Kiri and Lou
Hoera! Kiri and Lou is terug op Showmax en dis baie goeie nuus vir ouers wat hoë gehalte, quirky kykstof vir kleiner kykers soek. Dit is nommer een op hierdie lys, want dit herinner aan ʼn tyd toe humor en ʼn slim storielyn en sterk karakters met hart belangriker as gizmo’s en gadgets en helde en power was.
Kiri en Lou is twee koddige prehistoriese pelle wat al singende en spelende op vrolike avonture gaan. Karakters leer byvoorbeeld hoe om jammer te sê en ontmoet dan ʼn karaktertjie met die naam ‘Sorry’ en ʼn ander genaamd ‘That’s Okay Don’t Worry About It’. Dalk vlieg die humor oor jou tweejarige se kop, dalk steek dit iewers vas.
In een episode voel Lou misrabel omdat sy gevoelens seergemaak is en Kiri moet probeer om hom te laat beter voel. Die episode “Funny Feeling” gaan oor hoe lekker dit is om te dans en in die episode “Small” is daar ʼn piepklein dingetjie wat soos ʼn kruising tussen ʼn mol en ʼn walrussie lyk wat altyd uitgesluit voel omdat sy so klein is.
Dis ʼn stop-aksie animasie-reeks met klei-karakters en ʼn papier-agtergrond. Elke episode is eintlik ʼn klein kinder-TV-kunswerkie. Dan is daar ook nog fantastiese oorspronklike musiek, wat bydra tot die pret en uitstekende stemkuns.
Esme and Roy
Esme is ʼn dogtertjie wat saam met haar groot, vriendelike monstervriend Roy klein monstertjies oppas.
Die karakters is vriendelik en die storie ontvou teen ʼn rustige pas en die storielyne is onskuldig en sal bekend voel vir klein kykers. Daar is ook baie oulike liedjies en die animasie is ou-skool-mooi, maar modern genoeg vir junior-resensente van kinder-TV.
Temas soos teleurstelling, vrees, vriendskap en hardkoppigheid word aangepak. Dit word egter op só ʼn subtiele manier gedoen dat niemand ooit besef daar’s ʼn lessie te leer nie.
Esme and Roy is dalk nie flashy soos van die gewilde kinderprogramme nie, maar dis alles wat ʼn TV-storie vir kleintjies moet wees.
Tee and Mo
Tee and Mo is ʼn eenvoudige animasie-reeks oor ʼn klein apie, Tee, en sy mamma, Mo. Hul ervarings sal baie bekend voel vir heel klein kindertjies. Daar is die teleurstelling as Tee moet ophou speel met badtyd en die irritasie as Mamma Mo eerder met haar vriendin wil klets as om met Tee te speel. En daar’s altyd baie liefde en omgee.
ʼn Alomteenwoordige verteller lei die storie en lewer kommentaar. Die verteller por die karaktertjies ook soms saggies aan om iets op ʼn ander manier te benader.
Dis ʼn baie goeie keuse as eerste televisie-program vir klein maatjies.
The Treehouse Stories
Storieboeke kry lewe in dié oorvertaalde Franse kinder-TV-program. Die oorklanking is ongelukkig nie perfek nie, maar die pragtig geïllustreerde stories vergoed daarvoor. Die illustrasies van elke episode lyk boonop anders.
In die episode “The very large bottomus of the Hippopotamus” word ʼn lewenslessie oor selfaanvaarding byvoorbeeld oorgedra met behulp van Afrika-diere wat elkeen op sy eie potjie moet sit.
Daar is ook ʼn episode oor ʼn paddatjie wat bang is om bed toe te gaan, omdat hy ʼn vrees het vir die donker en al die onbekende geluide wat die nag inhou.
Die kinderakteurs in hul lieflike boomhuis, sal (hopelik) ook verbeeldingspel aanmoedig en ʼn nuuskierigheid oor die wonderwêreld van boeke.
Sesame Street
Dié goue oue met Elmo, die Cookie Monster, Oscar the grouch en kie bly maar net ʼn wenner wat kinder-TV betref.
Heelparty van die episodes van Sesame Street word gewy aan ʼn spesifieke tema wat iets met kinders se emosionele ontwikkeling te doen het. Dit word met musiek, kort storie-insetsels en met behulp van bekende sterre oorgedra.
In die episode oor vriendskap sing Gwen Stefani ʼn prettige lieedjie oor hoe om ʼn goeie BFF te wees.
Daar is ook ʼn episode oor dokter toe te gaan; een oor deel en ʼn ander oor die belangrikheid van vriendelikheid.
Intussen leer kinders sommer ook ander dinge, soos oor vorms en kleure. Alles met hope humor en pret, soos net Sesame Street se inwoners kan.
Kate and Mim-Mim
Nog ʼn reeks waar ’n goeie verbeelding ʼn kind se lewe kleur gee. Kate is ʼn kleuterdogtertjie wie se speelgoedhaas lewensgrootte word as sy dit wens.
Common Sense Media meen dis ʼn dierbare reeks wat bekende peuter- en kleuter-emosies positief aanbied en op kleintjies se vlak.
As Mim-Mim se gids en rolmodel, help Kate haar vriend as hy skaam is, of dapper moet wees.
Daar is ook positiewe gesinsverhoudings en genoeg ander oulike karaktertjies om kleintjies se aandag vasgenael te hou.