White Lies begin dalk met ’n moord, maar wat die ondersoek daarna opdiep, krap van Kaapstad se lelikste lelik oop. Nie alles is mooi hier by die see nie. Beslis nie as geld eers ter sprake is nie.
Meestal volg ons die joernalis Edie Hansen (vertolk deur die Game of Thrones-aktrise Natalie Dormer) soos sy probeer sin maak van haar broer se moord in die weelderige Bishopscourt in Kaapstad se suidelike voorstede. Haar broer se twee tienerkinders loop veral onder die veteraanspeurder Forty Bell (Brendan Daniels) se vrae en valkoog deur, terwyl daar ook trane langs hul ma se bed in die hospitaal, waar sy in ’n koma lê, val. Deurentyd word nie net die onbeholpe polisiediens en wydverspreide korrupsie in oënskou geneem nie, maar ook die geraamtes wat die rykes diep, diep, diep in hul kaste, agter die ontwerpersklere, wegsteek.
Uit die staanspoor, en ongeag die meriete en geloofwaardigheid van Darrel Bristow-Bovey se draaiboek, is White Lies se teks, binne die konteks van ander reekse wat onlangs vrygestel is, soos ’n steak wat oorgaar by jou aankom.
So boeiend as wat Bristow-Bovey se premis vir die reeks is, só generies is die woorde wat die akteurs opsê. Die taal is onwaarskynlik; die sinskonstruksie ongemaklik; die uiteindelik performance van daai teks bring kloutjie by die oor as jy nog onseker was oor wat dit beteken as iemand soos doyenne Sandra Prinsloo jou op ’n dag vertel dat ’n akteur niks sonder ’n goeie teks is nie. En ja, hierdie akteurs speel. Met oorgawe en nuanse en chemie wat knetter. Maar neffens die oppervlak is daar die frustrasie van potensiaal wat wil-wil uit, maar net-net deur die vingers glip. Daai steak proe steeds lekker, maar dit kon nog beter.
Buite die konteks van ander onlangse vrystellings, waaronder Catch Me a Killer en Koek, sou dié tekort nie so skreiend wees nie. Maar binne die huidige konteks van plaaslike televisie, en veral die klem wat op sterk en goed ontwikkelde draaiboeke gelê word, is ’n vergelyking met onder andere Amy Jephta en Christiaan Olwagen se toorwerk met woorde geregverdig. Olwagen veral is ingeskakel op die manier hoe mense waarlik praat – ’n veranderlike wat seldsaam deur draaiboekskrywers vermag word. In White Lies is daar egter net ’n veronderstelling van identifiseerbaarheid wat die storie en die vertelling se trefkrag aantas.
Maar sou ’n mens die aardige drip van die teks eenkant toe manoeuvre, word jy egter bederf – en besonders so – deur ’n helse meevoerende whodunnit. Met die storie en sy raaisels – en daar is volop kinkels om jou besig te hou – sit Bristow-Bovey weinig ’n voet verkeerd. Nes jy dink iets is uitgeklaar… Nog ’n curveball! Ja, tesame met John Trengrove, Catherine Cooke en Olwagen wat mekaar met die regie aflos (asook die gebruik van ’n Netflix-vertellingstruktuur soos die TV-kenner Thinus Ferreira tereg in sy resensie opgemerk het) word die kyker op ’n senutergende reis geneem. Een wat jou op die punt van jou stoel laat sit – en heeltyd daar hou.
Die dubbelsinnigheid van die reeks se temas is talryk. Skiet met ’n (tema)titel, hier sal jy dit waarskynlik vind. Daar’s die kompleksiteite geheg aan die bestaan van buitelanders in Suid-Afrika. ’n Harde, allenige een sonder vangnette, ondersteuning, en somtyds selfs menseregte. Bishopscourt, waar die storie afspeel, is “the whitest place in Cape Town, which makes it the whitest place on Earth” (aldus Bristow-Bovey by die reeks se première in einste Kaapstad) wat sosio-ekonomiese en ras-vraagstukke op die voorgrond plaas.
Dan is daar natuurlik die absolute onbevoegdheid van die Suid-Afrikaanse polisie om eintlik enigiets reg te kry. Wat nog om die moord van Edie se vervreemde broer in ’n gewapende aanval in sy huis op te los. Vooroordeel is nog een wat sterk deurkom. Edie se neef en niggie word aanvanklik van hul pa se moord verdink. Maar wie gaan ’n huishulp se weergawe van die storie eerder as daai twee vrome wit gesiggies glo? Mos.
Tog, uiteindelik is die greep wat dié storie op jou verbeelding en aandag het allesomvattend. Dis ’n aanhoudende gewonder en geworstel oor wat volgende kom. En dís waarlik genoeg rede om te kyk.
White Lies is vanaf 23 Desember 2024 op Showmax beskikbaar om te stroom.
Hierdie resensie het oorspronklik op 13 Maart 2024 verskyn met die reeks se première op M-Net. Die resensie is aangepas met inligting oor die reeks se nuwe stroombesonderhede op Showmax vanaf 23 Desember 2024.