’n Zombie-apokalips in die kleine speel hom gereeld in ons sitkamer af. My sewejarige maak hom voor die televisie tuis; beelde en klank begin flits en voor ek my oë kan uitvee, raak sy oë glaserig.
“Toebroodjie, boetie?”
Grrrr.
“Wil jy nie onder ʼn kombers lê nie?”
Grrrrr.
“Is dit ʼn nuwe storie daai?”
Grrrrrr!
Dis ʼn bekende toneel in huishoudings van Suid-Afrika tot Suid-Amerika. Kinders word immers groot in ʼn wêreld van konstante tegnologiese vooruitgang en ʼn afstandbeheerder gee selfs die kleinstes toegang tot ʼn lekkergoedwinkel vol kykstof. Boonop is ʼn skerm vir die meeste ouers soos ʼn kits-oplossing om iets (enige iets!) gedoen te kry – ʼn digitale kinderoppasser wat die dilemma oor wat om vandag met die kinders te doen, in ʼn oogwink oplos.
As jou kinders soos myne is, sal jy egter ook weet kleuters wat té lank alleen voor ʼn skerm gelos word, ondergaan vinnig ʼn transformasie van doellose zombies tot oorgestimuleerde monstertjies wat nie weet wat om met al die klanke, beelde en nuwe feite te maak wat deur hulle brein bons nie. En al is daar ure se plesier op die kassie, is dit ʼn ongemaklike realiteit dat kinders wat té gereeld alleen gelos woord voor die TV, alleen en afgeskeep kan voel, selfs al kan hulle dit nog nie vir ons sê nie.
Navorsing bewys saam-kyk wérk
Die oplossing is eenvoudiger as wat ʼn mens sou dink. Kyk meer gereeld sáám met jou klein kindertjies televisie (dieselfde geld volgens navorsers vir amper-tieners en tieners, maar dis ʼn storie vir ʼn ander dag).
Dit was my sewejarige wat dié zombie-medisyne vir homself voorgeskryf het. Elke middag ná skool het hy begin aandring daarop dat ek saam met hom en sy vierjarige boetie in die sitkamer moet kom sit terwyl hulle vir ʼn uur of wat televisie kyk. Dit het mettertyd ons roetine geword. Die kind moet geniaal wees, besef ek nou, want ʼn wavrag internasionale navorsing bevestig hoeveel voordele saam-kyk vir ouers en kinders kan inhou. Die slimmes noem dit “co-watching”.
Elretha Bartlett, ʼn Johannesburgse sielkundige, sê dis ʼn algemene aanname dat televisie-kyk net sleg is vir jong kinders.
“Vanuit ʼn sielkundige perspektief kan televisie egter talle voordele vir jong kinders inhou. Veral wanneer hulle ouers saam met hulle kyk en hulle by gesprekke daaroor betrek,” sê sy. “Kinders leer deur sosiale interaksie.”
In 2016 het ʼn studie oor Daniel Tiger’s Neighbourhood byvoorbeeld bevind kinders kan heelwat by dié program leer oor empatie, en dat die positiewe boodskap versterk word as ʼn versorger met die kind oor die storie gesels, of soortgelyke voorbeelde uitwys by die speelpark.
Opvoedkundige TV-inhoud, soos wiskundige-vaardighede, tref die kol meer doeltreffend wanneer ʼn ouer saam met die kind na die program kyk en konsepte help verduidelik, het nog ʼn groep navorsers in 2017 bevind. Selfs die Amerikaanse Akademie van Pediatrie, wat glo vir jare ten sterkste teen enige skermtyd vir jong kinders gekant was, het herbesin in die lig van die emosionele, sosiale en opvoedkundige voordele van saam-kyk.
Televisie-tyd weer saamweestyd
Daar was ʼn tyd toe dit as gevolg van slimfone, tablette en rekenaars gelyk het of gesinslede nooit weer saam inhoud op ʼn enkele toestel sal gebruik nie. Dít het tydens die wêreldwye inperkings weens die pandemie begin verander. Inperkings was dalk nie altyd pret nie, maar dit lyk tog of dit gesinne nader aan mekaar kan bring. Navorsing wat aan die einde van 2020 onder 3000 Amerikaanse volwassenes deur die onafhanklike media-platform Screen Media gedoen is, het bevind die meerderheid huisgesinne het tydens inperkings begin om weer saam inhoud te verbruik op ʼn enkele toestel.
Televisie-tyd het weer saamweestyd, eerder as alleentyd, geword, skryf die navorsers in hul verslag, Making screen time family time. Die meerderheid respondente het gesê hulle hoop dié gewoonte is blywend. Die rede vir die warm gevoel wat saam-kyk ʼn kind én sy ouers kan gee, kan toegeskryf word aan wat die ontwikkelingsspesialis en skrywer dr. Melodie de Jager, ʼn “multi-sensoriese ervaring” noem.
“Dit het ʼn diep indruk op die geheue én is goed vir verhoudingsbou,” sê Melodie, stigter van Mind Moves en Baby Gym.
“Die gedeelde ervaring skep gemeensaamheid, wat bydra tot emosionele ontwikkeling. Dit bied ook ʼn geleentheid vir taalontwikkeling en kritiese denkvaardighede, wat tot intellektuele ontwikkeling aanleiding gee. Kinders het dié drie vaardighede nodig om veerkragtig te wees om ʼn onsekere toekoms te kan aanpak.”
ʼn Wavrag internasionale navorsing bevestig hoeveel voordele saam-kyk vir ouers en kinders kan inhou. Die slimmes noem dit ‘co-watching’.
Doen wat vir julle werk
In ons huishouding duur ons middag-saam-kyk eksperiment nou al meer as ʼn jaar. Dit beteken egter nie die televisie staan nie ook soms as ons nanny in nie, of dat ek dit elke liewe dag regkry om saam met my kinders televisie te kan (of wil) kyk nie. Soms lê en lees ek op die bank terwyl hulle iets kyk of ek beantwoord my e-pos. Party middae het ek gewoon nie tyd om vir ʼn uur op The Magic School Bus te klim nie. Ander kere sit hulle op my skoot en ons kyk saam. Partykeer praat ons oor wat ons kyk en ander kere laat ek hulle begaan (solank die program ouderdomsgepas is).
Doen wat vir júlle werk.
In dieselfde asem het nie almal die voordeel van baie vrye tyd saam met hul kroos nie. Beproef gerus die saamkyk-tegniek oor naweke, al is dit net vir ʼn uur of wat.
Selfs die au pair kan jou kinders help om die vrugte van saam-kyk te pluk.
Nog so ʼn paar redes, praktiese idees en voordele van saam-kyk
Julle kan saam televisie-kyk soos saamlees inspan
ʼn Liefde vir storieboeke en saamlees het definitief vir ons gesin die grondslag vir saam televisiekyk gelê. En al dink ek nie enigiets kan ʼn plaasvervanger vir leestyd wees nie, sien ek tog ooreenkomste as ek met aandag en sonder ʼn foon in my hand saam met my kinders televisie kyk: ’n Kind wat snoesig teen jou sit, kan jou voel en ruik. Hy kan jou hand vashou, of jy kan jou arm om sy lyfie sit en hy kan weet hy is vir daai rukkie die middelpunt van jou aandag; julle kan gesels oor wat julle sien en hoor, of sommer net saam stil wees.
Ander kere kan hy agter jou rug wegkruip as hy bang word en hy kan sáám met jou lag, eerder as alleen. Hierdeur versterk julle nie net julle verhouding op ʼn baie eenvoudige manier nie, maar ervaar jou kind eerstehands dat jy sy vangnet kan wees.
Deur saam met jou kind sy gunsteling programme te kyk, leer jy sy “taal” praat
Die televisiewêreld waarin jou kinders hulle inleef, vorm ʼn deel van hulle verwysingsraamwerk. Dit beïnvloed hoe hulle na die wêreld kyk. As jy op die hoogte bly van die programme waarvan hulle hou en af en toe saamkyk, ontwikkel julle ʼn gedeelde taal. My vierjarige verwys gereeld na dinge uit ons alledaagse lewe wat hom herinner aan enigiets van Rubble van Paw Patrol se laaigraaf tot Bob the Builder se kettingsaag. Omdat ek weet wie dié karakters is, kan ek saam met hom opgewonde raak.
As jy af en toe saam kyk, sal jy kan saampraat as jou kind jou by hulle wêreld intrek. Dit wys vir jou kinders jy stel belang in die dinge wat vir hulle saak maak.
Jy leer gou wat hulle eerder nié moet kyk nie
Dis nie dat ʼn mens soos ʼn preutse hekwag wil wees wat die kasteeldeur toeklap as kykstof jou ongemaklik maak nie, maar dit is ons plig as ouers om te monitor waarna jong kinders op televisie kyk. Dikwels is die waardestelsel waarvolgens jy hulle grootmaak die rigsnoer hiervoor. Soms is dit gewoon common sense. “Moenie jou boetie slaan/ omstamp/ irriteer nie” is ʼn redelike algemene versoek uit my mond. Daarom het ek na een of twee episodes van Zig & Sharko geweet: dié een is uit. Daai haai se obsessie met die meermin en sy macho-aggressie stel nie juis ʼn voorbeeld vir my sewejarige se ontwikkelende (en hoogs ontvanklike) brein nie. Dalk heroorweeg ek as hy ouer is, dalk nie.
Kies saam alternatiewe, soos Grizzly & the Lemmings. Dié klomp maak mekaar mal, maar dis darem meestal onskuldig en vrek snaaks.
Daar is baie kykstof op kinderkanale maar nie alles is gepas vir alles ouderdomme of selfs persoonlikhede nie
Soms is ouderdomsperke ʼn akkurate riglyn en ander kere weer nie. Jy kan nie van jou vierjarige verwag om self dié dinge te weet nie. Soms verander gewilde reekse boonop namate die storielyn ontwikkel en al manier waarop jy dit gaan weet, is as jy en af en toe ʼn oog gooi.
Dragon Rescue Riders was vir lank ʼn groot gunsteling vir saam-kyk. Maar dié reeks raak later baie gewelddadig en die manier waarop die bad guys en drake mekaar probeer vermoor of vermink met vuurballe en slym, het te veel geraak. Liefdesverhoudings en ander volwasse onderwerpe kom ook ter sprake. Interessant genoeg kon ek sien my seuntjie voel self aan dat hy nie meer so lekker voel as hy dit kyk nie. Hy het gewoon té bang geword en ons het saam besluit dié een is vir eers op ys.
Dit help ook om te weet wanneer jou jonger kind en ouer kind dalk nie iets moet saamkyk nie.
Slyp reeds kleintyd aan jou kind se visuele geletterdheid
Kom ons wees eerlik, nie alle kinder-TV is gelyk geskape nie. Daar is animasie wat briljant is. Dit is mooi om na te kyk, slim geskryf en selfs uitdagend (dink Shaun the Sheep en Trash Truck). Dan is daar animasie wat so swak en simpel is, dat jy nie kan help om te wonder hoe dit in die eerste plek op ʼn groot stromingsdiens of kanaal beland het nie. Ek noem eerder nie voorbeelde nie… Dit skep wel geleenthede om te gesels met jou kinders oor hoe animasie verskil. Bespreek waarom hulle van sekere style hou – of nie. Soek saam na inhoud wat kreatief en van hoë gehalte is.
Soms moet ʼn mens jou kind toelaat om self te kies, al is jy nie mal oor sy keuses nie
Dis belangrik om nie altyd namens jou kind te besluit wat hy mag sien en hoor nie. Dan gaan hy nooit die selfvertroue hê om sy oordeel te vertrou nie; ook nie sy eie styl vorm nie. Ek moes leer om op my tong te byt as ek dink iets is simpel, as ek kan sien my kind geniet dit. Solank as wat dit nie té volwasse of gewelddadig is nie, kan ek seker daarmee saamleef. Die voordeel is dat ʼn mens jou kind se unieke humorsin en voorkeure in die proses leer ken. Ek het deur saam-kyk besef my oudste se smaak verskil dikwels hemelsbreed van myne. En dis okei. Ek maak ook ʼn punt daarvan om goeie keuses te prys en opgewonde daaroor saam te praat (soos The Octonauts).
Moenie preek nie, praat eerder saam
As ʼn karakter iets verkeerd doen, of as haar in ʼn moeilike situasie bevind, is my eerste instink dikwels om ʼn prekie af te steek oor waarom iets nie reg is nie. Elretha Bartlett stel voor ouers vra eerder oop vra aan hul kind, oor hoe hy of sy die karakter se gedrag of gebeure interpreteer: “Wat sou jý in die situasie doen?”; “Ek hoop jy sal ons sê as so iets met jou gebeur?”; “Dink jy hy het nou die regte besluit geneem?”.
Die manier waarop ouers met hul jong kinders praat oor media, kan ʼn groot rol speel in die boodskappe wat kinders internaliseer, wat hulle leer én wat hulle onthou.
Normaliseer van kleintyd af dat skermtyd iets is wat ouers en kinders deel
Dís die mening van Catherine Steiner-Adair, ʼn kliniese sielkundige en skrywer van The Big Disconnect: Protecting Childhood and Family Relationships in the Digital Age. Jy gaan dankbaar wees hiervoor wanneer jou kinders tieners word en nie rebelleer as jy skielik met hulle mediaverbruik begin inmeng nie.