Die aktrise Nadia Valvekens glo sterk dit is ’n groot seëning om te kan doen waarvoor sy lief is. Juis daarom aanvaar sy geen geleentheid as vanselfsprekend nie. Selfs nou, terwyl sy besiger as ooit is met lang dae op die stel van die telenovela – en haar mees onlangse projek – Diepe Waters, vertel sy.
As sy nie op stel of op die verhoog is nie, het sy ’n paar ander groot liefdes in haar lewe, soos haar twee 14-jarige hondjies, langs die see draf, en hande vuilmaak in die tuin.
Meeste kykers het haar die karakter Pippa Venter, wat vir 13 jaar deel van die Binnelanders-wêreld was, leer ken. Meer onlangs het die gesoute aktrise in die kykNET-dramareeks, Alles Malan, ’n sterk vertolking as ’n ma en beroepsvrou gelewer. Tans is sy te sien as die hardkoppige huisvrou, Sanet, in die telenovela Diepe Waters.
Sanet se ‘smoke and mirrors‘
Sanet is heeltemal anders as die karakters wat sy voorheen vertolk het, maar Nadia hoop dat Sanet mense gaan verras.
“Wanneer dit by Sanet kom is sy ’n baie meer komplekse mens (as wat mense dink). Sy is soos ’n ui wat geskil moet word. Sy het baie lae omtrent haar en die grootste uitdaging van haar, is dat mense moet besef dat almal foute het, maar dat ons almal maar net mens is. Hopelik, as ek my werk goed doen, sal kykers haar menslikheid raaksien en nie net dit wat sy voorsit vir die wêreld om te sien nie,” sê Nadia.
As sy oor haar karakters gesels, kom jy vinnig agter dat sy elkeen se storie met respek hanteer en haar alles gee om die karakter opreg te vertolk. Vir Nadia, was Sanet ’n bietjie van ’n uitdaging en sy was aanvanklik senuweeagtig oor die rol. Maar tog het sy dit geniet om haar tande in die rol in te slaan en om ’n sukses van die karakter te maak. Sy was nog nooit bang vir uitdagings nie en sien dit eintlik as ’n hoogtepunt – veral as dit goed ontvang word.
“Die grootste wanpersepsie wat mense dalk van Sanet het, is dat haar oppervlakkige doelwitte en uitkyk op die lewe net daar is om mense om te krap. Maar eintlik is dit maar haar manier om haarself te beskerm en haarself veilig te laat voel. Sy wil voorgee dat sy hierdie perfekte persoon met hierdie perfekte lewe en familie is. Maar dít is alles net smoke and mirrors.”
Nadia is opgewonde om te sien of mense se opvattings oor Sanet gaan verander soos hulle meer uitvind oor haar insecurities, maar ook wat daartoe gelei het.
’n Sagte plekkie vir Tessa
Om karakters teen mekaar te vergelyk, is soos om jou gunsteling-kind te moet kies, maar Nadia is nie skaam om te erken dat sy ’n sagte plekkie in haar hart vir Tessa en haar Alles Malan-familie het nie. Tessa was haar eerste groot rol ná 13 jaar in Pippa se skoene. Om hierdie rede, sowel as die warm familiestories wat hulle vertel het, sal Tessa altyd vir haar spesiaal wees.
“Ek het ’n soft spot vir haar, maar die projek as geheel was ook wonderlik. Die mense saam met wie ek gewerk het en die warm familiestories wat ons op Alles Malan vertel het, lê regtig na aan my hart. Wat Tessa spesiaal gemaak, was haar gedrewendheid en om die balans tussen haar loopbaan en haar huishouding te moet vind. Dit was wholesome en mooi en, ag, die familie wat ek gehad het was regtig pragtig,” vertel Nadia.
“Sy was ’n sterk vrou, wat geweet het wie sy is en wat sy uit die lewe uit wil hê. Sy het haar eie uitdagings gehad, maar familie het steeds gewen. Dit was ’n beautiful storie om te vertel. Sanet is heeltemal anders, maar sy het ook al baie seer in haar lewe beleef. Ek hoop mense sal haar ’n kans gee.”
See en sand verruil vir die stad
Elke einde kom met ’n nuwe begin en toe Nadia nou ná Alles Malan op Diepe Waters begin werk het, moes sy vanaf Kaapstad terug Johannesburg toe verhuis. Dit was ’n groter aanpassing as wat sy gedink het. Veral omdat hierdie natuurliefhebber so bederf was met die sand, see en natuurskoon van Melkbosstrand in die Wes-Kaap.
“Om die natuur en see aan jou voete te hê was regtig ’n groot seëning vir my. Johannesburg het sy eie magic en ek het nou al aangepas, maar dit het ’n rukkie geneem. Ek moes weer gewoond raak aan die stad,” vertel Nadia.
Al mis sy die sand en see, is dit vir Nadia lekker om weer naby familie te wees.
“Ek is bevoorreg dat my sussie, niggie en tannie naby my bly. Nadat ek so ver in die Kaap was, is dit vir my lekker om nou weer naby hulle te wees. Ek draf nou wel nie meer langs die see nie, maar ek het by ’n gimnasium aangesluit en dit gee my ’n bietjie ontspanning.”
As sy nie op stel is, of in die gimnasium is nie, sal jy heel moontlik vir Nadia in die tuin kry. Dit is ’n nuwe stokperdjie – een wat sy vreeslik geniet, sê die aktrise opgewonde.
“Vandat ek terug in Johannesburg is, het ek nogal ’n liefde vir tuinmaak ontdek. Ek het vir my allerhande goedjies gekoop om in die tuin rond te krap en dit is vir my baie lekker om te sien hoe my plantjies groei en blommetjies blom,” vertel sy trots.
Sy’s dankbaar
Dié spontane aktrise het deesdae maar min tyd vir ander dinge, veral omdat hulle ses dae ’n week op stel is. Maar as sy wel iewers ’n tydjie kan afknyp, hoop sy om dalk weer teater te kan doen of in Griekeland uit te kom.
“Julle dink altyd ek het 120 projekte wat opgeline is, maar dit is nie die realiteit nie. Soms moet jy nege keer oudisie voordat jy iets kry. Ek is in gesprekke met ’n vriend van my om te sien of ons dalk weer ons tone in teater kan dip, maar ons sal maar moet sien. Diepe Waters is ’n groot projek en dit het nou al my aandig nodig,” sê sy.
“Ek sal ook nog baie graag die Camino de Santiago (in Spanje) wil gaan stap. Dit is ’n droomvakansie vir my en ek sal bitter graag Griekeland toe wil gaan.”
Sy is dankbaar, voeg Nadia by, vir die geleenthede wat tot dusver oor haar pad gekom het – iets waaroor sy veral die afgelope twee jaar gereflekteer het.
Kyk Diepe Waters op DStv Online en Catch Up.