Menu terloops
In Gons [8 Mei 2024]

Kyk nou: Lag lekker-lokprent vir Showmax se nuwe Afrikaanse sitkom, ‘Mince Jou Hare’


Die bekroonde komediant Shimmy Isaacs, bekend vir haar rolle in onder meer ‘Arendsvlei’, ‘Magda Louw’ en ‘Tali’s Joburg Diary’, se lang verwagte sitkom ‘Mince Jou Hare’, begin binnekort op Showmax.

Deur Caryn Welby-Solomon
Kyk nou: Lag lekker-lokprent vir Showmax se nuwe Afrikaanse sitkom, ‘Mince Jou Hare’
Kyk lokprent

Showmax het pas die lokprent vrygestel vir Mince Jou Hare, ’n goedvoel-sitkom wat vanaf 20 Mei 2024 op Maandae nuwe episodes loods. Dié Showmax Original, wat in die fiktiewe dorpie van Hex-vallei in die Wes-Kaap afspeel, is die skepping van die veelbekroonde komediant Shimmy Isaacs. Die verhaal volg ene Frieda se verhaal soos sy haar pos in ’n fabriek bedank om ’n haarsalon vanuit haar huis te bedryf. 

Melissa de Vries (Sasha Daniels in Arendsvlei) speel Frieda, met die komediant Dugald Pieterse as haar man, Vincent. Bianca Flanders (Juffrou X; Nêrens, Noord-Kaap) speel Frieda se beste vriendin, Julia.

Die rolverdeling sluit ook in Keenan Arrison (Shirley Adams), Lee-Ann van Rooi (Spinners) en Euodia Samson (Arendsvlei), asook Gershwin Mias (Arensdvlei, Juffrou X) en Emile Smit (Arendsvlei) as die verliefde buurman.

Spinners se David Isaacs (medeskepper van Joe Barber en G.I.L.) behartig die regie, met die YouTube-fenomeen Early B wat die reeks se temalied geskep het.

Roberta Durrant en Penguin Films dien as vervaardigers. Dis dieselfde span wat Stokvel en Home Affairs, beide benoem vir internasionale Emmy-toekennings, gemaak het. Só ook was hulle die vervaardigers van klassieke plaaslike komedies soos die Rose d’Or-benoemde Madam & Eve, die driemalige Safta-wenner G.I.L., asook die telenovelas Diepe Waters en Arendsvlei, en dramareekse Projek Dina en Sara se Geheim.

Caryn Welby-Solomon het met Shimmy gesels oor die betekenis wat die reeks vir haar inhou:

Wat het jou geïnspireer om Mince Jou Hare te skep, skryf en vervaardig?

“My ma se storie maak ’n groot deel van my storie uit. Dit het gevoel soos ’n belangrike een om te vertel. 

“Worcester was ’n fabrieksdorp en my ma was ’n fabriekswerker. Toe sy haar werk by die fabriek bedank, en sê dat sy klaar is daarmee om vir iemand anders te werk – dít was ’n noemenswaardige oomblik in my lewe. 

“Sy het alles gedoen wat sy voorgeneem het. Ek was ’n kind, so dit was die eerste keer wat ek gesien het hoe iemand ’n belofte aan hulself maak én dit hou. Dit het my geïnspireer om ook groot te droom en om dít te bereik wat ek aan myself belowe het. My ma verteenwoordig geloof vir my.

“Ek wou dus ander mense blootstel aan die inspirasie wat my ma, Frieda, is, en aan die lewendige wêreld van klein dorpies soos Worcester.” 

Hoekom laat jy Mince Jou Hare in Hex-vallei afspeel?

“Hex-vallei is deur Worcester, waar ek grootgeword het, geïnspireer, so dit sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê.

“Maar dit gaan eerder daaroor om karakters en mense uit te lig wat dikwels oor die hoof gesien word. Wat nie klink soos waaraan ons gewoond is nie. Ek sê altyd dat bruin mense nie monolitiese mense is nie. Hulle kom nie net van Kaapstad en die Kaapse Vlakte nie. Hulle praat selfs Afrikaans anders in Worcester.

“Ek het ook gedink dit is belangrik om die kleindorpse waardes van dorpe soos Worcester, waar dit steeds gebruiklik is om byvoorbeeld op te staan vir bejaardes, en tannies oor die pad te help, te vier. Ons moet teruggaan na die ruimtes wat respek en vriendelikheid waardeer.”

Hoe belangrik is hare in die storie?

“Ek dink nie dit is iets waarop ek spesifiek gefokus het nie. My ma is regtig ’n haarkapper, maar ek moet sê, ek het net drie haarstyle gesien terwyl ek grootgeword het. Hierdie storie is uiteindelik oor ’n vrou wat net sukses wil behaal in die lewe. En sy is bereid om te doen wat ook al sy moet om dít te bewerkstellig.” 

Mince Jou Hare
Melissa de Vries en Bianca Flanders vertolk die hoofrolle in Mince Jou Hare. Foto: Verskaf

Vir ’n storie wat jou so na aan die hart lê, hoe het jy te werk gegaan om die rolverdeling te kies?

“Melissa [De Vries], wat Frieda speel, is sedert dag een, sedert ek die oorspronklike loodsepisode vyf jaar gelede verfilm het, by die projek betrokke. Ek het oorspronklik die draaiboek geskryf met ’n ander akteur in gedagte, maar hulle was nie beskikbaar nie. Maar toe stap Melissa by die oudisie in, en sy neem die karakter in ’n heel nuwe rigting. Ek het geleer om oop te wees vir haar interpretasie van die karakter. Sedertdien het ons almal gegroei en ek en Melissa het saam aan ander TV-programme gewerk en ek het haar baie beter leer ken. Dit is goed om my akteurs te ken as ek van plan is om vir hulle te skryf, sodat ek die karakters kan deurdrenk met die eienskappe van die akteur.

“Nog ’n akteur saam met wie ek reeds gewerk het, is Gershwin [Mias], wat die karakter van Oompie vertolk. Ek kon spesifiek vir hom skryf omdat ek besluit het dat hy die perfekte akteur vir die rol is… Nog voordat Showmax ja gesê het. En toe ons begin rondspeel met sy klerekas – wat geïnspireer is deur Johnny Depp in Fear and Loathing in Las Vegas – het hy waarlik in die karakter getransformeer.

“Die enigste akteur saam met wie ek nog nie voorheen gewerk het nie, is Bianca Flanders, wat Julia speel. Sy is splinternuut op my radar. Ek het oorspronklik die karakter van Julia geskryf om dit self te speel, soos in die oorspronklike loodsepisode. Maar toe ek Bianca se video sien, het ek daaroor gebid en God gevra om vir objektiwiteit te gee en vir my die kuns te laat sien. En dit het my toegelaat om te sien dat Bianca reg vir die rol was. Sy was nie soos enige van die akteurs wat ons gesien het nie en dit het die diversiteit van mense in Worcester gewys.

“Bianca wys die meer Engelse kant van die mense van Worcester. Ek is mal oor die sagtheid wat sy aan die karakter van Julia gee. Maar daar is ook hierdie element van hartseer omdat sy ongelukkig in sake van die hart is. Jy wil net hê sy moet geluk en liefde vind.”

Wat wil jy hê gehore moet uit Mince Jou Hare neem nadat hulle dit gekyk het?

“Eerstens wil ek hê dat hulle moet leer dat dit goed is om hulself te wees. Maar ek sê altyd, ‘Wees jouself met doelwitte’.

“Kyk na Vincent, Frieda se man. Hy is daardie tevrede ou. En dan kyk jy na sy vrou. Yin en yang. Jy het balans in die lewe nodig. Jy het die een nodig wat oukei is en wat sê ons is genoeg en dan het jy die ander een nodig wat sê dis oukei, ons kan harder werk, sodat ons meer vakansies kan hê.

“Wat ek wil hê mense van Mince Jou Hare moet neem, is dat hulle albei kan doen. Hulle kan hard werk én ’n goeie tyd hê. En weet dat hulle genoeg is, maak nie saak wat dit is nie.”


Mince Jou Hare is vanaf 20 Mei op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies