Daar is, gelukkig, ’n groot klomp kinderreekse aanlyn beskikbaar om kinders in die Desember-vakansie besig te hou.
Op Netflix
Netflix se StoryBots is al “die heel beste kinderprogram” op dié stromingsdiens genoem. Die reeks het al ʼn Emmy gewen en die nuutste vertakking, StoryBots: Ask the Storybots, is net so goed soos altyd.
Die eerste StoryBots-videos is in 2012 deur Gregg en Evan Spiridellis op YouTube gelaai. Dit het in die jare daarna ʼn televisie-koninkryk geword wat kinders ernstig opneem en in ag neem dat ouers ook soms wil saam kyk.
Die ding met StoryBots, is dat dit “kindertaal” praat sonder om hoegenaamd neerhalend te wees. Dis opvoedkundige televisie, ja, maar die slim humor, verskeidenheid temas, diverse musiekstyle, ʼn variasie visuele mediums (van 2D-animasie tot live action en claymation in ʼn enkele episode) en happie-grootte feite beteken dit voel nie of somme of aardrykskunde of wetenskap in jou keelgat afgedwing word nie. Dis soos Sesame Street vir ʼn nuwe generasie.
Dis fun facts in eerste rat! In net die eerste episode vind ʼn mens uit hoe werk ʼn waaier, hoekom appels vrot raak en hoe oud die aarde is.
En Danny DeVito maak ʼn gasverskyning as Guiseppi die pizza-bakker. Hy moet uitvind hoe vermenigvuldiging werk sodat hy genoeg pizza vir ʼn bruinbeer se partytjie kan maak.
ʼn Mens hoef net te kyk na die lys gas-akteurs, soos DeVito, wat ʼn draai maak deur die loop van die seisoen om te weet dis nie liggewig kindervermaak dié nie. Sophie Turner speel ʼn koninklike argitek wat ʼn reuse-sandkasteel vir die koningin moet bou en moet vasstel hoe om sand te maak. Anne Hathaway is ʼn spesiale agent wat by die StoryBots wil uitvind hoe lasers werk sodat sy nie in die helfte ge-chop word nie. Chrissy Teigen is ʼn sampioen wat wil weet wat om te doen sodat sy lekkerder sal smaak vir kinders. New Girl se Zoey Deschanel probeer die StoryBots mislei om haar te help om ʼn diamant te steel.
Anders as StoryBots is The Creature Cases op Netflix nou nie juis grensverskuiwend nie… Maar dit beteken ook dis ʼn veilige keuse as jy die kroos alleen voor die televisie wil los vir ʼn ruk.
En as jou kinders soos myne is, geniet hulle nogal die voorspelbaarheid van hierdie tipe “diere-speurder-helde-raaisel”-reekse.
Die nuutste episodes het ʼn vakansie- en Kersfeestema met tydreise en verlore mammoete daarby ingeklits. Die karakters is vriendelik en hulpvaardig en die animasie is modern en kleurvol.
Minions and More 1 & Minions and More 2 (ook op Netflix) is elk ʼn versameling snaakse, lekkerkyk kortflieks. Daarin maak karakters uit flieks soos The Secret Lives of Pets, Sing, Lorax en natuurlik Despicable Me ʼn draai. Dis min of meer twee uur van pure plesier.
In ʼn spesiale Kersfees-episode van Action Pack Saves Christmas moet die groep superheld-maats met Kersvader se hulp die Kersfeespret terugkry wat Teddy von Taker van die dorpie Hope Springs gesteel het. Dié een haal die lys omdat dit definitief gewild gaan wees onder kinders, maar dis ook maar resepmatige kinderkykstof…
In die episode Winter Wishday van My Little Pony: Make Your Mark is daar vakansietradisies, geskenke onder ʼn Wens-ster en veelkleurige ponies wat vir klein dogtertjies (kom ons wees nou maar eerlik) onweerstaanbaar sal wees.
Die reeks Gigantosourus draai om vier pelle en al die pret wat hulle in hul prehistoriese wêreld het. Dit is gehalte-kindertelevisie met ʼn positiewe aanslag. Die animasie is fantasties, die karakters is oulik en snaaks en die reuse dino wat almal die skrik op die lyf jaag, is tog eintlik maar ʼn softy.
Vir ouer kinders sal die interaktiewe Jurrasic World: Camp Cretaceous Hidden Adventure (met ʼn ouderdomsperk van 10-12 OL) verseker ʼn aanloklike opsie wees. In dié spin off van die gewilde Netflix-reeks bepaal die kyker wat volgende gaan gebeur. Gaan die T-Rex ons helde verslind as jy die verkeerde knoppie druk of nie?
In Daniel Spellbound (ouderdomsperk van 10-12 OL) verkwansel ʼn tienerseun rare en geheimsinnige voorwerpe aan towenaars in New York. (Daar is heelwat geweld en dis scary, so dis definitief nie vir kleiner kinders bedoel nie.)
Op Showmax
Al is daar heelwat opsies vir kinderkykstof op Showmax, lyk die aanbod nie hierdie jaar veel anders as verlede jaar hierdie tyd, toe terloops ook ʼn vakansie-kyklys vir kinders gepubliseer het nie…
Labuntina is ʼn BAFTA-benoemde kinderprogram op Showmax wat gemik is op voorskoolse kinders van 1 tot 5 jaar oud. Die hoofkaraktertjies is drie kinders wat aangetrek is soos diertjies: Lili Fish, Kodi Fox en Judi Bee. Hulle verskyn in kort opvoedkundige video’s waarin hulle sing oor alles van getalle tot die alfabet. Die animasie het ʼn sjarmante prenteboek-gevoel en die inhoud is eenvoudig, maar sinvol.
Die reeks is geskep deur ʼn ma en animasiekunstenaar, Valentina Ventimiglia, wat aanvanklik die liedjies begin skryf het vir haar eie kinders.
Nog ʼn goeie opsie vir voorskoolse kinders (veral dié met ʼn voorliefde vir bou en breek) is Digley and Dazey. Dit draai om oor twee oulike konstruksievoertuie – ʼn laaigrafie en ʼn energieke hyskraan met ʼn breekbal. Elke storie van sowat twee minute lank het ʼn kinder-verteller. Die stories is eenvoudig, vriendelik en sonder enige elemente wat klein kykers bang sal maak.
Tree Fu Tom, ʼn CBeebies-reeks, gaan oor ʼn seun wat homself met towerkrag in ʼn piepklein superheld kan verander. Só kan hy dan reis na die toweragtige koninkryk Treetopolis (ʼn boom in sy agtertuin). Die reeks is uniek in die sin dat dit kinders aanmoedig om saam te beweeg (Tom se towerkrag is “tree fu”, of “beweging”).
Die astrante pienk otjie Peppa raak feestelik in die tien minuut-lange Peppa Pig: Christmas Party. Peppa en haar maats kry dalk net vir Kersvader te sien.
Daar is geen twyfel dat Peppa ʼn pyn in die agterstewe is met haar wipstert-houding en terugpratery nie. Tog – wat help dit nou ʼn mens skop teen die prikkels? Veral in die vakansietyd…
In Once Upon a Sesame Street Christmas Special reis Elmo terug na ʼn Sesame Street van die verlede. Dis ʼn plek wat sό onvriendelik was, dat selfs Kersvader nie daarheen wou gaan nie.
In die gees van Sesame Street is daar belangrike lesse oor vriendelikheid, mededeelsaamheid en verbeelding oral deur dié kort-fliek gesprinkel.
Nog ʼn lieflike Kersfees-kortfliek is die geanimeerde weergawe van Julia Donaldson se kinderboek Stick Man. Hierin word ʼn Stokman ver van die huis af deur ʼn reeks onvoorsiene gebeure weggevoer. Met behulp van ʼn groot man met ʼn wit baard, vind Stokman gelukkig sy pad terug huis toe. Dis een waarna ʼn mens keer op keer kan kyk.
Vir Paw Patrol-verslaafdes is daar op Showmax twee kortflieks met die brakkies: Paw Patrol: Ready, Race, Rescue! en Paw Patrol: Mighty Pups. Ander groot name sluit Top Wing, Dora the Explorer, Butterbean’s Cafe en Ricky Zoom in.
Van die opvoedkundige inhoud wat op Showmax beskikbaar is, sluit Numberblocks en Alphablocks in. Dit is fassinerend hoeveel my kinders (onderskeidelik 7 en 4) van die nommer-blokkies hou. Dis die afgelope ruk een van hulle gunstelinge (ek probeer nog verstaan presies waarom). Maar die resep werk duidelik, dit leer kinders numeriese vaardighede en dit wakker positiwiteit aan oor somme maak en wiskunde.
(Hier’s ʼn Kersfeeswens vir plaaslike kindertelevisie… nuwe, gehalte-kinderinhoud op Showmax wat plaaslik vervaardig word. ʼn Mens kan maar net droom!)
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →