Die akteur Morné Visser sluit by Skemergrond aan as Rynard Fuchs, ’n sakeman wat met Christine Atkins besigheid wil doen.
Op die oog af is daar niks verdag aan die nuwe man in haar lewe nie, maar mettertyd begin dit duidelik word dat Rynard nie noodwendig alles sê wat hy dink nie. “Hy is eerlik wanneer hy moet wees en ongenadig in sy missie. Hy is ook tot die dood toe lojaal,” sê Morné oor sy karakter.
Morné se waarskuwing aan kykers laat baie ruimte vir spekulasie: “ ’n Slang moet sy vel elke nou en dan verloor. Dis nie sy skuld nie, dis om te oorleef.”
Aanvanklik skep Rynard die indruk van ’n man wat gewoond is om sy sin te kry. “Kykers gaan dink hy is ’n man wat vat wat hy wil. Later sal hulle sien, hy is onselfsugtig,” sê Morné.

Maar of kykers hom kan vertrou, is ’n ander vraag. “Kan jy regtig iemand vertrou?” vra hy self.
Vir Morné is die rol ook nuwe terrein: “Ek het nog nooit ’n romantiese rol gespeel nie.”
Maar die moeilikste was om ’n karakter te vertolk wie se woorde en gedagtes nie noodwendig ooreenstem nie:“Dit was ’n uitdaging om iemand te speel wat die teenoorgestelde dink as wat hy sê.”
Wanneer dit kom by ’n spesifieke toneel of oomblik wat hom laat besef het hoe interessant Rynard gaan wees, hou Morné sy kaarte styf teen die bors en gee net ’n skalkse antwoord: “Ja, maar ’n man praat nie uit die slaapkamer nie.”
Die rol het hom selfs ’n onverwagse ontdekking oor homself laat maak: “As ek die regte snit klere dra, lyk ek nie te sleg nie,” skerts hy.
Morné sê sy ervaring op die Skemergrond-stel was uiters positief. “Dit is ’n wonderlike stel. Almal is baie ondersteunend en vriendelik. Die produksiespan is wêreldklas. Dis ’n ontspanne stel maar altyd gefokus.”
Skemergrond is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.