Daar is niks soos die mengsel van raaisels, risikos, aksie en adrenalien in cop shows nie.
Hier is ’n hele klomp uiteenlopende aksiebelaaide polisie- en misdaadreekse waar misdaad – en natuurlik soms ook ’n moord of wat – hoogty vier. En die goeie ouens wen nie noodwendig altyd nie . . .
Reyka S1-2
Dié reeks se tweede seisoen sien weer hoe die speurder Reyka Gama (vertolk deur die yster-aktrise Kim Engelbrecht, Dominion, The Flash) jag maak op ’n moordenaar. Dié keer is sy op die spoor van ’n dodelike misdadiger wat paartjies by ’n bekende uitkykpunt langs die kus teiken. Dít terwyl haar traumatiese verlede en die dade van Angus Speelman (Iain Glen, Game of Thrones) ook nog by haar spook.
Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar om te stroom. Die tweede seisoen is beskikbaar op DStv Stream as ’n box set.
Catch Me a Killer
Catch Me A Killer is ’n rillende misdaadreeks op Showmax wat draai om Suid-Afrika se eerste reeksmoordenaar-profiler, Micki Pistorius. Die rol van Micki word deur Charlotte Hope, bekend vir haar rolle as Myranda in Game of Thrones en as Catherine van Aragon in The Spanish Princess, vertolk.
Die reeks is gegrond op Micki se gelyknamige memoires, en sien hoe dié forensiese sielkundige oor die loop van tien episodes op Suid-Afrika se mees gevreesde moordenaars jag maak. Elke episode fokus op een van die ondersoeke waarop sy gewerk het – insluitend die sogenaamde Cleveland Killer-saak en die bloedspoor wat Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken, agtergelaat het.
Lees ook ons onderhoud met Charlotte Hope.
Projek Dina se gedugte taakspan werp als in die stryd om vermiste persone op te spoor. Die reeks is gegrond op ware gebeure – skepper Roberta Durrant se dogters is jare gelede amper ontvoer.
Kyk S1-2 op Showmax, S3 op DStv Catch Up tot 7 Junie 2024 en later van tyd op Showmax.
Young Wallander S1-2
Die jong polisieman Kurt Wallander (Adam Pålsson) is ’n ooggetuie van ’n bisarre moord in sy buurt. Hy word betrek by die ondersoek daarvan… maar sy bure weet nie hy is in die polisie nie.
Terwyl hy jag maak op die moordenaar, vuur die voorval aggressie en onverdraagsaamheid teen immigrante aan.
Kyk dit op Netflix. (Die vier seisoene van die oorspronklike reeks, Wallander, is op Britbox.)
Shetland S1-7
Speurinspekteur Jimmy Pérez (Douglas Henshall) en sy span maak gebruik van hul spesiale vaardighede tydens hul ondersoeke na verskeie kriminele aktiwiteite in Shetland.
Die agtste seisoen van die reeks is tans in produksie, maar Henshall sal nie deel van die nuwe seisoen uitmaak nie. Hy het aan Daily Express gesê sy karakter het tot ’n natuurlike afsluiting gekom.
Die reeks is gegrond op die boeke van Ann Cleeves.
Kyk dit op Britbox.
Happy Valley S1-3
“Wat ’n performance. Wat ’n karakter. Wat ’n storie.” Dis hoe Rolling Stone se Alan Sepinwall die aktrise Sarah Lancashire se vertolking van Catherine Cawood in die reeks beskryf.
Alhoewel Catherine Cawood se persoonlike lewe dalk ’n tragiese spul is, verhoed dit haar nie om die beste polisiesersant in haar klein West Yorkshire-dorpie te wees nie.
Die BAFTA-bekroonde reeks was ’n absolute treffer vir die BBC. Die skepper van die reeks, Sally Wainwright, het intussen bekend gemaak dat daar nie ’n vierde seisoen gaan wees nie.
Kyk dit op Britbox.
Line of Duty S1-5
Speursersant Steve Arnott (Martin Compston) het geweier om deel te wees van die verdoeseling van ’n misdaad. In reaksie daarop sluit hy aan by ’n spesiale, alhoewel omstrede, eenheid aan wat daarop toegespits is om korrupsie in die polisiemag uit te roei.
Groot is sy verrassing toe hy uitvind wie sy teiken is . . . niemand anders nie as die stad se top-speurder vertolk deur Tony Gates. En die hoof van die ernstige misdaadeenheid in die polisie.
Slim dialoog is ’n kenmerk van die reeks.
Kyk dit op Britbox.
Speurder Charlie Hudson (John Reardon) is ’n belangrike misdaadspeurder van die fiktiewe St. John’s Police Department. Rex, sy honde-kollega, het by hom beland nadat Rex se hanteerder tydens ’n ontvoeringsdrama doodgeskiet is.
Rex moes volgens protokol uitgesit word, maar Charlie het ander planne gehad en nou het hy al Rex se sintuie tot sy beskikking in die stryd teen misdaad.
S1-6 is beskikbaar as ’n box set op DStv Catch Up en DStv Stream.
Reeksskrywer David Simon en medeskepper Ed Burns (’n voormalige speurder) het met The Wire ’n reeks geskep wat die golf van misdaad en armoede in Baltimore gedurende die 1990’s uitbeeld.
Elke seisoen fokus op ’n ander groep – van onwettige dwelmhandel en die polisie tot die nuusmedia.
Michael Kenneth Williams lewer veral uitstekende spel as die gangster Omar Little in die reeks. Hy waarsku sy voornemende sluipskutters: “Come at the king, you best not miss.”
Op soek na iets meer lighartig, maar wat terselfdertyd ’n interessante storie en aksie inhou? Dan is The Rookie ’n goeie keuse. Nathan Fillion (wat met The Rookie se uitvoerende regisseur Alexi Hawley op die dramedy-reeks Castle gewerk het) vertolk die rol van John Nolan wat op 45 die LAPD se oudste rookie is.
Die storie is gegrond op die ware lewensverhaal van William Norcross.
Kol. Piet “Byl” van der Bijl (Waldemar Schultz) en sy elite squad het net een missie: om reeksmoordenaars vas te trek en agter tralies te sit.
Maar wanneer jy monsters jag, begin van hulle die uitdaging geniet – en begin jag maak op jou. Nes Smiley (Deon Lotz) en Adriaan Kloppers (Laudo Liebenberg) wat ’n appeltjie met Byl te skil het.
Marcella S1-3
Gewese polisiespeurder Marcella (Anna Friel) het nie ’n maklike lewe nie. Haar oënskynlik-gelukkige huwelik het verbrokkel, sy het ’n tragiese verlies gely, haar geheue laat haar in die steek en sy sukkel met moederskap.
Toe besluit sy om terug te keer na haar werk as ’n speurder, iets wat sy uitstekend doen en veral moordenaars ontsnap haar nie.
Kyk dit op Netflix.
Donkerbos
Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo. Erica Wessels (van Dwaalster en I Am All Girls) vertolk die hoofrol. Sy speel Fanie van Wyk, ’n speurder met ’n donker verlede wat dié saak moet ontsyfer.
Die reeks is deur die bekroonde storieverteller Nico Scheepers geskryf en geregisseer. Scheepers is ook vir sy magiese werk op Nêrens, Noord-Kaap bekend.
Dit spog ook met ’n sterbelaaide rolverdeling wat buiten Wessels ook bekroonde akteurs soos Wilhelm van der Walt, Stian Bam, Jacques Bessenger, Nicole Holm, Leandi du Randt en Nicola Hanekom insluit.
True Detective S1-4
The Ringer het vir True Detective: Night Country as die “eerste moet-kyk reeks van 2024” bestempel. Night Country is die vierde uittog in dié anthology-reeks en is tot dusver die mees gekykte seisoen van True Detective. Dit is ook die seisoen wat die beste deur kritici ontvang is met ’n punt van 92% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes.
Met die aanvang van die lang winternag in Ennis, Alaska, is daar goeie rede om die donker te vrees as al agt mans wat ’n navorsingseenheid daar lei, spoorloos verdwyn.
Om die saak op te los, moet speurders Liz Danvers (tweemalige Oscar-wenner Jodie Foster) en Evangeline Navarro (Kali Reis) nie net waarhede onder die ys probeer uitgrawe nie, maar ook hul eie geraamtes konfronteer.
The Guardian het dit ’n vyfster-resensie gegee en skryf dat, “ ’’n brandende Jodie Foster maak hierdie reeks beter as ooit tevore.”
Perry Mason S1-2
Dié periode-drama word nie net vir die kostuum- en stelontwerp geprys nie, maar ook vir die vertolkings – veral Matthew Rhys (The Americans) is al telkens uitgewys vir sy spel as the one and only Perry Mason. Die reeks is gegrond op die skrywer Erle Stanley Gardner se bekende Perry-karakter, wat in talle van sy kortverhale en boeke speurder speel. Die storie speel in die 1930’s af, en in die tweede seisoen met Perry, nou ook ’n prokureur, twee Mexikaanse broers teen ’n moordaanklag op ’n rykmanskind verdedig.
Die reeks het ’n punt van 84% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met Peter Travers van ABC News wat dit as “haunting and hypnotic” beskryf.
Nog misdaadreekse om te stroom
Lees ook
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →