Menu terloops
In Onderhoude [7 Aug 2023]

‘Arendsvlei’ se Alistair Izobell oor Desmond, die dood, en dit wat saak maak


terloops het met Alistair Izobell gesels oor sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf, sy werk as begrafnisondernemer, en kykers se reaksie op sy ‘Arendsvlei’-karakter, die skurk Desmond Galant.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom nou 'Arendsvlei'

‘Arendsvlei’ se Alistair Izobell oor Desmond, die dood, en dit wat saak maak

Hy was maar net 11 jaar oud toe hy die rol van die jong koerantverkoper, Broertjie, in Taliep Petersen en David Kramer se District 6: The Musical in 1987 losgeslaan het. Van daai dag af sou die naam Alistair Izobell sinoniem met Kaapstad se teaters word.

As ’n vermaaklikheidster is hy veral bekend vir sy teater- en musiekproduksies, soos die baie gewilde Kaapse Jol, Music Alla Kaap, Kaapse Stoepstories, Just MeNet So en Remembering the Lux. Maar deesdae jaag hy kykers se bloeddruk op as TV-skurk Desmond Galant in die kykNET & kie telenovela, Arendsvlei

Kaapstad se Alistair 

Alistair mag dalk sy loopbaan as ’n protégé van die legendariese teaterikone Taliep Petersen en David Kramer begin het, maar vandag is hierdie bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar ’n legende in eie reg. 

Dit is geen geheim dat Alistair verskriklik gewild en geliefd is onder sy aanhangers wat hom al vir jare ondersteun nie… Maar kan dieselfde gesê word van sy rol as Desmond Galant? 

Alistair Izobell Arendsvlei Desmond
Alistair Izobell dryf heelwat kykers se bloeddruk op met sy vertolking van Arendsvlei se grote skurk, Desmond Galant. Foto: Verskaf

Tot onlangs was mense gewoond daaraan om Alistair op die verhoog te sien sing en dans, maar hy is vinnig besig om sy merk voor die kamera te maak as Arendsvlei se grootste skurk. En of jy nou van Desmond hou of nie – hy laat die tonge klap. 

Alistair vertel opgewonde dat dit vir hom ’n fenomenale ervaring is om te sien hoe mense hulself totaal en al in sepies inleef. En danksy Desmond het hy al selfs ’n aanhanger of twee verloor.  

“Mense leef hulself in die storie in. Daar is mense wat verstaan dat Desmond en Alistair twee verskillende mense is. Maar dan het ek ook skokkende voorvalle gehad met mense wat net nie die twee kan skei nie.” 

Alistair begin effens lag as hy oor sy onlangse interaksies met aanhangers begin praat. Soos met enige TV-skurk is hy al lelik uitgetrap oor die dinge wat sy karakter aanvang. Hy het selfs ’n stemnota ontvang van ’n tannie wat tot trane gedryf is omdat Alistair (as Desmond…) haar so diep teleurgestel het.  

Tot trane gedryf

“ ’n Paartjie het al verby my gestap en toe sien ek hoe kap die vrou aan die man se arm en sê: ‘Hier kom die gemors’. ’n Vriend van ons het ook ’n voice note aangestuur van ’n vrou wat letterlik snot en trane huil en sê dat sy haar geld wil terug hê vir elke show van my wat sy al oor die jare ondersteun het. Sy kon nie glo dat meneer ‘Kaapse Jol’ wat sy ondersteun het nou só uitgedraai het nie. Sy het gesê ek breek haar hart, want Rachel (Kim Syster) was so gelukkig met haar man en nou kom hang ek aan haar lippe,” vertel Alistair. 

“Sy kon nie verstaan dat die persoon wat sy gedink het so ’n goeie mens is, toe eintlik ’n rubbish is nie. Dit is baie interessant om te sien hoe anders mense (teenoor Desmond) reageer. Ek het al mense gehad wat vir my gevloek het. Maar daar is ook mense wat my raakloop en lag en sê, ‘sjoe maar jy is darem goed’.” 

Dan is daar natuurlik die mense wat Alistair by sy werk as begrafnisondernemer herken. Vir Alistair is dít ook ’n nuwe ondervinding sedert hy op TV – en dus daagliks in mense se gesigte – is. 

