Daar is karakters in Fraksie waarvan kykers definitief nie dadelik gaan hou nie; van ander glad nie en sommige sal mettertyd op jou groei. En dít is juis wat die reeks so lekker maak, sê die aktrise Roeline Daneel.
Sy speel die rol van Nina Smit – die ma van twee en vrou van die effens glibberige Schalk (Edwin van der Walt), ʼn beleggingsbestuurder. Nina, wat van ou Stellenbosse-geld kom, is ʼn deeltydse eiendomsagent, maar haar lewe het anders uitgedraai as wat sy verwag het nadat sy jonk reeds swanger geraak het en met Schalk moes trou.
“Toe ek die tekste van die eerste drie episodes gekry het, het ek nie veel van haar gehou nie. Maar soos ek verder gelees het en haar storielyne en die dinge waardeur sy gaan begin ontwikkel het, het ek vérskriklik baie van haar begin hou.
“Geen van die reeks se karakters is staties nie – daar is geweldig baie ontwikkeling. Nina is my gunsteling-karakter, maar dalk voel al die akteurs in die produksie so. Jy stap ʼn pad saam met jou karakter. Dit ís tog ʼn akteur se werk om jou karakter se motiverings en dryf te verstaan en half op te kom vir hulle waar die teks, of ander karakters, dalk nie so ten gunste van hulle is nie.”
Kies jou kamp
Volgens Roeline is Nina ʼn oninspirerende eiendomsagent wanneer ons haar ontmoet. ʼn Vrou wat eintlik staatmaak op haar man se geld.
“ʼn Mens kom agter sy het eintlik nog maar altyd tweede viool in die lewe gespeel. Haar suster Bianca (Daneel van der Walt) is ʼn narkotiseur en is nog altyd die over-achiever.
“Soos die reeks vorder, gaan Nina deur baie karakterontwikkeling. Ek geniet haar eerlikheid, haar dryf en die manier waarop sy haarself in die proses reinvent. Haar lojaliteit is ook iets wat ek bewonder. Sy’s nie in die maklikste huwelik nie, maar sy is líéf vir daai man om die een of ander rede.”
Nina en Schalk is amper van die begin af in ʼn kragmeting betrokke, sê Roeline.
“As kyker gaan jy jou waarskynlik by die een of die ander, by Kamp-Nina of Kamp-Schalk, skaar. Ek dink egter nie dis ʼn ongewone verhouding nie. Ja, ons sien soms net happy couples of couples wat baklei, maar dis eensydig. Hierdie twee het ʼn ongelooflik genuanseerde verhouding, soos die meeste verhoudings nou maar is. Daar is kere wat hulle die beste spanmaats is en kere wat jy nie kan vérstaan hoe hierdie twee bymekaar uitgekom het nie. Dit is so lekker dinamika en ek werk so lekker saam met Edwin.”
Lekker lag en energie
Schalk is “een van die interessantste” rolle wat sy al gelees het.
“Hy is ʼn verkleurmannetjie, ʼn Peter Pan, ʼn jakkals… Ek kan aan niemand anders dink om Schalk te speel as Edwin nie. Ons was al saam in produksies, maar het nog nooit teenoor mekaar gespeel nie. Die fokus en energie wat hy elke dag stel toe bring is absoluut amazing. Hy het régtig lang dae op stel, maar hy kla nie en hy word nie moeg nie.
“Ek waardeer sy sin vir humor… Vrek, ons lag lekker tussen skote. Die televisie-bedryf, minstens in Suid-Afrika, is nie glam nie en ʼn sin vir humor en lekker werksverhoudings dra mens deur.”
Die werksomgewing wat Louis en Albert skep, dra bly daartoe dat sy dit so geniet om op hul produksies te werk.
“Mens kom baie keer op stel waar die crew en akteurs over extended is en waar nuwe mense in die middel van die produksie aangestel moet word, omdat ander die stel verlaat. Dit gebeur nie op die Fraksie-stel nie.
“Ek het geweldig respek vir Louis en Albert as skrywers en ook as vervaardigers. Dis altyd ʼn reuse-voorreg om saam met hulle te werk. As ek sien daar kom ʼn casting brief verby van hulle twee, hoef ek nie eers moeite te doen om deur die tekste te delf nie. Ek wil áltyd saam met hulle werk.”
Ek geniet haar eerlikheid, haar dryf en die manier waarop sy haarself in die proses reinvent. Haar lojaliteit is ook iets wat ek bewonder. Sy’s nie in die maklikste huwelik nie, maar sy is líéf vir daai man om die een of ander rede.
Roeline Daneel oor haar ‘Fraksie’-karakter, Nina
Lof vir vakmanskap
Roeline ken Louis reeds sedert haar studentedae by die drama-departement aan die Universiteit Stellenbosch.
“Ek het al op universiteit in sy produksies gespeel, onder andere in sy honneurs-regieproduksie. Daarna het ek ook ʼn lang pad met hulle gestap, TV-gewys. Van Die Boland Moorde tot Boekklub, Kompleks en nou Fraksie.”
Sy beskou Louis en Albert as vakmanne op die gebied van skryf.
“Hulle vat týd, of soveel tyd as wat ʼn mens het met Suid-Afrikaanse begrotings, om tekste te ontwikkel, om storielyne uit te dink en om ʼn goeie span mede-skrywers te kry indien nodig.”
Daar kom gereeld tekste oor haar pad wat dalk nog meer tyd in die skrywerskamer nodig gehad het, erken sy.
“Nie Louis en Albert sʼn nie. Elke woord op daai papier is deurdink. Hulle is perfeksionisties en jy weet daai teks is deur baie checks voor dit by jou uitkom.”
Zeitgeist-reekse
Die gewildheid van Louis en Albert se reekse verbaas haar nie.
“Ek dink hulle het ʼn baie goeie manier om die zeitgeist vas te vang en die issues waaroor mense praat en om dit dan op ʼn baie palatable manier te verpak vir Afrikaanse gehore, wat dikwels aan die konserwatiewe kant is. Kwessies soos gay-verhoudings, aanneming, noem maar op. Hulle verpak dit so dat sit saamgaan met ʼn soortgelyke pop-kultuur as oorsese reekse, maar hulle doen dit op ʼn baie egte, Suid-Afrikaanse en Afrikaanse manier.
“Hulle het baie kennis van en ook respek vir hulle gehoor en doen moeite om hulle uit te daag, maar nie te vervreem nie.”
Nina Swart, die regisseur van Fraksie, bring ʼn positiewe energie stel toe.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe sy mense sien en hoe sy dinge met haar regie-werk lig en positief kan hou. En in die oomblikke waar daar ernstig gewees moet word, dόén sy dit. She can bring you back from the dead, want kyk, dis láng dae op stel. Die verhoudings wat sy bou en haar mensekennis, is nogal spectacular.
“Een van die wonderlikste goed wat Nina doen op enige stel waarop ek al saam met haar gewerk het, is om ʼn toespraak oor ʼn akteur te maak wanneer hy of sy hul laaste toneel wrap. En of jy nou nommer een of nommer 73 op die call sheet is, die toespraak is van toepassing op jόú as akteur, dis nooit generies nie.”
ʼn Ma se hart
In Fraksie speel Roeline die ma van twee tieners.
“Dis nogal weird, want dis nie die eerste keer wat ek die ma van tieners vertolk nie. Ek dink baie van die goed wat my eie kind later gaan aanvang, het ek al op die skerm deurgemaak… Die tiener-opstande en so.
“Maar ja, as mens self ʼn ma is, verstaan jy die gewig dat dit dra om ʼn ma te wees. Dit is die grootste ding wat ooit met jou kan gebeur om jou hart so buite jou liggaam te laat rondloop. As mens is ek so bly ek het ʼn kind, maar ook as aktrise. Ek dink nogal die liede van ʼn ma is iets wat eintlik net deur ʼn ma verstaan word.
Nuwe moontlikhede
Reekse soos dié, heel anders as die “mould” waaraan ʼn mens so lank gewoond was, maak haar opgewonde oor die rigting waarin die plaaslike bedryf, en spesifiek Afrikaanse televisie en flieks, beweeg.
“Mense eksperimenteer met verskillende style en genres en dit maak dit ʼn interessante tyd om te werk. Dit is ook ʼn interessante tyd vir die mediabedryf, in terme van analoog-dienste en stromings-platforms wat ʼn belangrike rol begin inneem het.
“In die verlede moes jy ʼn week wag vir die volgende episode van ʼn reeks. Daar was cliffhangers… Omdat mense deesdae stream en binge, het die aard van inhoud ook verander. Dis baie opwindend.”
Was daar net meer tyd en geld
Ongelukkig kraai kwantiteit steeds koning bo kwaliteit in die bedryf, meen sy.
“Dit bekommer my soms, want so baie word net uitgechurn. Begrotings bly vir jare lank dieselde. En al het ons baie professionele Afrikaanse rolprentmakers en crews en hoewel ons teen ʼn geweldige vinnige pas kán werk en altyd ʼn haas uit ʼn hoed kan pluk om te verseker die gehalte is goed genoeg, wonder ek tog hoe dit sou wees as ons die tyd kon bestee aan verfilming wat oorsese produksies het. Hulle skiet vier, vyf bladsye per dag…
“ ʼn Mens wonder ook wat die gehalte sou wees as daar meer tyd vir teksontwikkeling was. En tog is die goed wat uit die bedryf kom amazing as jy die beperkings in ag neem. Maar ek sou bitter, bitter graag wou sien wat plaaslike televisie en flieks sou kon doen as ons nie daardie constraints gehad het nie.”
Fraksie is vanaf Donderdag, 14 September 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.