Menu terloops
In Lysie-lysie [13 Sep 2023]

Wie’s wie in ‘Fraksie’


‘Fraksie’, ’n reeks van die kreatiewe duo Louis Pretorius en Albert Snyman, spog met ’n skitter-rolverdeling wat die geldgierige karakters in dié TV-drama vertolk. Ontmoet van die reeks se hoofspelers.

Stroom vanaf 14 September 2023

Wie’s wie in ‘Fraksie’
Kyk lokprent

Fraksie, wat draai om ’n beleggingsbestuurder met drome om eendag ’n dollar-miljoenêr te word, bestaan uit 17 episodes.

Louis en Albert was vir onder meer reekse soos Fynskrif, Troukoors en Die boekklub – al drie op Showmax beskikbaar – verantwoordelik. Jy kan Fraksie vanaf Donderdag, 14 September 2023, op Showmax stroom.

Maar wie is wie in die reeks? Hier is ’n kort opsomming van die hoofkarakters, asook onderhoude met van die hoofspelers.

1

Edwin van der Walt as Schalk Smit

Edwin van der Walt as Schalk Smit in Fraksie

Edwin van der Walt, bekend vir sy werk in teater, in reekse soos Fynskrif, Troukoors en Waterfront en flieks soos Wonderlus en Die pro, vertolk die rol van Schalk Smit.

Schalk is ’n beleggingsportefeuljebestuurder by T&M Holdings wat aan die miljardêr Tiaan du Toit behoort. Schalk se groot droom is om ’n dollar-miljoenêr te word en niks beter in sy pad kom nie.

Op die oog af is hy warm en vriendelik, maar agter die masker is ’n sakeman wat nie bang is om kanse te vat nie. Hy is trots op sy rugbyspelende seun, verdra sy rebelse dogter, en het ’n komplekse verhouding met sy vrou.

Schalk is oorspronklik van Kimberley en smag daarna om tot die binnekring van Stellenbosch se elite toegelaat te word.

Lees ons onderhoud met Edwin hier.

2

Marlo Minnaar as Tim Koopman

Marlo Minnaar as Tim Koopman in Fraksie

Marlo Minnaar het ’n indrukwekkende reputasie vir sy werk op die verhoog, op TV en in film. Hy is veral bekend vir sy rolle in TV-reekse soos Sara se geheim, Troukoors, en Die Boland Moorde.

In Fraksie speel Marlo die rol van Tim Koopman, ’n dosent in rekenaarwetenskap aan die Universtiteit van Pretoria. Tim het deur die jare gesien hoe studente sukkel om hul geldsake te bestuur en het in sy vrye tyd ’n app, QPI (Quick Payment Interface), ontwikkel. Nou soek hy net beleggers wat sal byt.

Tim en Chantel (Crystal Donna Roberts) is ses maande vantevore getroud ná hulle mekaar by die ongevalle-eenheid by die hospitaal ontmoet het. Chantel help die skaam Tim om uit sy dop te kruip en hulle is dolgelukkig. Een ding van Tim sal egter nooit verander nie: sy sin vir wat reg en verkeerd is.

Lees ons onderhoud met Marlo hier.

3

Trix Vivier as Jana Broeksma

Trix Vivier as Jana Broeksma

Trix Vivier, bekend vir haar rolle in Trackers, Waterfront en Legacy, is te sien as Jana Broeksma.

Jana was saam met Tim en Schalk op skool, maar ná matriek het sy uit hul lewens verdwyn en regte aan Rhodes Universiteit studeer. Sy is ’n suksesvolle kommersiële prokureur en op die oog af gelukkig getroud met Alwyn. Hulle is ouers van die negejarige Emmy. Jana se lewe verander dramaties as sy werk in Stellenbosch aangebied word. Die skuif plaas haar weer in die wentelbaan van Tim en Schalk en sy word by hul nuwe maatskappy betrek. Jana is ’n komplekse mens met ’n komplekse geskiedenis, ’n geskiedenis waartoe Schalk en Tim onwetend bygedra het. Sy probeer om ’n goeie mens te wees, maar die spoke van haar verlede laat haar dit nie altyd toe nie.

Lees ons onderhoud met Trix hier.

4

Roeline Daneel as Nina Smit

Roeline Daneel as Nina Smit

Roeline Daneel (Fynskrif, Die boekklub, Binnelanders, Kompleks) speel die rol van Nina Smit, Schalk se vrou en ma van hul twee kinders.

Nina kom van ou geld. Haar ma is Stellenbosch-adel, haar pa is ’n onkoloog en haar suster is ’n narkotiseur. Sy is die swartskaap van die familie en sy en Schalk moes trou toe sy jonk swanger geraak het. Nina is ’n deeltydse eiendomsagent, maar wonder soms hoe haar lewe sou wees as sy nie met Schalk getrou het nie. As hy met nog ’n plan kom om geld te maak, is sy opgewonde, maar ook skepties omdat sy planne selde uitwerk. Is dit tyd om haar eie potjie te krap?

Lees ons onderhoud met Roeline hier.

5

Duane Williams as Jack Williams

Duane Williams in Fraksie

Duane Williams is nie net ’n talentvolle akteur en bekend vir reekse soos Blood & Water en die sepie 7de Laan nie, maar het ook al as danser in verskeie produksies opgetree.

In Fraksie is hy te sien as die bemarkingskenner (of so dink hy) Jack Williams. Hy is die seun van ’n diplomaat en wil sy aansienlike trustfonds gebruik om in tegnologie te belê. Hy woon by sy ouma, Ester, ’n emeritus-professor in drama aan die Universiteit van Stellenbosch. Jack probeer sy bes om mense te beïndruk, maar hy maak dom foute en het ’n gewoonte om werk en plesier te meng. Hy ontmoet toevallig vir Jana op die gholfbaan en word só deel van QPI.

6

Melt Sieberhagen as Henk Greyling

Melt Sieberhagen in Fraksie

Melt Sieberhagen, bekend vir reekse soos Troukoors, Die Byl en Proesstraat, is ’n meester op verskeie gebiede. Nie net is hy ewe gemaklik op die verhoog en voor die kamera nie, hy kan ernstige drama en komedie met ewe ywer gemak speel.

In Fraksie is hy Henk Greyling, die hoof van IT by T&M Holdings. Hy het in die 2000’s aan ’n platform soortgelyk aan Mxit gewerk, maar het gekies om ’n salaris te neem in plaas van aandele. Almal betrokke het baie ryk geword – behalwe Henk. Sy huwelik het verbrokkel weens sy bitterheid en sedertdien haat hy sy werk. Hy woon saam met Donovan, ’n gay geleentheidsbeplanner en hulle het ’n komplekse verhouding. Henk het ’n 19-jarige seun, JP.  Wat gaan Henk doen as hy ’n geleentheid kry om in QPI te belê?

7

Hendrik Nieuwoudt as JP Greyling

Hendrik Nieuwoudt (Fynskrif, Tydelik Terminaal, Troukoors) is Henk se seun en is oortuig dat hy ’n YouTube-ster gaan word. Hy kom Stellenbosch toe om drama te studeer ná sy ma hom uit die huis geskop het as gevolg van die videos wat hy van haar gemaak het. Hy en Henk het nie ’n goeie verhouding nie en hy hoop dat hulle mekaar beter sal leer ken.

8

Crystal-Donna Roberts as Chantel Koopman

Crystal-Donna Roberts as Chantel Koopman

Crystal-Donna Roberts (Arendsvlei, Fynskrif, Krotoa) is Chantel, ’n verpleegsuster wat vir Tim in die ongevalle-eenheid by die hospitaal ontmoet het. Hy het gesê sy is die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het en dat hy met haar wil trou. Sy het net gelag, maar kort daarna is hulle wel getroud. Sy is opgewonde oor QPI en wens Tim wil partykeer meer vir homself opstaan. Chantel is onopgesmuk en hardwerkend en het ’n baie goeie verhouding met haar ma en suster.

9

Sean-Marco Vorster as Alwyn Broeksma

Sean-Marco Vorster in Fraksie

Alwyn Broeksma (Sean-Marco Vorster, ook in Alles Malan, Legacy) is die voormalige hoofsanger van die rockgroep Ysterhout. Hy gee deesdae kitaarles en is ’n tuisbly-pa terwyl Jana werk. Hy is versot op klein Emmy. Sy lewe word omver gegooi as Jana Stellenbosch toe trek en hy besluit hy en Emmy moet agter haar aan trek. Dit werk egter nie uit soos hy gehoop het nie en hy moet nou sy eie lewe in oënskou neem en besluit wie hy werklik is.

10

Pierre van Pletzen as Tiaan du Toit

Pierre van Pletzen in Fraksie

Die veteraan-akteur Pierre van Pletzen (7de Laan, Meerkat Maantuig, Die boekklub) is Tiaan du Toit, ’n miljarder wat genoeg geld gemaak het om verskeie leeftye te hou. Hy het nog altyd vir Schalk gesien as die seun wat hy moes gehad het. Deesdae is hy egter nie so seker nie. Schalk is vir hom roekeloos, maar hy sien tog potensiaal in QPI. Is hy te oud om weer van vooraf te help aan ’n besigheid bou?

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies