Menu terloops
In Onderhoude [26 Jul 2023]

‘Diepe Waters’ se Tracey-Lee Oliver oor onblusbare lewenslus: ‘Doen wat jou gelukkig maak’


terloops het met die ‘Diepe Waters’-aktrise, Tracey-Lee Oliver, gesels oor die dinge wat haar hartsbeker laat oorloop – van toneelspeel tot ’n laaste kuier met haar geliefde pa.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk Diepe Waters

‘Diepe Waters’ se Tracey-Lee Oliver oor onblusbare lewenslus: ‘Doen wat jou gelukkig maak’

Sy het in die plattelandse dorp, Grabouw, grootgeword. Daar tussen die berge met die reuk van die appelboorde wat dié Overbergse dorp omring. Tog het sy die prentjiemooi Overberg vir die koppies van die Wesrand in Johannesburg verruil – en sy was nog nie een oomblik spyt daaroor nie. Elke besluit wat die aktrise, sanger en komediant Tracey-Lee Oliver tot dusver in haar lewe gemaak het, het haar immers tot hierdie plek in haar lewe gelei: waar haar beker daagliks met geluk, tevredenheid en trots volgemaak word. 

Doen wat jy wil

Tracey-Lee se lus vir die lewe is so groot soos haar glimlag. Met alles wat sy aanpak, glo sy sterk dat mense dinge moet doen wat hulle die gelukkigste en lewendig laat voel. 

“Solank dit nie vir jou of enigiemand anders seermaak nie, is ek ’n groot advocate van doen wat jou gelukkig maak. Die lewe is so kort en kosbaar. ’n Mens moet die dinge doen wat jou die gelukkigste maak,” sê Tracey-Lee. 

En dit is presies hoe Tracey-Lee elke dag die lewe aanpak. Vir haar is dit ’n groot seëning om al haar passies binne die vermaaklikheidsbedryf te kan uitleef. 

‘Pam’ borrel nes Tracey-Lee

Tracey-Lee Olivier Pam Diepe Waters
“Ek is so lief vir haar en sy is so relatable,” sê Tracey-Lee Olivier oor haar Diepe Waters-karakter, Pam.

Sy is tans in kykNET se dramabelaaide telenovela Diepe Waters as die vibrant en uitgesproke Pam Swarts te sien. Soos haar karakter, het Tracey-Lee ’n borrelende en spontane persoonlikheid. Sy gesels baie lekker. Sy gebruik ook grimering en klere om haar persoonlikheid te wys, om haarself te express.  

Behalwe dat ek elke keer Pam se geskater hoor as Tracey-Lee vol lus vir die lewe lag, kom ’n mens vinnig agter dat Tracey-Lee en Pam nogal baie in gemeen het. 

“Daar is baie similarities tussen my en Pam. Ek dink dit is hoekom ek so lief is vir haar. Ons het beslis dieselfde fashion sense. Ek dink op ’n manier is Pam ’n ouer weergawe van Tracey, maar as Tracey het ek nou al tyd gehad om te groei. Ek is ’n bietjie meer emosioneel volwasse as Pam,” verduidelik sy. 

“Maar ai, ek is so lief vir haar en sy is so relatable. Sy het ook humorsin wat lekker is. Die timing van haar humor is spot on. Sy is sensitief en ek is ook baie sensitief. Dít is hoekom ek ’n aktrise is,” sê sy grappend. 

Leer deur doen

Tracey-Lee het nie enige formele opleiding in die vermaaklikheidsbedryf nie. Alles wat sy weet, is danksy 18 jaar se harde werk en leer soos wat dit kom. As sy op die verhoog of voor die kamera is, kan jy nie sommer wegkyk nie; sy het ’n natuurlike aanvoeling vir dit wat sy doen. Haar hartstog vir haar werk is tasbaar. Sy beskou dit as ’n groot eer om al die dele van haar haar passie “te explore en te experience.” 

“Ek het begin met sing, maar hierdie gedeelte van my loopbaan waar ek nou op acting fokus, is vir my so ’n dream come true. Ek het nie drama studeer nie, dit is maar alles experience wat oor die afgelope 18 jaar opgebou is. Ek hou daarvan om my passions en talente te kan combine, want aan die einde van die dag glo ek dit is alles net storievertelling,” sê sy. 

“Wanneer jy ’n liedjie sing, is dit storievertelling. Wanneer jy ’n karakter vertolk, is dit storievertelling. En of dit nou ’n film of televisie is, is dit steeds alles net storievertelling. Hopelik is dit stories waarmee mense kan relate. Solank mense kan relate met dit wat ek vir hulle deur my talente gee, is ek baie, baie bly.”

Toe Tracey-Lee aanvanklik vir haar ouers vertel het dat sy ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf wou hê, was haar ma baie bekommerd, vertel sy. Haar pa het egter onmiddellik geweet dit is wat sy gaan doen. 

“My pa het altyd geweet ek wou ’n aktrise word en hy het nie ’n probleem daarmee gehad nie. My ma was aan die begin ’n bietjie meer bekommerd, maar dit is verstaanbaar. In Suid-Afrika het ons nie ’n oorvloed van geleenthede nie en werk in die vermaaklikheidsbedryf is maar onvoorspelbaar. Ek dink dit is natuurlik vir ouers om bekommerd te wees oor jou keuses en toekoms, maar as jy doen wat jou gelukkig maak, sal dit nooit soos werk voel nie. En jou talent sal altyd vir jou ’n plek in die wêreld maak as jy die tyd en die werk insit.” 

Ek sou nie vir enige ander childhood gevra nie. My kinderjare was idillies tussen die berge en groenigheid. Dit was net verskriklik mooi.

Tracey-Lee Oliver

Dankbaar vir ‘Diepe Waters’-familie

Tracey-Lee is dankbaar vir haar Diepe Waters-familie en begin sommer uit haar maag lag wanneer sy vertel van al die pret wat sy met hierdie talentvolle span tussen tonele het. 

Sy gebruik die stilte terwyl die grimeerkunstenaars haar voor tonele opmaak om die transformasie van akteur tot karakter te geniet en as voorbereiding vir die dag se tonele. Maar tussen tonele is dit ’n ander storie. Die span skeer lekker die gek met mekaar – en daar word ook gesing! Meer as een karakter op Diepe Waters het mos ander talente soos sang. Dit is glad nie verbasend dat hul ander talente die band tussen die akteurs nog sterker maak nie. 

Tracey-Lee wys later op een van die grootste wanpersepsies oor die plaaslike bedryf: as Suid-Afrikaanse talent met begrotings gelykgemaak word. 

“Net omdat ons nie groot begrotings het nie, beteken dit nie dat ons nie groot talent het nie. Ek dink die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf het regtig oor die afgelope tien jaar sy stem gevind. Die stories wat ons vertel, en die produksies en flieks wat ons maak, is ongelooflik. Daar is soveel Suid-Afrikaanse akteurs wat naam op die internasionale verhoog maak. Ek dink die wêreld sien ons uiteindelik raak. Ons het dalk nie altyd in die verlede al die geleenthede gehad nie, maar dinge is beslis besig om te verander. Ek is trots om deel van hierdie bedryf te wees.” 

Pam Diepe Waters Tracey Lee Oliver
Tracey-Lee is dankbaar vir haar Diepe Waters-familie en begin sommer uit haar maag lag wanneer sy vertel van al die pret wat sy met hierdie talentvolle span tussen tonele het. Foto: Verskaf

Idilliese kinderdae

Hoewel dit in die groot stad is waar Tracey-Lee die geleenthede gekry het om haar passies uit te leef, verruil sy haar grootwordjare op die platteland vir niks nie. Tracey-Lee beskryf haar kinderdae in Grabouw as idillies. 

“Ek sou nie vir enige ander childhood gevra nie. My kinderjare was idillies tussen die berge en groenigheid. Dit was net verskriklik mooi. Dinge wat ek mis, is byvoorbeeld om na die Peregrine-padstal toe te gaan. Hul pecan pie is my gunsteling. Almal ken vir almal en daai sense of community was nog altyd vir my lekker,” vertel sy. 

“Om in die straat te kan stap en by my vriende te gaan inloer, is iets wat jy nie in die stad kry nie. Omdat daar so baie appelplase is, het Grabouw altyd soos appels geruik. Ek is nie mal oor appels nie, maar ek hou van die reuk.”  

As sy nie in die vermaakbedryf beland het nie, weet Tracey-Lee nie wat sy vandag sou gedoen het nie. Maar sy glo sy sou seker al die platteland vir Kaapstad verruil het om naby haar broer en suster te wees. 

’n Mense-mens

Tracey-Lee raak effens stil en glimlag breed op ’n vraag oor waaroor sy die trotste is.

“Ek is mal oor hierdie vraag, want soos ek nou hier sit en hierdie vrae beantwoord, is ek verskriklik dankbaar. Ek is in ’n plek in my lewe waar ek voel ek het verskriklik hard gewerk vir alles wat ek vandag het. Ek sou dit nooit sonder my familie se support kon doen nie. Ook nie sonder my vriende se support nie. Die werk wat ek op myself doen en die introspeksie om ’n beter weergawe van myself te word, is ook iets waarop ek baie trots is. Ek wil nie net beter vir myself wees nie, maar ook vir die mense rondom my,” sê sy. 

“Vir my is dit regtig die klein dinge waarvoor jy dankbaar moet wees. En ek is dankbaar vir my ma en my pa. My pa is nie meer met ons nie. Hy is al 11 jaar gelede oorlede, maar waar hy is, weet ek hy is trots op my. Ek doen regtig alles vir myself omdat dit my passie is, maar ek wil ook die mense rondom my trots maak. Hulle moet kan sê, ‘ja, ek ken Tracey,’ en dit moet hulle van trots laat glimlag.” 

Tracey-Lee is in wese ’n mense-mens. Sy raak verskriklik opgewonde wanneer sy praat oor hoe lekker dit is om aanhanger in die mall raak te loop en te sien hoe hulle haar werk en die program geniet. Maar soveel as wat sy dit geniet om met vreemdelinge te connect, klop haar hart sterk vir die mense naaste aan haar. 

Toe daar aan Tracey-Lee gevra is saam met wie sy graag om ’n tafel sou wou kuier as sy kon, lewendig of dood, is daar net een mens waaraan sy onmiddellik dink: haar pa.

“Dit sal so lekker wees. Hy was regtig my grootste fan. Ons sou nou lekker chat oor ’n glasie wyn en saam ’n lekker hoenderpotjie geniet. Ek sal vir hom alles vertel van die afgelope 11 jaar en hy sou so trots wees.” 


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies