Melt Sieberhagen is so ingeburger in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf dat selfs as jy nie van hom weet nie, weet jy eintlik wel soortvan wie hy is. Kyk byvoorbeeld na hoe talle Afrikaanse Zennial TikTokkers audio clips van Melt se komedie-optredes gaps om saam met hul gesiggies oor die internet te strooi. Al daardie cool kinders ter syde gestel – die res van Suid-Afrika het hom die afgelope twee dekades op verhoë regoor die land leer ken, of dit nou by musiekfeeste, kunstefeeste, korporatiewe funksies, komedieklubs of in hogere teaters is. Dan is daar nog natuurlik District 9, Liewe Kersfeesvader, die maltrap improv-komedieprogram, Proesstraat, die rillerreeks Die Byl en meer onlangs Die Spreeus, Raised by Wolves en die gewilde Afrikaanse romkom, Troukoors, waarvan die tweede seisoen pas op Showmax geloods het.
Dis juis oor Troukoors waaroor ons met Melt gesels.
Melt, jy het al hierdie wonderlike rolle in films en TV-reekse en mens sien jou gereeld op verhoë regoor ons land of, dit nou vir stand-up comedy, dramas of korporatiewe funksies is. Jy doen egter baie meer as dit. Vertel ons so ’n bietjie meer van wat jy agter die skerms pleeg?
Toneelspel is waarvoor ek opgelei is, maar ek is ook nogal geesdriftig agter ’n keyboard aangesien ek skryf, vertaal en redigeer. Ek het my eerste roman bietjie meer as ’n jaar gelede vanaf Engels na Afrikaans vertaal vir my vriend, Etienne Fourie, wat Die Man in Die Maan gepubliseer het. Ek is mal oor skryf! Ek doen ook ’n redelike mean offline edit. Ná my studies, het ek begin werk as ’n navorser en insetselvervaardiger vir Kwêla op kykNET. O ja, en ek is ook ’n onverskrokke oorklanker! Ek kan baie vinnig dub en ek siglees baie goed; sommer ’n paar honderd reëls in ’n uur, geen probleem!
Van al die verskillende dissiplines in die bedryf waarin jy jouself bevind, watter een is jou gunsteling?
Ek dink ek hou altyd meer van die een waarmee ek nie besig is nie, omdat ek dit mis. Toe ek in die vroeë 2000’s regie behartig het, het ek altyd gedink dat ek nooit so goed met improv sou wees soos my vriende Hannes Brümmer en Monique Nortjé nie. Ek het gesien hoe hulle improv doen terwyl ek insetsels direct het, so ek het nie gedink ek sou dit kon doen nie. Toe begin ek stand-up comedy doen en hei, ek kon dit doen!
Terwyl ek stand-up gedoen het, het ek nogal regie gemis. Stand-up het my baie besig gehou gedurende die 2010’s, so ek was baie op die verhoog, en toe het ek nou weer acting gemis.
Die laaste jaar of wat was ek gelukkig genoeg om baie acting te doen, en toe mis ek stand-up. Op die oomblik skryf ek baie, so nou mis ek sommer acting en stand-up! Ek hou dus nie noodwendig meer van die een as die ander nie – ek dink ek smag meer daarna wanneer ek met een van die ander besig is.
Verduidelik Troukoors in ’n neutedop aan iemand wat dit vir die eerste wil kyk?
Op die oog af handel dit oor troues, met die hoofkarakter as ’n bruilofbeplanner. Ek is daar as die een meisie se pa, se kêrel. In seisoen een word ek sy verloofde en hopelik word ek sy man in die tweede seisoen, aangesien seisoen een geëindig het met ons wat verloof geraak het. Dalk is daar ’n troue? Of nie? ’n Mens weet nooit nie. In Troukoors sien ek troues en die gebeure rondom dit as ’n metafoor vir mense wat bymekaar kom en mekaar vind. Die paartjies wat in beide seisoene trou, is nie jou “normale paartjies” nie, maar hulle is tog ook “normale” paartjies. Dit kom alles neer op die verbintenis tussen families en die verskillende mense en keuses vanuit verskillende oriëntasies en perspektiewe.
Jy vertolk die rol van Nathan, ’n gay man in ’n verhouding met Karel (Kevin Smith). Was dit moeilik om die rol van ’n gay man te vertolk? Wat sê jy vir iemand wat sê: “Ja hy is ’n goeie akteur, maar ’n gay man moes eerder die rol gekry het.”
Die uitdagings wat ek in die gesig gestaar het, het nie betrekking tot die uitbeelding van ’n gay man nie. Ek is eerder uitgedaag met die normale dinge waarmee akteurs opgesaal word, soos om ’n ander karakter uit te beeld en om iemand uit te beeld wat nie jy is nie. In hierdie geval is Nathan toevallig in ’n verhouding met Karel.
Ek dink nie dat Nathan se seksualiteit hom as ’n persoon definieër nie. Ek dink nie enigiemand s’n doen nie, so die uitdaging om ’n gay man te speel was niks meer as die uitdaging as om byvoorbeeld die ou in die kroeg in Die Spreeus te speel nie. Dit was uitdagend in die sin dat dit langer was. Ek is uitgedaag deur hierdie ander persoon uit te beeld en die feit dat hy gay was, was deel van die persoonlikheid wat ek uitgebeeld het. As iemand dink ’n gay akteur moes die rol gekry het, dink ek: “Sure, jy is geregtig om te dink dat enigiemand anders eintlik die rol moes gekry het”, maar seksualiteit is ’n ingebore deel van mens se persoonlikheid, dink ek.
Ek is net bly dat die rol na my kant toe gekom het, want ek het regtig soveel pret gehad! Dit was meer uitdagend om ’n man uit te beeld wat verlief is op sy maat, om ’n pa uit te beeld wat sy seun leer ken en om iemand uit te beeld wat amper as ’n surrogaatpa van drie meisies funksioneer. Daar was soveel aspekte van Nathan se karakter wat ek moes uitbeeld. Dit was ’n opwindende uitdaging, maar dit was nooit regtig moeilik nie.
Wat is jou indrukke van die produksiegehalte van Troukoors en wat was jou ervaring op stel gewees?
Dis lekker dat Showmax in plaaslike produksies belê. Die teks was goed geskryf met samewerking van ’n goeie groep skrywers wat onder leiding van Louis Pretorius as hoofskrywer bymekaargebring is. Die draaiboeke was puik en jy kon sien dat ’n ervare span skrywers daaraan gewerk het. Nina Swart is ’n wonderlike regisseur. Sy weet wat sy wil hê. Ons was gedruk vir tyd en ons het baie baie bladsye per dag gedoen en sy was gereed daarvoor en het geweet wat sy wou hê – en sy het dit gekry.
Tegnies, kry sy die beste uit die produksiespan uit en optredegewys kry sy dieselfde uit die akteurs. Faheema Hendricks is ’n ongelooflike DOP. Sy weet wat sy doen en sy doen dit vinnig en akkuraat. Dit het net lekker gevoel om deel van so ’n span te wees. Van die akteurs se kant af het die hele span saamgewerk om die beste te lewer en ek dink dit word bewys deur die finale produk en dat al daardie moeite nie tevergeefs was nie.
Kom ons veronderstel jy en Kevin kry die kans om die hoofkarakters in ’n film van jou keuse te vertolk. Watter tipe fliek sou dit wees?
Dit was wonderlik om saam met Kevin te speel. Die feit dat iemand gedink het dat ek sy kêrel kon speel, is een van die grootste komplimente van my loopbaan, want hy is kak hot, man! (en ’n lieflike mens). Ek dink ons kan ’n goeie remake van enige Terence Hill- en Bud Spencer-fliek maak. Hy natuurlik as Terence Hill, wat die lekker sexy, cool en collected ou is. Ek sal Bud Spencer wees wat met sy vuiste praat.
As ek nou simpel moet wees, dink ek ons sou ’n Laurel and Hardy-fliek kon maak, maar Kevin doen nie “pateties” baie goed nie, so ignoreer miskien daardie idee. Ons werk baie goed saam en hy is ongelooflik om mee saam te werk. Hy gee soveel as ’n akteur en hy het my werk so maklik gemaak. Ek sal graag saam met hom op enige projek wil werk, want hy is so goed dat dit jou laat jou goed lyk!
Hoe dink jy sal Troukoors die gemiddelde Suid-Afrikaner inspireer?
Dit is ’n romcom, dit is lekker en dit is pret. Die karakters is cool, hulle is anders, en hulle is nie jou run-of-the-mill karakters nie. Hulle is moderne mense met moderne uitdagings en persoonlikhede wat vir Suid-Afrikaners wys dat mense oor die weg kan kom, bymekaar kan kom en mekaar kan tegemoet kom. Troukoors gaan oor interpersoonlike verhoudings, gesinsverhoudings en dit gaan oor gemengde gesinne.
Ek dink ook dit wys dat daar nie iets soos abnormaal is nie. Ons het almal ’n idee van wat normaal is, maar almal se normaal is hul eie normaal. Dit is dus normale mense met normale uitdagings, miskien net in situasies wat ons nie altyd aan gewoond is nie. Jy kan leer hoe om vir mense te lag maar ook saam met hulle te lag, meer empatie te hê en in mense se vreugde en opwinding te deel.
Wat was jou hoogtepunte van die eerste seisoen van Troukoors, beide in die storielyn self, asook toe die kameras ophou rol het?
Ek skat die storielyn-hoogtepunt in seisoen een was die hele verloof raak aan Karel-ding. Dit was wonderlik. Ook die hele storielyn van die groei in die verhouding tussen my en my seun, Kevin (gespeel deur Armand Barnard).
Agter die skerms was ek omring deur mense wat so goed in hul werk is. Ek het ook besef ek is oud, want van die jonger akteurs het my vertel hoe hulle na my op TV gekyk het toe hulle grootgeword het. Dit was lekker om hierdie nuwe golf van jong talent te sien en daar is baie talent. Om hulle te kon ontmoet was wonderlik.
Ek was ook gelukkig genoeg om saam met van die meer gevestigde (ouer) akteurs te speel wat ek ken asook dié wie ek nie geken het nie. So ek dink dit was my gunsteling ding: net om te sien hoe almal hard werk.
Sonder om die aap uit die mou te laat, waarna kan die kyker uitsien in die tweede seisoen van Troukoors?
Daar is progressie. Luca se reis op soek na liefde neem byvoorbeeld ’n paar interessante wendinge. So ook ons hoofkarakter Jessica, vertolk deur die lieflike Ilse-Lee Van Niekerk. Sy gaan voort op ’n interessante reis. Dieselfde geld vir Karel se biologiese dogter, Abi, wat by gebrek aan ’n beter term “bietjie oopkop en avontuurlustig” is. Hul verhouding groei ook, dink ek, soos al haar ander verhoudings verder vorder want… sy het baie. Jy kan natuurlik ook sien wat verder met my en Karel gebeur. Ek dink jy kan uitsien na meer van dieselfde, maar terselfdertyd beter en meer opwindend!
Kry Melt Sieberhagen te siene in hierdie titels op Showmax: