Op 26 Desember is dit die einde van ’n era! Ná 23 onvergeetlike jaar het die tyd uiteindelik gekom om ons geliefde Hillsiders van 7de Laan te groet.
Suid-Afrikaners het die nou ikoniese Oppiekoffie en die Hillside-familie vir die eerste keer op 4 April 2000 ontmoet en hoewel stelle, temaliedjies, families en karakters oor die jare verander het, het die hart, opbouende energie en menslike verwante storielyne verskeie generasies na dié sepie gelok en vasgenael voor die kassie gehou.
Soos tegnologie en vermaak verander het, het 7de Laan ook aangepas, en oor die jare heen het ons al op eilande verdwyn, deur siektes gebid, meer as een ‘’dooie’’ persoon weer terug verwelkom, prison breaks beleef, ’n vliegtuigongeluk aanskou en selfs gesien hoe meer as een persoon onverwags hul sig verloor… Maar ons het ook gesien hoe families herenig word, hoe mense bo hul omstandighede uitstyg en hoe liefde die grense tussen ras, kultuur en meer onklaar gemaak het.
Lank voor al die drama, omstrede storielyne en komedie wat ons by Beleef, Stasie Ses, Bruynwaves, die hospitaal en selfs die gevangenis vermaak het, was daar Eclectic-E, Theron & Terreblanche, Ryno se boekwinkel, Bart se deli en Kiriyakis-De Lange. As jy hierdie plekke onthou, gee jy ongelukkig jou ouderdom weg! Maar ongeag wanneer jy die Hillsiders ontmoet het, is daar een ding wat nooit verander het nie: Plaaslike kykers se lojaliteit en liefde vir die karakters en die journeys waarop hulle ons geneem het.
terloops het met drie Hillsiders gesels wat dalk nie op dag een daar was nie, maar wat wel oor die afgelope paar jaar diep in kykers se harte gekruip het en vir groot angsaanjaende en hartroerende storielyne gesorg het. Hier is wat Nazli George, Carina Nel en Deirdre Wolhuter die meeste van hul tyd op 7de Laan gaan mis.
(Lees ook ons onderhoude met Nina Swart, Frank Rautenbach en Nobuhle Mahlasela waarin hulle ook hul herinneringe van 7de Laan deel.)
Ivy Petersen, vertolk deur Nazli George
Hoe lank was jy op 7de Laan en wat onthou jy van jou eerste dag?
“Ek was op die program vir vier jaar en al wat ek onthou is hoe almal my onmiddellik verwelkom het.”
Watter storielyn het jou die meeste geraak en watter storielyn was jy die meeste angstig oor?
“Die Petersen-gesin wat van die plakkerskamp na hul eie huis getrek het, was magic. Wat hulle bymekaar gehou het, is die feit dat hulle ’n familie was wat saam gebid het. Dít was pragtig. Ek was die mees bekommerd oor die Alzheimer-storielyn. Dit was ’n fyn lyn, want baie het gedink Ivy het Alzheimers en gaan uit die show uit. Maar sy het nie eintlik dit gehad nie, dit was ’n breingewas. Dit was ’n storielyn wat baie mense geraak het, want ’n mens sien dit so baie keer in ons eie families. Dit was baie spesiaal en aangrypend.”
Wat het vir jou uitgestaan op die laaste dag van verfilming?
“Ek het altyd geweet dit gaan ’n bittersoet en emosionele oomblik wees. Ek het net gestaan en gedink, ‘Hoe durf hierdie kanaal dit aan 120 mense doen? Aan ’n program wat die gesig van die industrie verander het? Hoe durf die kanaal besluit hierdie program gaan nie meer uitgesaai word nie?’
“Ons het almal geweet dit was ’n show wat diep in die harte van Suid-Afrikaaners gekruip het en dat mense om so baie redes met die storielyne kon identifiseer. Ons het ’n reënboognasie uitgebeeld. Dit was ’n show wat verandering en eenheid geskep het. In elke deel van hierdie land het ek gesien hoe hierdie program mense se lewens verander het en in my 36 jaar as aktrise het niks al ooit naby my ervaring op hierdie ikoniese show gekom nie.”
Een woord om jou tyd op hierdie legendariese TV-show te beskryf?
“Familie.”
Mariaan Welman, vertolk deur Deirdre Wolhuter
Hoe lank was jy op 7de Laan?
“Ek was daar vir sewe en ’n half jaar van pure vreugde.”
Hoe sal jy jou rol op 7de Laan beskryf?
“Ek het regtig ’n droomwerk op 7de Laan gehad omdat die skrywers voortdurend ongelooflike en uitdagende storielyne vir my karakter geskep het. Elke keer as ek gedink het dat hulle nie hulself kan top nie, het hulle nog ’n haas uit ’n hoed getrek. So, ek was senuweeagtig met elke groot nuwe storielyn, want ek wou hulle nie in die steek laat nie.”
Een woord om jou tyd op hierdie legendariese TV-show te beskryf?
“Hart.”
Dr. Alexa Welman/Amanda, vertolk deur Carina Nel
Hoe lank was jy op 7de Laan?
“Ek was vir amper agt jaar daar wat baie lank is. Maar as ek nou terugdink dan voel dit nie so nie. Die tyd het verskriklik vinnig gegaan, maar dit was ’n baie lewensverreikende agt jaar vir my.”
Ek het so baie by soveel mense voor en agter die kameras geleer. Daar was so baie unieke lewenservarings
Carina Nel
Wat is die grootse persoonlike lewensverandering wat jy tydens jou tyd op 7de Laan ervaar het?
“Ek dink my confidence! Om te weet wie ek is en wat ek kan doen. Om ’n dik vel te kan ontwikkel in hierdie bedryf is so belangrik. Só ook om nie dinge persoonlik op te neem nie.
“Maar ek het ook baie gegroei in my craft en met my skills. Ek het so baie by soveel mense voor en agter die kameras geleer. Daar was so baie unieke lewenservarings, maar my selfvertroue staan beslis uit. Ek het ook net geleer wat vir my in die lewe belangrik is en wat ek wil bereik.”
Wat was jou mees embarrassing dag op stel?
“Daar was ’n hele paar, maar die toneel waaraan ek vinnig dink, is die een toneel in Oppiekoffie wat redelik dramaties was en aan die einde moes ek exit. Maar vir die een of ander rede kon ek net nie onthou om te loop nie. So elke keer as ons geskiet het, het ek my woorde gesê en dan net awkward na die ander akteur gekyk en elke keer dan skree hulle cut en sê, ‘Carina jy moet exit,’ en dan doen ons dit weer. En dan vergeet ek maar net weer! Dit was nogal snaaks, maar daai dag kon ek net nie onthou om te exit nie.
“Dan was daar nog ’n toneel waarin ek vinnig en kwaad uit die vertrek uit moes storm en soos ek dit doen vlieg my skoen deur die lug en beland toe bo-op een van die kameras.”
Een woord om jou tyd op hierdie legendariese TV-show te beskryf?
“Lewensveranderend, want dit is wat dit was.”