Die amptelike nuwe lokprent vir Invisible, die opwindende aksiespanningsreeks gegrond op Deon Meyer se topverkoper-roman, Onsigbaar, is pas vrygestel en dit blyk asof dié reeks beslis kykers op die voorpunt van hul stoele gaan hê. Die reeks van agt episodes begin Woensdag, 14 Oktober om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en sal weekliks op Woensdagaande uitgesaai word.
Invisible se rolverdeling spog met die Australiese aktrise Abbie Cornish (Limitless, Three Billboards Outside Ebbing, Missouri) en die Skotse akteur Dougray Scott (The Hack, The Crow Girl), tesame met Suid-Afrikaanse talent Tim Theron (Trackers, Heart of the Hunter), Tumisho Masha (Isibaya, Silverton Siege), Frank Rautenbach (Beter as Gister, Summertide), Kim Engelbrecht (Reyka, Dominion), Chi Mhende (Generations: The Legacy, Queen Sono) en Siv Ngesi (The Woman King, Unseen).
Die regie is behartig deur Jozua Malherbe, met die teks geskryf deur William Schneider en Deon Meyer, en addisionele skryfwerk deur Amy Jephta.
Waaroor gaan die storie?
In die klein Laeveldse dorpie, Hoedspruit, word ‘n groep plaaslike stropers een-vir-een deur ‘n geheimsinnige moordenaar tereggestel. Polisie-ondersoekbeampte Kolonel Jack Phatudi begin ‘n meedoeënlose jagtog om uit te vind wie vir die brutale moorde verantwoordelik is, en waarom. Duisende kilometers daarvandaan, in Londen, ontvang die Suid-Afrikaanse expat, Emma Le Roux, ’n desperate en onverwagse telefoonoproep van haar broer, wat meer as twintig jaar gelede as jong man verdwyn het. Oortuig dat hy nog leef, keer Emma terug na Suid-Afrika en huur ’n lyfwag, Martin Dekker, om haar te help om hom op te spoor. Hierdie soektog lei tot ’n reeks gebeure wat hulle in ‘n dodelike komplot betrek wat oor dekades strek.

Die reeks is gegrond op ware gebeure, insluitend die geheimsinnige vliegtuigongeluk in 1986 waarin voormalige Mosambiekse president Samora Machel gesterf het.
Tim Theron, wat ook een van die vervaardigers is, meen “dit is ’n ongelooflike oomblik vir ons almal om die lokprent aan die wêreld bekend te stel. Ons het jare se harde werk daaraan gewy om Deon se verhaal na die skerm toe te bring, en ons wou van die begin af ’n wêreldklasproduksie skep. Ons gehoor verdien niks minder nie. Hierdie lokprent is net ’n klein voorsmakie van wat kykers kan verwag.”
Op sy beurt, sê Meyer dat dit ’n “vreemde, wonderlike ervaring om te sien hoe ’n verhaal wat jy alleen agter jou lessenaar gesit en skryf het, in iets so groot omskep word. Die lokprent vang die spanning en die skoonheid van die landskap pragtig vas. Ek kan nie wag vir Suid-Afrika – en die res van die wêreld – om die res te beleef nie.”
Invisible se eerste episode première op Woensdag 14 Oktober, om 20:00 op M-Net en DStv Stream (DStv kanaal 101) en die reeks word weekliks op Woensdagaande uitgesaai. Episodes sal ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar wees.