Menu terloops
In Onderhoude [15 Aug 2023]

‘Arendsvlei’ se Kim Syster ná jare se seer: ‘Ek wil in die hier en nou lewe’


Daar is nie ’n rol wat die dinamiese aktrise Kim Syster nie sal aangryp nie. terloops het met die borrelende Kim gesels oor ‘Arendsvlei’ se Rachel, die opofferings wat akteurs maak, en die belangrikheid van geestesgesondheid.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom 'Arendsvlei' nou

‘Arendsvlei’ se Kim Syster ná jare se seer: ‘Ek wil in die hier en nou lewe’

Of kykers haar nou ken as Jax van Binnelanders, Chanel van Skemerdans, Janine van Dinge van ’n kind of die slinkse Rachel Saaiman wat tans vir Arendsvlei– kykers op hul tone hou – die aktrise Kim Syster ploeg haar alles in haar vertolkings.

Kim Syster as Janine in Dinge van 'n kind. Foto: Verskaf
Kim Syster as Janine in Dinge van ’n kind. Foto: Verskaf

Positiwiteit is belangrik 

Die afgelope paar jaar was van die besigste, maar ook van die uitdagendste van die aktrise Kim Syster se lewe. Daar was interessante rolle, ’n tog terug Kaapstad van die Goudstad, en die geweldige swaar verlies van twee swangerskappe wat sy moes verwerk. Tog, sê Kim sy bly dankbaar in elke seisoen van haar lewe.

Geestesgesondheid is ’n onderwerp waaroor hierdié aktrise maklik en openlik gesels; iets wat sy voel baie belangrik is. Sy maak daarom ’n punt daarvan om gereeld met haarself in te check en meen geestesgesondheid verdien dieselfde hoeveelheid aandag en fokus as fisieke gesondheid. 

“Geestesgesondheid is ’n groot prioriteit vir my, want as jy fisiek siek is, sal jy ’n dokter gaan sien, maar ons besef nie altyd dat ons geestesgesondheid en welstand ewe belangrik is nie. Omdat ek van ’n klein dorpie kom, is dit soms iets wat nog deur baie (mense) geïgnoreer word, want daar is hierdie persepsie van you must just suck it up. Ek het dit al baie keer probeer, maar omdat ek die persoon is wat ek is, kan ek nie net dinge onder die mat vee en aangaan nie,” verduidelik Kim. 

“Ek is ook net geseën met ’n ma wat altyd oop was om oor dinge te praat. Van kleins af was dit belangrik en maklik om op my geestesgesondheid te fokus. Maar as ’n volwassene dink jy dat jy self (alleen) dinge kan deurwerk, maar soms moet jy dit net aan die professionele mense oorlaat.”

Almal se terapie verskil 

Al is geestesgesondheid belangrik vir Kim, erken sy dat dit selfs vir haar ’n aanpassing was om ’n terapeut te sien, maar dat dit van haar ’n beter mens en aktrise maak. 

“Ek was nie altyd oop vir die idee van ’n terapeut nie, want wat gaan ’n terapeut vir my kan sê wat ek nie reeds weet nie? Maar ek was aangenaam verras. Ek het besef dat daar soveel ander dinge is (waaraan ek moet werk). Terapie gee jou tools wat jy kan gebruik. Maar ek is so ’n sucker vir flieks en oefening en dít is ook ’n vorm van terapie (vir my). 

“Om na ’n ander wêreld meegevoer te word, is iets waarvan ek hou… Ek dink dit is juis hoekom ek die bedryf betree het. Ek wil ook mense daardie escapism gee wat ek ervaar as ek flieks kyk of na musiek luister.” 

Daar is ’n dieper waardering vir my ma en al die vroue in my lewe. Ek sien nou hul opofferings en dat dit nie net dade is nie, daar is ’n doel agter alles. As kind mag ons nie altyd alles verstaan nie, maar op ’n dag tref dit jou, veral wanneer jy deur sekere dinge gaan. Dit is so mooi om van ander te kan leer en om op ’n plek te wees waar sekere opofferings nou eers sin maak. 

Kim Syster

Nie almal se smaak nie 

Escapism gee sy beslis in oorvloed, want mense leef hul tans so in haar storielyn op Arendsvlei in, dat dit vir Kim die grootste kompliment is. En al is Rachel vinnig besig om Ingrid (óftewel #Wengrid) verby te steek as die grootste vroulike skurk in Arendsvlei, is dit ’n rol wat sy vreeslik geniet. Hoe kwater mense vir Rachel word, hoe groter die kompliment vir Kim. 

“Ek is gelukkig as akteur dat ek rolle kan vertolk wat mense die minste van my sal verwag. Toe ek Rachel se karakterbybel lees, het ek gedink ‘yes, sy is só ingewikkeld en kompleks’. Rachel het al hierdie lae van haar verlede wat haar die vrou maak wat sy vandag is. Ek onthou dat iemand gevra het of dit lekker is om hierdie karakter te vertolk en die antwoord is absoluut ja! Ek is mal daaroor, want dit is ’n uitdaging om haar te speel. (Veral omdat jy) as akteur in gedagte moet hou dat jy nooit jou karakters moet oordeel nie,” sê sy.

“Ek probeer altyd om dit te doen, maak nie saak hoeveel vere hulle onder gehore deurmekaar maak nie. Jy het daardie soort mense nodig, want jy kry nie altyd die goeie mense nie. Jy kry karakters wat vurig is en wat die pot roer. Ek is so mal daarvoor en al is Rachel nie so geliefd nie, kan mense haar steeds bewonder vir die redes wat haar besluite dryf. Sy verras my gereeld.”

’n Bietjie van almal 

As kind, het Kim altyd mense op haar grootworddorpie van Mamre, naby die Weskus, dopgehou en later vir hulle probeer na-aap. Sy het voorheen vertel dat sy dikwels van hierdie gesigte op die dorp channel wanneer sy vir ’n nuwe rol en karakter voorberei. 

Kim begin lag toe ons vra of enigiemand vir haar geïnspireer het met haar vertolking van Rachel. 

“Ek dink nie enigiemand sal gelukkig wees as hulle hoor dat hulle my vertolking van Rachel geïnspireer het nie. Daar is nie een spesifieke persoon nie. Ek dink dit is net lewenservaringe en my ervaring van sekere mense op ’n spesifieke tyd in my lewe.  Daar is mense wat sal kan relate met Rachel, of wat dalk al iemand soos Rachel ontmoet het,” sê sy. 

“Daar is ook klein gedeeltes van my. Ek sal nou nie sê watter gedeeltes nie, maar soveel as wat dit lekker is om iemand heeltemal anders te speel, gebruik jy as akteur tog gedeeltes van jouself in elke karakter.” 

Kim Syster se karakter op Arendsvlei, Rachel.
Kim Syster sê haar karakter op Arendsvlei, Rachel, is geïnspireer deur verskillende mense wat sy al teëgekom het… en selfs deur elemente van haarself. Foto: Verskaf

Die opofferings van ’n akteur 

Kim sê as akteur gee jy soms baie van jouself vir jou karakters. Soms gebruik jy goeie herinneringe en ervarings om ’n karakter se wêreld te skep, maar soms dwing ’n rol jou om na moeilike plekke te gaan. Plekke wat seermaak en baie akteurs kry nie altyd erkenning vir die opofferings wat hulle vir vermaak en ’n karakter maak nie. 

Hoewel sy al deur die pyn van haar miskrame gewerk het en nie daaraan wil vasklou nie, moet sy steeds gereeld met haarself in-check – veral toe haar karakter op Arendsvlei swanger raak. 

“Ek onthou dat ’n dosent op universiteit vir my gesê het dat die enigste tyd wat jy nie op stel kan wees nie, is as jy in ’n hospitaalbed of op jou sterfbed is. Dit het by my gebly… Dit maak nie saak wat ek fisiek of emosioneel deurgaan nie – en ek weet van soveel ander akteurs wat ook altyd sal opdaag en groot gaan,” sê sy. 

“Dit gaan nie net oor vermaak nie. Jy besef dat jy deel van ’n groter prentjie vir soveel ander mense is. Maar, terselfdertyd, moet ons ook leer om simpatie en empatie te hê vir mense wat soms deur soveel persoonlike dinge gaan. Soos byvoorbeeld toe ek ’n swanger vrou moes vertolk. Ek moes vir myself vra of ek regtig okay daarmee is. Gaan ek afskakel en slegs aan die werk dink? Of gaan ek my ervaringe gebruik om my te help met my vertolking van die storielyn en karakter?

“As akteur glo ek dat jou verlede en ervaringe van jou ’n beter akteur maak. Dit help jou, maar jy moet baie bewus wees van jou gevoelens. Wanneer ek by die huis kom, móét ek afskakel. Wanneer ek werk toe gaan, kan ek Kim se ervaringe vir Rachel gebruik, maar dit moet nooit anders om wees nie. Jy kan nie daai karakter se energie huis toe bring nie.”

Hartsdinge 

Ná ’n lang dag op stel, is dit belangrik vir Kim om weer haarself te kan wees. Dan is sy Kim die vrou, niggie, dogter en ’n vriendin. 

“As dinge te rof word by die werk, is dit vir my so kosbaar om tyd saam met familie en vriende te kan deurbring. It fills my soul and keeps me refreshed,” sê sy. 

“Vir my naastes, is ek net ’n dogter, ’n vrou of ’n niggie. Ek is net dit vir hulle en ek is bly dat ek net Kim kan wees. Ek kan mal en vry wees en ek waardeer dit so baie.”

Ná alles waardeur Kim die afgelope tyd is, het dit haar waardering vir haar eie ma en vriende soveel groter gemaak. Tyd en lesse van haar geliefdes beteken nou nog meer vir Kim as ooit te vore. 

“Daar is ’n dieper waardering vir my ma en al die vroue in my lewe. Ek sien nou hul opofferings en dat dit nie net dade is nie, daar is ’n doel agter alles. As kind mag ons nie altyd alles verstaan nie, maar op ’n dag tref dit jou, veral wanneer jy deur sekere dinge gaan. Dit is so mooi om van ander te kan leer en om op ’n plek te wees waar sekere opofferings nou eers sin maak.” 

Dankbaar en gelukkig 

Kim neem elke geleentheid om vorentoe te kyk en om met ’n dankbare hart deur die lewe te beweeg. 

“Ek laat nie toe dat die angstigheid van die verlede of toekoms my huidige bederf nie. Ek wil in die hier en nou lewe en in dié oomblik met my geliefdes en God wees. Die lewe gooi dinge jou kant toe, maar daar is altyd klein goedjies wat opmaak vir die groot goed, soos om dankbaar te wees vir die dak bo jou kop,” sê sy. 

“Ja dit is ’n cliché, maar dit is regtig ’n seëning om te kan sê ‘dankie Here vir die mense in my lewe. Dankie vir werk en dat ek in die son kan sit en dankbaar wees vir hierdie oomblik in my lewe wat so reg en vertroostend voel’.” 


Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Skemerdans en Dinge van ’n kind is op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies