Arendsvlei het die mat onder kykers se voete kom uitruk en ons op so baie maniere verras.
Dit was kykNET se eerste Afrikaanse telenovela wat die deur vir soveel ander geliefde produksies, waaronder Diepe Waters, oopgemaak het.
Só uitgehonger was kykers vir die drama, aksie en intrige van hierdie telenovela dat Arendsvlei, wat aanvanklik net drie keer ’n week uitgesaai het, later ’n ekstra aand moes byvoeg.
Terwyl dié produksie ons aan nuwe gesigte bekendgestel het, het ons van vooraf op ou bekendes verlief geraak. En nogal in rolle waarin ons hulle nog nooit gesien het nie!
Ná ses onvergeetlike seisoene groet kykers volgende maand (Junie 2024) dié geliefde gemeenskap.
’n Mens kan reeds die spanning voel bou tussen die gemeenskap van Arendsvlei en die Galants, maar voor die finale showdown begin, kyk ons terug na ses van die lekkerste, skokkende en soms belaglikste storielyne.
David se dubbelganger
Een van my persoonlike hoogtepunte was die Days of Our Lives-oomblik wat Arendsvlei vir ons gegee het toe Beatrice (Jolene Martin) se oorlede man se döbbelganger op ons skerms verskyn het. Ek dink kykers was net so stomgeslaan soos Beatrice toe haar oorlede man, David Abrahams (Oscar Petersen), in ons eie Stefano DiMera á la Days of Our Lives-oomblik uit die dood uit as Jeremy herrys het.
Ja, Jeremy het ons vir ’n tydjie op die punt van ons stoele gehou met sy geheueverlies, maar hy was toe nie David nie. En ek glo dit, want al sy tande was nog in sy mond. Ons almal onthou dat die regte David se tande vir maande in Wengrid se kluis gelê het…
My mond het letterlik oopgehang, want al is ek redelik goed met storielyne voorspel, was selfs ék onkant gevang met hierdie een. In my opinie: TV-goud.
Twee keer so boos
So gepraat van Wengrid… ‘n Groter skurk sal jy nie sommer op TV vind nie.
Wendy (en toe later Ingrid) het al die hare op my arms laat rys. Sy het my meer keer vir die TV laat vloek as enige ander karakter en het my bloed behoorlik laat kook.
Met Wengrid was dit nie die storielyne wat my mond laat oophang het nie, maar die karakter self. Want as enigiemand deur hel gesit is, was dit te danke aan Wengrid.
Sy het om elke hoek en draai die Cupido-familie probeer sink. Sy het talle kere die skool probeer steel en sy het selfs Beatrice se eie kind teen haar gedraai. Dan praat ons nie eens van die manier hoe sy so stadig gepraat het nie. Of die creepy glimlag wat sy vir mense gegee het nie. En wie kan nou vergeet hoe mal sy gespeel het tydens haar hofsaak!?
Nee kyk, Wengrid was ’n ander tipe boos. Só boos dat hulle glad vir een persoon twee karakters moes gee.
’n Hele gay troue
Toe Lee-Roy (Roberto Kyle) en Wesley (Craig Adriaanse) in 2021 in die huwelik getree het, was dit ’n eerste van sy soort vir Afrikaanse televisie.
Ons is gewoond daaraan om dit in internasionale reekse te sien, maar nie regtig op plaaslike reekse nie – en beslis nie in die Afrikaanse konteks nie.
Maar ná ’n verhouding wat so erg met kykers se emosies gespeel het, het kykers se reaksie op sosiale media dié twee akteurs verras en almal was bly vir #WesLee toe hulle uiteindelik trou.
Dit was dié troue van die jaar en ’n regte spoggeleentheid. Ongelukkig was die egskeiding minder spoggerig.
Ons eie Titanic-oomblik
’n Meer hartroerende storielyn was daar nie. Die trane het behoorlik gerol toe Anton (Dean Richard Oliver) om die draai van die hof, waar hy en Nicolene (Gretchen Ramsden) sou trou, verongeluk het.
Net daar langs die pad, sterf hy toe in sy pa se arms. Ek sal altyd Nicolene se hartverskeurende gil onthou toe sy vir Anton gesien het. Die hele toneel was so realisties geskiet; beslis nie een van daardie oogrol-fake-TV-ongelukke nie. Die ongeluk, die emosies, die sterfte… Dit was alles so werklik, ’n mens kon nie anders as huil nie. Dit het regtig soos ons eie Jack en Rose Titanic-oomblik gevoel.
’n Mens kan ook nie maklik vergeet hoe ongemaklik dit was toe Anton se pa op die toneel vir Nicolette verskree het omdat sy glo harder as enigiemand anders gehuil het. Ouch, have a heart!
Queen Beatrice
’n Sterker, meer statig en spesiale vrou as Beatrice kry ’n mens nie sommer in Sepieland nie.
Hierdie vrou het al twee mans aan die dood afgestaan, haar skool amper aan al die skurke in Arendsvlei verloor, en het oor die verloop van tyd uitgevind dat haar liefdevolle pa ’n ander dogter en seun weggesteek het.
Maar deur alles het Beatrice nie een keer wraak probeer neem nie. Sy het nooit tot die skurke se vlak gedaal nie en sy het altyd liefde bo alles gekies.
Maar haar storielyn wat uitstaan, is toe Wengrid en Beatrice vir dae in die woud aangehou is nadat Wendy nie net vir Beatrice nie, maar ook haarself, laat ontvoer het. Beatrice het so gesuffer dat ek tydens hierdie storielyn besef sy sal dit nooit op Survivor maak nie. Sy is meer van ’n soft life-vrou, maar sy het daardie storielyn briljant vertolk.
’n Arendsvlei-vrou
Toe ma Leticia (Quanita Adams), wat in die ou tonnels gewoon het, met haar kroos imaginary kinders opdaag, was daar altyd iets om oor te lag. Haar sê-goed, wysheid en humor het haar uniek gemaak en die band tussen haar en Daniel (Cantona James) was spesiaal. Dit is sy wat vir Daniel gehelp het om van straatkind na gesoute joernalis te groei.
En so mal soos wat sy was, het hy haar altyd kalmeer en helder laat dink. Die karakter en storielyn van ’n ma wat letterlik mal gegaan het weens haar groot liefde en leed, het regtig die tema van Arendsvlei gevier. Dit het kykers laat lag, huil, en kopkrap, maar ook laat dieper dink oor die lewe en die omstandighede waarin mense hulself soms bevind.
Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.