Wendy, Ingrid, Silky… Sy het baie name en baie verskillende personas, maar met elkeen het die aktrise Rehane Abrahams vir Arendsvlei-kykers op die punt van hul stoele gehou.
Ek het van dag een af ’n love/hate-verhouding met hierdie dié karakter gehad. Ek kon al van week een af sien hoe hierdie loan shark vir groot drama in die Vlei sou sorg. Sommige karakters word oor die jare slinks of verander ten goede, maar #Wengrid het, soos in die einste Miley Cyrus-liedjie, soos ’n wrecking ball ons lewens ingeboender.
Ek en #Wengrid sit nie om dieselfde vuur nie, maar ek het elke oomblik van haar op my TV-skerm geniet. Daar is nie ’n karakter wat my meer briesend maak nie. Maar nou dat sy uiteindelik uit my lewe verdwyn, voel dit soos ’n groot verlies.
Die briljante Rehane
Ek het nie tyd vir Wengrid nie, maar ek gaan beslis die briljante Rehane Abrahams se toneelspel mis. Die klere, die naels, die pruike, haar stadige manier van praat, elke keer wanneer sy “Steve, my baby” sê, hoe sy haar lyf beweeg en gebruik as deel van die karakter se eienskappe, hoe sy haar ken lig en glimlag as sy met nonsens besig is en haarself in iemand se pyn verlekker. En daardie absolute creepy lag en kyk in haar oë. Daar was nog nooit ’n karakter soos Wendy Newman/Ingrid van Schalkwyk nie en dit is alles aan Rehane se skitterende vertolking karakter te danke.
Ek het nog nooit so baie op ’n TV geskree nie, vir karakters gebid, of gewens dat ’n karakter sal dooi nie. Elke TV-skurk wat ek ken het hul dag gekry, maar ek moes vier seisoene vir Wendy/ Ingrid se ondergang wag. En wat ’n klimaks! Ek wou al twee seisoene terug vir Wengrid in die tronk sien, maar die laaste twee weke was absoluut die frustrasie én wag werd. Dit was nie jou gewone einde nie en ek dink die skrywers het ons as kykers bederf met een laaste Wendy/Ingrid-fees. Die vrou is regtig siek, maar dit was ongelooflik om te kyk. Ek het verlede week bang gaan slaap, so ek kan regtig nie glo dat ek so hartseer is om hierdie karakter te groet nie. Maar nogtans is ek bly dat Wengrid op ’n high uitgaan.
Wie weet, dalk sien ons weer eendag vir Wendy/Ingrid. In Sepieland is enigiets mos moontlik. Maar vir nou groet ons hierdie tuimeltrein-karakter.
Ons het met Rehane Abrahams gesels oor haar rol as Wendy/Ingrid en die dinge wat sy die meeste gaan mis.
Jy vertolk hierdie rol uitstekend! Hoe het jy jouself vir die rol voorberei?
Ek het baie karakternavorsing aan die begin gedoen, so ek het die karakter baie goed geken en ek het geweet hoe sy in enige situasie sou reageer. Ek kon myself vertrou om getrou aan haar te wees. As dit by ’n toneel kom, laat ek die omstandighede of my kontak met die mede-akteurs my lei. Maar as dit nie genoeg is nie, gebruik ek ’n asemhalingstegniek wat die liggaam onmiddellik toegang tot emosies gee. As iemand belangstel, kan hulle my op Instagram kontak, sodat jy alles aan jou lyf voel in plaas daarvan om net te dink.
Wat was vir jou die lekkerste van om Wendy/Ingrid speel?
Dat sy op ’n manier operate wat heeltemal die teenoorgestelde van my persoonlikheid is. Ek sou die verste moontlike keuse soek, die mees out there (ding). Dit was waarskynlik wat Wengrid sou doen of voel.
Watter storielyne was vir jou die lekkerste om te vertolk?
Ek het al haar brand-werk baie geniet. Die voël wat Anton gemaak het, David se lyf en George Cupido se skuur is alles deur Wengrid afgebrand. Miskien was dit lekker omdat dit so boos en donker was op daardie mal skurk manier. Ek was mal oor die emosionele intensiteit van Wendy en Steve se verhouding. Ek het haar ook geniet nadat sy daardie geestelike ervaring gehad het, toe sy amper verdrink het.
Aanhangers van Arendsvlei was nie altyd mal oor Wengrid nie, wat was jou snaakste interaksie met aanhangers?
Dat mense net hul kar stop, uitklim om ’n foto te neem en dan weer terug klim in hul kar en wegry. Ek het soos ’n toeristemonument, Mickey Mouse of iets in die dieretuin gevoel.
Nou dat jy nie meer elke dag op stel gaan wees nie – wat gaan jy die meeste mis?
Al die lieflike mense met wie ek tyd kon spandeer.
terloops se gunsteling Wengrid-oomblikke
- Praat van met ’n bang begin. Ons het skaars vir Dawid Abrahams (Oscar Petersen) leer ken toe Ingrid hom in sy kantoor by die skool geskiet het. Dit was waar alles begin het. Ek onthou hoe geskok ek was toe sy hom sommer net so skiet en die lyk laat verdwyn het.
- Hoe sal ons ooit vergeet toe Ingrid haar pa en dogter voor ’n oop graf laat kniel het en ’n geweer op hulle gedraai het? Ek het regtig gedink sy gaan hulle daardie dag vermoor, maar gelukkig was dit twee minder lewenslange vonnisse vir haar.
- Die dag toe Beatrice (Jolene Martin) vir Wendy vertel dat sy van haar geheim weet en dat sy weet dat Wendy eintlik Ingrid van Schalkwyk is. Wendy was daai dag weer heeltemal mal met daai blonde pruik. Sy het sommer vir Beatrice en die polisie gesê: “Ek skiet julle almal vrek, die Here hoor my.”
- Die dag toe Wendy haar arme Steve doodgeskiet het. Ek het regtig gedink hulle gaan ’n empire iewers gaan bou en verdwyn. Maar ai, Steve was te goed vir Wendy en selfs die liefde kon nie vir Ingrid red nie. Sy het tot op die einde nog elke aand met haar oorlede Steve gepraat, maar ek was stomgeslaan die aand toe sy Steve skiet.
- Ai, net Ingrid sal haarself deur trauma sit om vir Beatrice ’n les te leer. Toe Ingrid vir Beatrice ontvoer en toe saam met haar in die woud ’n gevangene was, het dit gewys hoe siek Ingrid is.