Amalia Uys is gebore in die klein Noord-Kaapse dorpie Springbok.
Sy was maar drie jaar oud toe haar gesin daar weggetrek het, Johannesburg toe, maar sy voel steeds ʼn sekere verbintenis met dié wêreld. Dis dié verbintenis wat ʼn rol in die reeks Desert Rose op M-Net onafwendbaar laat voel het.
“Die hele brief van die reeks, ʼn familiedrama wat in die Namakwaland afspeel, het my verbeelding aangegryp. Omdat dit geskiet sou word in Kamieskroon, so 70km van Springbok af, het ek net gevoel okei, seriously, daar sal iets fout wees as ek nié ʼn rol in die reeks kry nie,” vertel sy laggend.
“Ek het nie grootgeword in Springbok nie en dis ook maar ʼn goeie ding. Dan sou ek dalk net soos my karakter Jana gelyk het… Maar om daardie wêreld te besoek waar ek, my broer én my pa gebore is, bly spesiaal.”
In die reeks slaan die sweet gedurig op die karakters se lywe uit – asof hulle in ʼn drukkoker is.
“Die sweet is met grimering geskep en was nogal swaar. Maar ek kan die hitte van daardie wêreld vat,” sê sy.
Universele tema van familie
Die storie van Desert Rose word aangedryf deur die wanaangepaste familie-dinamiek van die Greyling-gesin. Hul pa, Freddy (Neil Sandilands), het verdwyn en hulle sit opgeskeep met die skuld-ooreenkoms wat hy aangegaan het.
Die dinge wat in families gebeur, is seker die grootste universele tema wat daar is, maak nie saak wat jou kultuur is nie. Almal kan op ʼn manier daarmee vereenselwig, net soos met die liefde.
Amalia Uys
Amalia glo die reeks se fokus op familie is wat mense gaan intrek.
“Die dinge wat in families gebeur, is seker die grootste universele tema wat daar is, maak nie saak wat jou kultuur is nie. Almal kan op ʼn manier daarmee vereenselwig, net soos met die liefde.
“Daar is ʼn oerinstink in families om vir mekaar uit te kyk en mekaar te beskerm, al het ʼn mens nie noodwendig ʼn goeie verhouding nie. Daai ding van bloed wat dikker as water is, is so primal.”
Sy meen die karakters in Desert Rose is stranger than fiction.
“Die reeks het ʼn soort Fargo-esque gevoel,” sê sy oor wat dit so uniek maak vir Suid-Afrikaanse televisie. (Lees die resensie hier.)
Gedeelde passie
Amalia het aanvanklik nie ʼn oudisie afgelê om die middelsussie Jana in die reeks te speel nie.
“Ek het ʼn oudisie gedoen vir Rosie, die rol wat Tinarie van Wyk-Loots vertolk. Hulle het my so maand later gevra om ʼn oudisie vir die rol van Jana te doen.
“Daar was dadelik ʼn lekker dinamiek tussen my en die regisseur, Cindy Lee, en ʼn week later het ek gehoor ek het die rol gekry.
“Cindy is ʼn verskriklike lékker mens – high energy, high spirits. Ek het nie een keer ervaar dat sy moeg of moedeloos op stel was nie. Sy was altyd konsekwent in haar werk en dit het ʼn mens baie veilig en gemaklik laat voel.
“Ek het van die begin af geweet sy vertrou my en dat ek nie hoef te stres dat ek haar sou teleurstel nie,” sê Amalia.
“Dis ʼn wonderlike gevoel om saam met iemand te kan werk wat net so passievol soos jy is oor iets.
“Cindy is ook ʼn baie sterk vrou – sy vat nie strooi nie. Ek kan nogal baie leer by sulke vroue wat wéét hoe om hulle vrou te staan, want ek is van nature sagter… al sou my familie vir jou sê ek kan lekker feisty wees.”
Lekker mense
Die reeks is tydens die inperking oor sowat vyf weke geskiet in Kamieskroon en die kusdorp Port Nolloth.
“As vryskut raak ʼn mens dit later gewoond om so lank van die huis af weg te wees. Dit was gelukkig ʼn wonderlike groep mense saam en almal het lekker ge-jel. Ons het tussen die hotel en ʼn gastehuis gebly en so oor en weer gestap en gebraai en gekuier. Dit was nog toe drankwinkels eers op Donderdae oopgemaak het en dan het ons seker gemaak ons gaan koop darem ʼn bottel wyn of twee…
“Neil (Sandilands) se musiek is so belangrike deel van die reeks en hy het gereeld kitaar vir ons gespeel, en Christia (Visser) sing so mooi.”
“Almal van ons in die reeks is so anders, maar ons het common ground gevind. En omdat ons saam ingekoop het op die storie, kon dit nie anders dat ons goed oor die weg sou kom nie,” sê Amalia.
Hegte bande
“Ek en Christia, wat my sussie Ishara speel, is in baie opsigte verskillend, maar ek noem haar nou nog partykeer ‘sussie’. Ons kan baie lekker gesels oor dinge soos ons verhouding met ons pa’s en die liefde.
“Ons het altyd op ʼn af-dag in Christia se BMW geklim en Springbok of Port Nolloth toe gery. Een dag het ons in Port Nolloth verdwaal naby die hawe. Jy ry nog die een oomblik op die teerpad en die volgende oomblik is jy op die sand. Daar was net ʼn klomp verlate huisies langs ons en ons het histeries begin lag. As ek aan Christia dink, sal ek dit altyd onthou.”
Amalia se karakter deel ook ʼn hegte band met Piet (Brendon Daniels) in die reeks.
“Brendon én Piet het altwee die ongelooflike kapasiteit om mense te kan sien, verstaan en beskerm. Brendon is een van daardie mense wie se energie sό groot is, dat dit moeilik is om hom in een sinnetjie op te som. Dit was ʼn fees om saam met hom te werk – hy het geen ego nie!”
Die interaksie tussen Jana en Piet is interessant – die twee het ʼn teer verhouding, maar dis nie romanties nie.
“Piet beskerm die plaas en die gesin en slaap sommer saans saam met Jana in die bed – daar is geen seksuele verhouding tussen hulle nie.
“Hy beskerm hulle en veral vir Jana, wat eintlik baie sag is.”
Sag én sterk
Dit was vir Amalia belangrik om Jana met ʼn kombinasie van weerloosheid én krag uit te beeld.
“As middelkind is haar familie-verhoudings vir haar baie belangriker as vir enige van die ander karakters. Toe haar ma nog in die rondte was, was sy baie geheg aan haar en na haar dood het sy baie geheg geraak aan haar suster Rosie.”
Rosie se dood is vir Jana baie swaar en Amalia kon met haar identifiseer.
“Ek het ook ʼn suster verloor en al was ons nie so close soos Jana en Rosie nie, kan ek die hartseer verstaan.”
Dit was ʼn fantastiese uitdaging om so komplekse karakter soos Jana te kon vertolk, vertel Amalia.
“Jana wil verskriklik graag uit die dorp wegkom en sy wil haar gesin saamvat.”
Daar is ʼn oerinstink in families om vir mekaar uit te kyk en mekaar te beskerm, al het ʼn mens nie noodwendig ʼn goeie verhouding nie. Daai ding van bloed wat dikker is as water, is so primal.
Amalia Uys
Haar karakter se seksualiteit is ʼn wapen.
“Later in die reeks laat dit haar in die moeilikheid beland, maar dan vind sy op ʼn nuwe tipe manier krag. Dit was vir my lekker om te sien hoe sy ontwikkel as iemand wat haarself in die gevaar stel en sukkel met attachment issues, na iemand wat groei en sterk word en haar vrou staan.”
Moeilike tonele
Haar karakter het ʼn paar naaktonele en al is sulke tonele volgens Amalia altyd moeilik om te skiet, het sy gevoel dit is nodig om die karakter se storie te help vertel.
“Dit is maar altyd ongemaklik en ʼn mens voel weerloos en blootgestel, maar die hele situasie is met respek hanteer en ek het veilig genoeg gevoel met die mense op stel om na daardie plek toe te gaan,” sê sy. “My karakter is in ʼn sekere stadium van haar lewe – sy is perky en spunky… ek weet nie hoe ek die toekoms oor sulke tonele sal voel nie, tensy dit sinvol is.”
Haar man, Shaun Golding, het ook ingespring om te help.
“In die tweede episode is daar ʼn ‘lyf’ in die bed saam met Jana. Dit was moeilik om die persoon te cast, want die akteur se gesig word nie gewys nie en hy het nie woorde nie. Hulle het gevra met wie ek die gemaklikste sou wees om kaal in die bed te wees en natuurlik was dit my eie man, wat veel beter as ʼn body double sou wees. Hy was ʼn hero en het sewe ure van Kaapstad na Kamieskroon gery om daardie dag die toneel te skiet.”
Elke naaktoneel in die reeks is gemotiveerd, glo sy.
“Ek het goeie terugvoer gekry van my vriende en al het my ma groot geskrik, is my ouers ongelooflik. Hulle verstaan hoe belangrik my werk vir my is en dat die naaktonele stylvol aangepak is. Shaun is gelukkig ook ʼn baie open-minded mens. Ek het in die verlede met ouens uitgegaan wat baie jaloers geraak het oor sulke goed,” sê sy.
“Maar Shaun weet wie hy is en wat hy bied. Dis natuurlik nie vir hom maklik nie, maar ons het vooraf die tonele gesien en hy kon dit van sy kant af ‘okei’. Hy is my grootste ondersteuner en dít beteken vir my geweldig baie. Dit kan maar ʼn moeilike bedryf wees, wat met verhoudings mors.”
Desert Rose is vanaf Maandag, 24 Julie 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.