeg van Beth Dutton kon kry nie, is Dutton Ranch die volgende hoofstuk. Kelly Reilly en Cole Hauser hervat hul rolle as Beth en Rip Wheeler, wat Montana verruil vir ’n nuwe lewe op ’n plaas in Texas. Maar soos enige Dutton weet: ’n nuwe begin beteken selde minder probleme.

Rip speel steeds ’n belangrike rol, maar Beth bly die karakter wat elke toneel oorheers – briljant, bytend snaaks en meedoënloos wanneer dit nodig is, met ’n kwesbaarheid wat net so onverwags opduik. Kelly Reilly verstaan dié balans perfek.

8

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Min historiese figure beliggaam moed soos Harriet Tubman. In Harriet vertolk Cynthia Erivo die voormalige slaaf wat ná haar eie ontsnapping telkens na die Amerikaanse Suide teruggekeer het om ander na vryheid te lei deur die Underground Railroad.

Erivo se spel gee lewe aan ’n vrou wat nie as ’n onbereikbare legende uitgebeeld word nie, maar as iemand wat telkens vrees moes trotseer en onmoontlike besluite moes neem. Die rol het vir Erivo Oscar-benoemings vir beste aktrise én beste oorspronklike lied besorg.

9

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Meer as veertig jaar nadat die oorspronklike Matlock begin het, gee Kathy Bates die bekende naam ’n heel nuwe identiteit. Sy speel Madeline “Matty” Matlock, ’n bejaarde prokureur wat ná jare uit aftrede terugkeer en by ’n gesogte regsfirma begin werk. Haar ouderdom laat mense haar onderskat – presies soos sy dit beplan het.

Wat Matlock so bevredigend maak, is dat Matty haar sogenaamde swakheid omskep in ’n voordeel. Sy luister beter, sien meer raak en verstaan mense se motiewe vinniger as die meeste van haar jonger kollegas. Bates speel haar met humor en empatie, maar ook met ’n vasberadenheid van staal.

10

Doc

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Doc begin met dr. Amy Larsen (Molly Parker), hoof van interne geneeskunde by ’n besige hospitaal, wat ná ’n ernstige breinbesering die afgelope agt jaar van haar lewe vergeet. Sy moet nie net weer leer hoe om ’n dokter te wees nie, maar ook ontdek hoe die mense om haar – en syself – oor die jare verander het.

Baie mediese reekse fokus op noodgevalle en operasies; Doc plaas eerder die mens agter die wit jas in die kollig. Molly Parker gee die karakter ’n stille kwesbaarheid sonder om ooit haar intelligensie of innerlike krag prys te gee.

11

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Lank voordat televisie vol antihelde was, het The Good Wife gewys hoe boeiend ’n vrou se tweede kans kan wees. Ná haar man, die staatsaanklaer Peter Florrick, in ’n politieke en seksuele skandaal vasgevang word, keer Alicia Florrick (Julianna Margulies) ná jare terug na die regspraktyk om weer haar eie loopbaan op te bou.

Wat volg, is veel meer as ’n hofdrama. Oor sewe seisoene sien ons hoe Alicia stadig maar seker ophou om bloot op ander mense se besluite te reageer, en begin om haar eie pad te kies. Margulies se vertolking is genuanseerd en sonder melodrama – die soort hoofkarakter wat nie die hardste persoon in die vertrek hoef te wees om die meeste gesag uit te straal nie.

12

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Hierdie aksiereeks uit die TV-skepper Taylor Sheridan se stal volg Zoe Saldaña as CIA-agent Joe McNamara wat ’n span (bekend as die Lionesses) in die oorlog teen terreur lei. Die vertelling is deels op die ware verhaal van ’n soortgelyke span geskoei, maar Sheridan verweef emosie met aksie deur die fokus te herlei na Joe se konstante innerlike konflik terwyl sy sukkel om ’n balans tussen haar verantwoordelikhede as intelligensiebeampte, bevelvoerder, eggenote en ma te vind. Joe is ’n uitsonderlike leier – Sheridan wys net ewe goed wat dit haar kos.

Saldaña se spel is kolskoot; dit tref harder as wat ’n vuis ooit sou kon (en die vuiste vlieg wel).

13

Op DStv Stream/Catch Up beskikbaar.

Min reekse verstaan vroulike ambisie so goed soos Hacks. Deborah Vance (Jean Smart) is ’n legendariese komediant wat ná dekades in die bedryf besef dat haar loopbaan stilstaan. Ava Daniels (Hannah Einbinder) is ’n jong skrywer wie se loopbaan ook ontspoor het. Dié twee span kragte saam, al is dit teen wil en dank.

Wat begin as ’n botsing tussen twee generasies, ontwikkel oor vyf seisoene tot een van televisie se mees komplekse vroueverhoudings. Deborah en Ava dryf mekaar tot raserny, maar ook tot groter eerlikheid en kreatiwiteit. Jean Smart se vertolking het haar reeds verskeie Emmy-toekennings as beste aktrise in ’n komediereeks besorg.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies