Menu terloops
In Features [17 Des 2023]

Sepies in 2024: Dís die storielyne wat ons wil sien


Verbeel jou dat jy vir ons plaaslike sepies se skrywers ’n paar idees vir nuwe storielyne kon gee… Wat sou jy met jou gunsteling-karakters wou sien gebeur? ’n Troue? Iemand wat wraak neem? Skurke wat op hul maai kry? Tarren-Lee Habelgaarn het ’n wenslysie saamgestel van storielyne wat sy graag in sepies soos ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’, en ‘Binnelanders’ in 2024 wil sien uitspeel, en sjoe, dis net een skokkende kinkel na die ander!

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies in 2024: Dís die storielyne wat ons wil sien

’n Nuwe jaar bring nuwe en opwindende storielyne en raaisels wat ons baie beslis warm onder die kraag gaan hê en aan ons senuwees gaan knaag. 

Ek sien uit om te sien watter naelbytende aksie en drama ons sepieskrywers vir ons in 2024 met hul penne gaan optower. Van troues tot babas, siektes, cheaters en onverwagse familielede – daar is nooit maar ooit ’n tekort aan vermaak (of belaglikheid) as dit by ons plaaslike sepies kom nie. Maar daarmee saam het sepiekykers ook hul eie idees oor wat hulle wil hê moet met hul gunsteling-karakters gebeur. So ook ek! Daarom het ek ’n wenslysie saamgestel van die storielyne wat ek hoop in 2024 in ons sepies sal uitspeel. 

Hier gaat ons!

1

’n Kêrel vir Mymoena

Almal onthou toe oom AB (Cedwyn Joel) destyds ’n tweede en jonger vrou, Farah (Lee-Ann van Rooi), in Suidooster gevat het. Arme Mymoena (Jill Levenberg) het die verleentheid amper nie oorleef nie, maar ’n vrou soos Mymoena is goud werd en AB het eventually uit sy foute uit geleer. Dit was hartseer toe sy haar darling moes groet, maar dalk vind Mymoena haar eie Ben 10 in die nuwe jaar. Dit sal beslis vir drama sorg, want ek sien al hoe gooi Rhafiek (Irshaad Ally) al sy toys uit die cot as sy ma met iemand van sy ouderdom daar aankom.  

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

2

Liefde vir Sanet

Dit is nou nie die mees opwindendste storielyn nie, maar ek hoop Sanet (Nadia Valvekens) vind uiteindelik liefde, want dit is definitief long overdue. Almal het vir Rossouw (Altus Theart) en Anja (Reandi Grey) aangespoor toe hulle bymekaar wou wees in Diepe Waters. Maar niemand was ’n cheerleader vir Sanet nie. En selfs toe sy weer haar hart teenoor iemand oopmaak, het Wim (Neels van Jaarsveld) haar reeds gebroke hart van voor af in stukke gebreek.

Nou lyk dit asof Dominee Ben (Eric Bouwer) ’n sterk band met Sanet vorm en ek hoop tog dat dit weer haar kans op liefde sal wees. Danksy haar persoonlikheid, weet ons almal Sanet sal ’n uitstekende Mevrou Dominee wees! Dit sal ook tog so lekker wees om te sien hoe naar ’n Dominee Ben en Sanet-troue vir Valencia (Vinette Ebrahim) sal maak. Dié dink mos sy is die hoofmeisie van die kerk en gebedsgroep. 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Sepies, Diepe Waters, Ben en Sanet
Gaan Sanet dalk Mevrou Dominee word? Foto: Skermgreep
3

Die Galant-empire se val?

Niemand kon voorspel dat Janice (Crystal-Donna Roberts) haar geheue sou verloor in Arendsvlei nie. Hoewel daardie storielyn steeds aan die gang is, sal dit ’n lekker kinkel wees as Janice tydens haar geheueverlies op Bompie (Jarrid Geduld) verlief raak en later sonder om vir iemand te sê haar geheue terugkry en dan die Galant-empire van binne hul huis probeer vernietig. Iemand bel vir Kaptein Karelse (Charlton George) om terug te kom, want hier kom die takedown waarvoor hy al so lank wag. Lionel (Jody Abrahams) sal maar net moet vasbyt totdat babes haar werk as informant voltooi het. 

Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

4

Mediese wonderwerke

Almal weet teen die tyd dat Naomi (Je-ani Swiegelaar) in Binnelanders se hart besig is om in te gee. Maar gaan sy ’n hartoorplanting nodig hê? Of sal hulle vir haar kan genees voordat dit nodig is? Louis wil nie glo dat dit besig is om te gebeur nie and it’s giving me early 2000’s Grey’s Anatomy vibes.

As jy ’n OG Grey’s Anatomy-aanhanger is, sal jy sonder twyfel die nou ikoniese episode onthou toe Izzy haar geliefde Danny se LVAD gesny het sodat hy vinniger ’n hartoorplanting kon kry. Wel, ons weet nie wat gaan met Louis en Naomi gebeur nie, maar dalk gaan draai Naomi wéér by die dood om. Voor dinge beter raak, doen Louis dalk ook iets drasties soos Izzy en hou hulle boonop ’n living funeral vir Naomi, waar almal amazing goed van haar sê en sy ’n roerende dying speech gee, voordat sy in tipiese sepiestyl op nommer 99 wonderbaarlik herstel en lank en gelukkig lewe met die wete dat so baie mense haar lief het.  

Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

5

Terugkeer van die oorspronklike Suidooster-skurk

Kykers het jare laas Suidooster se oorspronklike skurk Ian October (Abduragman Adams) gesien, maar dit sal opwindend wees as hy in ’n Days of our Lives-oomblik ná jare in ’n koma skielik op Bridgette (Denise Newman) se stoep staan. Ek dink Bridgette en Zoë (Lauren Joseph) sal net daar omkap. Maar ná soveel jare se breintrauma is Ian skielik ’n changed man. Hy het nie ’n slinkse been in sy liggaam nie, totdat hy sy skoonbroer ontmoet en hy skielik soos die ou Ian begin voel. Nazeem (Irvine van der Merwe) sal hom natuurlik aanhelp en saam sal hulle later iets epies uitdink om Bridgette terug te kry vir al hul pyn en lyding. 

Sepies
Wat lê vir Zoë voor in 2024? Foto: Verskaf
6

Wie’s jou pappa?

Tracy (Melinda Viljoen) en Tertius (Reynardt Hugo) het vir nou besluit om die waarheid oor die vaderskap van haar baba ’n geheim te hou, maar ons weet alles kom uit in sepieland. Daar is nie geheime nie, so Conrad (Hykie Berg) gaan een of ander tyd uitvind. Wanneer dit gebeur sal dit baie dramaties wees as hul baba gebore word met een of ander seldsame siekte wat net die pa se gene sal kan genees. So natuurlik toets hulle nie vir Tertius nie en vertel hulle vir Conrad die waarheid. Maar plot twist! Die dokter se berekening was verkeerd en Tertius is die pa van Tracy se kind en red hul kind se lewe. 

Melinda Viljoen
Gaan Tracy die waarheid oor die baba se vaderskap met Tertius deel? Foto: Skermgreep
7

Vaarwel, Abigail…

Noudat Clint (Clayton Evertson) en Beatrice (Jolene Martin) weer mekaar in Arendsvlei gevind het, hoop ek haar stiefdogter kom nie weer met haar planne om Beatrice te sabotage nie. Om Clint en Beatrice daai bonding time te gee, hoop ek Abigail verdwyn vir ’n rukkie. Dit kan of na ’n koshuis toe wees of dalk kom Rachel (Kim Syster) terug en ontvoer sy vir haar met ’n opdrag van Wendy (Rehane Abrahams) om Beatrice een laaste keer by te kom.

8

Lui die trouklokke?

Anja (Reandi Grey) en Rossouw (Altus Theart) het ’n beproewende 2023 oorleef. Ek hoop hulle vind vanjaar weer hul happy place met mekaar en dat hulle uiteindelik trou. Tydens ’n hartverskeurende episode het kykers gesien hoe Anja hul tweede baba verloor. Dalk besluit die paartjie hierdie jaar om ’n surrogaat te gebruik om hul eie gesin te begin, maar teen die tyd wat hul baba gebore is, begin Anja snaaks voel en kraam sy ook binne dieselfde week. Sy het nie geweet sy is swanger nie en daar begin hulle hul gesin met twee kinders. Twee rainbow babies vir hul twee angel babies

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies