Kykers het vir Illse Roos al in verskeie rolle gesien, maar daar is een karakter wat in die 1990’s kykers se harte gesteel het – Egoli se Lynette Strydom. En nou, ’n hele paar dekades later, wurm Illse se Lynette haarself in ’n nuwe generasie se harte met Egoli-herhalings wat op kykNET uitgesaai word. Maar Lynette was net Illse se afskoprol – oor die jare heen het sy in een ná die ander besonderse karakter se skoene geklim en meevoerende vertolkings gelewer.
Hierdie aktrise hou van ’n uitdaging – daarom sal jy haar nie sommer twee keer in dieselfde tipe rol sien nie. Haar karakters is altyd ’n bietjie eksentriek, intens en donker, maar sy klim pens en pootjies in ’n karakter in en draai daarna dan na die natuur om weer soos haarself te voel.
Vir ewig Lynette
Amper ’n dekade voordat kykers die nou nostalgiese intro-liedjie van 7de Laan gehoor het, het die ikoniese intro-liedjie van Egoli aangedui dat dit 18:00 is. As jy in ’n Afrikaanse huishouding grootgeword het waar sepies deel van jul night time-roetine was, het jy al van Lynette Strydom gehoor. Dalk omdat jou ouers dit in die 90’s op M-Net se oopkyktyd gekyk het, of dalk is jy tans ’n aanhanger van die heruitsending op kykNET. Waar ook al jy vir haar ontdek het, Lynette staan vir niemand terug nie. Met haar kenmerkende donker hare en groot persoonlikheid het Illse hierdie karakter se plek in mense se harte gevestig.
Lynette se gewildheid is ietwat van ’n fenomeen vir Illse. Vir haar is dit soms vreemd dat iets wat sy 30 jaar gelede gedoen het, nou weer gewild onder ’n nuwe generasie van kykers is. Dit is natuurlik ook snaaks wanneer aanhangers haar raakloop en eers ’n double take moet doen om seker te maak dat dit nou wel Lynette is, want natuurlik lyk Illse nie heeltemal dieselfde nie.
“Ek vergeet dit speel op kykNET en dat dit in mense se binnekamers is. Ek is altyd verbaas wanneer mense my stop en vra ‘Is jy Lynette?’ want ek lyk nie meer soos ek 30 jaar gelede gelyk het nie. Ek is nou al lekker salt en pepper. Ek word gereeld gevra ‘is dit hoe jy nou lyk?’ En ja, Rita (haar Suidooster-karakter) is hoe ek nou lyk,” vertel sy laggend.
“Dit is vir my ’n riem onder die hart dat mense steeds na my begin-karakters verwys en dat hulle hou van wat ek doen. Dit is altyd vir my belangrik dat mense my karakter moet glo en die pad saam met haar moet stap. Maak nie saak hoe goed of sleg sy is nie, mense moet die pad saam met haar wil stap.”
Ek bring nie my karakters huis toe nie. By die huis is ek ’n straightforward, down-to-earth, kaalvoet-ma wat swem, stap, in die tuin werk en baie rooiwyn drink. Ek hou van die eenvoudige lewe, sodat ek ver kan spring met my karakters.
Illse Roos
’n Journey met Rita
En saam met haar karakters stap mense beslis! Vir die afgelope paar weke het Illse kykers aan die punt van hul stoele gehad met die angsaanjaende rol van Rita in Suidooster. Rita is ’n ma wat vir jare al aan skisofrenie ly, maar wat graag net ’n normale lewe saam met haar seun wil geniet. Ongelukkig het Nazeem (Irvine van der Merwe) vir haar by sy siek planne betrek om sy ousus te vermoor en met Rita se medikasie gepeuter. Dit het natuurlik vir baie drama in Ruiterbosch gesorg. Ongelukkig moes Rita baie hard teen die stemme in haar kop baklei om haar eie stem te hoor.
“Geestesgesondheid is geweldig belangrik en dit is wonderlik dat mense deesdae meer oop is daaroor. Ek hoop regtig dat Rita ’n venster en deur sal oopmaak en mense net ’n kykie sal gee van hoe dit is om te leef en sukkel met ’n siekte soos skisofrenie. Én hoe moeilik dit is vir die mense en gemeenskap rondom haar. Ons moet leer om met meer empatie en simpatie te leef. En in plaas daarvan om vinger te wys, moet ons eerder hand uitsteek en vra hoe ons kan help. Dit is heerlik om te hoor mense staan agter Rita,” sê Illse.
Sy beskryf Rita as ʼn moeilike karakter om te speel, in die sin dat sy emosioneel uitmergelend is. Maar vir iemand wat teks as haar Bybel beskou, was dit vir Illse fantasties om Rita te kon vertolk.
“Retief (Scholtz, Suidooster se hoofskrywer) en sy span was ongelooflik met hoe hulle haar verweef en laag op laag gegee het. Dit was net vir my ʼn absolute plesier (om haar te vertolk).”
Tog was Rita ʼn moeilike karakter om te speel, vertel sy verder.
“Ek het soms met trane in my oë gesit en gelees deur die teks en gedink wat ’n voorreg dit is om hierdie karakter te kan speel. Ek maak myself totaal oop en vulnerable vir ʼn karakter. Ek spring pens en potjies in wanneer dit by ʼn karakter kom. Ek het nie remme nie, wat die teenoorgestelde van myself is. My eie lewe is eenvoudig, rustig en peaceful.”
En dit is juis daardie rustige lewe wat haar ná ’n emosionele dag in Rita se skoene weer vrede bring. Volgens Illse is dit vir haar maklik om haar karakters af te skud. Haar mense hoef nooit te twyfel oor wie sy by die huis is nie.
“Ek bring nie my karakters huis toe nie. By die huis is ek ’n straightforward, down-to-earth, kaalvoet-ma wat swem, stap, in die tuin werk en baie rooiwyn drink. Ek hou van die eenvoudige lewe, sodat ek ver kan spring met my karakters,” vertel sy.
“Dit was nie baie moeilik om van Rita ontslae te raak nie. Sy het nie baie grimering of groot hare gehad nie, so dit was maklik. As ek haar klere, en veral haar skoene, uitgetrek het en ek stap met my eie ritme, is ek fine. Maar as ek by die huis kom, dan moet ek gaan stap of swem en dan swem ek haar uit my uit. As my kop onder daai water gaan en die seewater spoel oor my, dan laat lê ek die karakter.”
As ek nie simpatie met ’n karakter het en haar verstaan nie, dan kan ek haar nie speel nie. Ek moet haar glo. Daai geloof in haar dra dan deur na die gehoor.
Illse Roos
Meer as een vrou
Daar is geen twyfel dat Illse haar alles vir ’n karakter gee nie. ’n Mens hoef net na ’n teaterproduksie, fliek of show waarin sy speel te kyk om te sien hoe hierdie aktrise met haar hele lyf in ’n karakter klim. En hoewel Illse vir haar uitstekende werk met diepe karakters soos Medea in die fliek Melk & Vleis bekend is, geniet sy dit ook vreeslik om interessante en unieke karakters soos Stella in die fliek Stiekyt te vertolk.
“Ek hou van ’n karakter wat nie net oppervlakkig is nie. Meeste karakters, al is sy ’n bubbly, bubbly pienk bokkie, het altyd ander kwaliteite. So ek hou nooit op met soek nie. Ek kan nogal ’n pyn wees, want ek gaan soek dit altyd in die teks en as die teks nie vir my genoeg gee nie, dan pla ek die skrywers. Ek baklei vir my karakters, maar ek vat basies enige rol wat my kant toe kom mits sy met my praat. As ’n karakter nie met my praat nie, en ek is nou nie finansieel onder druk nie, dan sidestep ek haar,” sê Illse.
“Ek doen baie moeite om haar te leer ken en haar te verstaan. En om simpatie met haar te hê, maak nie saak wat sy doen nie. As ek nie simpatie met ’n karakter het en haar verstaan nie, dan kan ek haar nie speel nie. Ek moet haar glo. Daai geloof in haar dra dan deur na die gehoor. Dit is altyd vir my belangrik dat mense my karakters moet glo en die pad saam met haar moet stap,” sê sy weer.
Die sterk Medea
En soms in jou loopbaan kry jy daardie een karakter saam met wie die aktrise meer as een keer ’n pad stap. Vir Illse is daai karakter Medea. Sy het jare gelede die rol van Medea op die verhoog vertolk en onlangs het sy weer in Medea se skoene geklim – hierdie keer in filmformaat vir die fliek Melk & Vleis.
“Medea was beslis ’n hoogtepunt in my loopbaan. Dit was ’n fenomenale karakter en ek het nog altyd ’n soft spot vir Griekse teater gehad, van my dae as student. Maar sy was regtig ’n karakter wat my binneste omgedolwe het en wat met my kop gesmokkel het,” vertel Illse.
“Sy het my leeggemaak en plek gemaak vir haarself binne my. Ek het swaar gedra met haar en ek moes skoonmaak met haar ná die tyd. Sy het regtig in my nerf gaan lê. Albei mediums was baie uitdagend, maar ek is dankbaar vir albei ervarings.”
‘Ek is net Illse’
Illse het oor die jare bewys dat sy enige karakter kan aanpak. Haar nuutste projek se karakter, Adele, gaan ook ’n fees wees. Illse is einde van die jaar te sien in ’n nuwe fliek getiteld #loveyourselfie wat die storie van vyf sterk vroue uitbeeld. Adele is die teenoorgestelde van Rita met ’n groot stem, groot hare en baie grimering. Maar soos ons teen die tyd weet, geniet Illse mos enige rol as die vrou met haar praat.
En wanneer Illse nie op ’n verhoog of stel is nie, sal jy hierdie kaalvoet-ma in die natuur of saam met haar hartsmense vind.
“Die see stem my. Ek stap krapperig in en ek stap met totale vrede en rustigheid daaruit. Die natuur is my spirituele tuiste. Dit voed my siel en is my hartsplek. Miskien deels omdat ek op ’n plaas grootgeword het,” vertel sy met ’n glimlag.
“Ek het ná aan die grond grootgeword en dit is maar my toevlug. Stap is vir my meditation in motion. Ek stap alleen. Soms stap ek verby ’n groep vroue en dit klink heerlik soos vinke in ʼn bos, maar dit werk net glad nie vir my nie. Ek het stilte nodig vir die ratte in my kop om te kan werk. Ek werk deur alles in my kop en as ek by die huis kom, is dit soos ’n skoon doek en dan kan ek weer aangaan met my dag en lewe. Vir myself hou ek van ’n heerlike eenvoudige lewe. Dit maak die opgewondenheid van die rolle wat ek vertolk soveel lekkerder.”
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn) of ná uitsending op Catch Up.