“Wanneer ek ’n begrafnis doen, sien mense nie onmiddellik dat dit ek is nie. Hulle sien my eers raak wanneer hulle met die familie kom simpatiseer of na die lyk gaan kyk. En dan wil hulle onmiddellik ’n foto hê wanneer hulle my sien. Ek moet gereeld vir mense sê dat dit nie nou die regte tyd is nie! Dit is regtig net vreemd en interessant,” vertel Alistair laggend.

Tuis voor die kamera

Alistair Izobell as Nathan in Skemerdans.
Alistair Izobell as Nathan in Skemerdans. Foto (asook hooffoto): Zaheer Banderker

Terwyl hy wel ná sy verskyning op die Showmax-reeks Skemerdans besluit het om ’n agent te kry, beskou Alistair nie homself as ’n nuweling wat acting betref nie. 

“Ek vind dit interessant dat mense nou gereeld vir my vra of die acting bug my gebyt het. Acting was nog altyd ’n groot deel van my lewe en loopbaan. Dit was altyd parallel met die sang; ek dink ek het net meer tyd aan die sang gewy, maar ek was nog altyd ’n akteur,” vertel hy. 

“Al het ek nie voorheen in televisie belanggestel nie, het ek regtig daarvan gehou toe ek Skemerdans gedoen het. Dit is hoekom ek besluit het om ’n agent te kry. Ek wou meer acting doen en ek wil nie meer op ’n verhoog wees en wild gaan soos wat mense van my verwag nie. Ek is nie meer op ’n ouderdom waar ek so hard op my liggaam wil wees nie. Ek het dit vir vier dekades gedoen en nou is ek in ’n plek in my lewe waar ek ander dinge wil doen. Wanneer ek wel optree, soos in ’n paar weke se tyd, wil ek op ’n stoel sit en mense entertain.”

Alistair het dalk nie voorheen ’n groot liefde vir TV gehad nie, maar hy is beslis ’n natural voor die kamera. Hy geniet dit vreeslik om ’n karakter te vertolk wat heeltemal die teenoorgestelde van sy eie persoonlikheid is.  

“Om die soort skurk te wees wat Desmond is… Hy is hoogs intelligent, metodies en deeglik. Ek is ook metodies, deeglik en intelligent, maar die negatiewe eienskappe van sy lewe is so, so anders as myne,” sê hy.

“My mandaat in die lewe gaan altyd oor die kruispolinering van deel, vriendelikheid en die eer om mense te dien. Om Desmond te speel, is dus absoluut opwindend. Jy vertolk ’n rol wat so van jou verskil, maar die realiteit is dat wanneer ek klaar gewerk is en ek klim in my kar, dan klim ek uit die karakter uit en dan is ek weer net Alistair Izobell. Ek dink nie weer aan Desmond totdat ek moet lyne leer of voor die kamera staan ​​nie.”

Die familieman

Hy mag dalk ’n protégé gewees het en in ’n huis vol musiekinstrumente grootgeword het, maar dit is nie noodwendig die lewe wat hy vir sy kinders wil hê nie. 

“Ek was gelukkig dat mense my opvoeding en journey embrace het, maar dinge in my huishouding is baie anders as die huishouding waarin ek grootgeword het,” sê hy. 

“My kinders word soveel moontlik van die bedryf af weggehou, omdat dit so ’n wispelturige bedryf is. Dit is so ’n harsh en harde bedryf en dit neem baie van jou af (weg). Hulle (sy kinders) is aanvanklik weggehou om hul privaatheid te beskerm, want my huis en my familie is my veilige plek. Ek wou nie hê dat iemand toegang tot hulle moes hê op ’n manier wat hul privaatheid sou skend nie. Maar soveel as wat hulle een of ander vorm van talent het, het hulle geen belangstelling in die vermaaklikheidsbedryf nie en ek ondersteun hul ander belange.”

Almal het ’n sterfdatum 

Terwyl baie mense hom ken vir sy ongelooflike talent en sy dekades in die vermaaklikheidsbedryf, is daar baie wat nie weet dat Alistair ook ’n goeie reputasie as begrafnisondernemer het nie. 

