Daar is, soos altyd, ’n groot klomp flieks aanlyn op platforms soos Netflix en Showmax beskikbaar om kinders in die Desember-vakansie besig te hou.
Op Showmax
Gee jou kinders ’n goeie rede om vir ’n halfuur uit die son te bly met The Snail and the Whale op Showmax – ’n storie oor onwaarskynlike vriendskap en die wonders van die oseaan.
Dié kort fliek is gegrond op die kinderboekskrywer Julia Donaldson en illustreerder Axel Scheffler se kinderboek met dieselfde naam en sal groot en klein betower.
’n Seeslakkie is verveeld met sy lewe op ʼn klip en ryloop die see in saam met ’n boggelrugwalvis. Die walvis red hom van ’n saai lewe en later word selfs die slakkie ’n held.
Die briljante animasie is boonop deur die Suid-Afrikaanse animasie-ateljee Triggerfish gedoen en die fliek het ’n string internasionale toekennings gewen.
Nog ʼn kinderfliek op Showmax wat op ʼn boek gegrond is (dit bly maar die bestes) is The Grinch – gegrond op Dr Seuss se prenteboek How the Grinch Stole Christmas!.
Die Grinch is ’n grimmige vent wat Kersfees verpes en sy bure, die Whos in Whoville se Kersvreugde wil steel.
Dis ’n prettige verwerking van die boek, met Benedict Cumberbatch as die nukkerige groen vent wat sy arme brak Max as ʼn rendier inspan om Kersgeskenke te steel. En dis boonop vol goedvoel, “Kersfees-is-wonderlik”-boodskappe om almal in die regte luim vir die feestyd te kry. Pharrel Williams is die verteller.
As jou kinders soos myne is, het hulle Paw Patrol: The Movie, ook op Showmax, reeds te veel keer gekyk, maar hulle gaan dit verseker wéér wil doen in die skoolvakansie. In die fliek vertrek die brakkies uit Adventure Bay na Adventure City om die gemors skoon te maak wat hulle (verspotte) teenstander Mayor Humdinger daar veroorsaak.
Die fliek is verbasend snaaks en daar is selfs ‘n bietjie selfspot met die Paw Patrol-franchise. En, wonder bo wonder, is daar so ’n klein (klein) bietjie karakterontwikkeling.
Op Showmax is nog goeie vakansie-fliekopsies The Secret Life of Pets, Sing en Trolls.
Op Netflix
Slumberland is Netflix se hoogs-geantisipeerde fantasiefliek met ʼn begroting van nagenoeg $150 miljoen, wat ongeag enige kritiek sekerlik dié vakansie bo-aan gesinne se kyk-lysie sal wees.
Nemo (Marlow Barkley) word in ʼn vuurtoring grootgemaak deur haar weduwee-pa (Kyle Chandler). Daar leer hy haar klavierspeel, houtkap en droom.
Wanneer hy op see verdwyn, is Nemo skielik ʼn weeskind. Sy moet by haar styweboordjie oom (Chris O’Dowd) in sy kliniese stadswoonstel gaan woon (die man verkoop deurknoppe vir ʼn lewe, eina.) Boonop moet sy vir die eerste keer in haar lewe skoolgaan.
In die land van drome besluit sy om na haar pa te gaan soek… Met behulp van maltrap Flip (Jason Momoa), ʼn larger than life kansvatter met horings, harige pote en ʼn swagger.
Die fliek is kleurvol, dis raserig, die karakters is pret en die spesiale effekte is briljant. Tog, vir welke rede, is al dié bestanddele nie genoegsaam vir ʼn tydlose storie nie.
Die fliek, met regie deur Francis Lawrence wat vir die meeste Hunger Games-flieks verantwoordelik was, is ook ʼn bewys dat ʼn groot begroting nie genoeg is om ʼn fliek hart te gee nie.
Tog is die nuweling Marlow Barkley ʼn sterk aktrise wat net die regte hoeveelheid naïewe dapperheid aan haar karakter verleen.
Ongelukkig lyk Momoa meestal ongemaklik in sy eksentrieke kansvatter-karakter se harige skoene. Hy probeer sy bes om ʼn Johnny Depp-tipe vertoning te lewer, maar hy lyk meestal uit sy diepte.
Die verhouding tussen Nemo en Flip groei egter op ʼn mens. Teen die einde van die fliek, glo jy wel hulle het mekaar gevind.
My gunsteling-karakter is Nemo se varkie, Pig, ’n digitale wonder. Dié sagte speelding kry lewe in Nemo se drome en is ʼn regte pienk skattebol.
Die droom-bestemmings wat Nemo saam met Flip besoek herinner ʼn mens nogal aan die weird en wonderful plekke waarin The Umbrella Academy hulself dikwels bevind… Minus die bloed en die geweld, maar nie sonder gevaar nie.
Die fliek is nie bedoel vir té klein kykers nie.
Vir luilekker dae op die rusbank is daar nog hordes opsies. Julle kan nie verkeerd gaan met Back to the Outback, ʼn animasiefliek oor ʼn klomp van Australië se gevaarlikste diere wat uit die dieretuin ontsnap saam met ʼn egoïstiese koalabeer Pretty Boy nie. Isla Fisher is die stem van Maddie, die groep se leier, ʼn dierbare (giftige) slang en Guy Pierce is die verliefde, harige spinnekop. Dis ʼn verhaal oor vriendskap en die gevaar van vooropgestelde idees. Dis ook net gewoon ʼn lekker lawwe pret met goeie animasie.
Die verwerking van die musiekblyspel Matilda The Musical, wat op Roald Dahl se boek gegrond is, begin op Kersdag op Netflix in Suid-Afrika wys.
Volgens The New York Times het Netflix in 2021 die regte bekom om al Dahl se boeke vir die kleinkassie in flieks en reekse te verwerk. Matilda is dus maar net die begin.
Matilda The Musical is al sedert 2011 op die verhoog in Londen se West End. Die blyspel se oorspronklike regisseur Matthew Warchus het die leisels van die kleinkassie-verwerking vasgehou.
Matilda (Alisha Weir) is ʼn superslim, lieflike kind met aaklige ouers wat haar na ʼn vreesaanjaende skool, Crunchem Hall, stuur. Hier kry sy te doen met die tiranniese skoolhoof, Miss Trunchbull en die groothartige onderwyseres, Miss Honey. Dis Roald Dahl op sy beste.
The Independent se Clarisse Loughrey beskryf die fliek as ʼn “frothy, whimsical delight”. Nicholas Barber van die BBC voel dis eerder ʼn “gotiese riller”, wat senuagtige kinders (en grootmense) liefs moet vermy.
Ander resensente, soos Wendy Ide by The Guardian meen egter dis hope pret.
Ide skryf Alisha Weir is selfversekerd in haar eerste fliekrol. En dit kan seker nie anders dat Emma Thompson ʼn briljante Miss Trunchbull sou wees nie. Daai aaklige skoolhoof wat klein dogtertjies aan hulle vlegsels rondswaai en gulsige seuntjies dwing om tamaai sjokoladekoeke te eet nie.
Vir my bly die 1996-weergawe van die fliek, met Danny DeVito as Matilda se aaklige pa Mr Wormwood en Embeth Davidtz as die lieflike Miss Honey ʼn gunsteling. Dít is ook op Netflix beskikbaar.
Die Kersfees-flieks op Netflix sal die hele gesin in ʼn feestyd-bui kry. Een waarna my kinders al van laasjaar af uitsien, toe dit om die een of ander rede nie plaaslik vrygestel is nie, is Shaun the Sheep: The Flight Before Christmas.
Shaun moet keer dat Timmy, die trop se lammetjie, in ʼn kind se Kerskous beland. Die fliek is net 30 minute lank, maar is volgens alle aanduidings, en soos Aardman-produksies maar gewoonlik is, stampvol lawwe skaapstreke, briljante klei-animasie en verskeie lae van humor wat tot almal van klein kindertjies tot siniese pa’s sal spreek
Nog flieks met ʼn Kersfees-tema op Netflix sluit in die nuwe Christmas on Mistletoe Farm. Daarin erf ʼn weduwee-pa van Londen en sy vyf kinders ʼn plaas in die platteland. Voorspelbaar, stroperig, oulike kinders en allerlei eksentrieke karakters – presies wat ʼn mens soek dié tyd van die jaar. Daar is ook DreamWorks se kortfliek Shrek the Halls en vanaf 6 Desember ook Boss Baby: Christmas Bonus.
A Boy Called Christmas kry deur die bank goeie resensies. Dit handel oor ʼn seun wat in die fabelagtige Elfheim na sy pa met die hulp van ʼn koppige rendier, Blitzen, soek. Dit word deur resensente beskryf as “warm”, “pretensieloos”, “opreg” en net die fliek om Kersfees-emosie aan te wakker.
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →