Menu terloops
In Lysie-lysie [19 Apr 2023]

18 van die beste plaaslike flieks om nou te stroom


‘Griekwastad’, ‘Kanarie’, ‘Poppie Nongena’, ‘Toorbos’ en meer – ons het ’n magdom plaaslike flieks wat hul plek teen die wêreld se beste kan volstaan. Val weg!

18 van die beste plaaslike flieks om nou te stroom

Ja, dis pret om trefferflieks met reuse-begrotings te kyk met jou gunsteling akteurs wat in die buitenste ruimte rondvlieg, monsters jaag of nare Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog vang. Maar ons het reeds ’n magdom plaaslike flieks in van ons eie amptelike tale wat hul plek met reg kan volstaan teen die wêreld se beste.

Hier is van die beste plaaslike flieks wat jy nou aanlyn kan stroom.

1

Fiela se Kind, 2019 (Showmax)

Fiela se Kind is ’n roerende verhaal oor ’n ma en seun wat deur ’n wrede wêreld van mekaar geskei word. Die storie self is ’n baken in die plaaslike kulturele landskap. Die bekroonde skrywer Dalene Matthee se gelyknamige boek is in 1986 gepubliseer. Sedertdien is die verhaal vir die verhoog en vir die grootskerm aangepas. Die 1988-fliek is deur Katinka Heyns geregisseer, met Shaleen Surtie-Richards, André Rossouw, Lida Botha en Dawid Minnaar as die hoofspelers. .

In ’n hervertelling vir die silwerdoek in 2019 het Zenobia Kloppers by Surtie-Richards oorgeneem as ma Fiela Komoetie wat ’n verlore wit seuntjie in die Knysna-bos vind. Fiela, ’n bruin vrou, maak hom groot as Benjamin Komoetie (Luca Bornman) maar dan word hy uit Fiela se arms geruk en “huis toe geneem.” 

Dis ’n roerende verhaal met gut-punch-vertolkings; die trane val, die harte skeur. Die wêreld kan swaar en bitter lelik wees, maar liefde oorwin. 

2

Meisies Wat Fluit, 2019 (Showmax)

In Meisies wat Fluit het Henk en Sofia té vinnig verlief geraak, té vinnig getrou en nou staan hulle net so vinnig op skei. Maar pas ná hul egskeiding gefinaliseer is, beland hulle saam in die bed – en nogal vir die eerste keer in meer as ’n jaar. Hulle kon nie hul huwelik laat werk nie, maar miskien is ’n anderste soort verhouding nommerpas?

Met onder andere Leandie du Randt, Amalia Uys en Stiaan Smith in die rolverdeling.

3

Kanarie, 2018 (Showmax)

Die weermag in die vorige bedeling was ’n ongenaakbare plek vir enige jong man. Hulle is in die diepkant ingegooi en het dikwels met die harde kant van manlikheid te doen gehad. Hoe groter jou spiere, hoe beter. Hoe weliger jou baard, hoe beter. Hoe harder jy kon wees met iemand wat nie so manlik soos jy is nie, hoe beter. Dít is juis die probleem vir Johan Niemand (Schalk Bezuidenhout). Hy verkies om soos die 1980’s pop-ikoon Boy George aan te trek eerder as om die vyand op die grens te gaan veg.

4

Wonderlus, 2017 (Showmax)

Troues is veronderstel om ’n viering van die liefde te wees, maar hierdie fliek kyk daarna uit ‘n ander hoek: om te doen wat reg vir jóú is. Die aand van die bruilof is ’n waas wanneer die gaste wakker word. Hulle het te veel gedrink, te hard partytjie gehou en hulle probeer onthou wat by die onthaal gebeur het en hoekom. En dis nie net een of twee persone nie. Dis almal van die bruid en die bruidegom tot die kelnerin wat droom van ’n nuwe lewe elders. Ja, daar is so hier en daar humor, maar die drama delf dieper en vra die vrae wat so baie mense oor die huwelik vra.

5

Die Stropers, 2019 (Showmax)

Hierdie Afrikaanse rolprent is as The Harvesters internasionaal vrygestel en het groot lof ontvang. Dit vertel die verhaal van ’n jong man wat gedwing word om sy persoonlike voorkeure te konfronteer as sy familie ’n seun met probleme onder hulle dak in neem.

6

Kalushi, 2016 (Showmax)

Hierdie biografiese drama vertel die verhaal van die vryheidsvegter Solomon Mahlangu wat dood is bloot omdat hy baklei het vir dit waarin hy glo. Dit speel af in die 1970’s tydens die Soweto-opstande en volg jong Solomon se pad na sy plek in die geskiedenis. Solomon was ’n lid van Umkonto we Sizwe, het in opstand teen sy onderdrukkers gekom en is later dood nadat hy gehang is. Sy verhaal is deel van Suid-Afrika se geskiedenis en is dalk nie maklik om te kyk nie, maar wél noodsaaklik.

7

Griekwastad, 2019 (Showmax)

Arnold Vosloo en Alex van Dyk is te sien in hierdie fliek wat gegrond is op die grusame moord op Deon en Christel Steenkamp en hul tienerdogter Marthella op hul plaas, Naauwhoek, buite Griekwastad. Die draaiboek is deur die bekroonde skrywer Tertius Kapp en Jozua Malherbe is die regisseur. Die joernalis Jacques Steenkamp se boek oor die moorde, The Griekwastad Murders: The Crime that Shook South Afrika, is as die grondslag gebruik.

Ook in die rolverdeling is Rolanda Marais, Deon Lotz, Jane de Wet, Crystal-Donna Roberts en Jody Abrahams.

8

Moffie, 2019 (Showmax)

Moffie het in 2020 die Film Critics’ Special Jury-toekenning by die internasionale filmfees in Dublin, Ierland gewen en het ’n 90%-gradering op Rotten Tomatoes. Die Amerikaanse tydskrif Variety het geskryf: “Oliver Hermanus (die regisseur) het ’n meesterstuk gemaak en het homself gevestig as een van Suid-Afrika se voorste kontemporêre filmmakers”.

Die fliek is gegrond op die gelyknamige boek deur André Charl van der Merwe en speel af in 1981. Kai Luke Brummer is te sien as die hoofkarakter Nicholas van der Swart.

9

Dis ek, Anna, 2015 (Showmax)

Dis ek, Anna vertel die verhaal van Anna Bruwer, ’n vrou wat haar stiefpa vermoor nadat hy haar vir jare seksueel mishandel het. Die regisseur is Sara Blecher wat ’n meesterlike Suid-Afrikaanse misdaadriller geskep het.

Die hoofrolle word gespeel deur Charlene Brouwer, Morné Visser en Izel Bezuidenhout.

10

Sink, 2015 (Showmax)

Die verlede en die hede ontmoet mekaar in Sink as ’n huishulp die dood van haar kind moet aanvaar en haar werkgewers, wat skuldig voel oor die dood, moet konfronteer. Dis ’n kragtige en emosionele drama wat wys wat voor en ná so ’n tragiese gebeurtenis met ’n persoon kan gebeur.

Die skrywer en regisseur is Brett Michael Innes. Die hoofrolle word gespeel deur Anel Alexander, Jacques Bessenger en wyle Shoki Mokgapa.

11

Tsotsi, 2005 (Netflix)

Hierdie gangster-misdaadriller is vir goeie rede met ’n Oscar vir beste internasionale rolprent beloon. Dié fliek gryp jou nagenoeg 20 jaar later steeds aan die strot. Dit gaan oor ’n motorkaper, Tsotsi, wat met ’n slagoffer se motor wegjaag en later ontdek dat haar baba op die agterste sitplek is.

Die geharde misdadiger het twee opsies: raak ontslae van die baba en vergeet daarvan (nie ’n verregaande idee vir dié ou nie) of doen die semi-regte ding, en sorg, minstens vir tyd en wil, vir die baba.

12

Vir Altyd, 2016 (Showmax)

Die aand voor Nina se troue daag Hugo, the one that got away, weer in haar lewe op. Maar dan word Nina voor die altaar ge-drop. Met ’n gebroke hart, haar drome verpletter, en ’n enorme hangover word sy op die vliegtuig wakker… Met Hugo aan haar sy. In plaas van haar runaway groom, spandeer sy en Hugo haar “wittebrood” in Mauritius saam.

Met Donnalee Roberts en Ivan Botha in die hoofrolle.

13

Barakat, 2020 (Showmax)

Barakat vertel die storie van ’n weduwee, gespeel deur veteraan-aktrise Vinette Ebrahim, wat die vrede tussen haar vier seuns Zunaid (Joey Rasdien), Zaid (Mortimer Williams), Yaseen (Keeno Lee Hector) en Nur (Danny Ross) moet bewaar as hulle terugkeer na hul gesinshuis vir Eid-ul-Fitr. Hul tuiskoms vind twee jaar ná die dood van hul pa plaas. Met groot verandering in haar lewe, is dit meer as net ’n gesellige kuier met haar seuns. 

14

Vaselinetjie, 2017 (Showmax)

Vaselinetjie is gegrond op die gelyknamige jeugroman deur Anoeshka von Meck en die fliekweergawe is ewe kragtig. Die storie draai om ’n wit dogtertjie, Vaselinetjie, wat deur haar bruin ouma en oupa op ’n klein dorpie grootgemaak word. Sy word egter uit dié huis en hul sorg geruk as die staat uitvind hulle is nie biologiese familie nie. Vaselinetjie word dan verplaas na ’n nuwe, rowwe, genadelose weeskind-wêreld in Johannesburg. 

Marguerite van Eeden vertolk die naamrol. 

15

Toorbos, 2020 (Showmax)

Dalene Matthee se gelyknamige boek is met sorgsame hande deur regisseur René van Rooyen en haar man, Corné, verwerk. Matthee se romanse speel af in die 1930s teen die agtergrond van die laaste bewoners van die Knysnabos wat vir die denneplantasies moet padgee. Dit draai om die liefdesverhaal tussen Karoliena, ’n veel ouer dorpsman, en die bos in haar bloed.

Toorbos is as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 2021 Oscars gekies. Elani Dekker se vertolking van Karoliena is wyd geloof. 

16

Poppie Nongena, 2018 (Showmax)

Die roerende, ware lewensverhaal van ’n huishulp wat desperaat probeer om haar gesin bymekaar te hou teen die agtergtrond van die onmenslike apartheidswette in Suid-Afrika in die 1970’s.

Die fliek is gegrond op die boek deur Elsa Joubert.

17

Five Fingers for Marseilles, 2018, (Netflix)

Five Fingers for Marseilles is ’n Suid-Afrikaanse western wat sy debuut by die Toronto Internasionale Filmfees gemaak en groot lof op die kunsfliek-kringloop ingeboesem het. Die fliek speel af in post-apartheid Suid-Afrika en vertel die verhaal van Tau (Vuyo Dabula) se terugkoms na sy tuisdorp nadat hy 20 jaar agter tralies spandeer het.

18

Inxeba, 2017 (Showmax)

Toe dit vrygestel is, het dié fliek sommige Suid-Afrikaners warm onder die kraag gehad oor die inhoud en die feit dat sekere tradisionele rituele onder die vergrootglas geplaas is. Die tradisie waarvan gepraat word, is die besnydenis van jong tienerseuns wat na die natuur gestuur word, besny word en dan as mans na hulle gemeenskappe terugkeer.

Die fliek het 14 toekennings wêreldwyd in plekke soos Taiwan en Sarasota in Amerika gewen. Dit is gemik op ’n wye gehoor – van jonk na oud – en praat oor dinge wat gewoonlik onder die mat gevee word. Maar dit is dinge wat belangrik is om oor te praat, of die ouer garde nou saamstem of nie.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies