Natasha Sutherland is geen vreemdeling op ons TV-skerms nie – inteendeel. Sy is reeds vanaf die 90’s deel van die plaaslike vermaakbedryf met rolle in shows soos Honeytown en Tarzan, asook as aanbieder van die kinderprogram, Kideo. En dan was daar natuurlik haar draai in die immergewilde Franz Marx-sepie, Egoli.
Deesdae hou hierdie Durban-boorling kykers op hul tone as Layla in e.tv se gewilde fan favourite-sepie Scandal!. Ons ook ’n heel ander kant van haar as Birdy in kykNET se Binnelanders. Sy is ook op Showmax te sien in Jozua Malherbe se riller-dramareeks Lioness.
Die lewe het ook al ’n paar wilde draaie met Natasha gevat. Tog het sy haar uitdagings in seëninge verander en werk elke dag daaraan om seker te maak dat die lewe se uitdagings nie haar geluk steel nie. Om bitter te wees is immers nie iets waarop Natasha haar energie spandeer nie.
terloops het met Natasha oor haar loopbaan, lewe ná 50 en die veranderende fases van ma-wees gesels.
‘Soutie’ bring haar beste
Birdy is een van die nuwe gesigte op Binnelanders. Sy hou haar mede-karakters, en só ook die kykers, behoorlik op hul tone. Dit is Natasha se eerste rol in ’n Afrikaanse sepie sedert Egoli, want hoewel Natasha Afrikaans verstaan, is sy vinnig om te verduidelik dat sy glad nie tweetalig is nie.
“Ek kan Afrikaans verstaan, maar praat dit nie baie goed nie. As ek dit praat, klink ek soos ’n soutie! Selfs my rol in Egoli (as Samantha) was ’n Engelssprekende karakter. Dit is dus uit genade en luck dat die rol van Birdy geskryf is vir ’n Suid-Afrikaanse karakter wat na Kanada verhuis het en in wese Engelssprekend is,” vertel Natasha in opgewonde luim.
Vir Natasha, wat al meer as 25 jaar in die bedryf is, is daar nie regtig ’n verskil in die resep as jy op ’n Afrikaans of Engelse program se stel werk nie. Die groot verskil is eerder in genre en styl, meen sy.
“Scandal en Binnelanders is sepies met daaglikse episodes, wat beteken dit is langvorm-verhale en word in ’n multikamera-ateljee verfilm. Lioness is ’n aksiedrama-produksie, wat oor agt tot tien episodes strek en met ’n enkelkamera-opset op location verfilm word. Elke storie het sy eie toon, voorkoms en gevoel. Ek wil graag glo dat ek elke dag my beste bring – of dit nou film, TV of verhoogwerk is,” sê sy.
Briljant as Birdy
Birdy is ’n baie interessante karakter en Natasha se fisieke (die ongemaklike gevroetel, verkorte sinne) en algemene vertolking van haar is briljant. Tog weet ’n mens nie altyd wat in Birdy se kop aangaan nie.
“Birdy leef in ’n bubble en het coping mechanisms ontwikkel sodat sy haarself kan beskerm teen dinge uit haar verlede wat haar seergemaak het. Ook teen skuldgevoelens wat sy oor sekere dinge het wat sy nie wil trotseer nie. So die gevroetel en geen oogkontak is my manier om te wys hoe sy deur hierdie ongemaklike oomblikke probeer werk.”
Hierdie ma van twee, het al baie moederhen-rolle vertolk, maar hulle verskil soos dag en nag. Megan, Natasha se karakter in die reeks Lioness, het gesukkel om kinders te hê. Dié karakter sou enigiets doen om te verseker dat hulle nie haar aangenome kind wegneem nie. Birdy, aan die ander kant, dink sy is ’n besonderse besorgde en present ma, maar haar seun is eintlik ’n vreemdeling.
Natasha verduidelik hoe sy as ma en aktrise hierdie rolle benader: “As Natasha word ek soms geïnspireer deur eienskappe wat my karakters het, wat ek nie noodwendig voel ek nie het nie. Soms is ek geskok of stem ek nie saam met hul optrede nie, omdat dit in stryd is met wat ek voel ’n persoon of ma behoort te wees of is. Maar ek moet my karakters ondersteun. Dit is nie my werk om vir hulle ’n gewete of ’n motiveringstoespraak te gee of hulle likable te maak as hulle nie veronderstel is om likable te wees nie,” sê sy.
“ ’n Mens moet baie versigtig wees vir die oomblikke as ’n akteur en karakter se ervarings of gevoelens bots.”
Oor ma-wees
Oor moeders en ma-wees kan Natasha vir ure gesels. Dit is immers geen geheim dat Natasha se twee seuns, Benjamin en Sebastian, die liefdes van haar lewe is nie. Aanhangers sou ook agtergekom het dat daar in die vroeër 2000’s ’n periode was toe ons nie baie van Natasha op die kassie of verhoog gesien het nie. Dít was ’n doelbewuste skuif, omdat sy meer op haar kinders wou konsentreer. Om ma te wees is een van Natasha se grootste plesiere in die lewe. Sy vertel dit is nou vir haar moeilik om aan die empty nest-fase van haar lewe gewoond te raak
Hoewel Natasha se moederhart nog nie heeltemal gereed is om oor hierdie hoofstuk te praat nie, verduidelik sy dat soveel as wat sy dié hartseer verwag het, het sy nooit heeltemal besef hoeveel van haar identiteit aan haar rol as ma gekoppel is nie.
“Natuurlik sal ek altyd ’n ma wees, maar nou word hulle groot. Die vlak van hul behoeftes, en hoe nodig hulle my het, verander, maar my liefde gaan natuurlik nooit weg nie. Op ’n heerlike vreemde manier het hierdie geleentheid wat ek oor die afgelope jare gegee is, om verskeie soorte mammas in beide TV, verhoog en film te speel, my dalk gehelp om die verskillende nuanses van moederskap te verstaan,” sê sy.
“Om die verhoogstuk Shirley Valentine te doen, het my byvoorbeeld insig en hoop gegee oor wat ’n mens kan doen en van jouself kan herstel in hierdie stadium van die lewe. ’n Bevryding, ’n oorgawe, ’n herontmoeting met jouself.”
Vreugde, gemak en duidelikheid is toestande waarna ek streef. Ek vind maniere om toegang daartoe te kry deur waardering en self-compassion te beoefen. Ek weet ek moet die hartseer, kwaad en teleurgesteldheid binne my eer, maar my doel is dat dit net ’n gas moet wees. Ek wil nie hê dit moet vir altyd daar skuil en my laat stilstaan nie. As ek my kwesbaarheid in my memoires en praatjies deel, gaan dit glad nie oor my nie. Dít is eerder ’n manier om aan te sluit by die gemeenskaplikheid van ’n menslike toestand wat in ’n gehoor bestaan.
Natasha Sutherland
Sy word met stories groot
Natasha is mal oor teater en het verlede jaar die land platgetoer met haar eenvrouvertoning as die ikoniese Shirley Valentine. Vir Natasha was teater nog altyd soos manna. Sy het met stories grootgeword, want haar pa was ’n teaterregisseur en haar ma ’n drama- en Engels-onderwyser.
“Ek kyk soveel (teater) as wat ek kan en hou ook daarvan om in teater op te tree. Dit is ’n ander soort dissipline en ervaring. Danksy die gehoor is elke aand se dinamiek anders. Dit daag regtig ’n mens se vermoë uit om tegniek en kwesbaarheid te balanseer. Shirley was vir my spesiaal, want uit ’n akteursoogpunt is dit nogal ’n prestasie om ’n eenvrouvertoning op te voer. Dit vereis regtig ’n vakmanskap om stories te vertel wat aangryp. Jy het ook die verantwoordelikheid om ’n gehoor elke aand deur daardie reis te lei,” vertel sy.
“Op ’n persoonlike vlak was Shirley ook spesiaal want om haar reis te sien en te sien hoe sy weer haarself outentiek ontmoet, ten spyte van die samelewing se aandrang om mense in bokse te sit, was – en is steeds – inspirerend.”
Self ’n inspirasie
Natasha is self ’n inspirasie vir baie vroue wat haar motiveringspraatjies bywoon of haar boeke al gelees het. Natasha deel in haar boeke en praatjies haar eie ervarings en seer oor die jare. Dít, meen sy, help haar om nie bitter te word oor die uitdagings wat die lewe al na haar kant toe gegooi het nie.
“Om jou kwesbaarheid te besit en ander toe te laat om dit te sien, kom met ’n mate van oorgawe. En oorgawe (in teenstelling met soveel energie om die uitkoms van ’n situasie te probeer beheer) is ’n super power. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is geen meester of held oor die onderwerp nie. En om lighartig te wees, is ’n keuse, ’n daaglikse, soms uurlikse dissipline, wat ek probeer beoefen. Veral om te leef in die nasleep van ’n samelewing wat besig is om te verkrummel onder die gewig van oorlewing en die hustle-mentaliteit,” deel sy.
“Vreugde, gemak en duidelikheid is toestande waarna ek streef. Ek vind maniere om toegang daartoe te kry deur waardering en self-compassion te beoefen. Ek weet ek moet die hartseer, kwaad en teleurgesteldheid binne my eer, maar my doel is dat dit net ’n gas moet wees. Ek wil nie hê dit moet vir altyd daar skuil en my laat stilstaan nie. As ek my kwesbaarheid in my memoires en praatjies deel, gaan dit glad nie oor my nie. Dít is eerder ’n manier om aan te sluit by die gemeenskaplikheid van ’n menslike toestand wat in ’n gehoor bestaan.”
Ja, as kunstenaar, moeder en spreker gee Natahsa baie van haarself aan ander, maar as sy reis en stil word, is dit wanneer sy haar eie beker weer vul.
“Reis gee vir my daardie tyd om af te skakel, waar ek myself kan balanseer en herbelyn. Wanneer jy as kunstenaar skep, is jy in die proses van gee en wanneer jy reis of lewenservarings omhels, is jy in die proses van toelaat en ontvang.”
Nog baie om te ontdek
Natasha is nie heeltemal seker oor wat volgende vir haar wag nie, maar sy voel daar is soveel meer om te ontdek ná 50 en sy sien vreeslik daarna uit.
“So baie word gedokumenteer oor die eerste 50 jaar van ’n lewe met ’n lys en verwagtinge wat ons vir daardie tydperk het (loopbaan, kinders, trou en huiskoop). Dit is asof jy ná daai middelpunt van die radar afval in ’n samelewing wat obsessief is met die kultuur van jeug. Eers het dit my ego gepla met vrae van relevansie, maar dan sien ek die vryheid wat daarin lê. Daar is baie meer kanse om net te wees, as ’n mens nie die wêreld het wat omgee oor wat jy probeer doen nie,” meen Natasha.
“Dit is dus soos unchartered territory wat vir my voorlê, wat beide skrikwekkend en ook nogal opwindend is.”
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.