Jy kan niks aan gister doen nie. Jy weet nie of jy môre gaan haal nie. Vandag is die enigste gawe wat jy het; ons tyd is te min. Dit is daai cliché waar mense sê ‘ek het net laas week vir hulle gesien…’ Soos ek wat ’n paar weke gelede vir Bradley (Olivier) van Binnelanders gesien het, sonder om te weet dat dit die laaste keer sou wees…

Alistair Izobell

Alistair het ook formele kwalifikasies om mense te kan balsem. Dit is iets wat vir Alistair baie na aan die hart is en iets wat hy as ’n groot eer aanskou. 

“Ek was nog altyd omring deur die dood en die begrafnisbedryf, maar drie jaar gelede het ek besluit om die amptelike geakkrediteerde kursus en bestudering van balseming en rekonstruksie te doen. Dit is ’n ongelooflike kartartiese proses. Dit is ’n roeping vir mense wat regtig mense wil dien tot op die laaste wat hul voetspoor op die aarde is,” vertel hy met passie. 

“Soveel as wat mense nie daarvan hou om oor die dood te praat nie, is die dood die enigste absolute wat ons het. Daar is niks anders in ons lewe wat ons met sekerheid weet gaan gebeur nie. Jy gaan doodgaan, jy kan nie daarvan weghardloop nie. Dit is vir my fantasties om die eer te kry om daardie persoon, vir wie jy so lief was, te kan celebrate en hul footprint kan eer.” 

Elke keer as Alistair mense balsem, word hy herinner aan die mens se sterflikheid. Dit het hom oor die jare laat besef hoe belangrik dit is om teenwoordig te wees in elke oomblik wat jy as mens gegun word. 

“Jy kan niks aan gister doen nie. Jy weet nie of jy môre gaan haal nie. Vandag is die enigste gawe wat jy het; ons tyd is te min. Dit is daai cliché waar mense sê ‘ek het net laas week vir hulle gesien.’ Soos ek wat ’n paar weke gelede vir Bradley (Olivier) van Binnelanders gesien het, sonder om te weet dat dit die laaste keer sou wees,” sê Alistair. 

“Ek is nie bang vir die dood nie. Ek kyk na almal en weet dat almal se storie op een of ander stadium gaan eindig.” 

‘Dit was nou lekker’

Alistair Izobell Arendsvlei Desmond
Alistair Izobell as Desmond in Arendsvlei. Foto: Verskaf

Alistair sê om ouer te word is ’n seëning en dit verlos jou van bekommernis dat jy nie goed genoeg gaan wees nie. Daar is niks wat jou meer bang maak nie en as iets nie vir jou is nie, dan sê jy net ‘nee’. 

Hy geniet hierdie fase van sy lewe en omdat hy daarvan ’n punt maak om vir vandag te lewe, klou hy ook nie aan ’n nalatenskap vas nie. 

“Om ’n nalatenskap te hê, is nie vir my belangrik nie. Dit is amper te aards vir my. Omdat ek met bedroefde gesinne werk, weet ek dat almal ’n nalatenskap het net omdat jy hier was. Jy hoef nie aan een te werk nie,” sê hy. 

“Hier en nou is meer belangrik. Ek wil só lewe dat ek eendag in die Hemel kan hardloop en sê, ‘Here, daai was darem nou lekker. Daai was nou ’n avontuur.’ Daar is genoeg van my op YouTube wat mense nog vir dekades sal kan kyk, so my nalatenskap sal in my kinders se geheue wees as die pa en persoon wat hulle onthou.”

Trots

Dit is maklik om vir ure na Alistair se lewenslustige stem en stories te luister. Daar is niks wat Alistair op amper 50 nie kan doen nie. 

Alistair sal altyd die life of the party wees en ’n mens sien hom nie maklik emosioneel raak nie. Maar toe daar aan hom gevra is wat hy dink 11-jarige Alistair sou dink van die lewe wat hy vir homself gebou het, sit die trane vlak.

Hy raak vir ’n oomblik stil voordat hy antwoord.

“Daai vraag het my gebreek, maar ek dink hy sou okay wees. Hy sou okay wees met wat ek met sy drome gedoen het.” 


Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar. Skemerdans is op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies