As armoede, bendegeweld, afwesige ouers en dwelmmisbruik die gemene delers in jou gemeenskap is en jy jaar, na jaar, na jaar sien hoe almal om jou vasval in die moeras van uitsigloosheid, is dit nie ʼn moeilike som om te maak dat jou lewe dalk ook op niks gaan uitloop nie.
“Wanneer dink jy gaan jy doodgaan?” wonder een van die matrikulante in kykNET se fantastiese nuwe dramareeks, Juffrou X, voor sy, met al die feite tot haar beskikking, spekuleer dat sy dalk al op 28 sal sterf.
Juffrou X is geskryf en geregisseer deur die bekroonde dramaturg Tertius Kapp en as dit klink of dié reeks jou gaan ontstel, is jy reg. Maar kyk dit, want dis gritty en real, omdat dit ’n fiktiewe storie vertel wat vir baie Suid-Afrikaners eintlik ʼn daaglikse realiteit is.
Ook omdat die draaiboek, akteurs, klankbaan en kinematografie, regtig besonders is en die Hertzogbekroonde draaiboekskrywer, Kapp, hiermee ook sy buiging as regisseur maak.
Die reeks, oor ʼn besonderse Wiskunde-onderwyser, Inge Bester (Trix Vivier), oftewel Juffrou X, wat by ʼn Suid-Kaapse skool vir haar leerlinge se toekoms (en hede) veg, speel boonop af aan die Tuinroete. Dis lekker om vir ʼn slag onder die skaduwee van Tafelberg uit te beweeg en ʼn storie soos dié in hierdie milieu, van woud en bosbou, te sien ontvou. Dié wêreld het ʼn amper sprokiesagtige kwaliteit en onverwagse donkerte en leen hom perfek tot die byna mitiese geveg tussen goed en kwaad wat in Juffrou X afspeel.
Kapp se verhaal is geïnspireer deur sy suster, ʼn onderwyser, wat hard vir die benadeelde leerders vir wie sy skoolhou baklei, hoewel die storie grootliks fiksie is, aldus Kapp.
Die draaiboek en regie, herinner nogal aan teater, omdat Kapp met elke toneel skerp fokus op klein details, liggaamstaal, oë en op die energie tussen die karakters waarop die kamera fokus. Jy moet wakker wees vir die leidrade wat hy soos broodkrummels laat val en byhou met die vinnige pas waarteen karakters besluite neem en gebeure ontvou.
Die eerie klanke van Pierre-Henri Wicomb se fantastiese klankbaan en Burger se kinematografie, span saam ʼn web wat die spanning deurentyd laat vibreer.
In ʼn onderhoud met Murray la Vita op Netwerk24 het Kapp gesê wiskunde is integraal tot die volgende generasie van mense wat die wêreld gaan verander. Vir die meeste van die kinders in Inge se klas staan die abstraktheid van wiskunde egter in skrille kontras met die konkrete, praktiese, probleme waarmee hulle elke dag te doen het.
Maar met ‘sin, cos en tan’ ontsluit Inge, minstens vir enkeles, moontlikhede vir ʼn ander tipe lewe, waarvan hulle sonder haar (en veral wiskunde) nie sou kon droom nie.
Sy is daai hardegat onderwyser wat al álles gesien het – kinders wat in die skoolgange vermoor is, swanger skoolmeisies, graad 11’s wat skool los vir gangs. Maar ten spyte daarvan, bly sy glo in haar leerlinge se potensiaal en hoop sy namens hulle, en bo alle verwagting in, vir uitkomkans. Soveel so dat sy nie huiwer om haarself in die proses op die brandstapel te offer nie.
Dit roep beelde op van ander stroomop silwerdoek-onderwysers, soos Dead Poets Society se John Keating (Robin Williams) en Louanne Johnson (Michelle Pfeiffer) in Dangerous Minds. Maar Inge is ʼn held vir die hier en nou in ʼn land met ʼn tekort aan nagenoeg 31 000 onderwysers volgens die nuutste Mail&Guardian. En Inge is wat Suid-Afrikaanse skole broodnodig het: ʼn onderwyser met ʼn roeping vir dié ondankbare loopbaan. Dalk juis omdat haar kinderjare ook deur onstabiliteit gekenmerk is – die motivering van Kapp se karakters, is ʼn belangrike bestanddeel hier.
Dis asof Inge voor ʼn swartbord staan met ʼn komplekse wiskundige probleem daarop geskryf en tot die gevolgtrekking kom dat die patroon van geweld en mislukking waarin die skool en gemeenskap vasgevang is, nie sonder radikale ingryping ontwrig sal kan word nie.
Want die skool, en spesifiek onderwysers wat meer wil hê vir hul leerlinge wat wil wegbreek uit die grense van die benouende armoede en geweld wat hulle elke dag ervaar, staan in direkte konflik met die gangs en spesifiek die Matchbox Boys waar ouens soos Puma (Craig Adriaanse) en Lamont (Marlon Swarts) die septer swaai.
En die skool is ook nie juis ʼn veilige hawe nie. Victory Heights Sekondêre Skool se naam het ʼn ironiese eggo en die woorde van die skool se leuse, Fiat Lux, lê vals in die mond van die skoolhoof, Ralph Willemse (Brendon Daniels). Dit beteken immers “Ons bring lig”, maar mnr. Williams wil Wiskunde vir matrieks afskaf, want “hulle het dit mos nie nodig om naels te doen nie”.
Dit maak Inge rasend en al sou mens seker kon argumenteer dat sy die soveelste fiktiewe karakter met ʼn wit ‘saviour-kompleks’ is, laat Kapp die karakter en haar storielyn nooit in hierdie cliché verval nie. Hiervoor sorg Inge se vennootskappe en lojaliteite en die feit dat sy nie splinternuwe reëls vir die gangsters se eie speletjie wil uitdink nie.
Trix Vivier is briljant in dié rol, wat ʼn gehardheid én deernisvolheid van haar verg. Van die edgy kort bob tot haar liggaamstaal wat die een oomblik van nonchalantheid spreek en dan weer van woede en selfs onsekerheid.
Daar is heeltyd onder die oppervlak iets wat prut en ʼn verlede wat Inge swaar agter haar aansleep. Maar sy’s niemand se push-over nie, nie die dweperige skoolhoof sʼn nie en veral nie die gangsters sʼn nie.
En tog is die harde besluite wat sy neem en haar metamorfose na vigilante nie vir haar maklik nie en laat die gevolge van die dinge wat sy moet doen om haar doelwit te bereik, haar nie onaangeraak nie. Ding is, as Inge en haar binnekring nie opstaan vir hierdie kinders nie, wie sal? Want ma’s en pa’s is ooglopend afwesig – die ideale teelaarde vir bendes, wat ʼn soort tuiskoms beloof, om te floreer.
In een episode kom ʼn handjievol ouers by die skool bymekaar en kla oor die skool wat ʼn “oorlogsone” geword het. Dan verdwyn hulle die nag in. Dis duidelik die meeste leerders by Victory Heights, is aan hulself oorgelaat.
Juffrou X is ʼn storie wat nog lank by ʼn mens bly spook en wat jy wéér wil kyk, sodat jy kan probeer verstaan. Dit gee gesigte en name aan die mense wat elke dag in bendeverwante-misdade doodgaan; aan elke kind in ons land wat self moet sien kom klaar; vir daai onderwysers wat hulle lewens spreekwoordelikheid neerlê vir hulle leerders en oor wie daar dalk, as hulle gelukkig is, in die verbygaan ʼn brokkie oor die skerm flits terwyl die hoofnuus oor korrupte politici en goedbetaalde rugbyspelers op die voorgrond rammel.
Riëtte van der Wat
Wanneer ʼn gangster die skool se ster-matriek, Cassandra (Simone Neethling), voor haar eie huis lastig val, kom haar ma nie tot haar redding nie. Neethling se spel met broosheid en vasberadenheid, laat ʼn blywende impak.
Daar is ook Shanice (Anja Taljaard), wie se ma ʼn sekswerker is van wie ons ook net hoor. Die tiener woon alleen in ʼn karavaan. Shanice is kwaad, stukkend en desperaat vir ʼn plek om te behoort en Taljaard skep ʼn snaarstywe spanningslyn soos haar karakter wipplank tussen broos- en bitterheid, eensaamheid en oorlewing.
En dan is daar Archie Samuels, puik vertolk Gerswhin Mias. Archie is slim en hy hét ouers wat gaan bekommerd raak as hy laat tuiskom, maar hy’s doodbang. Sy frustrasie en woede oor die ongeregtigheid wat sy matriekklas tref, laat hom egter vinnig ʼn grootmens word. Mias laat dié ontwaking real voel, al is daar net agt episodes om dit te doen, en dis nogal merkwaardig.
Die vyftienjarige Francois Retief se spel as die verbouereerde, maar talentvolle boskind Ruben, is trefseker en broos.
Dis hierdie kinders teen die wêreld, tot Inge en haar klein groepie kamerade besluit hulle het genoeg gehad.
Die enigmatiese, maar geheimsinnige sekuriteitskonsultant Jerome Smith (met gravitas vertolk deur Clayton Evertson), verwerk ʼn enorme verlies deur woede en weerwraak.
Lionel Snyders (Charlton George), die skool se opsigter met ʼn donker verlede, verf dag na die dag die graffiti teen die skool-mure toe en is volgens Inge die een om te roep as jou lewe in gevaar is. Die veelsydige George bring, soos gewoonlik, baie diepte na sy karakter.
Bianca Flanders speel die skoolsielkundige, Viola Barends, met ʼn no nonsense-aanslag. Maar dat sy nie onaangeraak is deur die traumatiese stories wat sy in haar kantoor moet hoor nie, is duidelik.
Die skool se nuwe Afrikaans-onderwyser, Cameron le Roux (De Klerk Oelofse) kom na sy eerste klas grootoog in die persoonkamer, prewelend oor die “honde van die hel”. Maar Viola antwoord: “Hulle is almal ewe bang, hulle wys dit net op verskillende maniere.”
Kapp het in Juffrou X ʼn klomp besonderse antagoniste geskep. Brendon Daniels speel die glibberige skoolhoof met die oordrewe selfbeeld perfek, maar sonder dat hy ooit ʼn karikatuur word. Ons het al almal met hierdie tipe gesagsfigure te doen gekry wat die hare op jou arms laat regop staan.
Die draaiboek en regie, herinner nogal aan teater, omdat Kapp met elke toneel skerp fokus op klein details, liggaamstaal, oë en op die energie tussen die karakters waarop die kamera fokus. Jy moet wakker wees vir die leidrade wat hy soos broodkrummels laat val en byhou met die vinnige pas waarteen karakters besluite neem en gebeure ontvou.
Riëtte van der Wat
Jennifer Steyn speel ʼn unhinged, manipulerende hippie, Trish, wat ʼn rehabilitasiesentrum in die bos bedryf en met haar crazy eyes die grille in my ruggraat afgestuur het.
Marlon Swarts se Puma is ʼn gangster wat glo dat dit waarmee hý besig is, ʼn roeping is: van sy liggaamstaal tot sy filosofering oor die lewe en die vrees wat hy met ʼn enkele kyk kan inboesem.
Maar dis veral die walglike polisiekaptein Hermias Kriel (André Jacobs), ʼn slang in wolfsklere, uit wie se mond elke woord slymerig drup. Tot verlede week nog het Jacobs die bad guy Zeev Lansky in Plan B vertolk, maar waar hy dié karakter doelbewus karikatuuragtig en met ʼn stewige skoot humor gespeel het, word kaptein Kriel in Jacobs se hande ʼn sinistere, donker figuur.
Die reeks se agt episodes leen dit beslis tot ‘binge watching’ (ek hét, want ek was gelukkig om die hele reeks vooraf te kyk om te resenseer). Hoewel die vinnige pas waarteen gebeure ontvou die storie vorentoe dryf en die spanning help opbou, sou Juffrou X dalk kon baat by die tradisionele dertien episodes, net om selfs nog meer diepte tot karakterontwikkeling en geloofwaardigheid te verleen.
Cameron se vinnige ommeswaai in die eerste episode van naïewe onderwyser na inspirerende leerkrag vol idealisme, is een so voorbeeld. ʼn Mens koop dit, want die teks is sterk en Oelofse se spel is puik, maar dit voel tog of dié karakter meer tyd nodig gehad het om die “Raka’s” in sy klas se vertroue te wen.
En dan is daar Jerome, wie se groot verlies hom dryf, maar vir wie daar nie regtig tyd is om die gebrokenheid wat dié verlies tot gevolg moes hê, te laat insink nie. Die uitbeelding van die Wiskunde-eindeksamen is ook nie heeltemal akkuraat nie, maar dis TV, so dis okei.
En dis kleinighede. Juffrou X is ʼn storie wat nog lank by ʼn mens bly spook en wat jy wéér wil kyk, sodat jy kan probeer verstaan. Dit gee gesigte en name aan die mense wat elke dag in bendeverwante-misdade doodgaan; aan elke kind in ons land wat self moet sien kom klaar; vir daai onderwysers wat hulle lewens spreekwoordelikheid neerlê vir hulle leerders en oor wie daar dalk, as hulle gelukkig is, in die verbygaan ʼn brokkie oor die skerm flits terwyl die hoofnuus oor korrupte politici en goedbetaalde rugbyspelers op die voorgrond rammel.
Dié reeks kom ruk mens in die bek.
Juffrou X word vanaf Dinsdag, 30 April 2024, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.