Menu terloops
In Onderhoude [29 Jan 2024]

Kay Smith as Laylla in ‘Suidooster’: ‘Geseënd’ met karakters wat help om ‘stem te bevry’


Haar karakter Charlie in die kykNET-drama ‘Projek Dina’ het ons op die punt van ons stoele gehou, terwyl haar geliefde karakter Debra in ‘Arendsvlei’ kykers se harte een vir een gesteel het. Nou is die lewenslustige Kay Smith te sien as Laylla in ‘Suidooster’ en ons kan nie wag om te sien hoe dinge vir haar en die skurk turned gentlemen Nazeem (Irvine van der Merwe) uitdraai nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom Suidooster aanlyn

Kay Smith as Laylla in ‘Suidooster’: ‘Geseënd’ met karakters wat help om ‘stem te bevry’

Gaan Kay Smith se Laylla die een wees saam met wie Nazeem (Irvine van der Merwe) gaan oud word? Of is sy dalk te goed vir dié konkelende skurk en begin hy wéér met sy skelmstreke. Suidooster-kykers sal maar moet wag en sien, want Kay wil niks oor hierdie opwindende storielyn verklap nie. 

Kay Smith as Llayla in Suidooster
Kay Smith wil niks oor haar karakter, Laylla, se verhouding met Nazeem (Irvine van der Merwe) verklap nie. Foto: Skermgreep

Wou rol met waardigheid hanteer

Laylla is die eerste Moslem-karakter wat Kay vertolk en al het hierdie aktrise op die Kaapse Vlakte grootgeword met die viering van Kersfees en Eid (of Labarang soos hulle dit op die Kaapse Vlakte noem), was dit tog interessant vir haar om die kultuur ’n bietjie dieper vir dié rol te leer ken. 

“Ons almal het mos maar tussen Moslems grootgeword, so jy het ’n idee van die kultuur en die mense. Maar Laylla is meer van ’n modern-modest  Moslem en ek moes heeltyd seker maak dat ek nie daardie fyn lyn tussen acting en realiteit oorskry nie. Ek wou vir haar daardie gemaklike moderne vibe gee, maar sonder dat ek die kultuur of enige ander Moslem beledig. Ek wou die rol met die nodige respek en waardigheid hanteer,” benadruk sy. 

“Daarvoor moes ek ook ’n bietjie navorsing doen, want ek kan nou nie met my 33-jarige idee van wat modern en modest is die rol aanpak nie. Ek moes gaan kyk het hoe die jonger modern-modests op sosiale media lewe om ’n beter idee te kry.” 

Ek voel elke karakter het iets van my. My journey met myself het kort voor Arendsvlei begin, maar elke rol wat ek sedert Arendsvlei gedoen het, en die rol van Debra self, het bygedra tot daardie journey. Op ’n manier het elke karakter ’n deel van my kom heelmaak of dinge kom wegvat wat ek vir jare diep begrawe het.

Kay Smith

Oor haar karakter kan sy nie genoeg goeie dinge sê nie. Kay was nog altyd kieskeurig en baie bewus van die karakters wat sy vertolk. Tot dusver het haar kieskeurigheid haar net positief gedien. Sy beskou elke karakter wat sy oor die afgelope ses jaar gespeel het as ’n groot seëning in haar lewe en deel van haar healing journey.

Iets van Kay in elke karakter

“Ek voel elke karakter het iets van my. My journey met myself het kort voor Arendsvlei begin, maar elke rol wat ek sedert Arendsvlei gedoen het, en die rol van Debra self, het bygedra tot daardie journey. Op ’n manier het elke karakter ’n deel van my kom heelmaak of dinge kom wegvat wat ek vir jare diep begrawe het,” vertel Kay. 

“Elke karakter het vir my ook waarde kom gee en in ruil daarvoor het ek my bes gedoen om ’n stem te gee en spasie te hou vir elke groep wat ek met my karakters verteenwoordig. Vir ’n baie lank tyd het ek my eie stem onderdruk, maar sedert ek die werk in terapie begin doen het om myself beter te leer ken en te bevry, het my karakterkeuses baie meer belangrik geword.” 

Sielsgesprek

Vir haar is dit baie belangrik dat of ’n karakter of hul storie met haar siel praat. As iets binne haar vir haar sê hierdie is nie die regte karakter of rol vir jou nie, dan probeer sy om na daardie stem te luister. 

“Ek was baie geseënd oor die afgelope paar jare met wonderlike projekte. Soms raak ’n mens moedeloos en baklei jy met die Here oor rolle wat jy bitter graag wil hê, maar nie kry nie. Of wanneer jy planne maak en die Here jou skielik redirect. Vir elke 500 oudisies mag jy soms net een van daardie rolle kry. Tot dusver was ek altyd verras deur die plekke en rolle waarheen die Here vir my ge-redirect het,” sê sy. 

“Soms beteken dit dat jy met blinde vertroue en no chicken in hand ’n rol moet afkeur. Maar as jy weet wie jy is en glo in jou eie padkaart sal dinge altyd uitwerk soos wat die Here dit beplan het.” 

Kay Smith as Laylla in Suidooster.
Die vonke spat tussen Nazeem (Irvine van der Merwe) en Laylla (Kay Smith) in Suidooster. Foto: Skermgreep

Vier seisoene vrou

Wanneer jy met Kay gesels, kan jy sommer haar ligte energie aanvoel. Sy kyk na alles in haar lewe as ’n seisoen en met elke oorwinning en uitdaging kom ’n nuwe een. 

Life will constantly test you, but consistency in life is the test. Wanneer ek deur moeilike tye gaan, of dit nou werk of persoonlik is, dan visualiseer ek myself op ’n tropiese eiland met ’n cocktail in my hand. Ek ruik die see en voel die son op my gesig. Waar ook al daardie plek is, is dit somer en ons almal weet die somer is ’n lekker en goeie tyd. Wanneer ek deur moeilike tye gaan, is dit my wintertydperk, maar ek embrace elke seisoen, want ek weet dit sal nie vir ewig aanhou nie,” sê sy. 

“In my wintertydperk dra ek sommer gemaklike klere, kook baie comfort-kos en drink sommer lekker cognac; dít is mos immers ’n winterdrankie. Want sonder die reën en die aaklige kouer tye, sal ons nooit die mooi bloeisels of lekkerte van die warmer somerdae kan geniet nie.”

’n Propvol hart

Kay raak onmiddellik opgewonde wanneer ek vra in watter tydperk sy haarself tans bevind en sê toe vol vertroue… “ek is in my lentetydperk”. 

“Ek dink winter-depressie is ’n regte ding vir my en ek is tans in ’n oorgangseisoen. Ek leer al meer om eerlik met myself te wees oor hoe ek regtig voel en waar ek myself tans in my loopbaan en persoonlike lewe vind. Daar is baie opwindende dinge waarna ek uitsien hierdie jaar, maar ongelukkig kan ek nog nie daaroor praat nie.” 

Kay sê op die oomblik vloei haar hart oor van dankbaarheid en wag sy met opgewondenheid vir alles wat voorlê.

Uit al haar karakters het Charlie ’n spesiale plek in haar hart, want daardie karakter se vertroue en spunk het iets binne haar kom wakker maak. Tog is sy ook bly dat sy deur Laylla se integriteit weer herinner is aan die belangrikheid om jouself te wees en by jou eie waardes te staan. 


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van kosprogramme
0

Afrikaans kook groot! 10+ Afrikaanse kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Ons is maar net mense, ons dink met ons pense... En daar is wraggies baie kosprogramme – in Afrikaans – waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer
Sien alle opsies