Menu terloops
In Recaps & Resensies [24 Jul 2023]

‘Desert Rose’: Skuld van die vader(s)


‘Desert Rose’, wat geskep, geskryf en vervaardig is deur Rohan Dickson, wentel om die Greyling-kinders wat met ʼn ysere wil veg om oorlewing op ʼn plek waar selfs die landskap vyandig voel.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou

‘Desert Rose’: Skuld van die vader(s)
Kyk lokprent

ʼn Desperate verlatenheid dwarrel soos ʼn tolbos deur die eerste drie episodes van die familiedrama, Desert Rose, nou op Showmax beskikbaar om te stroom.

Desert Rose, wat geskep, geskryf en vervaardig is deur Rohan Dickson, wentel om die Greyling-kinders wat met ʼn ysere wil veg om oorlewing op ʼn plek waar selfs die landskap vyandig voel.

Dis die Wilde Weste in die barre Noord-Kaapse landskap, kompleet met slange in glashokke en vroue wat haelgewere soos handsakke ronddra.

Volgens Dickson, wat die reeks deels op persoonlike ervaring en oorlewering gegrond het, is Desert Rose ʼn ode aan verlies, eksentrisiteit en buitestanders.

En dít is elk van die Greyling-kinders, wat alleen op die familieplaas agtergebly het ná hul musikant-pa Freddy “Fingers”(Neil Sandilands) in die niet verdwyn. Daar is verantwoordelike ousus Rosie (Tinarie van Wyk-Loots), wilde middelsussie, Jana (Amalia Uys), jongste sussie Ishara (Christia Visser) met drome van sing, en die verwonde broer Eben (Kai Luke Brümmer).

Kai Luke Brümmer as Eben in Desert Rose. Foto: Verskaf

Stukkend, met ʼn strop om die nek

Elkeen van die Greylings is stukkend en elkeen dra sy stukkendheid op sy eie manier. Maar waaraan hulle die heel swaarste dra is die skuldlas van hul pa teenoor die gruwelike Eugene van As (Ben Voss), wat soos ʼn strop om hulle nekke is.

Voss, veral bekend vir sy komiese werk, versinnebeeld alles wat jy van ʼn bad guy sou verwag. Hy is grillerig en skelm en brutaal en Voss vertolk hom met smalende oorgawe.

Die akteurs wat die lede van die Greyling clan vertolk, is fantasties gecast. Van Wyk-Loots verleen ’n gewigtigheid aan elk van haar tonele as Rosie, wat op die rand van ʼn afgrond staan.

Amalia Uys lewer van haar beste werk nog as die sensuele Jana, wat haar seksualiteit as wapen inspan. Haar karakter het ʼn broosheid wat sy probeer wegsteek agter haar tawwe koekie-houding. Uys speel haar karakter, wat alles vir haar gesin sal doen, met teerheid en humor.

Brümmer is die ‘beautiful boy’ in die karavaan. Die intensiteit van Eben se hopeloosheid; van sy eensaamheid en die groot juk van sy pa se skuld vierkantig op sy skouers, kry uiting in elke fyn trek van sy mond en hangskouer-stap oor die vlakte.

Dan is daar ook die veelsydige Brendan Daniels as Piet ‘Panga’, die gesin se beskermengel, wat ʼn duistere verlede van sy eie het.

Amalia Uys en Brendan Daniels in Desert Rose. Foto: Verskaf

Denkbeeldige dorpie word storie-karakter

Net soos in die geval van Nêrens, Noord-Kaap, word die landskap in Desert Rose een van die belangrikste karakters. Die Namakwalandse dorpie Kamieskroon, sowat 70km van Springbok af, staan in as die denkbeeldige dorpie Desert Rose.

Dis ʼn verlate, stofbruin plekkie in die middel van nêrens, waar nie eers ʼn stukkie groen lafenis beloof nie.

Die kinematograaf Devin Toselli toor met die bruine om ʼn grainy, Western-gevoel te verkry. Hier is nie ʼn enkele woestynroos in sig nie – blomtyd in dié plek is onwaarskynlik.

Brümmer het in ʼn publisiteitsvideo vir die reeks gesê die plek is sό geïsoleer, dat daar geen plek is om heen te ontsnap nie: “Die familie maak sekere keuses omdat hulle nooit uit Desert Rose sal kan wegkom nie.”

Ragfyn spanningslyn

Die regisseur Cindy Lee skep ʼn ragfyn spanningslyn wat reeds in die openingstonele begin tril met die afwagting van onheil.

Dit is in die intense sweet wat op die lywe van die karakters uitslaan; in die benouende donkerte van ʼn woonwa en in ʼn bottel suur melk as die voorloper van slegte nuus.

Odes aan die Amerikaanse Western is volop. Wees veral op die uitkyk vir karakters wat in silhoeët in die raam van oop deure vasgevang word, oorgehaalde vuurwapens oor die skouer.

Die Greylings lewe nie eintlik nie, hulle oorleef net en met die slim gebruik van waskommetjies en staalbaddens van ouds; ʼn vuur wat in ʼn herd brand en die vervallenheid van die plaashuis wat veronderstel is om hulle erfenis te wees, sinspeel hierop.

En dan is daar die musiek, wat ook ʼn karakter word en die storie van Desert Rose melancholies help vertel. Baie daarvan is geskryf vir die reeks deur Neil Sandilands. Sandilands vang iets van Anton Goosen, iets van Valiant Swart, in sy nostalgiese ritmes vas.

Neil Sandilands as Freddy “Fingers” Greyling. Foto: Verskaf

Die oorspronklike klankbaan ego die Americana wat die reeks geïnspireer het.

ʼn Mens kan net hoop dié reeks kry ʼn internasionale gehoor. Dit hou vir seker kers vas by oorsese reekse terwyl dit ʼn unieke Suid-Afrikaanse perspektief behou.

Ná net drie episodes was ek reeds heeltemal hooked.


Vanaf Maandag, 24 Julie 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Vonke spat tydens semifinaal… en kelder toe dié twee braaiers

’n Fynproewersdis, ’n lang resep en kreatiewe verskille het daartoe gelei dat twee van kykers se gunsteling-deelnemers op 'Kokkedoor Vuur & Vlam' hul voorskote moes ophang.

Meer

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud

Die Britse reeks 'Adolescence', oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Meer

The Handmaid’s Tale S1-6

Op Showmax

Blessed be! Seisoen vyf tel op nadat June wraak teen haar ontvoerder, teisteraar en verkragter, bevelvoerder Fred Waterford, geneem en hom met haar kaal hande uitmekaar geskeur het.
Meer

The Last of Us S1-2

Op Showmax

Die tweede seisoen van ‘The Last of Us’ begin vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se onlosmaaklike leuen aan Ellie (Bella Ramsey).
Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies