Menu terloops
In Onderhoude [14 Mei 2024]

‘Binnelanders’ se Kate Roothman gemaklik in Nicolette se scrubs


Die aktrise Kate Roothman staan nou al vir meer as 240 episodes in die skoene van haar ‘Binnelanders’-karakter, dr. Nicolette Nortje. Dís ’n karakter wat nou al soos ’n gesinslid begin voel, vertel die sepiester.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk vir Kate in 'Binnelanders'

‘Binnelanders’ se Kate Roothman gemaklik in Nicolette se <em>scrubs</em>

Sy is te sien in flieks soos Kansel, Fladder en Ken Jy My Nou terwyl sy ook in TV-reekse soos Reyka en Still Breathing gedraai het. Die aktrise Kate Roothman is egter veral bekend vir haar rol as die suksesvolle dokter Nicolette Nortje in die kykNET-sepie Binnelanders

Nicolette is nie een wat op haar bek geval is nie – sy het inteendeel aan die begin almal verkeerd opgevryf… Soos kykers haar leer ken het, kon ons agterkom dat sy nie maklik mense na aan haar toelaat nie, en só dan ook nie sommer net enigeen vertrou nie. Waar mense haar karakter aanvanklik nie kon verdra nie, het Nicolette stadig in mense se harte kom kruip. Deesdae wys sy haar sagter, meer kwesbare kant. 

Kate Roothman, Binnelanders, Nicolette Foto: Cornel van Heerden
Met meer as 240 episodes onder die knie, raak dit al hoe makliker en lekkerder vir haar om Nicolette te vertolk, vertel Kate. Foto (asook hooffoto): Cornél van Heerden

Die yin en die yang

Nicolette en Kate is albei sterk vroue met groot ambisies, maar wanneer dit by hul aanslag teenoor mense kom, verskil hulle heelwat. 

“Ek het definitief meer grasie en geduld wanneer dit by mense kom, en geniet ’n meer vrolike omgewing en oomblikke,” meen Kate. 

Maar met meer as 240 episodes onder die knie, raak dit al hoe makliker en lekkerder vir haar om Nicolette te vertolk.  

Nicolette is die karakter wat Kate al die langste vertolk. Sy vertel dat só ’n karakter dus ná ’n tydjie soos ’n gesinslid begin voel. Wanneer jy die geleentheid kry om oor ’n langer tydperk ’n karakter te vertolk, help dit jou om gemakliker te voel. Só kan ’n akteur hul tonele met meer vryheid en waagmoed aanpak, omdat hulle al weet hoe hul karakter in spesifieke situasies sou optree, meen Kate. 

“Dis ’n knoppie wat ’n mens aan en af skakel,” sê sy. 

“Dit maak dit makliker om elke dag te speel. Of dit gee jou altans meer kans om die toneel te geniet, want jy wonder nie heeltyd of die karakter sekere goed sal doen of nie; jy het sekerheid oor hul keuses.”

‘Jou teks is jou Bybel’

Behalwe vir die feit dat sy teen dié tyd nou al baie ure in Nicolette se blou scrubs deurgebring het, vertel Kate dat haar voorbereidingproses ook ’n groot impak op die karakter se egtheid het. 

“Ons het ’n sê-ding in ons industrie, ‘Jou teks is jou Bybel’ en in jou teks lê al die antwoorde,” benadruk sy. 

“Jy het ook meer vryheid op stel met jou spel en emosies wanneer jy nie aan jou woorde hoef te dink nie. My proses is die vyf P’s: ‘Proper Preparation Prevents Poor Performance. As jy dít down het, kan jy baie maklik in enige emosie in tap.”

Kate vertel dit was ook baie moeilik aan die begin om al die mediese terme te onthou en hulle laat dit beslis makliker lyk as wat dit is op reekse soos Greys Anatomy. Gelukkig het sy dit vinnig baasgeraak.

Kate Roothman, Binnelanders, Nicolette
Kate as Nicolette in Binnelanders. Foto: Verskaf

“Ek is ’n visuele mens. Ek sien en praat in prente. So ek gaan doen navorsing om die prentjie en regte uitspraak te kry, en so verbind ek dit met wat ek sê, sodat wanneer die tegniese aspek van die tonele bykom, dit my nie gooi nie,” vertel sy. 

“Dit als gebeur baie vinnig. Ek leer ook geweldig baie van die mediese wêreld in ons sepie.” 

Die rustigheid van Kate

En al geniet sy vreeslik die mediese wêreld van Binnelanders en haar karakter se citychic-persoonlikheid, is Kate beslis meer van ’n plaasmeisie as ’n stadsmens. Veral wanneer sy met vakansie is en ’n bietjie wil wegbreek. 

“Kyk, ek sal nooit nee sê vir ’n trippie na ’n groot stad soos New York toe nie! Maar wanneer ek wil afsluit en net rustig vakansie hou, sal ek eerder plekke verkies soos Lake Como, die Italiaanse of Franse countryside, Noorweë of, natuurlik, die bos,” sê sy. 

“Iewers waar daar rustige waters, baie bome en ’n sonnetjie is waar ’n mens bietjie kan bak.” 

Opwindende eenvoudigheid 

Lewe as ’n aktrise op die stel van ’n suksesvolle sepie kan besig en uitdagend wees. Maar ten spyte van die lang dae op stel, slaag Kate daarin om die balans tussen werk en familie te vind. 

Sy en haar man, Wille Oberholster, is al meer as 13 jaar saam. Weens hul go with the flow-persoonlikhede vind hulle altyd die balans en die lekkerte van die lewe. 

“Dis vir ons maklik om werk en lewe te skei. Sommige dae is bietjie meer wild as ander, maar as jy dit reg navigeer, is dit glad nie gekompliseerd nie.”

Kate meen die lewe is veral nie kompleks as jy jou geluk in die eenvoudige dinge vind nie. En dit is hoekom jy meeste van die tyd vir Kate op die plaas sal vind met ’n lekker boek of voor haar rekenaar, waar sy vir ure foto’s kan edit

“Op die plaas of by my familie is waar jy my sal vind as ek nie op stel is nie. Daar is ’n paar goed waaraan ek werk, asook projekte saam met my man, waarna ek geweldig uitsien. Maar daarvoor sal julle nog so klein rukkie moet wag!”


Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies