Koek, Showmax se eerste Afrikaanse misdaadkomedie met Cindy Swanepoel en Sandra Prinsloo in die hoofrolle, het met min fanfare sy debuut op dié stroomplatform gemaak. Dít terwyl die reeks, neergepen deur die bekroonde kreatiewe skepper Christiaan Olwagen, ’n haas onhaalbare “Heilige Drie-eenheid” van televisie skep: ’n rolverdeling met toneelspelers wat loopbaanbeste vertolkings gee; ’n teks wat toor; en ’n oorkoepelende visie wat dit regkry om selfs die kleinste details tot ’n volmaakte TV-tapisserie te verweef.
Surburban beige
Koek begin met ’n toneel wat die angs van middelmatigheid vasvang. Dis nes Die Heuwels Fantasties se lirieke:
“Middelmatigheid
Ons voorland en ons vrees
Jy sal moet vashou
En leer om dit te ignoreer.”
En as Christelle ’n prys kon wen vir ignoreer, dan sou sy. Want dié beige huisvrou is eintlik ’n mens-weergawe van Joseph se technicolour dreamcoat. Maar fokkit, as daar nie baie lae is om eers af te skraap en af te was en af te baklei nie. Dié amperse bevrydingsproses begin as ’n ontlading as sy in ’n hoop hondepoef trap. Die hond se eienaar, ’n hoogs irriterende weergawe van die (ongelukkig) alomteenwoordige oppervlakkige new age spiritualist wat net nie vir ’n fok laat vir joga moet wees nie, wil nie die kak optel nie. Nou maar toe. Hier is waar Christelle haar versadigingspunt bereik. Te verstane. Hierdie is maar net die oortjies van die seekoei. Die seekoei se gesig, slagtande en reuse-romp is die vermoede dat haar man ’n affair het. Haar man is egter nie net haar man nie. Haar man is ook ’n dokter –die dokter wat sy sou gewees het; wou gewees het. ’n Konstante herinnering van die drome en ambisies wat sy opgegee het toe sy swanger geraak het. Nou is sy deel van die koor wat uit een mond sing: “Om ’n ma te wees, verryk my lewe.”
Dis gou duidelik dat, ten spyte van die groot huis en die onvoorwaardelike liefde vir haar dogter, haar lewe toe nie só ryk is nie.

Vetterige storievleis
Dinge in die reeks verloop vinnig – en dis goed so. Want eintlik is die “affair” net ’n bysaak. Die vetterige vleis van die storie is wat volg nadat Christelle en haar suster, Lulu, besluit om agter die kap van die byl te kom en al die verkeerde afleidings maak. Dit lei hulle uiteindelik tot ’n strip club, Koeksusters, waar hulle te veel drink en ’n skatkis se waarhede in hul lewenslesse ontgin.
Soos dié:
Lulu: Alles vrouens doen dit.
Christelle: Wat?
Lulu: Soek die bliksems uit.
Christelle: Hoekom?
Lulu: Ag, dis ’n kak selfbeeld. Laat jou met jou koek dink.
Olwagen toor
Die gebruik van die woord ‘koek’ – en só dan ook die idees en dubbelsinnighede wat daarmee saamgaan – is ’n geweldige slim vertellings-device wat soos Paaseiers vir die Afrikaanse gehoor in die teks weggesteek word. Maar die is ook dan nie ’n draaiboek wat slim toertjies nodig het nie. Olwagen toor hier in die teenoorgestelde manier as Nico Scheepers in Nêrens, Noord-Kaap. Scheepers laat die vertelling dikwels in die stiltes plaasvind; en wanneer die karakters praat, is dit so dat elke woord tel; swaar met betekenis. Daai teks is ’n amperse weerspieëling van die visuele ruimte, die skone vlaktes waar tragedie en trauma ontstaan en broei. In Koek is dié tipe weerspieëling een van grinterige realisme; die geharwar van sweterige begeertes. Dis menslik. En daarom is dit ook snaaks – dikwels lag-uit-jou-maag-snaaks – en identifiseerbaar. Waar Scheepers met mooi toor, toor Olwagen met kru relatability, terwyl hy dit in ware oorspronklikheid neerlê om te marineer.
Só is woorde nog nie aanmekaargesit nie. Ter voorbeeld, episode drie: “Jou sussie dink haar koek is ’n klooster in Klerksdorp.”
En die reine waarheid wat elke vrou eenvoudig moet eien: “Koeke het soms die sterkste kloue.”
Donker, hartseer skemer deur
Dis juis omdat die teks – soos ordentilike 90’s hip-hop – die wêreld om dit in egte wese weergee, dat die visuele uitbeelding van daai wêreld dan ook so ongelooflik is. Johannes Pieter Nel is hier beide die kinematograaf en die regisseur. Die visuele energie is donker, dikwels amper freneties, weerspieëlend van die onvoorspelbaarheid en onstabiliteit van die wêreld waarin dit afspeel. Terwyl dit real en eg is, is daar ook ’n permeating sadness wat tussen die luiperdpatrone, sequins, en rou begeerte deurskemer. Soveel so, jy vergeet amper hierdie is fiksie.

Akteurs steel die kollig
So briljant soos Olwagen se teks en Nel se regie en oog, is dit die rolverdeling wat hier katjie van die baan is. Die spel is deur die bank boeiend – veral waar ons akteurs sien in rolle wat baie onverwags is.
Clayton Evertson en Jacques Bessenger lewer vertolkings wat heerlik anders en pret is, met Sandra Prinsloo wat as die bendebaas/matriarg/bekommerde en gefrustreerde ma Moekie, ’n helse job doen. Llandi Beeslaar as haar dogter, Stephanie, gaan vir jare – if not forever – vir dié rol en haar amper bomenslike vaardigheid om die kompleksiteit te speel sonder om ’n grap daarvan te maak – onthou word. Ashley de Lange as Lulu is vrygewig en, soos Stian Bam as Christelle se man, skep hulle ruimte vir Cindy Swanepoel om haarself te vestig. Waarlik ’n loopbaanbeste vertolking vir dié aktrise wat haar karakter se rondomtalie transformasie met abandon aanpak.
Ten einde is daar steeds oorblyfsels van ’n kulturele programmering – hoe dan nou anders?
“Matigheid voor oë
Stadig oor die klippe
Hou die blink kant bo.”
Die misdaadkomedie Koek is nou op Showmax beskikbaar om te stroom, met nuwe episodes wat weekliks op Donderdae vrygestel word.