Toe die meeste van vandag se ouers nog kinders was, het ons dalk so ʼn uur se kindertelevisie-kykstof gehad in die middag. Die televisie-skedule was voorspelbaar, die programme was (met ʼn paar uitsonderings) veilig en mak. En as ons klaargekyk het, was dit nie ʼn probleem om die televisie af te skakel en buitentoe te hardloop nie. Vir dié van ons wie se ouers nie eers ingeteken het op M-Net nie, was die opsies nog meer beperk. En dit was okei.
Dinge lyk heeltemal anders vandag.
Stromingsdienste en toegewyde kinderkanale beteken kinders (van klein tot groot) kan nou letterlik élke dag, die hele liewe dag, voor ʼn skerm sit. Dis nou as hulle toegelaat word om dit te doen. Die keuses vir kindertelevisie is eindeloos. Daar is regtig fantastiese, goeie televisie-inhoud vir kinders beskikbaar oor ʼn wye spektrum onderwerpe en genres.
Die realiteit is egter dat selfs inhoud wat spesifiek vir kinders geskep word, nie deur die bank onskadelik nie. Soms is dit definitief nie geskep deur mense wat kinders se belange eerste stel nie. Dan is daar boonop inhoud wat op verskillende ouderdomsgroepe gemik word, maar waartoe selfs kleiner kinders met die kliek van ʼn knoppie, toegang kan kry. Maar hoe op aarde leer ʼn mens ʼn kind wat met die een of ander katoeter in die hand gebore is, hoe om stromingsdienste en apps soos YouTube Kids veilig te gebruik?
Hier is ʼn paar voorstelle:
Dit begin alles met ’n sterk verhouding en goeie, oop kommunikasie tussen jou en jou kind.
As jy vir jou kind ʼn toestel gee sonder enige ouerskap-kontroles (parent controls) is dit soos om vir hulle die motorsleutels te gee voor hulle kan bestuur en te sê: ‘Lekker ry!’
Kate Farina, Be In Touch
“Praat, praat, praat,” sê Kate Farina en John Ramsey van Be In Touch, oor hoe ouers hul kinders kan leer om stromingsdienste veilig te navigeer. Be in Touch is ’n fantastiese Suid-Afrikaanse inisiatief. Hul doelwit is tweeleding: om ouers en kinders aan die gesels te kry oor digitale uitdagings; en om mense te bemagtig om gesonder digitale gewoontes te kweek.
Kate en John beskryf hulself as aktiviste vir digitale welstand. (Dis die moeite werd om hulle webwerf te besoek vir inligting oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe wat met kinders en families se skermtyd en aanlynlewe te doen het.) Van die dinge waaroor ouers en kinders moet praat sluit in watter kykstof in is en wat uit; redes waarom iets wat hulle gekyk het dalk verwarrend of ontstellend was; waarom jy besorg is oor wat hulle kyk en waarom sommige programme meer okei is as ander. Bemagtig jou kind met oop en eerlike gesprekke om goeie besluite te neem. Moenie wegskram van moeilike (ouderdomsgepaste) gesprekke oor onderwerpe soos pornografie of geweld nie.
Ouerskap-kontroles
Volgens Be in Touch kan ouers aan hul kinders se digitale opvoeding in dieselfde lig dink as om ʼn kind te van padveiligheid te leer. Valhelms en sitplekgordels is ononderhandelbaar, net soos die vaardighede om die digitale landskap veilig te navigeer.
“As jy vir jou kind ʼn toestel gee sonder enige ouerskap-kontroles (parent controls) is dit soos om vir hulle die motorsleutels te gee voor hulle kan bestuur en te sê: ‘Lekker ry!’ Jy kan hoop en bid dat dinge reg sal uitdraai, maar dit sal tien teen een nié…”
Vertroue, verantwoordelikheid en die vermoë om die regte besluite te neem, is onmisbaar in dié digitale era van ouerskap.
Bewustheid oor kindertelevisie
Kate en John sê ouers moet altyd bewus wees van presies wat hulle kinders op stormingsdienste kyk.
“Televisietyd steel tyd weg van ander super-belangrike aktiwiteite wat noodsaaklik is vir fisiese en sosio-emosionele ontwikkeling. Wat jou kinders kyk speel ook ʼn baie belangrike rol in die ontwikkeling van hulle waardes en opvattings,” sê hulle.
Een manier om te monitor wat jou kinders verbruik, sonder om polisieman te speel, is om ʼn huisreël te maak dat kinders net toegang kan hê tot skerms in ’n familiekamer of ander vertrek waartoe almal toegang het. Vermy toestelle in jou kind se kamer.
Oordeelsvermoë
Dis nie net voorskoolse- en laerskoolkinders wat leiding nodig het nie. Selfs die inhoud wat tieners verbruik, behoort gemonitor te word deur hulle ouers, sê Kate en John. Op die vraag oor wanneer kinders toegelaat moet word om self televisie-inhoud te kies, sê hulle: “Dit hang af van hoe volwasse die kind is en wat sy oordeelsvermoë is. Ons stel voor kinders begin eers self televisie-inhoud kies wanneer hulle reeds in hulle tienerjare is.”
Span tegnologie en sagteware tot jou voordeel in
Be in Touch stel voor dat ouers die gebruik van iets soos Gryphon oorweeg. Dié router laat jou toe om alle toestelle in jou huis te beheer, insluitend slim-televisies. Dit stel jou ook in staat om ʼn profiel te skep vir elke kind op stromingsnetwerke en die inhoud waartoe jou kind toegang het, te filter. Volwassenes se profiel kan met ʼn wagwoord blokkeer word.
ʼn App soos Bark stel ouers in staat om hul kinders se toestelle, sosiale media en speletjiesrekeninge te monitor vir tekens van onder meer ʼn kuber-geboelie en seksuele inhoud.
Wees altyd oop en eerlik met jou kinders oor die sagteware wat jy gebruik om hulle digitale lewens te monitor, sodat hulle nie voel jy spioeneer op hulle nie.
Wees bewus van hoeveel skermtyd jou kind daagliks behoort te kry
“ ’n Mens moet in ag neem hoe baie hierdie generasie kinders skerms ook vir opvoedkundige doeleindes benodig. Daarom moet ons eerstens tussen opvoedkundige skermtyd en skermtyd vir vermaak onderskei. Die een voed die brein; die ander hou dit besig,” sê Kate en John.
“Ons het ook wegbeweeg van slegs ‘hoeveel?’, tot ‘wat, wanneer, waar en saam met wie?’. (Lees ook oor die voordele en redes oor saam-kyk, óftewel “co-watching“.)
So al is dit belangrik om te weet hoeveel skermtyd hulle het, is dit ook nodig om te weet watter inhoud verbruik word.” Besoek www.beintouch.org.za vir inligting oor gepaste skermtyd per ouderdom.
Ouderdomsperke vir kindertelevisie
Wees bewus daarvan dat ouderdomsperke op kinderkanale nie so betroubaar is soos wat ʼn mens sou wou glo nie. Dit word ook nie altyd so goed gereguleer nie. Dit is dus nie genoeg om net net die 7+ – programme op Netflix te beperk nie. Sommige inhoud wat volgens dié stromingsnetwerk vir kleiner kinders aanvaarbaar is, is dit doodgewoon nié. Volgens Be In Touch moet ouers die apps, TV-programme en speletjies wat hulle kinders verbruik saam met hulle ondersoek en dit met hulle bespreek.
Peuters en kleuters (en eintlik ook laerskoolkinders) behoort nie toegang tot die afstandbeheerder te hê nie. Dis bietjie soos om ʼn handgranaat vir jou geliefde spruit te gee en te sê ‘Daarsy, bokkie, moet tog net nie dat dit in jou gesig ontplof nie’.
Kate Farina en John Ramsey, Be In Touch
Net omdat ʼn program sê ‘PG’, beteken nie jou kind behoort dit te kyk nie. Geweld, volwasse verhoudingskwessies en scary inhoud kan steeds opduik. Stel eerder jou eie lysie programme saam wat ouderdomsgepas is in julle huishouding. Neem ook in ag hoe sensitief jou kinders is. Vra jouself altyd of jy régtig wil hê hulle moet dinge hoor en sien waarvoor hulle emosioneel en sielkundig nog lank nie reg is nie
Hou die afstandbeheerder weg
Peuters en kleuters (en eintlik ook laerskoolkinders) behoort nie toegang tot die afstandbeheerder te hê nie. Dis bietjie soos om ʼn handgranaat vir jou geliefde spruit te gee en te sê ‘Daarsy, bokkie, moet tog net nie dat dit in jou gesig ontplof nie’.
’n Beter idee is om die program wat jou kind mag kyk vir hom aan te skakel op die tablet of televisie, sodat daar niks onverwags oor die skerm flits nie. Volgens Be in Touch is dit ʼn realiteit dat selfs die beste kinders soms slegte besluite neem.
“Geen kind is immuun daarteen om op onvanpaste aanlyninhoud af te kom nie.”
Beperk hul keuses
Kinders vandag is gewoond daaraan om te kies. Wat om te eet, wat om te luister, wat om te kyk. Maar as die magdom keuses vir volwassenes oorweldigend is, dink net hoe dit ʼn klein, ontwikkelende brein kan oorrompel.
Ek het al eerstehands ervaar hoe angstig dit my seuntjie maak as ek hom toelaat om self programme te kies. Die voorprente maal voor hom, dis kleur en lig en musiek en dan nog nie vrees van fomo. Maak eerder saam met jou kind ʼn kort lysie van goeie programme wat in daardie stadium lekker is vir hom om te kyk en bespreek voor TV-tyd watter program (of programme) hy daardie dag gaan kyk. Dit skakel die angstigheid uit én ook die gevaar dat hy onvanpaste voorprente sal sien verbyrol (want ja, dit gebeur ook).
Ouers stel die voorbeeld
Laastens is daar dié goeie ou ouerskapraad: stel ʼn goeie voorbeeld met die inhoud wat jy self verbruik en met hoe jy jou toestelle gebruik. Monkey see, monkey do is baie waar.
Ek het al meer as een keer raas gekry by my vierjarige as ek my foon “te veel” in die hand het…