Menu terloops
In Features [30 Aug 2023]

Animasie vir Afrika (…en die wêreld)


Animasiekunstenaars-, skrywers en regisseurs van Afrika hoef nie ʼn treë terug te staan vir hul internasionale eweknieë nie. Triggerfish Animation Studios in Kaapstad neem die voortou. Hul kreatiewe direkteur Anthony Silverston het Riëtte van der Wat vertel waarom stories uit die vasteland internasionale opslae maak.

Deur Riëtte van der Wat
Animasie vir Afrika (…en die wêreld)

Vanjaar word beskou as ʼn waterskeidingsjaar vir die animasiebedryf in Suid-Afrikaanse en die res van Afrika.

Want hoewel Suid-Afrikaanse animasieflieks soos Khumba (beide die Engelse en Afrikaanse weergawes is op Showmax) en Zambezia die weg gebaan het vir bekroonde animasie-projekte uit eie bodem, het die kontinent ná jare eindelik die internasionale platform en geleenthede wat bewys ons eie stories strek wyer en dieper as pratende diere en safari-landskappe. Die animasie-kunstenaars, regisseurs en skrywers wat in dié bedryf werk, is (uiteindelik) ook alles behalwe byspelers in internasionale produksies.

Plaaslike projekte vir ʼn internasionale mark

Een van die opwindende plaaslike projekte wat tans groot internasionale blootstelling kry, is Kizazi Moto: Generation Fire. Dié reeks van tien futuristiese- en fantasie-kortflieks uit Afrika is onlangs op Disney+ vrygestel.

Dié reeks, die breinkind van Triggerfish Animation Studios in Kaapstad, het die ruimte geskep vir psigedeliese seekatte en branderplankryers in ʼn distopiese Durban (Surf Sangoma); herders wat psyborg -beeste van dodelike geeste bewaak op die hooglande van Uganda (Herdboy) en vir ʼn influencer wat die Zimbabwiese ruïnes met spuitverf beetkry en as straf na ʼn alternatiewe tussenwêreld in die toekoms gestuur word – en dit boonop in ʼn Zimbabwe wat nooit gekoloniseer is nie (Mukudzei).

Kizazi Moto kan niemand meer sê Afrika nie gekwalifiseerd is om animasie te skep nie. Ons het die stories, ons het die regisseurs en ons het die ateljees. Nou kan ons eindelik die deur oopmaak vir ʼn eerste generasie Afrika-animasiekunstenaars om ons stories met mekaar én die res van die wêreld te deel.

Anthony Silverston

Triggerfish was ook die vervaardigers van die finale kortfliek in die Star Wars Visions: Volume II-reeks vir Disney+, wat uit alle oorde fantastiese resensies kry.

Dan is daar ook nog ʼn reeks vir voorskoolse kinders, Kiya and the Kimoja Heroes, wat van 4 September af op Disney Junior op DStv en DStv Stream (kanaal 303) uitgesaai sal word. Dis ook uit die Triggerfish-stal en is ontwikkel deur Marc Dey en Kelly Dillon, wenners van Triggerfish en Disney+ se  Story Lab-uitdaging in 2015. Die elfjarige Dineo du Toit van Fourways in Johannesburg is die stem van Kiya. Al die episodes is ook op YouTube, gratis, beskikbaar.

Supa Team 4, ʼn Zambiese reeks oor vier tienermeisies wat gekies word om superhelde te word wat die wêreld op ʼn knap begroting moet red, is tans op Netflix beskikbaar. Dié reeks, Netflix se eerste animasie-reeks uit Afrika, is ook deur Triggerfish vervaardig in samewerking met die Britse-produksiehuis Cake Entertainment.

Triggerfish neem die voortou

Hoewel ander animasie-ateljees en onafhanklike regisseurs en skrywers in Suid-Afrika ook innoverende werk doen, is die produksiehuis aan die voorpunt van die ontwikkeling van animasie in Afrika verseker Triggerfish.

Die ateljee het onder meer naam gemaak met die fliek-verwerkings van Roald Dahl en Julia Donaldson se boeke vir die BBC se sogenaamde Kersfees specials, waaronder Zog en Stick Man (albei op Showmax). Die specials het hulle ʼn Oscar-benoeming, drie Bafta-toekennings en ʼn internasionale Emmy besorg. In 2021 is Triggerfish ook by die Annecy Internasionale Rolprentfees bekroon met ʼn Mifa Animasiebedryftoekenning vir die pioniersrol wat hulle in Afrika-animasie speel. (Lees ook ons onderhoud met Daniel Snaddon, die mede-regisseur van Zog en Stick Man.)

In 2015 het Triggerfish in samewerking met Disney en die Departement van Handel en Nywerheid ʼn projek van stapel gestuur om oorspronklike flieks en reekse uit Afrika te vervaardig. Die reaksie was oorweldigend, met byna 1400 inskrywings.

“Toe ons in 2015 die Story Lab van stapel gestuur het, het ons dit regdeur Afrika bemark met koerant- en radio-advertensies. Mense kon sien dit was ʼn legit geleentheid vir skrywers en regisseurs om oorspronklike werk voor te lê en ek dink dit is waarom ons so ʼn groot reaksie gehad het,” sê Anthony Silverston, die kreatiewe direkteur van Triggerfish.

“So baie mense word groot met cartoons en wens hulle kan dit self maak. Hulle weet egter nie daar ís geleenthede om dit self te doen nie,” sê Anthony. “Ons het aktief begin soek na mense wat passievol is oor animasie en ons het hulle gekry. Talent is oral, maar die geleenthede is nie. So as jy die eerste een is om die deur oop te maak, is daar ʼn backlog talent wat in die ry staan en wag.

“Daar was ʼn tyd wat ons nie bloot ʼn advertensie vir werk in die ʼn plaaslike animasie-gemeenskap kon uitstuur nie. Ons moes eers daai animasie-gemeenskap skep,” sê Anthony. “Met Triggerfish en Disney se Story Lab het ons spesifiek na skrywers uit Afrika gesoek; daar was ook al ʼn program wat spesifiek op vroueskrywers gemik was en ʼn opleidingsprojek saam met Netflix.

Buiten die rolprentbedryf is daar ʼn aanvraag na animasietalent in velde soos advertensiewese, app-ontwikkeling, webontwerp, argitektuur, gaming, ingenieurswese, die motorbedryf, om nie te praat van die groei in augmented en virtuele realiteit nie. In ʼn land soos Suid-Afrika ʼn werkloosheidskoers van 32.9%, kan die animasie-bedryf ʼn reuse impak hê.

Anthony Silverston

“Triggerfish het verskeie programme en internskappe om kunstenaars te ontwikkel en ons gee regtig om vir mense,” sê Anthony, half verleë. “In ʼn sekere sin moes ons pionierswerk doen en die bedryf aanhou bou soos dit gegroei het. Die BBC Kersfees-specials het gewys ons het ʼn ernstige bedryf wat wêreldgehalte werk kan lewer.”

Een van die uitvloeisels is dat daar baie meer geleenthede is om ʼn loopbaan in die plaaslike animasie-bedryf te bou as ooit tevore. Anthony onthou hoe hy homself aan die begin van sy loopbaan moes leer oor alles van stop motion tot CGI.

“Ek het my eie kort flieks gemaak, dit ingeskryf vir feeste, my eie pad boontoe gewerk en ʼn internskap gedoen waar ek die draaiboek vir Khumba geskryf het. Ek het ʼn kompetisie gewen wat my toegelaat het om die draaiboek verder te ontwikkel en dit is hoe ek on the job-opleiding gekry het.”

Hoewel indiensopleiding steeds die beste leerskool vir animasie-kunstenaars is, is dit nie meer so moeilik om ʼn loopbaan in animasie uit te kerf nie, omdat ouens soos Anthony-hulle reeds die pad gebou het.

“Suid-Afrikaanse ouers is dikwels skepties daaroor dat hul kinders ʼn loopbaan kan bou in iPopeye (Suid-Afrikaanse slang vir animasie), maar animasie is aan die groei. Dit is ʼn arbeidsintensiewe werksmag wat nie kan bybly met die internasionale aanvraag nie.

“Buiten die rolprentbedryf is daar ʼn aanvraag na animasietalent in velde soos advertensiewese, app-ontwikkeling, webontwerp, argitektuur, gaming, ingenieurswese, die motorbedryf, om nie te praat van die groei in augmented en virtuele realiteit nie. In ʼn land soos Suid-Afrika ʼn werkloosheidskoers van 32.9%, kan die animasie-bedryf ʼn reuse impak hê.”

Afrika-stories eindelik in die wêreld-kollig

Boonop is daar deesdae veel meer platforms vir Suid-Afrikaanse animasiekunstenaars as obskure rolprentfeeste waar net ʼn handjievol fans hul werk sal kan waardeer. Met maatskappye soos Disney+, Netflix en Lucasfilms aan boord, lyk die toekoms blink.

“Die wonderlike ding is dat hierdie uitsaaiers ʼn opbouende aandeel het in die projekte wat hulle aanvaar. Hulle is opgewonde oor die projekte wat ons voorlê en laat dit in die regisseurs se hande,” sê Anthony. “Hulle is baie ondersteunend en ken hul teikengehoor goed. Daarom is notas of kritiek van hulle sinvol. Hulle vra vrae om jou te help om te verfyn wat jy wil sê en hulle stoot nie, hulle help jou eerder om by die beste moontlike eindproduk uit te kom.”

Volgens Anthony was die vonk wat internasionale uitsaaiers honger gemaak het vir stories uit Afrika die Marvel-fliek Black Panther.

“Voor Black Panther is daar altyd vir ons gesê daar is nie ʼn mark vir stories oor Afrikane nie. Ná Black Panther wou almal skielik stories uit Afrika hê, maar daar is vir ons gesê daar is nie ervare regisseurs om hierdie stories te vertel nie,” sê Anthony, die skepper van Khumba én Zambezia, met ʼn tikkie ironie. “Vollengte animasieflieks word selde onafhanklik gemaak, maar Triggerfish het Khumba en Zambezia rug aan rug gemaak en dit het mense laat regop sit.

“Boonop duur dit sowat drie jaar om ʼn fliek te maak en in daardie tyd word mense opgelei in verskillende rolle en neem hulle later self leiding van sekere aspekte van die projek.”

Futuristiese, grensverskuiwende Kizazi Moto

Met die grensverskuiwende Kizazi Moto: Generation Fire, het Triggerfish die soveelste deurbraak gemaak.

“Ná Kizazi Moto kan niemand meer sê Afrika nie gekwalifiseerd is om animasie te skep nie,” sê Anthony. “Ons het die stories, ons het die regisseurs en ons het die ateljees. Nou kan ons eindelik die deur oopmaak vir ʼn eerste generasie Afrika-animasiekunstenaars om ons stories met mekaar én die res van die wêreld te deel.”

Kizazi Moto is ʼn reeks futuristiese- en fantasie- kortflieks deur kunstenaars van Zimbabwe, Uganda, Suid-Afrika, Nigerië en Egipte.

“Triggerfish en Disney+ het spesifieke skrywers, kunstenaars en bekroonde regisseurs genooi om idees voor te lê vir die projek,” sê Anthony. “Daar was ʼn skrywer wat nog nie voorheen regie gedoen het nie, asook ʼn musikant… Sommige met ervaring in animasie en ander weer glad nie, maar almal passievol oor animasie,” sê Anthony.

Dit was vir hom en die res van die span “ ʼn ongelooflike ervaring” om aan Kizaze Moto te werk: “Ons het besef hoeveel daar is wat ons by mekaar kan leer. Daar is soveel verskille – taal, kultuur, agtergrond… maar dit was ook interessant om al ons ooreenkomste raak te sien.”

Die eindproduk is ʼn kreatiewe smeltkroes van stories van regoor die kontinent wat die Disney- en Triggerfish-gehaltestempel dra.

“Die stories wat ons [in Kizazi Moto] vertel, het ʼn menslikheid wat dit universeel maak. Maar dit stel ook ʼn persoonlike ervaring, eie aan Afrika, ten toon, wat die res van die wêreld nog nie gesien het nie. Alles is nuut en vars, van die mode-ontwerp tot die taalgebruik en karakters.”

Peter Ramsey, ʼn Oscar-bekroonde regisseur en uitvoerende vervaardiger van Spider-Man: Across the Spider-Verse, was saam met Anthony en Tendayi Nyeke ʼn uitvoerende vervaardiger en mentor vir Kizazi Moto.

In ʼn onderhoud met Animation World het Ramsey gesê dat hy in 2019 die Kaapstad Animasiefees bygewoon het en daar vir die eerste keer bewus geword het van Suid-Afrika se dinamiese animasie-bedryf. Toe hy genooi is om by Kizazi Moto betrokke te raak, het hy nie gehuiwer nie: “Die gees wat ek in Kaapstad ervaar het, was aansteeklik. Daar was ʼn energie deurdrenk van popkultuur en die animasie was net so cutting edge soos elders ter wêreld. Hulle het net nie die blootstelling aan ʼn wêreldgehoor gehad nie.”

ʼn Unieke, menslike belewenis uit Afrika

Ramsey was as kreatiewe konsultant betrokke by draaiboekontwikkeling en so te sê elke ander aspek van die projek. Hy was ook ʼn mentor vir die regisseurs en het hulle gereeld herinner dat hulle niks het om voor terug te staan nie – veral as hulle geïntimideer was deur Disney se betrokkenheid.

Volgens Anthony het Ramsey die span aangemoedig om getrou te bly aan die projek se visie.

“Peter het opgemerk dat almal na Disney kyk en ʼn baie Amerikaanse uitbeelding van karakters sien en hoor. Daarom het ons probeer om ons karakters uniek aan Afrika te maak met hoe hulle lyk en klink,” sê Anthony.

Plaaslike stemkunstenaars, taalgebruik eie aan Afrika (die woordeskat in Sangoma Surfer is fantasties!), popkultuur, mode, stadstonele en stories wat verweef is met tradisie en kultuur en die uitbeelding van unieke popkultuur, is van die gereedskap wat ingespan is om dít reg te kry. Anthony verduidelik dié aanslag het nie net ʼn unieke konteks met die stories vervleg wat vir gehore in Afrika bekend sal voel nie, maar ook ʼn laag betekenis by die flieks gevoeg wat vir internasionale gehore uniek en interessant sal wees. 

“Die stories wat ons in Kizaze Moto vertel is relevant op ʼn universele vlak, omdat dit menslike stories is. Maar dit getuig ook van unieke Afrika-belewenisse. In Afrika het ons unieke ervarings gehad wat die res van die wêreld nie ken nie en nog nooit gesien het nie. Dit was ook interessant om te ervaar hoe daar ʼn goue draad van spiritualiteit deur al die stories loop wat heeltemal natuurlik ontstaan het,” sê Anthony.

“Almal was die hele tyd so beïndruk deur mekaar se werk en deur die gehalte van die projekte. Elke tree wat ons met Kizazi Moto geneem het, was oorspronklik en weldeurdag.”

Lank gelede, in ʼn sterrestelsel ver hiervandaan…

Triggerfish, animasie in Afrika, DStv, Showmax, Aau's Song
Die kortfliek Aau’s Song is deel van die Star Wars: Visions Volume II-reeks. Foto: Verskaf

Terwyl Triggerfish nog druk besig was met Kizazi Moto, is hulle deur Disney+ en Lucasfilm Ltd. genader om ʼn voorlegging te doen vir Star Wars: Visions Volume II.

“Ons het eers gewonder of ons hoegenaamd moet pitch, maar omdat hulle in ʼn sin na ons toe uitgereik het en ons onsself nie aan hulle moes verkoop nie, moes ons gewoon vorendag kom met ʼn storie. Lucasfilms was een van ons beste kliente nog, want buiten vir styl, het hulle ons toegelaat om ons eie ding te doen. Dit was ʼn fantastiese ervaring.”

Aau’s Song is ontwikkel deur Nadia Darries en Daniel Clarke. Darries, oorspronklik van die Kaapse Vlakte, werk sedert 2015 in die animasiebedryf aan verskeie hoëprofiel projekte en Clarke, wat sy loopbaan by Triggerfish begin het, was die produksie ontwerper van kortflieks soos The Snail and the Whale (op Showmax beskikbaar). Aau’s Song word beskryf as ʼn lieflike verhaal van persoonlike ontdekking en aanvaarding.

Ander kortflieks wat deel is van die reeks is onder meer van Japan, Frankryk en Ierland.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies