Daar is baie opsies as dit kom by goeie opvoedkundige kykstof vir kinders. Hier is voorstelle vir leersame kindertelevisie.
Messy goes to Okido, YouTube
Messy is ’n vrolike blou gediertetjie wat mal is ook stink sokkies. Maar hy vra ook allerlei wetenskaplike vrae oor hoe dinge werk, nes nuuskierige kinders.
Dié opvoedkundige wetenskapreeks is gemik op drie- tot vyfjariges, maar ouer kinders behoort ook daarvan te hou.
Messy en sy beste vriende Felix en Zoey bewoon ’n kleurvolle fantasiewêreld saam met ’n klomp ewe kleurvolle, gawe en effens aweregse karaktertjies.
Saam met die geniale Zim, Zam en Zoom (’n driehoek, vierkant en sirkel), krimp hulle so klein soos atome. Hulle leer van energie-opwekking, petrol- en energie-aangedrewe voertuie én hoe vliegtuie in die lug bly en hoe plaak en gaatjies in tande vorm.
Die opvoedkundige inhoud is slim ingebou in ’n avontuur-belaaide storie. Die lesse word subtiel, maar baie sinvol, in episodes sowat 11 minute lank oorgedra.
The Adventures of Paddington, DStv Stream (kanaal 307)
Van al die kinderreekse wat tans beskikbaar is, is dié een sekerlik my gunsteling. My kinders geniet dit ook baie. Deels omdat dit so goed gemaak is, mooi is om na te kyk en kinderlike onskuld nog iets beteken vir die vervaardigers, maar ook danksy die goeie inhoud en storie.
Dit is ook ʼn reeks wat nie net belangrike lewenslesse oordra, soos die waarde van vriendskap en ʼn hegte gemeenskap nie, maar ook subtiele opvoedkundige inhoud insluit, soos waarom bye belangrik is en wat om te verwag van ʼn besoek aan die dokter.
Die akteur Ben Whishaw (Q in die James Bond-flieks Skyfall en No Time to Die) vertolk die vriendelike beertjie. Die Skotse aktrise Phyllis Logan (Mrs Hughes in Downton Abbey) is die Brown-gesin se huishoudster, Mrs Bird.
Dit sê nogal iets van die gehalte van die reeks dat akteurs soos dié daarby betrokke is.
Guess with Jess, YouTube
ʼn Eenvoudige opvoedkundige program vir voorskoolse kinders, met Postman Pat se kat, Jess, as hoofkarakter.
Elke episode fokus op ʼn vraag oor ʼn spesifieke onderwerp. Hoe maak jy, byvoorbeeld, ʼn versameling takkies, klippies en blare (iets waarmee baie kinders kan vereenselwig) “bruikbaar”? Hoe voorkom ʼn mens dat voëltjies jou groente- of blomsaadjie opeet?
Numberblocks, YouTube
In oulike vyf minuut-lange episodes leer kinders getalle ken saam met die Numberblocks-karakters wat in opdrag van die BBC geskep is.
Dié reeks is oorspronklik op CBeebies uitgesaai.
Die eerste paar episodes stel die getalle een vir een bekend – daar is byvoorbeeld ʼn hele episode net oor ‘One’. In die tweede episode besef ‘One’ sy kan nie met een raket tennis speel nie. Met behulp van ʼn towerspieël kry sy nog ʼn ‘One’ en bou hulle saam ‘Two’.
Kinders word aan eenvoudige wiskundige konsepte blootgestel met behulp van baie oulike liedjies. Die rym en sang is goed en genadiglik nie irriterend nie!
Dis ʼn “sagte” en vriendelike eerste ontmoeting met somme en syfers.
Learning Time with Timmy, YouTube
In dié vyf minuut-lange episodes word die ondeunde lammetjie Timmy en sy ander dieremaats by die kleuterskool aan eenvoudige konsepte en onderwerpe soos kleure en getalle blootgestel.
Dié spin off van Timmy Time, wat deur Aardman geskep is, is in ʼn nuwe formaat verwerk in samewerking met die British Council om kinders te help om Engels te leer.
Terwyl die wonderlike oorspronklike reeks net op klank en beeld staatgemaak het om die storie te vertel, word ʼn verteller hier ingespan.
Die klei-animasie is oulik en die diertjies vriendelik.
Blue’s Clues and You, Showmax
Die geanimeerde hondjie Blue en sy vriend Josh (Joshua de la Cruz) soek met behulp van leidrade die antwoorde op allerlei vrae.
Die reeks, wat op voorskoolse kinders gemik is, skerp getalle en kleure in en fokus op vroeë geletterdheid.
Ek moet bieg, dié een is nogal irriterend vir my en ek verstaan nie waaroor al die bohaai gaan nie. Ek kon dit nog nie regkry om ʼn hele episode van begin tot einde klaar te kyk nie. Maar baie kinders is gaande daaroor, so ek skat ek is maar net nie die teikengehoor nie…
The Cat in the Hat knows a lot about that, Netflix
Dr Seuss se bekende The Cat in the Hat het sowat 11 jaar gelede ʼn televisiebaadie aangetrek vir dié reeks wat deur PBS ontwikkel is.
Die kat (en Thing 1 en Thing 2 én die vis) gaan saam met twee kinders, Nick en Sally, op reise in die kat se Thingamajigger, om ondersoek in te stel oor ʼn wetenskap- of natuurvraag.
Die kat voer nie inligting vir hulle met ʼn lepel nie. Dit prikkel eerder Nick en Sally (en hopelik die kyker) se nuuskierigheid met humor.
Die eindresultaat sal hopelik wees dat kinders in verwondering sal staan oor hoe dinge werk en meer daarvan sal wil uitvind ná hulle die reeks gekyk het. Watter kreature is van blomme afhanklik vir oorlewing? Kommunikeer walvisse regtig deur sang? Wat kan ons by miere oor spanwerk leer?
Die akteur Martin Short vertolk die kat en hy doen dit fantasties – net ditzy én opreg genoeg.
Die animasie bly getrou aan die boeke en die rympies en liedjies doen Dr Seuss gestand.
Ek daag jou uit om nié heelweek die kenwysie te loop en neurie ná jy dit eers gekyk het nie…
Ask The StoryBots, Netflix
Die Emmy-bekroonde StoryBots is ʼn kleurvolle, besige, feit-belaaide, humoristiese en leersame reeks. Dit onderskat nie vir kinders nie, en boonop maak dit leer baie lekker.
Waar kom sjokolade vandaan? Waarom kan ons nie heeldag lank nagereg eet nie? Hoe werk selfone en wat gebeur nou eintlik as jy die toilet spoel?
Bekendes soos Snoop Dogg en Zoe Saldana maak ʼn draai as interessante karakters wat die StoryBots help om agter die kap van die byl te kom as hulle vrae moet beantwoord. Dit gee StoryBots nogal ʼn Saturday Night Live-gevoel.
Daar is ook fantastiese oorspronklike musiek (soos die liedjie oor Beijing in die episode oor sjokolade).
Emily’s Wonder Lab, Netflix
In dié hoë-energie wetenskapreeks leer die wetenskapkenner en voormalige MIT-ingenieur Emily Calandrelli vir kinders op praktiese en kreatiewe maniere oor ʼn verskeidenheid wetenskaplike konsepte.
Emily is toeganklik en anders as ander soortgelyke aanbieders, nie irriterend nie. Sy is entoesiasties, maar nie oordadig nie. Die kinders wat die “klein wetenskaplikes” is, is goed gekies.
Kykers word bekendgestel aan konsepte soos “hipoteses” en om dit te toets.
“There is no wrong here, we are all about trial and error,” is een van Emily se belangrike lesse.
In een episode leer Emily die “klein wetenskaplikes” alles oor eiers. Het jy geweet ’n hoendereier is sterk genoeg sodat jy daarop kan loop sonder om dit te breek? Emily daag haar wetenskaplikes uit om oor eiers te loop om vas te stel of sy reg is. Jong kykers sal hulle asem ophou om te sien hoe ʼn mens die minste eiers kan breek.
Blippi’s Adventures, Netflix
Blippi is ʼn YouTube-fenomeen wat nou ook sy pad tot op Netflix gevind het. Moenie my vra wat presies dit aan Blippi is waaroor kinders so mal is nie, maar dit wérk.
Die karakter Blippi (ʼn volwasse man met ʼn oranje bril, oranje en blou hoedjie, en ʼn piepstemmetjie) is die ene onskuld en opwinding oor nuwe dinge.
Daar was nogal omstredenheid toe die skepper van Blippi, Steven John, besluit het om nie self meer die karakter te vertolk nie. Die “nuwe” Blippi is dus die een wat kinders op Netlix sal leer ken.
“My kind gaan hartgebroke wees oor die nuwe Blippi” het mense op sosiale media geskryf. My twee het egter nie eens die verskil agtergekom nie.
Blippi leer kinders oor verskillende beroepe en voertuie, hy besoek speelgoedmuseums en waterparke, maak slym en leer hoe om vingertaal te praat.
Die vraag is nou net wanneer daar weer (goeie) opvoedkundige kinderprogramme in Afrikaans gemaak gaan word…
Nog oor kindertelevisie
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →