Die Showmax-reeks Catch Me a Killer draai om Suid-Afrika se eerste reeksmoordenaar-profiler, Micki Pistorius, en is gegrond op Micki se gelyknamige memoires.
Die misdaadreeks, wat sedert dit in vroeg-Februarie vrygestel is deur die bank hoë lof ontvang het, vertel oor die loop van tien episodes hoe dié forensiese sielkundige op Suid-Afrika se mees gevreesde moordenaars jag gemaak het. Elke episode fokus op een van die ondersoeke waarop sy gewerk het – insluitend die sogenaamde Cleveland Killer-saak en die bloedspoor wat Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken, agtergelaat het.
Volgens Charlotte was sy met die eerste lees van die draaiboek oombliklik meegevoer – sy was amper desperaat om Micki te vertolk, vertel sy. Boonop, al was dit een van die uitdagendste rolle van haar loopbaan met veral die grusame aard van die reeks wat ’n emosionele tol geëis het, sal sy nie huiwer om dit als weer oor te doen nie.
Dié aktrise is ook bekend vir haar rol as Catherine van Aragon in The Spanish Princess, en buiten Game of Thrones is sy ook in reekse soos Bancroft en The English Game, asook flieks soos The Theory of Everything, en The Nun te sien. Charlotte het ook ’n rits donker gruwelflieks wat vanjaar uitgereik word, waaronder The Piper, Bury Me When I’m Dead, en One of Us.
Die reeks is werklik besonders – waarlik een van die beste ware misdaadreekse wat nog in Suid-Afrika vervaardig is. Jy het al in vorige onderhoude vertel dat jy byna onmiddellik deur die teks ingetrek is toe jou agent die draaiboek vir jou gestuur het, maar wat was dit van die skryfwerk (onder meer deur die bekroonde skepper Amy Jeptha) wat jou só meegevoer het?
“Toe ek die eerste twee episodes wat Amy Jeptha geskryf het, gelees het – ek het net gedink dit is regtig die beste draaiboeke wat ek in ’n baie lang tyd gelees het. Amy is so ’n briljante skrywer. Die skryfwerk was so naturalisties; die storie het my regtig ingetrek.
“Dit is selde dat jy ’n karakter vind wat deur hierdie soort reis gaan; en dat die materiaal so fassinerend is. Dit was ’n geskenk vir my. Dit het my brein laat brand, weet jy. Ek is ’n regte nerd, so (ek is gaande daaroor) as ek ’n rol vind wat ek moet uitpluis en bestudeer. Nadat ek die tekste gelees het, was ek net desperaat om haar (Micki) te speel.”
Hoe het jy besluit om jou vertolking van Micki te benader en uit te plot?
“As ’n karakter is Micki veelvlakkig, kompleks en briljant, maar sy skiet ook soms tekort. Daar was dus ’n skatkis van goed om te ontgin. Eerlikwaar, ek wens soort van dat ek die hele ding (weer) kon doen. Daar is soveel meer wat ek in die skryfwerk wil ontgin.
“Ek het my vertolking baie op die skryfwerk laat berus. Vir voorbereiding het ek al Micki se boeke gelees, van haar PhD-studies, en natuurlik, als wat in die draaiboek was. Maar ek het nooit probeer om Micki na te boots nie. Ek dink sy is wonderlik, maar ek wou nooit probeer om ’n kopie van haar te wees nie. Ek wou haar eerder uitbeeld soos sy geskryf is, so eg as wat ek kon en met respek vir die reis wat sy meegemaak het. Micki het al vertel dat wanneer sy in die gedagtes van ’n reeksmoordenaar moet leef, betree sy die ‘abyss’. Ek het daarom net probeer om myself so emosioneel beskikbaar as moontlik te hou, sodat ek daardie reis van haar tot die beste van my vermoëns kon eer.”
Micki as karakter is reeds kompleks, maar omdat Micki ook in die regte wêreld bestaan, heg dit ’n tipe intieme intensiteit tot die rol. Jy het nou reeds genoem dat jy haar ervarings so outentiek as moontlik wou vertolk – het daardie begeerte ooit gelei tot jou persoonlike grense wat oorskry word, en ’n geval van die emosionele tol van die werk wat saam met jou huis toe gaan?
“Om die waarheid te sê, die grense het teen die einde van die reeks ’n bietjie vervaag. Maar ek is nie die soort akteur wat ’n karakter net kan optel en dan weer neersit nie. Ek is ’n baie poreuse akteur. En dit sou ook vir my soos ’n onreg gevoel het om nie daardie ruimte te eer nie.
“Micki het regtig deur so ’n emosionele reis gegaan dat ek nie geweet het hoe om reg te laat geskied sonder om myself ook deur daardie donkerte te sit nie. Ek kon elke aand huis toe gaan en net daarvan vergeet. En toe ons klaar met die reeks was, kon ek ’n groot hoeveelheid genesing doen, maar, jy weet, Micki het destyds nooit die geleentheid gehad om dit te doen nie. Dit het haar hele lewe oorheers en daar was geen ontsnapping daarvan nie. En ook, sy het die verantwoordelikheid gehad van dat hoe vinniger sy gewerk het, hoe minder mense het gesterf. Ek kon, in teenstelling, ’n vlak van afstand handhaaf. Vir Micki was daar nooit enige van daardie (beskermende) versperrings nie. Dit was álles haar verantwoordelikheid. Dit is te verstane dat dit ’n groot tol geëis het.”
Ware misdaadverhale geniet al vir ’n wyle ’n bloeitydperk – en dit lyk nie asof die genre se gewildheid sommer gou gaan taan nie. Wat onderskei Catch Me a Killer van ander reekse in dié genre?
“Daar is baie ware misdaadverhale, ja. Hierdie een is vir my skokkend, want dit was eintlik so onlangs. Dit het in die 90’s gebeur, en dit is dus ’n deel van die geskiedenis wat baie mense in Suid-Afrika onthou. Dit is baie teenwoordig vir hulle.
“Dit is egter ook die aard van die stories (wat ’n rol speel)… Toe ek die eerste keer daarvan uitvind, was ek soos, ‘Hoe het ek nie al hiervan gehoor nie?’ Al die stories is werklik skokkend en hartverskeurend. Die stories wat ons in die reeks vertel, is so skokkend dat ek amper nie kan glo dat dit nog nie voorheen vertel is nie.”
Daar was sekerlik dae wat ek wankelrig was. Maar dit was die mees bevredigende ervaring van my loopbaan. As ek kon teruggaan en dit weer doen, sou ek nie ’n oomblik wag nie.
Charlotte Hope
Dis ’n narratiewe uitbeelding van ware gebeure, maar hoe skep ’n mens empatie vir reeksmoordenaars? Hoe kry jy kykers om in te koop?
“Micki skryf in haar boek, ‘Reeksmoordenaars is nie monsters nie. Hulle is mense met gemartelde siele. Ek sal nooit goedpraat wat hulle doen nie, maar ek kan hulle verstaan.’ En ek dink dít is wat belangrik is. Dit is natuurlik ’n kolossale prestasie om empatie met ’n reeksmoordenaar te probeer hê; om hul motiverings te verstaan.
“Maar ek dink as jy begin om die sielkunde te ontleed, die impak van hul kinderjare, hoe en hoekom hulle geword het wie hulle is, kan jy begin verstaan, en met daardie begrip is dit moontlik om ’n vlak van empatie te vind. Dit is nie te sê dat wat hulle gedoen het nie heeltemal aaklig en grusaam is nie.
Nadat ek die tekste gelees het, was ek net desperaat om haar (Micki) te speel.
Charlotte Hope
“Dit fassineer my egter om te probeer verstaan hoekom iemand soos ’n monster optree. Ons word nie as monsters gebore nie – ek glo nie ons word as inherent bose mense gebore nie. Mense tree op bose maniere op as gevolg van aaklige omstandighede. Ek dink as jy daardie omstandighede verstaan, kan jy begrip hê sonder om hul dade goed te praat, soos Micki dan ook sê.”
Was daar ooit dae wat die rol te veel van ’n emosionele tol geëis het?
“Dit was regtig uitdagend en daar was dae waar dit beslis te veel geword het.
“In die eerste episode is daar ’n oomblik waar ek ’n dooie hand in die sand sien. Net om daardie hand te sien en te besef dat dit werklik gebeur het. Hierdie seun se hand is regtig in die duine gevind… Dit het my ’n bietjie unhinge. Ek onthou hoe ek daardie dag huis toe gegaan het en met Micki gepraat het. Sy was so ongelooflik. Sy het my regtig deur dit ondersteun, en sy het gesê, “Jy weet, as jy te ver in die abyss gaan, sal ek jou kom haal”. Sy was so gaaf daaroor.
“Daar was sekerlik dae wat ek wankelrig was. Maar dit was die mees bevredigende ervaring van my loopbaan. As ek kon teruggaan en dit weer doen, sou ek nie ’n oomblik wag nie. Die materiaal was so ryk en bevredigend; die karakters was so pragtig ingekleur en die mense met wie ek gewerk het, was regtig so ongelooflik. Soms is dit besonders lonend om moeilike goed te doen as jy deur sulke briljant mense omring word.”
Jy het die geleentheid gehad om met van Suid-Afrika se beste akteurs te werk – hoe was daardie ervaring?
“Die rolverdeling was vir my so spesiaal dat ek enigiets sou gee om weer met daardie mense te werk. Hulle het die ervaring vir my so spesiaal gemaak. Die ondersteuningsnetwerk wat hulle vir my geskep het, was ook baie belangrik. Ek dink as jy nie daardie ondersteuningsnetwerk het nie, kan die abyss regtig posvat, maar ek het voortdurend mense om my gehad wat my ondersteun het en gereed was om my te vang as ek selfs vaagweg gestruikel het.”
Stroom Catch Me a Killer op Showmax.