Menu terloops
In Onderhoude [15 Jan 2024]

‘Spesiaal én bittersoet’ sê Je-ani Swiegelaar oor Naomi se hartoorplanting-storielyn op ‘Binnelanders’


Onlangs het kykers ’n ongelooflike aangrypende storielyn in ‘Binnelanders’ sien uitspeel met Naomi se lewe – en hart – wat aan ’n draadjie gehang het. Je-ani Swiegelaar vertel oor die dramatiese en emosionele tuimeltrein wat haar karakter deurgemaak het.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou 'Binnelanders'

‘Spesiaal én bittersoet’ sê Je-ani Swiegelaar oor Naomi se hartoorplanting-storielyn op ‘Binnelanders’

Je-ani Swiegelaar is al vir meer as ’n dekade deel van die Binnelanders-familie. Oor die jare het Je-ani, en só dan ook Naomi, diep in kykers se harte gekruip. Sodanig word sy ook beskou as een van die Binneland-gemeenskap se steunpilare. Sy hou immers die jong verpleegsters op hul tone en is almal se goeie vriendin. Kykers én die Binneland-familie was dus stomgeslaan toe hulle die verpletterende nuus van Naomi se hartprobleme uitvind.

Dit het als begin met Naomi se hart wat beskadig is toe sy ’n rukkie terug deur die bose Marissa (Marlee van der Merwe) vergiftig is.

Vinnig is daar planne gemaak – sommige onwettig, ander nie. Maar niks in Binneland-kliniek verloop ooit sonder ’n paar klippe wat eers uit die pad gerol moet word nie. 

Je-ani se toneelspel vir dié storielyn was besonder roerend en sy vertel dat dit juis vir haar lekker is om sulke intense storielyne aan te pak en uit haar gemaksone te beweeg. 

terloops het met Je-ani oor lewe voor Binnelanders gesels, hoe sy vir dié hartoorplanting-storielyn voorberei het, en waarna sy vanjaar uitsien. 

Dit is so ’n bittersweet ding dat iemand anders hul lewe of geliefde moet verloor om hul engine-kamer vir iemand anders te gee.

Je-ani Swiegelaar

Jy is al meer as tien jaar deel van die Binnelanders-span, maar voor dít was jy ’n onnie. Is jy bly dat jy die loopbaanskuif gemaak het? Is daar iets wat jy mis? 

“Die skuif het ek baie maklik gemaak, want ek het drama gaan studeer. So die einddoel was altyd om ’n aktrise te wees, ongeag in watter kapasiteit. Ek is baie bly dat dit vinnig vir my gebeur het en dat ek vinnig ’n gap gekry het.

“Ek gaan nie jok nie, my gunsteling-periode was pouse as ek nie terreindiens gehad het nie! Maar as ek iets moet kies wat ek mis van my onnie-dae is dit die roetine. Ek dink dit was baie lekker om te weet jy begin 07:00 en maak 13:00 klaar. Natuurlik is daar altyd merkwerk of voorbereiding, maar jy weet jy is tussen daai tyd aktief besig en dan kan jy die res van jou dag beplan. In ons bedryf het jy nie regtig ’n vaste roetine nie. Jou skedule verander en jy werk ook dikwels oor naweke.”

Gebruik jy jou onderwyskennis as ’n aktrise? En sal jy ooit na die klaskamer terugkeer?

“Ek dink wat ek van die onderwys sal deurtrek – en dit maak nie saak in watter beroep jy staan nie – is die dissipline. Om altyd betyds te wees en respek vir jou kollegas te hê. Ek dink in enige beroep is dissipline belangrik, maak nie saak wie jy is en wat jou rol daar is nie.

“In hierdie stadium van die geveg sal ek nie teruggaan nie. Onderwysers het deesdae ’n baie moeilike taak en ek haal my hoed af vir elkeen van hulle. Ek dink dit is een van die beroepe waar ons dalk ’n bietjie meer aandag en liefde kan insit, veral omdat hulle die leiers en dokters van die toekoms oplei.

“Dat ek baie lief is om kennis oor te dra, is ’n feit. Ek geniet dit byvoorbeeld baie om dramawerkswinkels en -klasse aan te bied. Om kennis oor te dra dink ek is ’n groot voorreg en verantwoordelikheid wat mens het.” 

Televisie verander maar aanhoudend. Wat is van die grootste verandering wat jy oor die afgelope tien jaar op die Binnelanders-stel ervaar het? 

“Ek dink die enigste konstant in die lewe is verandering. Jy moet aanpasbaar wees. Karakters kom en gaan, akteurs kom en gaan, regisseurs kom en gaan. Ek dink hoe ’n mens daarby aanpas en hoe jy saam met daardie verandering groei, is belangrik. 

“Naomi het nie regtig verander in terme van morele waardes en sulke goeters nie. So, dit is altyd lekker om te sien dat ’n mens so vas is in jou beginsels dat jy nie sommer ’n ander koers sal inslaan nie. Baie veranderinge het in haar lewe plaasgevind, maar sy het saam met dit gegroei en ’n beter mens geword as gevolg van daardie veranderinge. Sy het nie toegelaat dat omstandighede haar as mens verander nie.”   

Je-ani Swiegelaar
“Die veranderings in haar lewe en die struikelblokke wat sy overcome het, het definitief van haar ’n sterker mens gemaak,” vertel Je-ani Swiegelaar oor haar Binnelanders-karakter, Naomi. Foto: Verskaf

Hoekom dink jy het Naomi so diep in kykers se harte geklim?

“Die veranderings in haar lewe en die struikelblokke wat sy overcome het, het definitief van haar ’n sterker mens gemaak. Ek dink soms kan sterk wees, gesien word as arrogant of moeilik, maar ek dink dit is dalk net omdat mense rondom haar stagneer het. Ek dink regtig dat sy ten goede verander en gegroei het.”

Jy was al deel van ’n hele paar groot storielyne. Wat onderskei hierdie hartoorplanting-storielyn? 

“Dit is altyd ’n riem onder die hart wanneer die vervaardigers en skrywers vir jou met so ’n groot storielyn vertrou. Om dit met respek en sagkens te hanteer, is so belangrik, veral oor Kersfees. Kersfeestyd is veronderstel om ’n spesiale tyd in mense se lewens te wees, maar die realiteit is daar is verskriklik baie mense wat iemand ken in die hospitaal, dalk self in die hospitaal is, of iemand kort voor Kersfees verloor het. So om hierdie storielyn met sensitiwiteit te benader, was baie belangrik.

“Wat hierdie storielyn anders maak, is dat dit fisiek baie uitdagend was omdat so ’n persoon met hul asemhaling sukkel. Dit was nogal moeilik en ek het met tye duiselig geraak omdat ek so vlak moes asemhaal.

“Ek dink ook dit is ’n baie spesiale storielyn omdat ’n hart so ’n persoonlike orgaan is. Dit is die engine-kamer, dit kry die bloed by al die belangrike organe uit en hou die liggaam aan die lewe. As ons lief kry, dan word daar na die hart verwys en wanneer ons deur moeilike tye gaan, is ons hartseer.

“Maar dit is so ’n bittersweet ding dat iemand anders hul lewe of geliefde moet verloor om hul engine-kamer vir iemand anders te gee. Die sensitiwiteit met so ’n storielyn is baie belangrik en die regisseurs het ’n goeie job gedoen en die hele produksiespan het ons soos gewoonlik bygestaan. Die make-up-afdeling het ’n fantastiese job gedoen en daar is masjiene gehuur om dit so realisties as moontlik te maak.

“My werk was eintlik net om te lê en die storie te vertolk. Ek het maar die punt agter die sin gesit wat deur ’n groot produksiespan gebou is. Ek vertrou mense gaan diep geraak word deur hierdie storielyn en ek hoop dit bring hoop.”

Op die oomblik spandeer Naomi baie tyd in die bed. Is dit moeiliker vir jou as akteur wanneer jy net op jou gesigsuitdrukkings moet staatmaak?

Je-ani Swiegelaar Binnelanders Naomi
Je-ani Swiegelaar as Binnelanders se Naomi. Foto: Skermgreep

“Ja, dit was nogal ’n challenge om so doodstil te lê. Ek is maar iemand wat van nature daarvan hou om te beweeg. Ek kan nie vir lank stilsit nie, maar ek het geweet dat dit vir die storielyn belangrik is. Iemand wat in die bed lê en basies deur masjiene aan die lewe gehou word, kan mos nou nie baie beweeg nie. En gelukkig is TV so ’n medium dat jy ’n hele storie met slegs jou gesigsuitdrukkings en oë kan vertel.

“Ek moes baie daarop staatmaak en nog steeds die storie so goed as moontlik vertolk deur net my oë en gesigsuitdrukkings. Dit was ’n bietjie van ’n challenge, maar dit is weereens so goed hanteer en die kamerawerk is so goed gedoen, dat hulle die kleinste bewegings kon optel. 

Hoe berei mens voor om so ’n storielyn te vertolk? 

“Ek is iemand wat nie te veel navorsing wil gaan doen nie. Natuurlik moes ek navorsing doen oor die pompmasjien en hoe iemand wat wel met hul hart sukkel asemhaal, maar ek is maar ’n aktrise wat dit in die oomblik wil ervaar. Ek dink dit gaan dan so realisties en natuurlik as moontlik wees, want enige persoon wat al in so ’n situasie was, weet nie hoe hulle gaan optree nie. Hulle weet nie hoe dit is om so te voel of om vlak asem te haal nie, so ek het vir myself besluit dat ek dit ook in die oomblik wil ervaar. Ervaar dit saam met die karakter en laat die dialoog jou lei. Dit is hoe ek al my storielyne aanpak.” 

Wat het jy en Naomi in gemeen en wat het jou tyd in haar skoene vir jou oor jouself geleer?

“Ons liefde vir rugby! Ek is nou wel nie ’n Cheetah-supporter nie, ek is Stormers al die pad! Dan ook ons morele waardes. Ek is iemand wat nogal sterk op my beginsels is en lewe daarvolgens tot die beste van my vermoë. Ja, soms dwaal ’n mens af, maar ek het gelukkig ’n baie goeie en sterk support system wat my accountable hou. My ja is my ja en my nee is my nee. Soms kan dit dan voorkom asof ek ’n moeilike mens is, maar ek gaan nie my siel prysgee vir iets waarmee ek nie mee saamstem nie. Ek is iemand wat vinnig praat as iets my pla en Naomi ook.

“Met so ’n karakter het ek net weer besef, dit is heeltemal oraait om beginsels en waardes te hê. Niemand gaan minder van jou dink nie en dié wat wel minder van jou dink, moet dalk ’n bietjie introspeksie doen.” 

Waarna sien jy die meeste hierdie jaar uit?

“Ek is nie iemand wat voornemens maak nie, maar ek wil ’n bietjie meer tyd vir myself in 2024 hê. Jy jaag en raak besig en vergeet om tyd met jouself te spandeer, al is dit op jou bank terwyl jy ’n show binge.

“Ek gaan steeds besig wees, want ek ken nie iets anders nie, maar ek wil ook ’n bietjie stilstaan. Ek wil nie net ja sê omdat ek moet nie, maar omdat ek wil.

“Ek hoop almal check meer met hulself in om seker te maak hulle cope en dat jy okay is. Dit is my wens vir Naomi, Je-ani en almal wat ek ken.” 


Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies