Menu terloops
In Onderhoude [5 Jul 2023]

‘Suidooster’ se Char Carrie: ‘Daar’s niemand soos Angie nie’


Kykers het lanklaas ’n unieke karakter soos Angelina “Angie” Jantjies in ‘Suidooster’ op hul skerms gesien. En met haar kenmerkende styl en sê-goed soos ‘sluk jou feelings en kap aan’, en ‘grovel issie my style nie’, staan Angie beslis uit. Die aktrise wat haar vertolk, Char Carrie, het met terloops gesels.

Kyk nou

‘Suidooster’ se Char Carrie: ‘Daar’s niemand soos Angie nie’

Angie (Char Carrie) is nie die tipe karakter wat jy per ongeluk met iemand anders gaan verwar nie. Toe Angie in 2022 haar debuutverskyning in die gewilde kykNET-sepie Suidooster gemaak het, het haar kleurvolle en uitspattige styl onmiddellik aandag getrek. Hierdie karakter kan beslis nie as vanilla beskryf word nie. Dit het egter ook beteken dat sy nie in almal se smaak val nie… Inteendeel! Toe sy boonop veroorsaak het dat ’n kykergunsteling soos Wade (Dean Smith) sy rug op sy familie en vriende draai, was Angie beslis nie gewild onder kykers nie. En toe knou sy hom af en los hom met die gebakte pere! 

Angie het soos ’n warrelwind deur Ruiterbosch gewaai, en hoewel kykers nie aanvanklik opgewonde was om haar terug te verwelkom nie, het sy nou tog reggekry om in kykers se harte te kruip. 

Gebore om uit te staan

Char mag dalk die teenoorgestelde van haar karakter wees, maar tog kry ’n mens vinnig die gevoel dat Char ook ’n regte mense-mens soos Angie is. 

Char het in Steenberg in die suide van Kaapstad in ’n enkel-ouer huishouding met haar ma en ouer suster grootgeword. In hierdie gemeenskap kry jy ’n mengelmoes van sterk en borrelende persoonlikhede – en dit is juis die persoonlikhede van die vroue in haar gemeenskap wat Char as inspirasie vir Angie se lewenslustige en veerkragtige persoonlikheid gebruik. 

“Ek grond baie van Angie se persoonlikheid op die vroue rondom wie ek in my gemeenskap grootgeword het. Angie het deur baie in die lewe gegaan wat haar die mens gemaak het wat sy vandag is,” verduidelik Char. 

“Toe ek vir Angie pitch, het ek regtig probeer om haar herkenbaar te maak, sodat mense sou weet waar sy inpas. Terselfdertyd wou ek haar ook uniek maak, sodat hulle haar sou onthou.”

In daardie opsig, stem sy met haar karakter ooreen, vertel Char. Met wat ook al sy aanpak, wil sy seker maak dat mense haar onthou. Indien julle, soos ek, gedink het haar naam klink soos dié van ’n hoofkarakter in ’n komediedrama soos Sex and the City of Ally McBeal is julle verkeerd. Sy is eintlik na haar ouers Charmaine en Gary Johnson vernoem, maar om uit te staan het Char aan die begin van haar studies besluit dat sy nie haar van gaan gebruik nie en slegs as Char Carrie probeer om haar merk te maak. 

“Hierdie bedryf is tough en Suid-Afrika het soveel talent. Tydens my studies het ek gevoel ek het iets nodig wat mense se aandag sal trek,” vertel sy. 

“Ek het geweet ek sou na verskeie oudisies gaan en waarskynlik nie die rol kry nie. So, ek het my van laat vaar en by Char Carrie gebly. Ek sou dalk nie die rolle kry nie, maar hopelik sou mense my naam onthou. Ek is egter nie seker of my plan gewerk het nie.”

Char Carrie en Dean Smith in 'n toneel uit Suidooster.
Char Carrie en Dean Smith in ’n toneel uit Suidooster. Foto: Verskaf

Die Angie-factor 

Hierdie nederige aktrise mag dalk nog wonder of haar plan gewerk het, maar sy moes iets reg gedoen het, want vandag kleur Angie elke aand ons skerms en harte met vreugde in danksy haar sprankelende persoonlikheid en bitter snaakse sê-goed. 

Maar dit is nie net kykers wat Angie geniet nie. Dit is netso lekker vir Char om met hierdie oneofakind-karakter te eksperimenteer. 

“Angie se styl is nogal kleurvol en gelukkig, waar ek dink myne redelik neutraal is. Jy sal dikwels vir my in swart klere vind. My styl leun meer na die grunge-kant toe,” vertel Char. 

Nog ’n verskil tussen die twee is dat Angie redelik selfversekerd en gegrond in haarself is. 

“Sy is nie bang om haar mening te deel en vir haarself op te staan ​​nie. Ek bewonder haar daarvoor en hoop om ook eendag soveel selfvertroue te hê.”

Een ding wat hulle wel in gemeen het, is dat albei vinnig praat. 

“Ek praat oor die algemeen redelik vinnig en ek dink Angie wat vinnig praat pas perfek by die karakter.”

Al was Angie nie altyd ’n gunsteling nie, meen Char dit is juis Angie se uitgesproke en borrelende persoonlikheid wat mense na haar toe lok. 

“Angie se hele ding is dat sy altyd verkeerd verstaan ​​word. Dis een van haar grootste probleme. Ek dink die gehoor moes Angie op haar slegste sien om haar nou te kan waardeer. Die gehoor het nou al baie van Angie se mood fluctuations gesien, so nou is hulle meer vertroud met haar agendas en voornemens.”

Ek het al my eiers in een mandjie gegooi en vir die beste gehoop. Ek het vir myself gesê ek kan nooit moed opgee met toneelspel nie. En maak nie saak hoe moeilik dit geword het nie, ek het aanhou druk

Char Carrie

Dis acting of niks vir Char 

Char het van kleintyd af geweet sy wou ’n aktrise wees en het nooit aan enige ander beroep gedink nie. 

“Ek het al my eiers in een mandjie gegooi en vir die beste gehoop. Ek het vir myself gesê ek kan nooit moed opgee met toneelspel nie. En maak nie saak hoe moeilik dit geword het nie, ek het aanhou druk,” sê sy. 

“As ek nie my groot break gekry het nie, sou ek waarskynlik steeds rotis saam met my ma verkoop het, oudisies bygewoon het, kortfilms geskep het en poësie geskryf het.”

Char het ’n graad in toneelspel by City Varsity behaal, maar voordat sy haar rol by Suidooster gekry het, het sy by ’n boekwinkel gewerk en rotis saam met haar ma verkoop om haar studenteskuld te help afbetaal.

Char Carrie Suidooster
Char het van kleintyd af geweet sy wou ’n aktrise wees en het nooit aan enige ander beroep gedink nie. Foto: Verskaf

Sukses in die era van sosiale media 

Wanneer Char nie op stel is nie, is sy altyd besig met een of ander kreatiewe projek en werk sy ook hard om haar digitale presence te groei. 

“Ek dink dit is baie belangrik. Ek probeer altyd ’n manier vind om myself kreatief besig te hou,” vertel sy. 

“Ek voel daar is nog soveel wat ek moet leer en daar is soveel dinge wat ek moet doen. Ek dink altyd oor wat ek volgende gaan leer.” 

En hoewel dit deesdae in die sosiale media era baie makliker is om jouself en werk te bemark, meen Char een van die grootste wanpersepsies is dat mense dink dat daar ’n spesifieke resep vir sukses is. Maar wat vir een persoon gewerk het, gaan nie noodwendig vir almal werk nie. 

“As almal dieselfde was, sou dit vervelig wees. Wees jouself en doen dinge waarvan jy hou. Die mense wat jy probeer bereik, sal na jou toe kom. 

“Maar ek dink ook dat omdat dit (sosiale media) makliker is, is dit baie meer stresvol. Sodra jy begin om ’n gehoor te groei, moet jy daardie gehoor geïnteresseerd hou. Ek weet egter steeds nie of ek dit reg doen nie,” sê sy. 

Char is nie bang om nuwe dinge aan te pak nie en werk hard om haar drome te verwesenlik. Haar raad aan jongmense wat sosiale media wil gebruik om beroemd te word, is om getrou aan jouself te bly.

“Ek dink as jy iets doen om beroemd te word, het jy die verkeerde bedoelings. Ek het toneelspel studeer omdat ek mal is oor die hele storievertelling-aspek van die bedryf. Om vir mense ’n stem te gee, mense te laat lag, huil of enige emosie met ’n toneelstuk of TV-program te laat voel… Ek wou kuns maak. En ek dink as my doelwit die roem of geld was, sou ek nie gekom het waar ek vandag is nie,” sê sy ernstig. 

“Ek dink steeds ek moet nog baie groei, maar ongeag: my raad aan enigiemand wat iets wil doen, is om net nooit moed op te gee nie. En wees jouself!”

Wat is volgende vir Angie en Char 

Oor haar eie planne wil Char niks verklap nie. “Dit is ’n verrassing,” sê Char opgewonde. 

En wanneer dit by Angie kom, dink Char haar geliefde karakter wil net ’n goeie lewe vir haarself skep. 

“Sy het moeilik grootgeword en moes van een plek na die ander trek. Ek dink al wat sy wil hê, is stabiliteit… Finansieel en geestelik. Ek dink ek voel dieselfde. Op my slegte dae dink ek aan my familie en ek wil die persoon wees wat na hulle kan omsien. Dít is wat my motiveer.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Vonke spat tydens semifinaal… en kelder toe dié twee braaiers

’n Fynproewersdis, ’n lang resep en kreatiewe verskille het daartoe gelei dat twee van kykers se gunsteling-deelnemers op 'Kokkedoor Vuur & Vlam' hul voorskote moes ophang.

Meer

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud

Die Britse reeks 'Adolescence', oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Meer

The Handmaid’s Tale S1-6

Op Showmax

Blessed be! Seisoen vyf tel op nadat June wraak teen haar ontvoerder, teisteraar en verkragter, bevelvoerder Fred Waterford, geneem en hom met haar kaal hande uitmekaar geskeur het.
Meer

The Last of Us S1-2

Op Showmax

Die tweede seisoen van ‘The Last of Us’ begin vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se onlosmaaklike leuen aan Ellie (Bella Ramsey).
Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies