Menu terloops
In Onderhoude [13 Jul 2023]

‘Real Housewives van die Wynlande’ se ‘Karries’ praat prontuit


Hoewel die ‘Real Housewives van die Wynlande’ se Karen “Karries” Schwendtke die reeks se reünie-episodes noodgedwonge moes misloop, het sy met terloops oor die goed en die sleg van haar ervaring gesels.

Deur Mev. S. Kinder

Kyk nou

‘Real Housewives van die Wynlande’ se ‘Karries’ praat prontuit

Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat nie al die housewives van die Wynlande by die reunion-episode gaan wees nie. En toe met my valkogies agtergekom dat Karen Schwendtke in haar afwesigheid in die promo vir die episode skitter. Met ’n paar gunstes en gawes (en ’n bietjie gebak) het ek dit reggekry om vrae aan Karen te rig. Sy gesels sy eksklusief met hiérdie antie oor waar sy was, waar sy is, en wat sy volgende aanpak.

Die Real Housewives van die Wynlande Karen Schwendtke
Karen Schwendtke. Foto: kykNET

Ons het ’n voëltjie hoor fluit dat jy nie by die reünie-episode teenwoordig was nie. Was daar ’n spesifieke rede? En hoe het jy gevoel oor jy dit misgeloop het?

“Daar was ’n baie, baie spesifieke rede daarvoor. Ek kon fisiek glad nie die reünie doen nie, maar julle sal moet wag tot episodes 13 en 14 [om te sien] hoekom ek nie daar kon wees nie. Maar glo my, ek het die hele dag gedink aan my spanmaats wat daar was, en ek het dit definitief gemis. Maar soos ek sê, ek het geen uitweg gehad nie: ek kon fisiek net nie daar wees nie.”

Hoe het jy besluit om aan die reeks deel te neem? Wat was jou verwagtinge van die reeks, en is dít oortref, of is jy teleurgesteld?

“Ek het besluit om deel te neem nadat een van die produksiespanlede vir my oor die reeks genader het. Ek het eers gedog dit was ’n grappie, maar in elk geval. Ná ek klaar geluister het, het ek net besluit, hoekom nie? Ek is nog altyd up for a challenge en lekker nuwe goeters, en dit het my verwagtinge regtig oortref. Dit is lang ure… Baie lang ure se werk; ook vir die produksiespan. Lang, lang, lang ure. Ons het regtig baie van mekaar leer ken. Ek voel so goed oor hierdie [reeks], en ek dink ons naam is redelik goed daar buite as die Real Housewives van die Wynlande. Elke liewe vrou wat deel van hierdie cast was, is absolute fenomenaal.”

Dink jy die reeks het jou regverdig uitgebeeld? Indien ja, wat was jou gunsteling-episode? Indien nie, waar dink jy het die reeks jou as Karen gefaal?

“Ek dink nie dat hulle vir my totaal en al soos wat ek is, uitgebeeld het nie. Soos wat ek sê, jy werk ’n hele dag aan ’n shoot en goeters vir ’n program [episode]. Hulle sny baie snippets uit, want daar is net 48 minute se lugtyd op ’n Donderdag om dit in te pas. So ja, partykeer word ek uitgebeeld asof ek hierdie verskriklike vrou is, maar meanwhile lag ons in die agtergrond, jy weet? 

“Ek voel nie dat die reeks my as Karen gefaal het nie. Ek voel, inteendeel, dat hierdie reeks vir my ’n platform gegee het om ’n ander uitkyk oor die lewe te hê. Dit het my baie geduldiger gemaak as wat ek was. En ek dink dit is wonderlik om hierdie platform te kan gebruik vorentoe, wat ek vir seker gaan doen. So, ek dink nie die reeks het my gefaal nie. Ek sal aanraai dat julle die laaste twee episodes deeglik kyk, dan sal julle agterkom…”

Het jy die mediadekking wat die reeks ontlok het, verwag? Dink jy dat jy regverdig deur die media hanteer is? 

“Ja, ek het dit verwag. Die PR-span van kykNET het ons mooi voorberei: ‘Luister dames, dit en dit en dit en dit mag dalk na jou kant toe kom’. En, die media met wie ek [tot dusver] in aanraking was… Bygesê, ek lees glad nie Tannie Sannie – of wie-ever – wat ’n Wynlander-groepie gestig het en daai mense wat heen-en-weer lelike goed skryf [oor my of] selfs oor my ander Housewives-maatjies nie. As ek my daaraan moet steur, gaan ek heeldag op my foon moet wees soos mense wat te veel tyd het om ’n klomp gemors uit te dink. Of net kritiek te lewer in plaas van om die mooi in die lewe raak te sien. Ek sê vir julle, rykdom, vir my, kom van potensiaal in ander mense raaksien. Maar ons Afrikaanse mense is so geneigd om mekaar die heeltyd in die rug te probeer steek, of te kritiseer en sulke dinge. Dit is eintlik nogal hartseer. Maar ja, dit is nou maar hoe dit is. Die res van die mediadekking, die tydskrifte wat by my was, die mense met wie ek gepraat het – dit voel asof ons jare lank al vriende is. Dit was vir my baie, baie aangenaam, en ek geniet dit.”

Wat was vir jou die lekkerste ervaring gedurende die reeks se verfilming? En ook die slegste?

“Die lekkerste ervaring gedurende die reeks se verfilming was vir my om, natuurlik, na my game lodge te gaan, want ek was redelik lank terug daar gewees. Ek hou daarvan om in die bos te wees. En dan tweedens, natuurlik, die vlug Mauritius toe. Mauritius was vir my verskriklik, verskriklik lekker. 

“Die slegste ervaring wat ek gedurende die reeks se verfilming beleef het, was die grimering. Die grimering wat op my gebruik is, het my oë verskriklik geïrriteer. Ek het baie, baie sensitiewe oë. Jy kan nie enige make-up [op my gebruik nie]. Die make-up wat op my gebruik is, het my oë so rooi gemaak dat ek gevoel het dat ek nie meer kan nie. Jy sal sien hier in die laaste paar episodes is my oë glad nie rooi nie – want hulle het moeite gaan doen om anti-allergiese tipe grimering aan te skaf. En tjoef! Dít het my nie geïrriteer nie. Dis jammer dat [my oë in] die eerste drie, vier episodes so [rooi] gelyk het. Aan die begin [van die episode] lyk hulle mooi. En soos ’n mens kon sien, word hulle rooier, en dit is daardie verskriklike grimering.”

Karen Real housewives van die wynlande
Karen Schwendtke vertel dat die grimering wat aanvanklik op haar tydens verfilming gebruik is, haar sensitiewe oë geïrriteer en rooi gemaak het. Foto: Verskaf

Wat het agter-die-skerms gebeur wat die kykers van die reeks nie gesien, of van geweet het nie?

“Agter die skerms het almal met mekaar gepraat. Ons het verskriklik baie gelag. Daar was geen mislukheid tussen die dames agter die skerms nie. Inteendeel, ons het regtig moeite gedoen, en regtig probeer gesels met mekaar die tydjies wat ons kon, en probeer om elke liewe ding te geniet. Agter die skerms was daar baie, baie, baie fun gewees – ongelooflik baie fun. Dit was vir my lekker en ’n challenge, en ek hou van challenges. Ek het elke liewe oomblik regtig ten goede ervaar.”

Wat was jou gunsteling-uitrusting wat jy in die reeks gedra het?

“Daar is twee tipe uitrustings wat vir my lekker [was]. Ek hou van die linne short en daai lekker mooi blou bloesie waarmee ek saam met dr. Michelle [van Zyl] op die strand in Mauritius stap. Dis nogal deel van my styl; ek hou van shorts en van mooi lyk. En dan ook, episode 12, daai aandrok. In daai aandrok het ek Mrs. Out of Africa gewen, en nou kan ek nie onthou of dit 2014 of 2015 was nie. Slaan my nou om met ’n pouveer! Maar in elk geval, ek hou van die rok, dit vloei mooi, en ek het gemaklik gevoel. Ek hou nie daarvan om klere te dra waarin ek ongemaklik voel nie, want dan is ek nie totaal en al myself nie. Want dan irriteer die materiaal my, of dit krap my, maar ek is gelukkig een van daai mense wat reguit na iemand toe gaan en sê: ‘Luister, dit is nie vir my aangenaam nie’. Ek sit nie net in ’n hoek en bly stil nie. As ek iets nie geweet het nie, het ek altyd gaan vra. Altyd, altyd. En ek is baie goed ondersteun, en altyd goed ge-direct.”

Wie van die ander housewives het jy die meeste geniet? Van wie hoor jy nog of sien jy gereeld? 

“Dis moeilik om te sê. Ek het Amy [Kleinhans-Curd] baie geniet, maar hier aan die einde het Amy partykeer simpel goed begin aanvang wat onnodig was, en goed gesê, sulke goedjies wat my ’n bietjie irriteer. Ek sou sê sy was my gunsteling ander Housewives cast member gewees: Amy Kleinhans-Curd. 

“Ek hoor gereeld van Mariskatjie [Mariska Thorpe] wat vir my voice notes of ’n mooi boodskappie stuur, en ons praat maar so oor voice notes en WhatsApp. Ek hoor elke dag omtrent van Amy wat sê: ‘Hallo, hoe gaan dit Karries?’ so ons is in kontak. Van Anita Lloyd hoor ek niks. Michelle het van die aardbol af verdwyn. En Candice [Bester] is druk besig, obviously, met haar sangloopbaan. Ek sal haar dalk in ’n winkelsentrum raakloop eendag en sê ‘Haaaaaiii’ en na mekaar toe hardloop en ’n groot drukkie gee en sê kom ons gaan lunch gou-gou of iets, jy weet. Ons het almal so agter geraak, almal van ons, met sekere doelwitte wat ons wil bereik dat ons dít net eers wil uitsorteer, en as daar tyd is, sal ons weer lekker bymekaar kom. Ons het dan nou ook weer tyd om lekker te kan gesels. 

“Ek sou graag vir Mariska beter wou leer ken, en vir Candice. Ek het min events saam met hulle twee gehad, so ek sou graag hulle twee beter wou leer ken. En ek ken vir Amy. Michelle het ek redelik baie, baie goed leer ken – en vir Anita Lloyd.”

Wat is jou raad vir enige aspirant reality show-deelnemer? En wat is jou raad vir enige aspirant Real Housewives-deelnemer?

“My raad is die volgende: wees baie geduldig, werk saam, wees net jouself, en moenie nonsies vat nie. Staan op vir jouself wanneer jy moet. Maar wees altyd eerlik en opreg. Moenie agteraf praat en agteraf wees nie. Dis regtig ’n baie, baie lekker reality show. Dit is regtig baie lekker, maar jy moet bereid wees om geduld te hê, en dis baie lang ure. 

“Sussie, jy moet ’n taai toffie wees vir hierdie ene. Ons cast was ’n spul sterk vrouens bymekaar, baie sterk persoonlikhede. En [elkeen met] ’n wil van ons eie. So, moenie dink dit is sonskyn en rose die heeltyd nie: dit was harde werk. Dit help nie jy sit daar op ’n bank en sê, ‘ek kan nie meer met die huil en die goed’ nie. When you start something, [stick] it [out] to the end. Be prepared psychologically for that: it is hard work. And once you agree to it, stick it [out] to the end. Dis my raad.”

Karen Schwendtke
Volgens Karen het sy veral die tyd geniet wat die housewives in Mauritius spandeer het. Foto: Verskaf

Wat het jy van jouself gedurende die verfilming van die reeks geleer? En wat het jy van jouself ten tyde van die reeks se uitsending geleer? 

“Wat ek van myself deur die verfilming geleer het, is om te probeer om my woorde beter uit te spreek, want ek het ’n lisp vandat ek klein was. Ek kan vir julle ‘Sannie sal sewe sakke sout sleep’ baie mooi sing as ek moet, maar ek hou maar liewerste by fluit. Ek kan lekker hard fluit. 

“[Die reeks] wys jou hoe verskillende mense optree in sekere situasies. Van hoe iemand is wanneer die kollig nie op hulle skyn nie, en hoe hulle skielik verander wanneer die kollig [dan wel] op hulle skyn. So, ek het baie geleer van dié tipe van houdings en goed en dan vorm ’n mens nogal ’n goeie [idee] van hierdie ander persoon [se karakter] wat ’n mens kan verstaan en soms vermy. Vermy hulle en wat hulle sê. 

“Ek het van myself geleer om geduldig te wees. Wees altyd op tyd. 

“Ten tyde van die uitsending, het ek ook geleer dat, ai, dís nie regtig hoe dit regtig is nie. Ek word nou hier uitgebeeld as iemand wat verskriklik is. Kom ons vat byvoorbeeld Enigma [House] – ek is ge-ambush! Kom nog ewe vriendelik daar aan met oesters vir die vroue en ek gaan sit en ek vra of ek kan gaan sit, en daar gaan hulle soos mal goed te kere. En ja, ek het geluister, en my antwoord aan hulle was: ‘Ek sal julle kritiek opneem, en ek sal daaroor gaan dink’. Maar dit was ’n total ambush, wat ek voel onnodig was. Ek hou glad nie van [daardie] episode nie. [Dit was wel] vir my verskriklik lekker om met al die gaste [by Enigma] te mingle. Ek het presies gedoen wat Gloria [Arendz], die gasvrou, gesê het, en ja, ek voel daai was ’n bietjie van ’n onregverdige gedeelte – en ook die comments daarop. Julle mense [die kykers] weet nie wat voor die tyd gebeur het en so nie, julle sien net sekere gedeeltes.”

Hoe gaan dit nou met Karen, nou dat alles amper klaar is? Waar is jy op hierdie stadium van jou lewe? En wat is volgende?

“Dit gaan baie, baie goed met Karen onder omstandighede. Ek is ’n sprankelende mens en ek is ’n ongelooflike positiewe mens. Ek het ’n hart van goud. Ek werk nou aan ’n NPO [’n organisasie sonder winsbejag] vir kinders met outisme in Paarl om te kyk of ek hulle ’n bietjie kan help. Hul ouers sukkel maar – hier is net een skooltjie vir outisme. En ek geniet dit verskriklik baie. Verder bestuur ek hier en daar ’n kontrak wat mense vir my vra om die werk vir hulle in my rigting te doen. En op hierdie stadium van my lewe, is ek ’n baie, baie rustige Karen. Ek is regtig rustig. Ek het altyd ge-worry oor môre en die maandelikse beplanning en daai goed. Ek verjaar in September, so ek is slap bang in die middel Virgo – en alles moet altyd so presies en reg wees. I’ve let go of it. Dis wat ek gedoen het. Elke dag bring sy eie challenges en ek vat nou net baby steps. Volgende op my to do-lysie is om soveel as moontlik te doen om ’n influencer te word, sodat ek die mooi en sagte kant van myself kan uitbeeld. Mense kan my glimlag mooi sien, want ek hou daarvan om te lag.”


Die Real Housewives van die Wynlande reünie-episodes wys Donderdae 13 en 20 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Kyk ook op Catch Up.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies